Die lewende dooies van Rwanda

Terug in die bloedspore

Die lewende dooies van Rwanda

Op 7 April is dit 25 jaar sedert die Rwandese volksmoord – die grootste menseslagting sedert die Tweede Wêreldoorlog. JACQUES PAUW gaan terug na Nyarubuye, waar sy beskouing van die wêreld vir altyd verander het.

SOOS 25 jaar gelede plof vet reëndruppels teen die voorvenster net duskant Kibungo in die suidooste van Rwanda. Toe draai die hemel sy krane oop. ʼn Plaat roesrooi water stroom oor die pad terwyl vroue onder ʼn verflenterde sambreel laat spaander vir skuiling.
ʼn Paar kilometer verder is ʼn klein bordjie met die woord “Nyarubuye”. Die reën hou so skielik op as wat dit begin het. Die lug is klam en ruik na vars grond. Aan albei kante wuif piesangbome se spaanblare sag in die wind.
Ek ry verby ʼn laning bome waaraan geel trosse blomme soos vinke hang. Ek onthou dié blomme van ʼn kwarteeu gelede. Dis wenende wattelbome.
Die son bars deur die boepmagie-wolke en kinders en grootmense staan weer nader pad se kant toe. Hulle groet my met glimlagte. ʼn Groep vroue hou mark en word omring deur hopies groen, geel, rooi, wit en oranje. Ander, hul kleurryke sari’s om hulle gewikkel, dolf die klam kleigrond met skoffelpikke om.
Destyds was die suidooste van Rwanda leeg. Daar was nóg siel nóg dier. Die lande was onbewerk en trosse piesangs het aan bome gevrot. Die Afrika-kakofonie van jillende kinders, blêrende bokke, blaffende honde en kekkelende mense was weg. Selfs die voëls was stil.
Ek besef weer eens hoe pragtig Rwanda is. Ek het die vorige aand in ʼn herberg op die rand van die Akagera-wildtuin in die ooste van Rwanda teen die grens met Tanzanië oornag.
Oor die verste berge het die oggendskemering die hemel in oranjerooi geverf en die Ihema-meer het soos swart ink geblink. Voëls het uit volle bors gekwetter en seekoeie het gesnork voor die eerste swem van die dag. ʼn Uur of wat later het mis soos wit spookasem oor die meer gerol en in die vallei agter my afgesweef.
Rwanda se heuwels is tot op die piek bewerk en dit het gelyk of elkeen met ʼn lappieskombers met skakerings van groen, bruin en geel toegemaak is.
Nyarubuye verskyn nie op enige kaart of in enige gidsboek nie en voor 1994 het niemand van dié Rooms-Katolieke sendingkerk op ʼn bult in Rwanda geweet nie.
Tot op ʼn dag in Mei van daardie jaar toe ʼn klein groepie joernaliste, vergesel van ʼn trok vol swaargewapende soldate van die rebellegroep die Rwandese Patriotiese Front (RPF), by dié kerk stilgehou het.
Ek was een van daardie joernaliste, en wat ek in die volgende uur of twee gesien het, het my beskouing van die wêreld vir ewig verander.
Ses weke voordat ek by Nyarubuye aangekom het, vroegaand op 6 April 1994, is die Rwandese president, Juvénal Habyarimana, se vliegtuig met ʼn missiel in stukke geskiet toe dit op die Rwandese hoofstad, Kigali, se internasionale lughawe wou land.
Binne ure is padversperrings oor die hele Kigali heen opgestel wat deur soldate en paramilitêre mans beman is wat met kapmesse of te wel machetes gewapen was. Hulle was bekend as die Interahamwe – “dié wat saam jag”.
Dieselfde aand het lede van die presidensiële wag die eerste minister vermoor. Sy was, soos Habyarimana, ʼn Hutu, maar die argitekte van die volksmoord – die genocidaire – het haar ʼn Tutsi-simpatiseerder geag.
Met sonop die volgende dag het die verminkte en bebloede lyke van tientalle Tutsi’s by padversperrings en op sypaadjies in Kigali gelê. Die amptelike radiostasie het inwoners aangesê om binneshuis te bly en skole en besighede het gesluit.
