JAN HARMSGAT-PLAAS, of JHG, is aan die suidelikste punt van die Robertson-wynvallei geleë, met die skilderagtige Langebergreeks wat daaroor waak. Hier sal jy ruimte, sjarme en ’n weergalose kans kry om egte plattelandse gehalte, geskiedenis en uitsonderlike wyne te geniet.
As jy deur Suid-Afrika reis en bloot nader tuis vir ’n dag of naweek uitbeweeg, is Jan Harmsgat die ideale oornagplek. Dié plaas, net twee uur se ry van Kaapstad, bied ’n interessante versameling wyne om te proe, asook sy Country House wat met vyf sterre spog.
Die plaas is in 1723 deur Johannes Harman Jansz Potgieter begin en word as Jan Harmansz Schat (“skat”) op die toewysing aangedui. Mettertyd het dit Jan Harmsgat geword. Baie van die oorspronklike geboue is gerestoureer en sommige daarvan word nou as verblyfplek benut. Verwag dus klipmure wat ’n meter dik is en groot, swaar houtbalke.
Subtiele elegansie en gerieflike verblyf
Die Country House bied 10 eksklusiewe gastekamers – dubbelbedkamers, kamers met twee enkelbeddens, gesinskamers sowel as ’n romantiese wittebroodsuite. En as jy die fyner dinge in die lewe geniet, sal jy die koninggrootte-beddens, perkalkatoenlinne, ondervloerse verhitting en Victoriaanse baddens met hul bal-en-kloupootjies verwelkom. Dis nie moeilik om hier wakker te word, vir ’n wyle te vergeet dat jy ’n gas is en soos die lord van die herehuis te voel terwyl jy vanuit jou slaapkamervenster oor die plaas uitkyk nie.
Dis moeilik om enigiets fout te vind met ’n besoek aan Jan Harmsgat. Tripadvisor.com het meer as 300 boodskappe van besoekers waarin hierdie voortreflike verblyfplek net lof toegeswaai word.
Boorde met vrugte, neute ... en wild
Net oorkant die pad van die Country House kan gaste die Jan Harmsgat-plaas na hartelus verken – ’n werkende plaas van 680 hektaar met handgeplukte kultivars waarmee sy enkelblok-JHG-wyne gemaak word. Jy kan ook ’n piekniek onder die pekanbome bespreek, of deur die vrugte-, neut- of olyfboorde stap – die bron van dié plaas se uiters gesogte ingemaakte en ander produkte. Inheemse wildsbokke soos swartwildebees, springbokke en vaalribbokke is oral te sien, saam met volstruise en talle ander kleiner diere en voëls.
’n Onvergeetlike eetervaring
Ontbyt, middagete en aandete is ’n voortreflike en heerlike ervaring in die plaasrestaurant, wat onlangs die prys vir die mees onvergeetlike eetervaring in die Wes-Kaap (“Most Memorable Dining Experience – Western Cape”) in die 2021 Restaurant-en-kroeg-kompetisie gewen het.
Een van JHG se talle aanloklikhede is dat jy nooit die terrein hoef te verlaat om vyfster-cuisine te kry nie. Die ontbytspyskaart is vol heilsame, watertandlekker en dekadente opsies. Jan Harmsgat, bekend vir sy gebak, ingelegde produkte en boorde, bied ook middag- en aandetespyskaarte wat gereeld aangepas word aangesien die kombuis vars produkte uit sy eie tuin gebruik. Wyne pas by die atmosfeer – en net die beste is goed genoeg.
Granaat- en pekanplantasies
Die oorspronklike wynkelder en ou slawekwartiere het behoue gebly om aan die plaas se geskiedenis te herinner. Die pragtige granaat- en pekanneutboorde maak hierdie plaas selfs méér spesiaal. Honderde seisoenwerkers is in sy diens en sy totale permanente personeelkorps word op die eiendom gehuisves. Jan Harmsgat verskaf sy gesogte pekanneute en granate aan ’n paar kleinhandelaars wêreldwyd en oral in die provinsie.
Die plaas is kindervriendelik en is die perfekte venue vir troues of ander vieringe en byeenkomste. Die hoofonthaalgebied kan tot 50 aansitgaste met gemak inpas, terwyl die groot grasperke plek het vir groter groepe vir ’n buiteluggeleentheid.
Wyne is heerlik en stel nie teleur!
Wat Jan Harmsgat-wyne betref, sal jy vergewe word as jy dink jy’t in ’n wynparadys beland!
Dié wynplaas se filosofie is om heerlike enkelblokwyne te skep, wat die kleinste produksie-eenheid vir wingerde is (nie meer as ses hektaar per kultivar nie).
Die Jan Harmsgat Cabernet Sauvignon is ’n beeldskone wyn. Dit toon verfynde rooi en swart vrugte van medium intensiteit op die neus. Sy fluweelagtige, gladde smaak balanseer goed met die vrugte en eikehout, met tanniene wat die regte greep vir ’n ligter soort wyn bied.
En hulle maak ook ’n baie stewige chardonnay, uitmuntende pinot noir en baie gewilde pinotage.
Met sy wynmaker, Francois Haasbroek, wat leiding neem, sal jy nooit verveeld wees nie. Sy portuurlede beskryf hom as ’n wynkunstenaar en -wetenskaplike; iemand wat nie graag volgens die reëls werk nie en hou van eksperimenteer. Moet dus glad nie verras wees as jy tussen die meer tradisionele kultivars ook ’n parmantige een of twee kry nie!
Die Jan Harmsgat Sauvignon Blanc het ’n vrugtige appelliefie-neus met goeie, intense suurlemoen- en lemmetjie-sitrusaromas. Die varsheid word gevolg deur ’n skoon, skerp smaak met ’n sterk suurgehalte en goeie balans. Die ongehoute Jan Harmsgat Chardonnay word met natuurlike gis gefermenteer en het tipiese ryp appel-, sitrus- en vanieljetone. Dis nog ’n wenner van dié plaas met uitstekende balans, ’n botterige, gladde tekstuur en net genoeg suurgehalte vir ’n vars mondgevoel. Hierteenoor is die chenin blanc ligter op die neus met tropiese koejawel en ryp suurlemoengeure wat smaakgewys verbeter.
Die Jan Harmsgat Pinotage sal jou beslis aangenaam verras. Dit word in ’n ligter styl gemaak en het geure van vars vrugte, soos pruime, kersies en piesangs. ’n Elegante, verfrissende wyn met ’n skoon gevoel en vars suurgehalte.
Die Jan Harmsgat Shiraz is net so elegant en goed gemaak. Swart bessies, donker pruime en swart kersies meng goed met rokerige, speseryagtige witpeperaromas op die neus. Sy smaak het ook goeie struktuur en is uitstekend gebalanseer.
Partners in Wine werk graag saam met Jan Harmsgat-wyne om toeganklike en bekostigbare rooi- en witwyne aan Suid-Afrikaners te bied.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.