’n MAAND of wat gelede vra iemand my uit oor mense in Londen se gevoel jeens al die verwikkelinge rondom die voortslepende Brexit-debat. My reaksie was dat die tipiese Suid-Afrikaner wat in die Britse hoofstad bly waarskynlik vandag verlang na die politieke stabiliteit, geloofwaardige leiers en sterk geldeenheid van hul land van oorsprong!
Die stelling was natuurlik tong in die kies bedoel, maar ek meen tog dat dit meer as ’n greintjie waarheid bevat. Die meeste kommentators sal bes moontlik saamstem dat die laaste klompie jare in Westminster min of meer die grootste politieke deurmekaarspul in menseheugenis was.
Dit het alles begin met die algemene verkiesing in 2015 toe David Cameron, die destydse premier en leier van die Konserwatiewe Party, ’n belofte in sy manifes ingesluit het om ’n referendum oor die Europese vraagstuk te hou.
Die rede hiervoor was dat hy destyds ’n relatiewe klein groepie parlementariërs in sy eie party wou paai wat groot geraas begin maak het: Daar was toenemende ongelukkigheid, nie net oor die Europese Unie (EU) se burokrasie nie, maar ook oor die Verenigde Koninkryk (VK) se toenemende finansiële bydrae tot die Europese begroting.
Daar is mense wat vandag nog glo dat Cameron eintlik nooit regtig hierdie belofte bedoel het nie: Sy party was destyds in koalisie met Nick Clegg se Liberale Demokrate, en gegewe hierdie party se Europa-vriendelike neigings sou hulle nouliks toelaat dat daar gedobbel word met die Britte se toekoms as deel van die blok.
Op die ou end was Cameron ’n slagoffer van sy eie sukses – nie net het die Tories hulle eie stoutste verwagtinge oortref en ’n volslae meerderheid in die 2015-verkiesing behaal nie, maar hulle voormalige koalisievennote is in die proses ook feitlik uitgewis. Skielik was die druk vierkantig op die Konserwatiewe premier en sy verskonings het opgeraak: Kort voor lank sou daar tog ’n referendum moes plaasvind.
Wat gevolg het, was die een strategiese fout op die ander. In die eerste plek het Cameron en sy trawante duidelik nie lank genoeg gedink oor die formulering van die vraag op die stembriefie nie, naamlik ’n eendimensionele keuse oor die VK se toekoms as deel van die EU: Sal ons bly of sal ons gly?
As ’n slegte huwelik verbrokkel
By nabaat is dit duidelik dat dinge hoegenaamd nie so eenvoudig is nie. Dis traumaties genoeg vir twee mense in ’n ongelukkige huwelik om deur ’n egskeiding te gaan; dis noodwendig heelwat moeiliker om uit ’n komplekse verhouding te onttrek wat oor ’n tydperk van meer as 40 jaar gevestig is tussen nie minder nie as 28 partye wat verskillende tale praat en uiteenlopende persoonlikhede het. Wie gaan vir wat betaal? Waar presies gaan almal ná die tyd bly? En wat van die kinders?
Tweedens kan aangevoer word dat ’n eenvoudige meerderheid hoegenaamd nie voldoende is vir so ’n groot besluit wat verreikende gevolge vir die wel en wee van mense oor generasies heen gaan inhou nie. Voeg daarby dat, anders as in ’n land soos Australië, dit nie verpligtend is om te stem in Brittanje nie, en die resultaat is dat slegs ongeveer 30% van stemgeregtigdes op die ou end die land se langtermyntoekoms in heel ’n ander rigting gestuur het.
In die derde plek het dit in die aanloop tot die referendum natuurlik al hoe duideliker geraak dat diegene wat hulle vir die bly-alternatief beywer het, die gly-stem geheel en al onderskat het. Die Konserwatiewe Party sowel as die Arbeidersparty se amptelike beleid om deel te bly van die EU het min gehelp, ten spyte daarvan dat hierdie twee groepe se tradisionele ondersteunersbasis op die oog af gesamentlik ’n oorgrote meerderheid kiesers verteenwoordig; mettertyd het dit duidelik geraak dat daar destyds al wesenlike onderstrominge binne albei partye was.
Die feit dat bykans al die tradisionele media ook ’n bly-stem aangemoedig het, het klaarblyklik net die effek gehad om verdere petrol op Brexit-ondersteuners se vuur te werp.
