Bird-eiland: Skrywer het voor sy dood erken hy het geen...

Mark Minnie se lewe van boewery en skelmstreke blootgelê

Bird-eiland: Skrywer het voor sy dood erken hy het geen bewyse teen ministers

Enigste lewende en bekende getuie sê boek is 'n ‘klomp snert’, maar die uitgewers hou vol hulle het niks ‘gefabriseer’ nie. JACQUES PAUW het nóg geraamtes gevind.


“ONS het geen konkrete getuienis dat enige van die drie ministers enige slagoffer seksueel aangerand het nie.”
Dié waarskuwing kom van Mark Minnie, die medeskrywer van Die Seuns van Bird Island: ’n skokkende onthulling uit die hart van die NP-regering op 1 Augustus verlede jaar – vier dae voor publikasie van dié boek en twee weke voordat hy homself geskiet het.
Die oudpolisieman het in ʼn e-pos aan sy medeskrywer, Chris Steyn, en die uitgewer van Tafelberg, Maryna Lamprecht, gesê hulle kort ʼn slagoffer wat na vore kom en een van die ministers uitken.
Ondanks dié gebrek aan getuienis het Tafelberg, wat deel is van NB-Uitgewers en Nasionale Pers, die beweerde betrokkenheid van oudministers Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley by die verkragting van seuns as ’n feit en waarheid die wêreld ingestuur.
Minnie self het min of geen geloofwaardigheid. VryeWeekblad.com is in besit van ’n klomp van sy e-posse waarin hy erken dat hy ʼn lewe van misdaad in Suid-Afrika gelei het en betrokke was by bedrog, diefstal, regsverydeling en smokkelary.
Die e-posse wys ook dat Minnie van sy kwalifikasies vervals het waarmee hy probeer het om werk as onderwyser in China te kry.
Minnie se enigste lewende en bekende getuie in Die Seuns van Bird Island het vandeesweek in ’n onderhoud gesê dat Minnie sy weergawe verdraai het en dat die boek ’n klomp snert is.
Minnie se e-posse wys dat dié oudpolisieman drie weergawes van sy deel van die boek geskryf het, en dat hy in dié proses feite verander, verdraai en opgemaak het.
Ten spyte hiervan het Tafelberg vandeesweek gesê hulle staan by hul skrywers én die boek en dat die publikasie daarvan geregverdig en in die openbare belang was.
Die uitgewer van die boek, Maryna Lamprecht van Tafelberg, sê die skrywers maak dit “van begin tot einde duidelik dat die bewyse nie in hul besit is nie” en gee nooit voor dat hulle die volle verhaal kan vertel nie.
Mark Minnie se e-posse wys manipulasie
Minnie se e-posse het in September verlede jaar in VryeWeekblad.com se besit gekom, ’n maand nadat hy homself geskiet het.
ʼn Vriend het wettig toegang tot sy rekenaar gehad en van die e-posse vir VryeWeekblad.com gestuur. Hulle geloofwaardigheid is bo verdenking.
Die e-posse wys ook dat Minnie drie verskillende weergawes van sý deel van die boek geskryf het en dat hy dit gemanipuleer het om Malan, Du Plessis en Wiley by die pedofielring te betrek.
Byvoorbeeld: In die eerste twee manuskripte van sy boek (die tweede is aan Lamprecht gestuur) verskyn die naam van Magnus Malan nie een keer nie.
In die boek word die enigste bekende getuie aan die leser voorgestel as William Hart, een van die slagoffers van die Port Elizabethse pedofielring waarby die drie ministers in die middel-80’s betrokke sou wees.
Minnie sê in die boek dat Hart aan hom vertel het dat die baasbrein van die ring, Dave Allen, hom na ’n huis in Witelsbos in die Oos-Kaap (sowat 150 km van Port Elizabeth) geneem en verkrag het.
Hart sê in die boek dat hy in Witelsbos gesien het hoe die ander “ooms” seks met kinders gehad het. Elke leser sal aanneem dat die “ooms” waarna Hart verwys Malan, Du Plessis of Wiley of al drie moes gewees het.
