Ek en Ferdi Barnard

Apartheid

Ek en Ferdi Barnard

Die moordenaar Ferdi Barnard, een van Suid-Afrika se mees berugte apartheidsmisdadigers, is ’n vry man. JACQUES PAUW beskryf die vreemde verhouding wat sedert 1992 tussen hom en Barnard, ’n brutale skobbejak en lid van die weermag-moordbende, ontwikkel het. Hierdie fassinerende verhaal is vroeër in Vryeweekblad.com se nuusbulletin gepubliseer.

Ferdi Barnard en Betsie de Ridder op hulle troudag.
TROUKLOKKE IN DIE TRONK ... Ferdi Barnard en Betsie de Ridder op hulle troudag.
Image: FOTO VERSKAF

Die woorde het soos kots uit sy mond gestotter.

“Dis waar. Ek het hom doodgemaak. Dis waar.”

Hy’t ’n dun glaspypie tussen sy wysvinger en duim vasgeknyp waarin ’n mengsel van tabak en kokaïen-kristalle was. Sy kop het soos dié van ’n rubberpop op sy skouers gedans. Hy was so geklits soos ’n roereier.

“Wie?” wou ek weet.

Toe spoeg hy die naam uit.

“David Webster.”

Ek het vier jaar vir dié woorde gewag; vier jaar waarin ek een van Suid-Afrika se mees brutale laksmanne “bevriend” het ten einde die waarheid te hoor oor een van apartheid se mees opspraakwekkende moorde: dié op die volkekundige dr. David Webster op 1 Mei 1989.

Ferdi Barnard was ’n Rambo-agtige skobbejak wat soos ’n skim beweeg het tussen die onderwêreld van roof, prostitusie, moord en smokkel en die bloedspoor van apartheid Suid-Afrika se amptelike moordbendes. Hy het in albei wêrelde gedy omdat hy uitgeslape, brutaal en sonder gewete was.

Dit was 23 Oktober 1996 en ek en Barnard het in sy swart BMW in Sewende Laan in Melville voor ’n visrestaurant gesit. Hy’t die pyp in sy mond gestop en soos ’n baba gesuig.

Ek het aanvanklik niks gesê nie. Miskien was ek stomgeslaan. Of bang. Of ek wou nie met sy bekentenis inmeng nie.

“Hy’t deur die lug getrek en op die sypaadjie geland. Ek het dit gesien, want ek het hom geskiet. Ek het dit gedoen.”

Die oranje kooltjie het blink in die laatmiddagson gegloei voordat hy ’n strook wit rook uitgeblaas het. ’n Chemiese walm het die kajuit van die kar gevul.

“Dit was al daai tea parties en kak. Dis hoekom ons hom geskiet het. Ek het die sneller getrek.”

David Webster, ’n antropoloog van Wits-universiteit, was bloot ’n anti-apartheidsaktivis. Hy was nooit ’n lid van die ANC se gewapende vleuel nie, maar het op die veiligheidsmagte se radar gekom omdat hy sogenaamde “tee-partytjies” vir die ouers en families van politieke aangehoudendes gehou het waar hulle getroos en van raad bedien is. Dít het hom sy lewe gekos.

“Ek het na die tyd ’n produksiebonus van R40 000 gekry. Vir ‘n goeie joppie. Dit was ’n goedgekeurde operasie en Joe Verster het van alles geweet.”

‘Die BSB, wat soos ’n siviele maatskappy te werk gegaan het, het in die middel en laat tagtigs ANC-ampsdraers en anti-apartheidsaktiviste dwarsoor Suider-Afrika en Europa gejag en vermoor. Dis híér waar Barnard ’n tuiste gevind het.'

Verster was die bevelvoerder van die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB), die destydse weermag se eie moordbende. Die BSB, wat soos ’n siviele maatskappy te werk gegaan het, het in die middel en laat tagtigs ANC-ampsdraers en anti-apartheidsaktiviste dwarsoor Suider-Afrika en Europa gejag en vermoor. Dis híér waar Barnard ’n tuiste gevind het.