Michael Gove, ’n senior Tory wat al verskeie ministeriële posisies in sy politieke loopbaan beklee het en tans weer in die nuus is as ’n moontlike opvolger van Theresa May, het dit moontlik die beste opgesom toe hy in ’n televisiedebat twee weke voor die referendum gesê het dat mense genoeg gehad het van deskundiges en hul opinies. Die stelling het destyds heelwat kritiek van die hoofstroom ontlok, maar dit het vir seker by die algemene publiek weerklank gevind – ’n suksesvolle populistiese benadering as daar al ooit een was.
‘Projek Vrees’
Takties het die bly-veldtog ook die teiken met hul boodskap gemis. Eerder as om die voordele van Europese lidmaatskap te beklemtoon, het hulle mense dag in en dag uit gewaarsku oor die rampspoedige gevolge wat Brexit na verwagting sou inhou: “Projek Vrees” het kritici dit gedoop.
’n Fokusgroep van die regerende party het byvoorbeeld opgekom met ’n bedrag van £4,300 waarmee elke gesin in die Verenigde Koninkryk na bewering sou verarm in die geval van Brexit.
Waar dit bedoel was om mense skrik te maak en in die rigting van die bly-kamp te jaag, het dit op die ou end die teenoorgestelde effek gehad: In ’n land waar die gemiddelde loon ongeveer £29,000 per jaar is en die oorgrote meerderheid van mense net van dag tot dag oorleef weens onder meer hemelhoë huurkoste (om nie eens van huispryse te praat nie), is dit maklik vir iemand om tot die logiese gevolgtrekking te kom dat ’n mens nie £4,300 se “rykdom” kan verloor as jy van meet af geen spaargeld gehad het nie. Die argument is dus (waarskynlik tereg) gesien as die potensiële probleem van ’n kleinerige elite in Sentraal-Londen, eerder as iets wat die res van die land sou oortuig om vir ’n bly-alternatief te stem.
Intussen het charismatiese politieke opportuniste, soos die VK Onafhanklikheidsparty se Nigel Farage en die Tories se windverwaaide probleemkind Boris Johnson, die Brexit-stem aangemoedig met beloftes van melk en heuning nadat die juk van Europa eers afgeskud is. Die feit dat hul veldtog deurspek was met volslae leuens het klaarblyklik glad nie saakgemaak nie.
Die beste voorbeeld was waarskynlik die stelling dat Brittanje nie minder nie as £350 miljoen ekstra per week sou hê om aan die land se Nasionale Gesondheidsdiens te bestee wanneer die land nie meer bydraes tot die EU se begroting hoef te lewer nie – ’n onwaarheid so groot dat hulle selfs besluit het om ’n hele bus vol te verf met die belofte! (Die dag ná die referendum het Farage self op ’n ontbyttelevisieprogram erken dat die stelling nooit “heeltemal” akkuraat was nie.)
Daar was ook ander slange in die referendum-gras. Dit het byvoorbeeld ná die tyd aan die lig gekom dat ’n maatskappy soos Cambridge Analytica ingespan is om geteikende pro-Brexit-boodskappe op groot skaal via sosiale media te rig aan lede van ’n publiek wat nog nooit met sulke breinspoeling te doen gehad het nie.
Onderduimshede en die weer
En wie het vir al hierdie onderduimshede betaal? Die Vote Leave-beweging is reeds beboet omdat hulle die kieswet met hul modus operandi oortree het in die kanalisering van fondse, asook die feit dat hulle meer as die maksimum toegelate bedrag aan hul veldtog bestee het. Tot vandag toe is daar egter steeds vele vrae wat nog nie beantwoord is nie.
Neem byvoorbeeld ’n omstrede persoonlikheid soos Arron Banks, die hoofkarakter in ’n onlangse New Yorker-artikel, sakemagnaat met belange in onder meer Suid-Afrika, beweerde diamantsmokkelaar, vertroueling van Nigel Farage, en vriend van die Russe (sy vrou is Russies, vir wat dit werd is) … Wat presies was sy rol, en waar het sy finansiële bydrae begin en geëindig? Banks glimlag net soos ’n stout seuntjie en draai sy rug op jou as jy hom hierdie vrae vra.
Uit heeltemal ’n ander hoek is daar nog een faktor wat snaaks genoeg ’n effek op die referendumuitslag gehad het, naamlik die ou Britse gunsteling: die weer! Dit mag dalk vergesog klink, maar gaan lees gerus die berigte van die felle laatmiddagstorm in Londen en omstreke op die dag van die referendum.