Minnie sê Hart het later ’n foto-identifiseringsparade bygewoon en Allen en ’n “prominente kabinetsminister” (dit moes Barend du Plessis gewees het) uitgewys. Daarna het hy Wiley ook geïdentifiseer.
Hart was op die punt om Malan ook te identifiseer, maar Minnie het hom gestop omdat die “tyd nie reg was nie”.
In Minnie se eerste twee manuskripte – wat hy Max: Fact or Fiction, You Decide (Max was sy bynaam) noem – verskyn die naam Witelsbos nie een keer nie. Hart beweer dan, volgens Minnie, dat hy Bird Island toe geneem is.
Hart sê in die boek hy was minstens drie keer op die eiland, en elke keer het “oom Dave of een van die ander ooms seks met hom gehad.”
Hart is ’n skuilnaam vir ’n Port Elizabethse hawelose man. VryeWeekblad.com weet wat sy regte naam is, maar het besluit om met die skuilnaam William Hart te volhou.
Hart het vandeesweek ontken dat hy óf Malan, óf Du Plessis, óf Wiley aan Minnie uitgewys het as die “ooms” wat jong seuns verkrag het.
Hy het die boek as “snert” afgemaak en gesê dat bykans alles wat Minnie in die boek aan hom toedig, vals is.
Een van die grootste misleidings in die boek is dat die skrywers en die uitgewer Hart se ouderdom verswyg. Hy is 59 jaar oud – dieselfde ouderdom as Minnie. Hulle was saam op skool en het mekaar jare lank geken. Tog verwys Minnie na hom as ’n “lad” – ’n seun.
Hart was dus 26 of 27 jaar oud in die middel-80’s toe die drie ministers na bewering kinders verkrag het. Indien hy wel deur Allen verkrag is, moes dit in die middel-70’s gewees het toe hy jonger as 18 was.
Malan, Du Plessis en Wiley het jare later eers ministers geword. Wiley was toe nog die leier van die Suid-Afrikaanse Party.
Hart het vandeesweek gesê hy was saam met Allen na Witelsbos, maar is nie verkrag nie. Die seks was konsensueel. Daar was geen ander “ooms” in die huis nie.
Hy sê tydens die identiteitsparade het Minnie hom beveel om mense uit te wys wat hy kan identifiseer. Hy het die drie ministers herken en uitgewys omdat hulle in die nuus was. Hy sê hy lees koerant, volg die nuus en was ’n dienspligtige in die weermag.
Hy sê Minnie het nooit dié uitwysing aan seksuele misbruik, Bird Island of Witelsbos gekoppel nie.
Die polisie, wat die beweringe in die boek ondersoek, het Hart ook intussen ondervra. Die forensiese ondersoeker van die Stigting vir Menseregte, wat gesê het hulle ondersoek ook die bewerings, het omvattende onderhoude met Hart gedoen.
Dié ondersoeker, Wouter de Swardt, het bevestig dat hy met Hart gepraat het en dat hy talle aspekte ontken wat Minnie in die boek aan hom toedig. Hy sê in sy verslag aan die stigting dat daar geen getuienis teen Malan of Du Plessis is nie.
Lamprecht het gesê sy vind dit “verdag” dat Hart sy storie verander het en het bespiegel dat hy dalk “omgekoop” is omdat hy glo voorheen al gesê het dat hy vir R1,000 sal sê die boek is nie waar nie.
Sy sê dit is “heeltemal redelik” om te aanvaar dat Hart “in sy 20’s” bewus geraak het van die ministers se betrokkenheid. Hy het kontak met Allen behou.
VryeWeekblad.com is in besit van e-posse tussen die skrywers en Lamprecht waarin hulle voor publikasie besluit het dat Hart tot elke prys van die media af weggehou moet word.
Lamprecht sê in ’n e-pos in Junie 2018 dat Hart “so ver as moontlik van die media af weggehou moet word”, want sou hy die kleinste feitefout maak, sal dit die geloofwaardigheid van die boek skaad.