Ek het na ’n lang stilte gevra: “Hoekom erken jy dit nie en doen [dan] aansoek vir amnestie?”

’n Paar maande vantevore het Suid-Afrika se Waarheids- en Versoeningskommissie in Oos-Londen voor aartsbiskop Desmond Tutu afgeskop, waar politieke misdadigers soos Barnard amnestie vir hul dade kon kry in ruil vir ’n volle bekentenis.

“Ek sal nie. Ek sal nooit nie. Ek doen nie aansoek vir amnestie nie.”

Die oranje kooltjie het verdof en was aan die einde van sy pad in Barnard se pyp.

Hy’t gelag en gesê: “Kom aan, ons moet terug restaurant toe. Mense gaan dink dis twee moffietjies in die kar.”

Ferdi Barnard was vroeg reeds ’n verdagte in Webster se moord. Ons moet die verhaal gaan haal in November 1989, toe Vrye Weekblad die bestaan van polisie-moordbendes by Vlakplaas oopgevlek het nadat ons ’n gewese bevelvoerder, kapt. Dirk Coetzee, landuit gesmokkel het.

Daarna het ons vir kol. Eugene de Kock as die destydse bevelvoerder ontbloot. Vlakplaas se lyke het begin ophoop en die moorde op Webster in Mei 1989 en die Swapo-leier Anton Lubowski in September 1989 is van die ’wandade wat aan Vlakplaas toegedig is.

Die polisie was onder druk om van dié moorde op te los. Kort ná ons Vlakplaas-storie het die bevelvoerder van die Brixtonse moord-en-roofafdeling, brig. Floris Mostert, vir Barnard en die Transvaalse rugbyspeler Calla Botha in hegtenis geneem vir die moord op Webster.

‘Die binnelandse vleuel van die BSB, Streek Ses, het uit ’n span ou moord-en-roof polisiemanne en ’n klomp misdadigers soos Barnard bestaan wat meestal dronk was en hul status misbruik het om misdaad te pleeg.'

Barnard was vir drie maande in Brixton se martel-kerkers voordat hy die bestaan van die BSB, wat in die middel-tagtigs deur Magnus Malan geskep is, aan Mostert bekend gemaak het.

Mostert het in ’n verklaring gesê daar is in die weermag ’n “geheime organisasie wat linksgesinde radikales terroriseer deur middel van geweld en intimidasie.”

Hoewel Barnard en Botha nie aangekla is voor hul vrylating nie, het die fokus vir ’n wyle van Vlakplaas na die BSB verskuif. Vrye Weekblad het gou ontdek dat dié spul ’n klomp moorddadige imbesiele was wat sonder plan of strategie gemoor en vermink het.

Die binnelandse vleuel van die BSB, Streek Ses, het uit ’n span ou moord-en-roof polisiemanne en ’n klomp misdadigers soos Barnard bestaan wat meestal dronk was en hul status misbruik het om misdaad te pleeg.

Hulle het in rare oomblikke van nugterheid onskuldiges soos Webster en Lubowski vermoor, probeer om cholera-kieme in Swapo se drinkwater in Namibië te gooi, ’n aap-fetus in Desmond Tutu se erf in Kaapstad gehang, ’n bom by ’n kleuterskool geplant en beplan om Beyers Naudé se potplante by sy huis in Greenside in Johannesburg te breek.

Hulle wou die minister van justisie, Dullah Omar, se hartpille met gifpille vervang en het ’n gangster in die Kaap gehuur om dit te doen. Hy’t die geld gevat en die gif weggegooi.

Hoewel daar tot vandag min oor die BSB bekend is, het die ander “streke” nie veel beter gevaar nie. Vrye Weekblad het die bestuurder van die Mosambiek-streek, Pieter Botes, ontbloot as die man wat die akademikus Albie Sachs (later 'n grondwetlike regter) se arm in Maputo in Mosambiek in 1988 met ’n karbom afgeblaas het.