Daar was op 6 April ʼn Verenigde Nasies-vredesmag van 3 000 mense in Rwanda wat moes toesig hou oor ʼn vredesooreenkoms tussen Habiyarimana se Hutu-regering en die RPF, wat bestaan het uit Tutsi’s in ballingskap in Rwanda se noordelike buurland, Uganda.
Op die oggend van 7 April het regeringsoldate tien Belgiese VN-soldate gevang en tereggestel. België en ander Westerse lande het hulle vredestroepe onttrek en die VN-mag is tot 270 man verklein. Westerse lande het hulle ambassades gesluit en burgerlikes ontruim.
Amerika, wat twee jaar tevore bloedneus in Somalië gekry het en nie die maag gehad het vir nog ʼn Afrika-katastrofe nie, het die leiding in die VN geneem en gesê die geweld is niks anders nie as ʼn Rwandese “opwelling van woede oor die dood van hul president”.
Die genocidaire kon hulle moordplanne ongesteurd uitvoer. Die Interahamwe was gewapen met lyste van Tutsi’s en hulle adresse. Die radiostasie Mille Collines het die algehele uitwissing van Tutsi’s aangemoedig. “Julle inyenzi’s (kokkerotte) moet weet julle is net van vleis gemaak. Ons gaan nie toelaat dat julle ons doodmaak nie; ons maak julle eerste dood.”
Die moorde het vanuit Kigali na elke heuwel, vallei en dorpie in Rwanda uitgekring.
Hutu’s in Rwanda het sedert onafhanklikheid van België in die laat 1950’s Tutsi’s vermoor.
Dié vyandigheid gaan die verstand te bowe omdat hulle dieselfde taal, godsdiens en kultuur deel. Tutsi’s is veronderstel on lank en seningrig te wees met hoë wangbene; Hutu’s kort en bonkig met sogenaamde “bantoe-gelaatstrekke”.
Mens sou dink jare van saamleef en ondertrouery sou ʼn einde bring aan dié onmin, maar radikale elemente in die Habyarimana-regering het ʼn toekoms sonder Tutsi’s beplan.
Elke burger van Rwanda is geklassifiseer as óf Hutu óf Tutsi (sowat 15% van die bevolking) óf Twa (pigmee, wat minder as 1% was).
Die Rwandese volksmoord was die grootste massaslagting sedert die Tweede Wêreldoorlog. In ʼn land kleiner as Lesotho is ʼn miljoen mense binne 100 dae vermoor – ʼn gemiddelde van 10 000 mense elke dag.
Die meeste slagoffers is nie deur soldate geskiet of met oorlogswapens doodgemaak nie, maar buurman het buurman vermoor, gemeentelid vir gemeentelid, vriend vir vriend, onderwyser vir student en selfs eggenoot vir eggenoot.
Die Rwandese volksmoord is deur handearbeid teweeggebring, deur machetes wat met reëlmaat gekap en gekap en gekap het. Dit was die grootste massaslagting sedert die atoombomaanvalle op Hiroshima en Nagasaki in 1945.
Teen einde April 1994 was daar meer dooie as lewende Tutsi’s en teen einde Mei het etlike streke nie meer Tutsi’s gehad nie.
Rooms-Katolieke kerke het teaters van bloed geword. Rwandese het na kerke gestroom in die geloof dat hul priesters hulle sou beskerm. Honderde duisende se bloed het in die skadu van Moeder Maria en onder die wakende oog van Jesus Christus gevloei. Baie priesters het hul gemeentes aan die moordenaars uitgelewer of die hasepad gekies en hulle aan hulle eie lot oorgelaat.
Nyarubuye was so ʼn kerk.
Ek het vroeg op daardie oggend van einde Mei 1994 geweet ons gaan na waar ʼn massaslagting by ʼn kerk plaasgevind het, en dat dit moet palpiteer van boosheid. Maar min het ek geweet dat ek van aangesig tot aangesig met menslike bestialiteit gaan kom.
Langs die kerk was ʼn kliniek en ʼn skool. Op ʼn plek wat andersins na veldblomme sou ruik, het die walglike, asynagtige reuk van verrotte lyke in die lug gehang.
In ʼn vertrek het vroue dood in ʼn ry gelê. Hul sari’s was vol droë bloed en dit was tot by hul lende opgeskuif. ʼn Stok het by elkeen se vagina uitgesteek. Maaiers het op die lyke rondgekruip en trosse vlieë het in die lug gehang.
