Vrye Weekblad: lees ons eerste nuwe uitgawe hierdie Vrydag

Vrye Weekblad: lees ons eerste nuwe uitgawe hierdie Vrydag

Vyf-en-twintig jaar later vind Vrye Weekblad 'n digitale tuiste

Zimbabwe. Bell Pottinger. Rwanda. Jan van Riebeeck se wit gangsters, en Pik se spin. Zuma swem te lekker, maar gaan Cyril oorleef? Pedofiele van PE. Irma Stern en #metoo. Eet onkruid en kook afval. Dis net ’n voorsmaak van die inhoud van die eerste nuwe uitgawe van Vrye Weekblad in 25 jaar wat hierdie Vrydag, 5 April, aanlyn verskyn.

Daar is onthullings, nuus, analise en meer op pad in die digitale Vrye Weekblad wat nou elke Vrydag beskikbaar sal wees, sê redakteur Max du Preez – tesame met ’n mengsel van vars en ervare stemme.

Hierdie week se skrywers sluit Jeremy Vearey, Virginia Keppler, Deon Gouws, Jacques Pauw, Annelize Visser, Anastasia de Vries, Hassan Essop en Chris Vick in, asook Du Preez self.

’n Kwarteeu gelede was Du Preez en sy span ’n doring in die vlees van die apartheid-regering. Nou beplan Vrye Weekblad soortgelyke onverskrokke joernalistiek aangepas vir vandag se sosiale en politieke era.

“Ons is trots op die rol wat ons gespeel het [voor 1994]. Geen voorbehoude nie. Ons het beslis nié gewerk vir wat die laaste dekade of so in die land gebeur het nie: staatskaping, korrupsie, wanadministrasie, magsmisbruik, hebsug, goedkoop populisme, onverdraagsaamheid en raspolitiek,” sê Du Preez.

“Ons missie vandag is fundamenteel dieselfde as in 1988: soek die feite; wys geen genade vir diegene in magsposisies nie; sny deur die mis en rook en geraas en kom by die waarheid uit. Ons taak is om ’n ingeligte openbare mening te help skep en so ons demokrasie te dien.”

Alhoewel Vrye Weekblad in Afrikaans uitgegee sal word, is dit nie net gerig op Afrikaners nie. 

Dit is “geensins ’n Afrikaner-publikasie nie”, sê Du Preez. “Dit is ’n Suid-Afrikaanse webkoerant in Afrikaans, vir almal wat Afrikaanssprekend is of Afrikaans verstaan.”

Vrye Weekblad word uitgegee in samewerking met Tiso Blackstar Group, die uitgewer van die Sunday Times, TimesLIVE, Business Day, Sowetan en ander titels.

HOOFFOTO: 123RF/Felix Pergande/Vrye Weekblad