Sy het vandeesweek gesê dat die uitgewers wou verhinder dat “iemand met ’n agenda om die boek te diskrediteer” Hart omkoop om sy storie te verander.
Sy het VryeWeekblad.com daarop gewys dat die uitgewers in besit is van ’n opname van ’n gesprek tussen Minnie en Hart waarin hy “kernaspekte” van die boek bevestig.
VryeWeekblad.com is ook in besit van dié opname en dit is onwaar dat Hart “kernaspekte” van die boek bevestig. Hy word deurentyd deur Minnie aangehits en voorgeskryf.
Lamprecht ontken dat enige inligting in die boek gemanipuleer of vervaardig is en dat óf die skrywers óf die uitgewer nalatig of onderduims opgetree het.
Weergawes verskil in latere manuskripte
Die klimaks in Die Seuns van Bird Island is waarskynlik Dave Allen se bekentenis aan Mark Minnie dat Malan, Du Plessis en Wiley saam met hom seuns verkrag het.
Nadat Minnie in 1987 vir Allen in Port Elizabeth in hegtenis geneem het weens die besit van pornografie en die seksuele aanranding van seuns, het hy hom geboei en na die Louis le Grange-polisiekantoor geneem.
Luidens die boek het Allen soos ’n “kanarie” in die kar begin sing en “verbluffende” erkennings gemaak deur die drie ministers by pedofilie te betrek. Hy wou egter nie ’n verklaring aflê nie.
Die volgende oggend, voordat hy in die hof moes verskyn, het Allen homself doodgeskiet. (Wiley het homself kort hierna ook doodgeskiet.)
Volgens Max: Fact or Fiction, You Decide (Minnie se eerste twee manuskripte) is dit glad nie wat daardie dag gebeur het nie.
In die eerste manuskrip, wat hy in 2015 geskryf het, sê hy: “Ek ry na Louis le Grange-polisiekantoor. Die verdagte (Allen) sit langs my. Daar’s stilte, tot ons by die polisiekantoor kom. Ek neem sy vingerafdrukke op die voorgeskrewe vorms. Hy weier om ’n verklaring af te lê.”
In die tweede manuskrip, wat in 2016 aan Lamprecht gestuur is, verander die rit soos volg: “Hy’s beslis nie gemaklik met sy hande geboei agter sy rug nie. Ek gee nie ’n hel om nie. Dan begin hy bekentenisse maak. Ongelooflike bekentenisse. Maar hy’s versigtig. Hy weier om enige name te noem.
“Hy probeer die blaam op naamlose mense plaas. Maar dan laat val hy ’n naam. Nie net enige naam nie. Ek probeer my skok verberg. Is hy for real? Hy dreig om die hele blik wurms oop te maak.”
Minnie se weergawe van die rit na die polisiekantoor verander van geen bekentenis nie na die naam van een minister (John Wiley) tot ’n volle bekentenis met die name van al drie.
Lamprecht sê twee jaar het verloop sedert Minnie se eerste weergawe by Tafelberg aangekom het en die publikasie van die boek. “Baie het in dié tyd gebeur. Chris Steyn is by die projek betrek en beide sy en Minnie het vir langer as ’n jaar ondersoekwerk gedoen om feite na te gaan en meer inligting in te win. In die proses het hulle met verskeie destydse bronne asook nuwe bronne gepraat en die manuskrip daarvolgens opgedateer. Dit is geensins vreemd in die uitgewersbedryf nie. Dit is deel van die proses om manuskripte te ontwikkel en te verbeter.”
Sy verwys na ’n e-pos van Minnie waarin hy verduidelik hoekom hy nie aanvanklik al drie name noem nie. Hy sê hy het dit só geskryf dat dit ’n klimaks bereik en dat hy ’n “web van intrige” probeer skep.