Langs my het luitenant Tony Karamba gepraat. “Hulle was swanger. Die doel van die stokke was om seker te maak die babas is ook dood. Die moordenaars was bang die vroue gee geboorte aan kokkerotte.”
Daarna het niemand weer gepraat nie en ons het in stilte van klaskamer na klaskamer en vertrek na vertrek beweeg. Woorde ontbreek my nou al 25 jaar om uitdrukking te gee oor wat ek gesien het.
Hoe beskryf ʼn mens die stank, die verrotte vleis, die opgeblaasde lyke, oopgekloofde koppe en opgekapte suigelinge wat langs hul ma’s lê? Van hulle was sonder hande en vingers wat afgekap is soos hulle probeer het om die slae van die machetes af te weer. Op elkeen se gesig was die foltering en kastyding geëts waarmee hulle die ewigheid in is. Hulle is pleitend en skreeuend doodgemaak.
In die rooisteenkerk was daar ʼn enkele voetlose lyk wat voor die altaar lê. Die Christus-beeld se kop was afgekap sodat hy nie die orgie kon sien nie.
Die onheil, die perversie, die idiotisme, die gruwel, die sinloosheid bly onbeskryflik.
Dit het my 25 jaar gevat om vir Nyarubuye te huil.

Die een stem wat bo die geskreeu, die smekinge, die gekap van machetes, die plofslae van knuppels en die doodsroggels van die slagoffers van Nyarubuye weergalm het, was dié van bourgmestre Sylvestre Gacumbitsi – die bevelvoerder en baasbrein van dié menseslagting.Die burgemeester het geweldige invloed en gesag gehad. Hy moes orde in sy streek handhaaf en jy’t aan sy deur geklop met probleme oor jou kind se skoling of ʼn grondtwis met jou buurman.Toe die slagting begin, het Tutsi’s hom raad gevra. Hy’t hulle Nyarubuye toe gestuur en gesê hulle sou veilig wees in die sorg van hul priesters.Intussen het Gacumbitsi ʼn moordmag van duisende Interahamwe en soldate op die been gebring. Een van hulle was ʼn plaaslike regter.Nadat Tutsi’s kerk toe is, het hy met ʼn luidspreker Hutu’s aangemoedig om met machetes, knuppels, messe en pikke na Nyarubuye op te ruk en gesê hul kan soveel vroue verkrag as wat hul harte begeer.Een van Gacumbitsi se boosdoeners was Enose Nsabimana, ʼn bejaarde pa van vyf en oupa van 12. Hy was ʼn kleinboer met een of twee beeste. Hy het ʼn leeftyd in vrede met sy Tutsi-bure gewoon en nooit ʼn vinger vir iemand gelig nie.ʼn Paar dae nadat die volksmoord begin het, het hy die haatradio se oproep om aksie gehoorsaam en sy buurman, Augustine, met ʼn knuppel doodgeslaan en in ʼn vlak graf begrawe. Dié se vrou en kinders was reeds in Nyarubuye.
Ek weet nie hoekom hy Augustine doodgeslaan het nie, want toe ek dié grysaard vyf jaar later in ʼn tronk in Suid-Rwanda raakloop, was hy van sy sinne beroof. Hy was verrimpel, geboë en het maniese oë gehad. Hy’t aan die boonste helfte van ʼn menslike skedel vasgeklou wat hy voor hom gehou het. Dit was Augustine se skedel wat hy ná die RPF-oorwinning uitgegrawe het voordat hy homself oorgegee het.
“Ek het hom op sy kop gestreel met ʼn groot stok,” het Nsabimana geprewel. “Die radio het gesê hy’s ʼn kokkerot en as ek hom nie doodslaan nie, gaan hy my doodslaan. Ek wil die skedel vir die regter wys.”
Op 15 April het Gacumbitsi en sy mag van 7 000 die kerk omsingel. Die Tutsi’s was aanvanklik bly om hul burgemeester te sien, totdat hy ʼn ou Tutsi-kennis wat iets vir hom wou sê doodgeskiet het. Daarna het die slagting begin.
Gacumbitsi het gesê die uitwissing van Tutsi’s is net “werk” – asof hulle aan ʼn pad werk of aartappels plant. Hulle het ʼn middagete-pouse gekry en kon saans huis toe gaan, maar moes vroegoggend weer vir diens aanmeld.