Waterloo-stasie, wat honderdduisende pendelaars per uur sien kom en gaan, was byvoorbeeld vir ’n paar uur aan die einde van daardie dag gesluit, met die gevolg dat hordes mense nie ná werk betyds by die stembus kon uitkom nie. En selfs diegene wat reeds tuis was, sou twee keer dink voordat hulle die storm op pad na die stemlokaal toe aandurf; na raming was daar ietwat meer as ’n miljoen mense wat as gevolg hiervan nie ’n stem uitgebring nie.
As ’n mens in gedagte hou dat die storm grootliks gekonsentreer was in die een deel van Brittanje waar daar op die ou end wel ’n beduidende bly-meerderheid was, ontstaan die vraag: Hoe ’n groot verskil kon hierdie faktor nie dalk aan die referendum se uitslag en die land se hele politieke verloop oor die jare heen gemaak het nie?
Ja-nee, moet nooit weer die Britte spot oor hul obsessie met die weer nie.
Die uitslag-skok
Hoe dit ook al sy, ek dink nie daar was te veel objektiewe kommentators wat tot reg op die einde gedink het dat die Brexit-stem werklik ’n kans gehad het om te wen nie.
Ek onthou nog hoe geskok ek self was toe ek daardie aand die eerste klompie uitslae op die BBC se televisiedekking dopgehou het: Dit was vroeg al duidelik dat die bly-stem heelwat minder aftrek gekry het as wat die meeste mense verwag het. Voordat ek rondom 01:00 gaan slaap het, was die gort reeds gaar: Brexit het skielik na ’n realistiese uitkoms begin lyk, finansiële markte in die Ooste (wat natuurlik daardie tyd van die nag oop is) het dienooreenkomstig begin tuimel, en die Britse pond het in ’n ommesientjie meer as 10% van sy waarde teenoor die Amerikaanse dollar verloor.
Ná ’n paar uur se rondrol het ek maar opgestaan toe dit begin lig word rondom 04:30 (dit was die 24ste Junie – feitlik die langste dag van die jaar in die Noordelike Halfrond). Teen hierdie tyd was die skrif behoorlik aan die muur: Brexit was ons voorland.
Ek werk vir ’n klein beleggingsfirma in Londen, en ek het geweet ons kliënte sou wou weet wat dit alles beteken. Nie dat ek hoegenaamd antwoorde op al die komplekse vrae sou hê nie, maar ek het maar agter my rekenaar ingeskuif en ietsie begin skryf.
’n Uur of twee later het my dogtertjie opgestaan: Dit was nie net die 21ste herdenking van Suid-Afrika se oorwinning in 1995 se Rugbywêreldbeker nie, maar ook haar negende verjaarsdag. Die sjokoladekoek wat Ma gisteraand gebak het, het reggestaan vir ’n bederf-ontbyt.
Maar Pa moes skryf, die e-pos aan bekommerde kliënte moes nou-nou uitgaan. Nodeloos om te sê dat ek nie vandag trots is daarop dat ek emosioneel afwesig was tydens hierdie mylpaal in my kind se lewe nie.
Voordat ek daardie oggend by die kantoor opgedaag het, het Cameron reeds as premier bedank. Die gees in die kantoor was amper so erg soos wanneer mens se voetbalspan teen ’n plaaslike teenstander verloor. Daar is daardie dag.
Die Tory-regering het nie net die Brexit-stem onderskat nie, maar dit was gou duidelik dat hulle ook geen voorbereiding getref het vir ’n seëvierende Brexit-stem nie.
Die feit dat hulle strykdeur geglo het hul bly-veldtog sou die pyp rook, is nouliks ’n verskoning: Die party is immers in beheer van die land se sake, en dis bloot onverantwoordelik om jou slegs reg te maak vir een van twee moontlike uitkomste (selfs al dink jy dat die alternatief se kans op sukses “net” argumentshalwe 40% is – hoe sou jy byvoorbeeld reageer as jy uitvind dat jy ’n mediese toestand het met ’n 40% waarskynlikheid wat binne die volgende 12 maande tot jou dood kan lei?).
Die land het gesmag na leierskap, maar al wat hulle gekry het, was grootskeepse broedertwis binne die regerende party. ’n Paar weke later het May ’n bloedige stryd gewen om uiteindelik aan die stuur van sake te staan. Na afloop van haar eerste toespraak as premier het mense onwillekeurige vergelykings met Margaret Thatcher van ouds begin tref.