Paradoks oor skoot in anus
Die mees flagrante paradoks in Die Seuns van Bird Island is rondom die seun wat in die hospitaal beland nadat hy in die anus geskiet is. Minnie lieg óf in die boek, óf in sy vroeëre manuskripte – en die uitgewer het dit geweet.
Chris Steyn skryf dat ’n Nasionale Party-bron aan haar vertel het dat ’n seun op Bird-eiland gewond is nadat ’n pistool tydens ’n seksdaad in sy anus gedruk is. ’n Skoot het afgegaan.
Sy sê dat die skieter nie Wiley was nie, maar iemand veel “hoër op”. Die leser sal aflei dat dit Malan moes wees.
Minnie skryf dat William Hart dieselfde aan hom vertel het (Hart ontken dit nou). Die seun is glo met ’n militêre helikopter hospitaal toe geneem, deur mans in grys pakke opgepas en in ’n “blanke” deel behandel (hy was ’n “kleurling”).
Minnie sê in Die Seuns van Bird Island dat hy die dokter opgespoor en hom gebel het. “Die dokter weier om oor die saak te praat en gebruik dokter-pasiënt-privilegie. Hy onthul niks nie. Die manne in grys pakke het hul werk goed gedoen. My ondersoek het hom in ’n muur vasgeloop.”
Kom ons kyk wat sê Minnie in Max: Fact or Fiction, You Decide.
Hy vertel dat die matrone wat die aand aan diens was toe die seun ingebring is die dokter se besonderhede vir hom gegee het. Hy het toe ontdek dat dié dokter betrokke was by die uitreiking van vals voorskrifte aan prostitute vir ’n pil wat hulle glo seksueel geprikkel het.
Minnie het vir Marcia – ’n prostituut – gaan sien met wie hy voorheen “die seks van sy lewe” gehad het. Hy vertel in folterende detail hoe haar lang bene en vol borste hom mal van begeerte maak en hoe lus hy vir haar was.
Sy help Minnie om by die dokter uit te kom en uiteindelik konfronteer hy hom in sy spreekkamer. Hy dreig om hom te ontbloot en die dokter stem in om saam te werk.
Minnie sê die dokter sê hy het nie geweet wie die pasiënt was nie. “Die mans in grys pakke het hul werk goed gedoen. Al wat die dokter vir my kan sê, is dat Dave Allen sy professionele dienste benodig het om ’n kleurlingseun te behandel wat beseer is tydens ’n argument oor wie eerste seks met hom gaan hê.
“Die behandeling het plaasgevind in ’n ‘Whites Only’-hospitaal. Daar was geen rekening of kwitansie nie. Allen wou nie gehad het dit moet bekend gemaak word nie.”
VryeWeekblad.com wou by Lamprecht weet hoekom Minnie se oorspronklike weergawe verwyder is. Sy het gesê die boek is “nie teenstrydig met die dokter se weergawe aan Minnie dat die skoot afgegaan het terwyl mans oor die seun baklei het nie”.
Skrywers wou Gert van Rooyen bysleep
Dit blyk uit die e-posse dat daar ’n hoofstuk in Die Seuns van Bird Island was waar Steyn en Minnie ’n verband probeer bewys het tussen Allen, Malan, Wiley, Du Plessis en die berugte pedofiel en beweerde massamoordenaar Gert van Rooyen.
Van Rooyen en sy vriendin, Joey Haarhoff, word verbind met die ontvoering, seksuele mishandeling en waarskynlike dood van ses skoolmeisies tussen die ouderdomme van nege en 16 jaar in die laat 80’s.Toe die paar vroeg in 1990 deur inhegtenisneming in die gesig gestaar is, het Van Rooyen eers vir Haarhoff geskiet en toe homself. Die meisies of hul lyke is nooit opgespoor nie.
Ek weet nie watter getuienis Steyn en Minnie gehad het om Allen, Wiley, Malan en Du Plessis met Van Rooyen te verbind nie, maar in Junie 2018 het Lamprecht aan die skrywers gesê: “Die Gert van Rooyen-deel van die boek is uitgehaal, want daar is nie genoeg bewysbare feite nie.”