Die aand toe Botes dié erkenning gemaak het, was ek en Max du Preez op sy kleinhoewe buite Pretoria waar ons peer mampoer gedrink het. Hy het ons in ’n stadium met ’n gelaaide RPG-vuurpyllanseerder gedreig sou ons nie die bottel leegmaak nie.

“Ek het ’n sousie van Albie se armpie gemaak,” het Botes gespog.

Calla Botha (links) en Ferdi Barnard by die geregtelike ondersoek na die dood van David Webster in 1989.
DOODSBENDE ... Calla Botha (links) en Ferdi Barnard by die geregtelike ondersoek na die dood van David Webster in 1989.
Image: NEVILLE PETERSON/SUNDAY TIMES

Van woestaard tot jammerlike crack-slaaf

Dit was op ’n herfsdag in Roodepoort in 1992 wat ek en Ferdi Barnard die eerste keer van aangesig tot aangesig gekom het. Ek en ’n kollega by die Sunday Star, Peta Thornycroft, het inligting gekry dat Barnard aan’t spog was dat hy vir David Webster doodgeskiet het.

Dit was in die dae voor selfone en ek het net ’n adres vir hom in Roodepoort gehad. Die huis was ’n fort en daar was nie ’n klokkie om te lui nie. Ek het op iets geklim en soos ’n maer vark sy naam oor die muur gegil.

Die volgende oomblik het ’n swart kar met rokende bande langs ons tot stilstand geskreeu. Barnard was eerste uit, gevolg deur twee of drie van sy handlangers. Hy’t reguit vir my gekom en geskreeu: “Wat de fok dink julle doen julle!”

Sy oë het deur my geboor en hy was groter as wat ek gedink het. Ek het vroegtydig al begin koes. Hy het soos ’n woestaard oor my getoring. Ek het waarskynlik soos ’n worshond gelyk wat op die sypaadjie gelê en piepie het.

“Ek gaan jou op siekverlof stuur,” het hy gebulder. Langs my het Peta se stem gedreun terwyl sy hom probeer kalmeer het. Dit het gehelp.Ons het ’n ruk met hom gesels en hy het alles ontken. “As daar getuienis teen my is, kla my aan.”

Ondanks Barnard se ontkenning het ek en Peta dié Sondag die onthullings teen hom gepubliseer en die name genoem aan wie hy bekentenisse gemaak het.

Ek het gedink ek sal nooit weer van Barnard hoor nie, maar ’n paar maande later het hy my gebel. Hy wou my sien. Hoewel hy in ’n stadium boesemvriende was met Eugene de Kock, moet ’n mens die mentaliteit van dié karakters verstaan.

Hulle sal saam moor, steel, smokkel en bottels rum uitsuip, maar hul kameraderie verander in ’n oogwink in haat en wraak - tot hulle weer opmaak en ’n lyk of ’n sekswerker deel.

‘Teen die middel negentigs was Barnard ’n jammerlike gesig. Crack en kokaïen het sy forse liggaam weggevreet. Sy wange was gesonke en sy windmakerige stap daarmee heen.’ 

Dit was in een van Barnard se wraak-oomblikke teen De Kock dat hy my wou sien en vir my inligting gee oor Vlakplaas se Derdemag-bedrywighede.

Barnard het ’n “bron” geword en vir die volgende vier jaar het ek so na as moontlik aan hom gebly. Ten spyte daarvan dat ek hom intens geminag het, het ons mekaar gereeld gesien en saam rum gedrink.

Hy het my vertel hoe die BSB Anton Lubowski vermoor het, Vlakplaas se betrokkenheid by Inkatha in hul stryd teen die ANC voor die 1994-verkiesing verduidelik en oud-Vlakplaaslede in wapensmokkel geïmpliseer.