May se stoomroller-foute
Premier May se wittebrood aan die hoof van die regering het egter nie lank geduur nie: Binne maande het haar eendimensionele bestuursbenadering na vore gekom, en dit het al hoe duideliker geraak dat sy nie regtig ag slaan op enigiemand se advies nie.
Sy het byvoorbeeld by wyse van ’n parlementêre mosie ’n besluit deurgevoer om Artikel 50 van die Lissabon-verdrag aan die einde van Maart 2017 te aktiveer, wat beteken het dat ’n spertyd van twee jaar later in plek gestel is vir ’n finale Brexit. Die feit dat daar nouliks enige planne in werking gestel is vir die komende onderhandelinge met die EU het haar skynbaar geensins afgeskrik nie.
May se grootste oordeelsfout was egter waarskynlik die besluit om ’n verkiesing kort daarna af te kondig: Hoewel sy nog amptelik drie jaar as eerste minister oorgehad het, het sy hardkoppig geglo dat sy met ’n selfs groter meerderheid kon wegstap as die een wat sy by Cameron geërf het. Na haar mening sou ’n versterkte mandaat van die kieserspubliek haar hand sterk wanneer sy ’n skeidingsooreenkoms met die EU beding.
Die res is natuurlik geskiedenis: Die Tories het hul volslae meerderheid verloor, en skielik was hulle op soek na ’n koalisievennoot wat hulle in staat sou stel om verder te regeer.
Stert tussen die bene moes hulle toe by die Demokratiese Unionistiese Party (DUP) aanklop – ’n party wat 10 van Noord-Ierland se 18 setels in Westminster beklee met die spesifieke mandaat om ’n Verenigde Koninkryk te bevorder (in eenvoudige taal: Hulle identifiseer meer met hul Britse broeders en susters aan die oorkant van die Ierse See as met hul Ierse bloedfamilie aan die suide van hul eie eiland).
Die Ierse probleem
As gevolg van onder meer die DUP se skielike prominensie het die Ierse vraagstuk toenemend na vore begin kom as een van die grootste tameletjies in die Brexit-onderhandelingsproses … en min het die meeste mense geweet watter groot rol dit uiteindelik sou speel.
Ek is self lankal bewus van die Iere se komplekse geskiedenis. Ek was ’n klein seuntjie toe Bloody Sunday plaasgevind het – die Ierse ekwivalent van Sharpeville (as lesers my ’n oorvereenvoudigde vergelyking sal toelaat).
Ek onthou feitlik daaglikse beelde van ’n beleërde Belfast op die SAUK se televisienuus in die laat 70's. Ek sal Bobby Sands en sy beroemde hongerstaking aan die einde van my tienerjare nooit vergeet nie. En ek onthou natuurlik die Ierse Republikeinse Leër se tallose bomme in Londen en elders gedurende die 80's en 90's.
Maar ek het gedink die probleem is opgelos. Sedert die ondertekening van die Belfast-ooreenkoms op Goeie Vrydag in 1998 was daar immers vrede in Ierland: Die grens tussen die twee dele van die eiland was oop, en geweld het geheel en al afgeneem.
Wat ek egter intussen geleer het, is dat die onderliggende spanning tussen die twee groeperinge in Ierland waarskynlik tot in lengte van dae sal voortduur, al lyk dit dalk vandag ook hoe kalm. Dit herinner so effens aan die woorde van Koos Kombuis: “Johnny is nie dood nie, hy’s net uitgepass”…
Die redes hiervoor is kompleks en kom ’n bittere lang pad. Tik die woorde “Irish conflict” op ’n Google-soektog in en jy sal ’n Wikipedia-blad oor die sogenaamde Troubles aantref wat die bobbejaan agter ’n bult in 1609 gaan haal: meer as 400 jaar se onmin tussen ’n paar groepe mense wat ironies genoeg vandag nog saam rugby speel wanneer die Britse en Ierse Leeus elke vier jaar op toer gaan.
Onversoenbare meningsverskille tussen aanhangers van onderskeidelik die Katolieke en Protestantse geloof het van meet af ’n kardinale rol gespeel (alhoewel dit uiteraard nie die enigste rede vir die konflik is nie).
Om terug te keer na die hede toe: Vandag is die Republiek van Ierland natuurlik nie net onafhanklik van die VK nie, maar ook ’n volwaardige lid van die EU. En kort voor lank het die Europese onderhandelaars dit as ’n troefkaart begin gebruik.