Die machetes het drie dae lank gekap. Tutsi’s wat probeer vlug het, is deur soldate geskiet. Die lyke het twee-twee en drie-drie opgehoop. Saans het die slagters die voetsenings van hul slagoffers afgesny sodat hulle nie kon ontsnap nie.
Die meeste moordenaars het snags by die kerk gebly en beeste geslag en piesangbier gedrink terwyl die Tutsi’s gekerm en gehuil het. Baie vroue is in dié tyd uitgesleep en verkrag.
Gacumbitsi self het ʼn swanger vrou se maag oopgesny. Sy het twee fetusse gedra. Daarna het hy en ʼn helper haar en die fetusse herhaaldelik met messe gesteek.
Die moordenaars is ná die slagting huis toe, maar moes sowat vyf weke later laat spaander voor die opmars van die RPF-rebelle. Hulle het kamp opgeslaan in die Mukugwa-vlugtelingkamp in Tanzanië waar die internasionale hulpgemeenskap hulle kos en blyplek gegee het.
Ná die RPF-oorwinning met die verowering van Kigali op 4 Junie 1994 is Gacumbitsi in Tanzanië in hegtenis geneem en aan die Internasionale Misdaadtribunaal vir Rwanda oorhandig wat deur die VN gestig is om die genocidaire te verhoor. Hy is aangekla van volksmoord, misdade teen die mensdom en verkragting as ʼn wapen van volksmoord.
Getuie op getuie het hul burgemeester as ʼn sadis en wreedaard beskryf. ʼn Jong vrou het vertel hoe hy ʼn polisieknuppel in haar ingedruk het voordat hy haar verkrag het. ʼn Ander het vertel hoe Gacumbitsi ʼn ma en twee babas in ʼn puttoilet afgegooi het.
Hy is in Junie 2004 aan dié misdade skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Baie van die Nyarubuye-slagters is ná die RPF-oorwinning gevang en in die tronk gestop. Die tronke was septiese konsentrasiekampe. Daar was plek vir 19 000 gevangenes, maar teen 1996 was daar 64 000 aangehoudenes, en teen 1998 sowat 135 000. Tot 10 000 gevangenes is in aanhouding dood.
Teen einde 1997 was nog net 322 gevangenes se sake afgehandel. Die meeste sou nooit die binnekant van ʼn hof gesien het nie en in aanhouding sterf.
In 2001 het Rwanda teruggekeer na gacaca (dit beteken “geregtigheid op die gras” in die taal Kinyarwanda) waarvolgens die voetsoldate van die menseslagting teruggeneem is na hul dorpies en gebiede waar tradisionele volkshowe hulle verhoor het. Die beplanners en argitekte het in Arusha tereggestaan.
Oortreders moes skuld bely en die slagoffers moes vergewe. Straf het gewissel van slagoffers se huise herbou en hul lande bewerk tot verskeie vorms van gemeenskapsdiens.
In Rwanda – veral in landelike gebiede – leef bykans elkeen langs of naby ʼn volksmoordenaar.’
Die agt formele volksmoordmuseums is die enigste plekke waar die woorde “Hutu” of “Tutsi” nog gebruik mag word. Dis onwettig om jouself ʼn Hutu of Tutsi te noem en dis strafbaar met lang tronkstraf.
Daar is in Rwanda ook net een waarheid oor die volksmoord: dié van die regering van president Paul Kagame. Om van dié weergawe af te wyk kan jou lewenslank agter tralies laat beland.
In 2012 is twee Rwandese joernaliste tot 24 jaar tronkstraf gevonnis omdat hulle gesê dat Hutu en Tutsi “mekaar” tydens die volksmoord doodgemaak het.
In 2010 is ʼn opposisieleier, Victoire Ingabire, in hegtenis geneem omdat sy die volksmoord “verkleineer” het. Sy wou weet hoekom die volksmoordmuseums nie ook Hutu-slagoffers herdenk nie.
Sy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, maar is in September verlede jaar vrygelaat. Die staat het al haar besittings op ʼn veiling verkoop.
Ingabire is reg: Waar is die name van Hutu-slagoffers wat óf doodgemaak is omdat hulle geweier het om te moor óf in weerwraakaanvalle deur Kagame se RPF-rebelle omgekom het?