Wat sy ook gesê het, is baie belangrik: “Onthou, hierdie is ’n boek van ondersoekende joernalistiek wat beteken alles moet feitelik korrek wees en daar moet genoeg bronne en bewyse wees.”
Minnie: boewery, dwelm- en seksorgies 
Kom saam en aanskou my reis van polisieman tot skurk. Wees ’n getuie van die onderwêreld van die 90’s. Dit is ’n ware verhaal hierdie. Name en plekke is nie verander om enigiemand te beskerm nie.
Dít is die inleiding tot Mark Minnie se outobiografie, The Switch, waarin hy vertel hoe hy betrokke geraak het by een van Suid-Afrika se berugste en gevaarlikste bendes in die 90’s.
Dié manuskrip was in Minnie se e-posse wat aan VryeWeekblad.com gegee is. Die e-posse wys ook dat Minnie minstens twee van sy opvoedkundige kwalifikasies vervals het.
Minnie het ’n 1991-graadsertifikaat van die Universiteit van Port Elizabeth en ’n 2001-taalkwalifikasie van die “Western Cape College of Languages” laat vervals.
Die e-posse bevat kommunikasie tussen Minnie en die vervalser, wat hom in ’n stadium daarop wys: “Boet, ’n klein foutjie. Onder is geskryf 21th in plaas van 21st.”
Minnie het dié sertifikate gebruik toe hy in 2017 in Beijing in China om ’n onderwyspos aansoek gedoen het.
In dié boek impliseer Minnie homself in ’n reeks misdade wat goud- en diamantsmokkel, diefstal, bedrog, smokkelary en regsverydeling insluit.
Sy misdaadspoor loop van Suid-Afrika na Engeland na Amerika na Thailand na Tanzanië.
Minnie het The Switch aan Maryna Lamprecht gestuur voor die publikasie van Die Seuns van Bird Island.
VryeWeekblad.com wou weet hoekom Tafelberg geen omsigtigheidsondersoek oor Minnie gedoen het nie.
Lamprecht bevestig dat sy The Switch ontvang het en dat sy die eerste paar bladsye gelees het, maar gesien het dit is nie “die tipe boek” wat NB-Uitgewers sal wil uitgee nie.
Sy sê hulle vra nie skrywers vir hulle akademiese kwalifikasies nie.
Minnie vertel in The Switch dat hy in die vroeë 90’s as polisie-agent die bende van Ferdi Barnard, Ralph Haynes en Corrie Goosen moes infiltreer. Dié bende was in die 90’s in Johannesburg en Port Elizabeth bedrywig en is wyd gevrees.
Barnard is vandeesweek vrygelaat ná 23 jaar tronkstraf weens dubbele moord. Hy is vóór dit ook aan moord skuldig bevind. Heyns was ook ’n veroordeelde moordenaar voordat hy ’n paar jaar gelede spoorloos verdwyn het.
Goosen en sy broers was almal veroordeelde misdadigers. Hy het in die middel-90’s op klagte van diamantroof tereg gestaan voordat hy in ’n motorfietsongeluk dood is.
Minnie vertel hoe hy betrokke geraak het by die misdaadskemas van die Goosen-broers en Haynes, wat hy beskryf as die koning van die Johannesburgse onderwêreld.
Minnie was betrokke by sogenaamde “knocks” – wat niks anders is nie as roof en diamant- en goudsmokkel.
Hy sê: “Ek lewe die ryk lewe. Ek het eers ’n arm lewe gely. Dis beter om ryk te wees. Glo my.”
Minnie vertel van dwelm- en seksorgies by Barnard se bordeel in Johannesburg. “Ek het kokaïen op ’n massiewe skaal gedoen. Ek het gehou van die gevoel. En die seks! Hemel tog. Wat ’n manjifieke gevoel, al was dit met ’n prostituut. Alles was op die huis.”
Minnie het die geld wat hy uit misdaad gemaak het, gebruik om drie bordele in Port Elizabeth oop te maak. “Die geld het net ingerol,” sê hy. “Hope daarvan. Die lewe was spanningvry en heerlik.”