Hy het een keer so hoog soos ’n vlieër by my huis aangekom, ’n glas wyn gedrink en gesê ek moet saam met hom na sy kar stap. Hy het die kattebak oopgemaak. Binne-in was ’n haelgeweer met ’n afgesaagde loop. Dit kon dieselfde een gewees het wat Webster neergevel het.

Hy’t my daai dag gewaarsku: draai teen my en dís wat vir jou wag.

Teen die middel negentigs was Barnard ’n jammerlike gesig. Crack en kokaïen het sy forse liggaam weggevreet. Sy wange was gesonke en sy windmakerige stap daarmee heen.

Hy’t sy dae half-bedwelm in sy bordeel in Club69 in Oxfordweg in Rosebank deurgebring. Ek het hom van tyd tot tyd daar gaan sien. Hy het gesê die vroue en dwelms is van die beste en op die huis. Hy het my genooi om deel te neem.

Ek het kollegas en vriende begin saamvat as ek Barnard gaan sien het, net om seker te maak dat hy nooit enige houvas op my kan kry nie.

Barnard skuldig aan Webster-moord

Ek het aanvanklik nie geweet wat om met Barnard se bekentenis oor Webster te doen nie. Ek het nie meer vir koerante gewerk nie en Barnard was nie net gevaarlik nie, maar onvoorspelbaar.

Ek het die befaamde staatsaanklaer Anton Ackermann gaan sien. Hy was die man wat Eugene de Kock lewenslank tronk toe gestuur het en op Barnard se spoor was.

Hy is geïmpliseer in ander moorde, onder meer dié van ’n mede-rampokker, Mark Frances, wat hy met ’n bofbalkolf in ’n stegie in Hillbrow doodgeslaan het. Daar was ook ondersoeke oor roof, die onwettige besit van wapens en ammunisie, diefstal, ontvoering en brandstigting.

Ek het ’n beëdigde verklaring vir Ackermann gegee en toe Barnard in 1997 in hegtenis geneem is, het ek een van die getuies teen hom geword.

’n Jaar later het ek in die getuiebank van die Pretoriase hooggeregshof geklim. ’n Paar meter van my in die beskuldigdebank was Barnard in ’n groen pak klere. Ek kon nie na hom kyk nie. Dit het in ’n mate soos verraad gevoel.

Barnard is op 1 Junie 1998 skuldig bevind aan die moord op Webster en Frances en ’n reeks ander misdade. Hy het die moord op Webster aan tien ander getuies erken en regter Johan Els het ons getuienis aanvaar.

Els het hom ’n paar dae later tot lewenslange tronkstraf, plus 63 jaar, gevonnis.

Ek het aangeneem dat ek klaar was met Ferdi Barnard en dat ek dié hoofstuk in my lewe kon sluit.

Min het ek geweet.

Ferdi en Betsie

Ek het koud geword toe ek die stem hoor. Ek het dit onmiddellik herken. Op die lyn was Ferdi Barnard uit Pretoria-Sentraal – tien jaar nadat ek gehelp het om hom tronk toe te stuur. Hy’t gesê ek moet hom die volgende Sondag kom sien.

“Hoekom?” wou ek weet.

“Ek wil jou iets vertel. Kom saam met Betsie,’ het hy gesê. “Sy’s my verloofde.”

Ek was besig om ’n roman – Little Ice Cream Boy - te skryf wat op Barnard se lewe gebaseer was. Ek wou dus weet hoe hy sy tronklewe ervaar. Boonop was hy verloof. Wie de hel sou met Barnard wou trou?Betsie de Ridder was ’n netjiese en opgedolliede Afrikaanse vrou met stywe hare, ’n suksesvolle loopbaan en ’n graad in sielkunde. Sy het drie kinders, van wie een ’n advokaat is.