Ek het in 2012 ʼn boek geskryf oor ʼn Tutsi-soldaat, Kennedy Gihana, wat vier jaar ná die volksmoord na Suid-Afrika gestap het om te kom studeer. Hy is nou ʼn prokureur met sy eie firma in Pretoria.
Gihana was was deel van Kagame se invalsmag wat ure ná die afskiet van die presidensiële vliegtuig vanuit die noorde van Rwanda na Kigali opgeruk het.
Hy vertel dat in die paar dae wat dit hulle geneem het om die buitewyke van die hoofstad te bereik, Hutu’s – veral dié wat van moord verdink is – voor die voet geskiet is.
Human Rights Watch sê die RPF het tienduisende burgerlikes, soldate en militia-lede in die vier maande tussen April en Julie 1994 vermoor. Die syfer kan so hoog as 70 000 wees.
Ná die RPF-oorwinning was Gihana rondom die Virunga-vulkane op die grens met Kongo gestasioneer. Hulle het weekliks tientalle verdagte Hutu’s gevang, aangehou en elke Vrydag met knuppels doodgeslaan en in massagrafte begrawe.
Kagame self is waarskynlik skuldig aan volksmoord.
Ná die RPF-oorwinning het die genocidaire en Interahamwe Kongo toe gevlug en in vlugtelingkampe gaan bly. Kagame het sy weermag in die Kongo ingestuur, vlugtelingkampe gesluit en honderde duisende Hutu’s dieper in die bos ingejaag.
Bykans elke menseregteorganisase op die planeet het Kagame vir afgryslike vergrype in die Kongo veroordeel. Die Verenigde Volke het in 2010 gesê dat Kagame en sy magte verantwoordelik was vir volksmoord teen Hutu’s in die Kongo.
Daar was nog nooit enige poging om Kagama tot verantwoording te roep nie. Hy is immers die internasionale gemeenskap se liefling-diktator.
Rwanda is skoon, veilig, mededingend en die ekonomie groei teen 8% per jaar. Kinders gaan skool toe en mediese sorg het só verbeter dat die lewensverwagting gestyg het tot 67 jaar – vyf jaar meer as Suid-Afrika.
Kagame het sekerheid na Rwanda gebring en hy is sonder twyfel dié sterkman in Afrika. Ná 25 jaar as die de facto-staatshoof is sy greep op mag sterker as ooit.
Daar is geen ruimte vir andersdenkendes nie. As jy nie met Kagame saamstem nie, hou jy jou bek. Jy hou ook jou mond oor sy vergrepe in die Kongo, want amptelik het dit nooit gebeur nie. Sy duiwelswerk is witgewas en aan die vergetelheid prysgegee.
Kigali is al vergelyk met ʼn Afrika-weergawe van Singapoer of Dubai, maar die atmosfeer op die strate is een van starre reglementering en gehoorsaamheid.
Kagame het Rwanda ʼn nasie van 13 miljoen napraters, ja-broers en lakeie gemaak – en ek neem hulle nie kwalik nie. Sy intelligensie en sekerheidsnetwerk infiltreer elke uithoek van dié land.
Ek het die land ʼn week lank van suid na noord en van oos na wes deurkruis en met tientalle gewone mense gepraat – kelners, kroegmanne, gidse, mense in markte.
Hulle antwoorde was almal dieselfde.
“Hoe gaan dit nou met die verhouding tussen Hutu’s en Tutsi’s?”
“Daar is nie meer Hutu’s en Tutsi’s nie; ons is nou net Rwandese.”
“En hoe voel jy oor die moordenaars van die slagting wat nou langs jou bly of tussen julle bly?”
“Ons het versoen in Rwanda; ons is nou almal een.”
“Hou jy van Paul Kagame?”
“Natuurlik. Hy het sekerheid gebring. En die land gaan vooruit.”
Die gidse by die volksmoordmuseums was eens oorlewendes, maar is vervang deur jonger historici met universiteitsgrade. Hulle sing luid aan Kagame se deuntjie.
As jy na hulle luister, het Rwanda 25 jaar gelede net ʼn verlede gehad. Nou is daar ʼn toekoms, danksy die president.
Valerie onthou asof dit gister gebeur het toe sy saam met haar ma Nyarubuye toe is om die skedels van die slagoffers te gaan was sodat hulle uitgestal kan word.