Goosen en Minnie het ook ’n speuragentskap in Port Elizabeth begin, maar in die middel-90’s het Corrie homself te pletter gery in ’n motorfietsongeluk. Minnie het die lofrede by die begrafnis gelewer.
VryeWeekblad.com se joernalis het in 1996 ’n dokumentêre televisiefilm oor Goosen en die bende gemaak en geweet dat Minnie deel van dié misdaadnetwerk was, maar nie in watter mate hy betrokke was nie.
Minnie skryf oor die onderhoud wat met hom gedoen is en sê dat Goosen as ’n “hartelose monster sonder ’n siel” uitgebeeld word en dat “meneer Pauw moet gereed wees vir ’n massiewe pak slae.”
Hy eindig sy boek deur te sê: “Max leef nou oorsee en het sy lewe van misdaad in Afrika laat vaar. Hy het intussen uit die onderwysbedryf bedank en bring sy tyd deur op verskillende lande in Suidoos-Asië.”
Polisie het nog geen getuienis oor ministers
VryeWeekblad.com verneem dat die polisie nog geen getuienis bekom het dat enige van die ministers by seksuele aanranding van kinders betrokke was nie.
Die ondersoek, onder bevel van die Wes-Kaapse speurhoof, genl.maj. Jeremy Vearey, is onder geweldige druk “van bo” om resultate te lewer. Agt speurders, onder wie twee kolonels, het verlede week op Port Elizabeth toegesak en onder meer vrae gevra oor Minnie se geloofwaardigheid.
Lamprecht het gesê ’n “cold case” word nie in ses maande opgelos nie en glo die polisie moet ruimte gegun word om sy werk te voltooi.
Sy sê Steyn het sedert die boek se verskyning die identiteit van twee beweerde slagoffers bekom en die inligting aan die polisie oorhandig.
Hierdie is deel van Maryna Lamprecht se verklaring aan VryeWeekblad.com:
“NB-Uitgewers glo dat die publikasie van die boek Die seuns van Bird Island geregverdig was en dat dit absoluut in openbare belang is dat dié storie, wat vir dekades lank doodgesmoor is, vertel word. Mark Minnie was direk betrokke by die polisie se ondersoek na die bewerings en het persoonlik met verskeie van die verdagtes en getuies in die saak onderhoude gevoer.
Gedurende haar ondersoek het Chris Steyn met ten minste 25 bronne gepraat oor verskeie aspekte van die storie. Minnie en Steyn volg die storie al vir 30 jaar en het vir langer as ’n jaar, voor die publikasie van die boek, die saak opnuut ondersoek en bykomende navorsing gedoen.
Met die publikasie van die boek, en tot vandag toe, beskou NB-Uitgewers die inligting wat in die boek vervat word as geloofwaardig en in openbare belang. Boonop is verskeie sleutelaspekte van die ondersoek ná publikasie bevestig deur lede van die media wat die bewerings in die boek onafhanklik ondersoek het.
Verskeie mense met waardevolle nuwe inligting het ook intussen na vore gekom. Dié mense is na die polisie verwys en sommige het reeds beëdigde verklarings afgelê. Ons was nog altyd bewus van die uitdagings wat gepaard gaan met die feit dat die skrywers nie toegang het tot die fisiese bewyse wat in die dossier was wat wederregtelik uit Minnie se kantoor verwyder is nie. Ons was ook bewus daarvan dat dit 30 jaar later baie moeilik sou wees om onweerlegbare forensiese bewyse te vind wat die bewerings staaf. Tog was ons, en is ons vandag nog, oortuig dat die outeurs se ondersoek so deeglik moontlik was, die bewerings geloofwaardig is en die publikasie daarvan tot voordeel van die publiek strek. Ons ontken ten sterkste dat NB-Uitgewers enige inligting of feite in die boek gefabriseer het.”
Lees die volle oorspronklike verklaring hier:

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.