Sy het Barnard in 2000 op televisie gesien toe hy voor die Waarheids- en Versoeningskommissie verskyn het en die moord op Webster en ander misdade erken het. Sy het daarna begin om vir hom in die tronk te skryf, het hom gaan besoek en verlief geraak.

‘Die huweliksklokke het kort hierna vir De Ridder en Barnard gelui. Hy het my gevra of ek sy strooijonker sou wees. Ek het ingestem. Eugene de Kock was sy ander strooijonker.’ 

Terwyl ons gewag het om Barnard te sien, het ek haar gevra: “Hoekom doen jy dit?”

“Omdat ek nog nooit so liefgehad is nie.”

“Maar jy ken hom nie!”

“O ja, ek weet alles van hom. Maar dis sy ou lewe. Daar’s nou ’n nuwe Ferdi. Ek sal vir hom wag, want ek weet as hy eendag hier uitkom, sal ek dié lewe hê.”

Barnard was ouer en grys om die slape, maar het weer ietwat van ’n huppel in sy stap gehad. Hy het my ’n warm handdruk gegee en nadat hy en Betsie vir ’n paar minute vir mekaar gekoer het, het hy na my gedraai:

“Ek het jou hierheen laat kom om jou te sê ek is nie kwaad omdat jy teen my getuig het nie. Inteendeel, ek wil vir jou dankie sê.”

“Waarvoor?”


“Omdat jy gehelp het om my lewe te red. As ek nie toegesluit was nie, was ek dood. Aan ’n oordosis crack of iemand sou my geskiet het. Dankie dat jy gehelp het om my te stop.”

Die huweliksklokke het kort hierna vir De Ridder en Barnard gelui. Hy het my gevra of ek sy strooijonker sou wees. Ek het ingestem. Eugene de Kock was sy ander strooijonker.

Uiteindelik het Korrektiewe Dienste geweier dat óf ek óf De Kock die troue bywoon.

Barnard en De Ridder het ingestem dat ek ’n dokumentêre program oor hul liefde vir Carte Blanche maak en ons het haar vroeg die oggend in haar wit trourok voor die swaar houtdeure van Pretoria-Sentraal gaan aflaai.

Sy was ’n uur of wat later terug. Haar oë was nat. In haar hand was ’n kaartjie waarin hy vir haar geskryf het:

Mag die volmaan vir altyd ons mistieke juweel bly.

Mag ons saam oud word onder sy wakende oog.

Dis my belofte aan jou.

Jou geliefde eggenoot,

Ferdi

Barnard vry

Dís die man wat vandeesweek parool gekry het en as ’n vry man uit Pretoria-Sentraal gaan stap. Of hy en Betsie saam gaan oud word, weet ek nie.

In die meeste ander lande sou Barnard nooit uitgekom het nie en sy laaste jare agter tralies geslyt het. Maar ons leef in ’n grondwetlike demokrasie waar ons geregtigheid en vergelding met versoening en genade vermeng het sodat selfs iemand soos Ferdi Barnard ’n tweede kans kan kry.

Dit bly ’n misdaad teen die nasie dat diegene in die BSB wat Barnard opdrag gegee en beskerm het, nooit saam met hom in die beskuldigde bank gesit het nie. Hulle is nie eens gevra om hul “produksiebonusse” of ander buit terug te betaal nie.

Ek weet nie of Barnard gerehabiliteer is nie. Ek kan maar net hoop dat die paroolraad die regte besluit geneem het en dat 23 jaar agter tralies hom getemper het.

Barnard was nooit jammer vir wat hy gedoen het nie. Hy’t gefloreer op die vrees wat hy by ander ingeboesem het. Dit was boonop goed vir besigheid. ’n Lewe het niks beteken nie. Daar was nooit ’n gewete nie.

Soos Eugene de Kock, kan Ferdi Barnard nooit ongedaan maak wat hy gedoen het nie. Ek kan maar net hoop dat hy, soos sy eertydse vriend, in die niet sal verdwyn.

En dat ek nooit weer van hom sal hoor nie.

X