Uiteraard sou nóg Europa nóg die VK ooit weer ’n “harde” grens (met grensposte, ’n muur en dies meer) tussen die twee dele van Ierland wou sien – dit sou immers inbreuk maak op die letter sowel as die gees van die destydse Belfast-ooreenkoms.
Terwyl Noord-Ierland as deel van die VK ’n volwaardige lid van die EU is, is dit uiteraard nie ’n probleem nie: Mense kan kom en gaan soos hulle wil oor die (voormalige) grens, en produsente kan goedere heen en weer karwei sonder om hulle oor reëls, regulasies of tariewe te bekommer. Maar hoe gemaak as die VK oornag die EU verlaat? Skielik is daar dan ’n “oop” grens met Europa met al die probleme waartoe dit kan lei (op die aanname dat niemand die bepalings van die Belfast-ooreenkoms wil verbreek nie).
Logieserwys is die enigste oplossing dat Noord-Ierland derhalwe sy status as lid van die Europese handelsunie sal moet behou as ’n mens wil aanhou om vrye beweging van mense en goedere oor die (voormalige) Ierse grens toe te laat. Dit beteken ook dat hulle noodwendig sal moet aanhou om meeste van die Europese enkelmarkreëls na te kom – die hoofelement van die sogenaamde “backstop”-opsie wat so prominent in Brexit-onderhandelinge was.
Dit beteken egter dat die res van die VK inderdaad ook sal moet lid bly van die handelsunie sowel as die enkelmark, tensy hulle bereid is om ’n grens in die Ierse See op te rig? Nodeloos om te sê was daar nog nooit veel aptyt vir hierdie alternatief onder enige van die rolspelers nie.
Dat die VK deel bly van ’n handelsunie (asook die enkelmark) is hoegenaamd ook nie ’n opsie wat die voorstaanders van Brexit ooit aanvaarbaar sal vind nie – dis juis hoekom hulle in die eerste plek die EU wou verlaat, naamlik die geleentheid om jou eie handelsooreenkomste met ander lande te beding, en die vryheid om op jou eie reëls te besluit. Baie water sal nog in die Ierse See moet loop voordat hierdie kopkrapper tot almal se bevrediging opgelos gaan word.
Hierdie kort opsomming is miskien nie genoeg om die kompleksiteit van die hele Ierse vraagstuk te begryp nie, maar hopelik help dit om te verstaan hoekom die Britse parlement die laaste jaar of twee so gesukkel het om saam te stem oor ’n werkbare plan vir die praktiese uitvoering van Brexit. Die feit dat partypolitiek noodwendig ’n rol gespeel het, sowel as die interne spanning binne al die hoofgroeperinge wat hoe later hoe kwater geraak het, het natuurlik ook min gehelp.
Geen einde in sig
Hoe meer dae, hoe meer dinge. En dis hoe ons gearriveer het by die punt waar ons onsself vandag bevind: In die eerste week van April 2019, ’n tyd wat veronderstel was om reeds deel te vorm van Groot Brittanje se onafhanklike bestaan buite Europa, en ons het nog steeds nie ’n idee waar presies dit alles gaan eindig nie.
Terwyl ek hier sit en probeer om hierdie artikel te finaliseer voor die verskyning van die nuwe Vrye Weekblad se eerste uitgawe, voel ek derhalwe ’n bietjie soos ’n sportjoernalis by ’n oggendkoerant wie se taak dit is om verslag te doen oor vanaand se belangrike wedstryd, maar my spertyd gaan aanbreek voordat die eindfluitjie laatnag blaas.
As ek so kyk na die Brexit-speelveld, het ek geen idee hoeveel ekstra tyd hulle nog gaan nodig hê of wie waarskynlik gaan wen nie: Die spel is vir tyd en wyl opgeskort, die tuisspan se spelers is besig om met mekaar te baklei, hul kaptein is katswink en lyk of sy binnekort die veld gaan moet verlaat, en die skeidsregter is afwesig.
Wie weet hoe lank dit nog kan duur? Waar gaan dit uiteindelik eindig … ’n Klipharde Brexit? ’n Sagte een? Verdere vertragings? Of dalk selfs geen Brexit nie?
Suid-Afrikaners is besig om reg te maak vir ’n verkiesing op 8 Mei en sal moet kies tussen ’n ANC-regering vol korrupsie en ’n aantal alternatiewe wat skaars ’n verskil kan maak. Maar lesers kan gerus hul verlangse familie en vriende in die VK in hul gedagtes hou wanneer hulle stembus toe stap – nêrens in die wêreld is die politiek vandag maanskyn en rose nie.
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.