Valerie se pa het sy gesin ʼn week ná die begin van die massamoorde na veiligheid in Tanzanië gestuur. Hy het hulle kort hierna gevolg, maar soldate by die grens het hom beveel om Nyarubuye toe te gaan.
Die gesin aanvaar dat hy, soos duisende ander, doodgekap is. Net enkele van die slagoffers van Nyarubuye is uiteindelik uitgeken. Teen die tyd dat Valerie en haar ma van Tanzanië af teruggekom het, was die lyke erg ontbind.
“Met elke skedel wat my ma gewas het, het sy dit hanteer asof dit my pa s’n was. Dit het haar gehelp om vrede te maak met wat gebeur het,” vertel Valerie, nou ʼn restaurantbestuurder in die ooste van Rwanda.
Elkeen van Rwanda se volksmoordmuseums is ʼn reis na die diepste euwels, perversie en boosheid waartoe die mens in staat is.
By elkeen is massagrafte van doodskiste vol beendere wat in ondergrondse grafkelders lê. By die meeste is daar ook skedels en by Murambi, ʼn tegniese skool in die suide van Rwanda waar 50 000 Tutsi’s vermoor en in massagrafte begrawe is, word gemummifiseerde lyke van mans, vroue, kinders en babas uitgestal.
ʼn Biskop het Tutsi’s van die omgewing aangesê om sy kerk te ontruim en na die skool te gaan, waar hulle veilig sou wees. Op 21 April het soldate en Interahamwe inbeweeg en hulle vermoor. Daar was net 34 oorlewendes.
Die ou Rooms-Katolieke kerk by Nyamata, waar 45 000 mense begrawe is, is bykans net so gelaat ná die massamoord op 11 Maart 1994. Daar’s bloed teen die mure, koëelgate in die dak, ʼn oopgebreekte hek en die klere van die slagoffers is op die bankies uitgepak.
By die Roomse gemeente in Nyange in Wes-Rwanda het vader Athanase Seromba (hy is later aan volksmoord skuldig bevind) opdrag gegee dat sy kerk met 2 000 Tutsi-vlugtelinge met ʼn stootskraper platgestoot word. Die Interahamwe en soldate het met oorlewendes klaargespeel terwyl Seromba hulle aangehits het.

Die volksmoordmuseum in Kigali huisves die oorblyfsels van 250 000 slagoffers. Bisesero gedenk die dood van 40 000 mense, by Cyanika is 30 000 slagoffers begrawe en by Kabuye 43 000. Die lys hou aan en aan.Nyarubuye is die laaste rusplek vir 58 000 slagoffers. Sowat 30 000 is by en om die kerk vermoor terwyl die oorblyfsels van nog sowat 30 000 mense later gebring is om begrawe te word.Antoine Kagabo is die bestuurder van Nyarubuye. Hy is hoogs professioneel, goed opgelei en het elke detail van die amptelike weergawe van die volksmoord op die punte van sy vingers.Ek sê vir hom ek was 25 jaar gelede by die kerk. Hy vat my hand en sê: “Dit moes verskriklik gewees het.”“Kan jy dink hoe verskriklik was dit vir mense in en om die kerk?” antwoord ek.Antoine neem my deur die uitstallings in die ou skool. Die slagoffers se klere is op groot banke uitgepak. Van dit is gekoek en verswart van die bloed. Daar’s baie babaklere. Ek maak my oë toe en dink terug.Die stokke wat in die vroue gedruk is, is ook op uitstalling. Ek kan nie daarna kyk nie. Daar’s skoene, ʼn paar hangertjies en Katolieke bidsnoere waaraan die slagoffers vasgeklou het terwyl hulle vermoor is.Van die machetes, skoffelpikke en knuppels wat die doodslae toegedien het, is ook op uitstalling. Daar’s ʼn vleismeul waarin van die moordenaars van die ingewande van die slagoffers gemaal en geëet het. En rye en rye skedels, baie van hulle gekraak en met gate in.Ek vra Antoine of hy my vir ʼn paar minute alleen kan laat. Ek wil afskeid neem van Nyarubuye. Hy sê hy mag nie. Jammer, dis die reëls.Ons stap terug na sy kantoor. Daar’s ʼn klop aan die deur. Hy wink ʼn vrou in wat op die ander stoel gaan sit. Ek skat haar tussen 40 en 50 jaar oud. Sy’s aantreklik met hoë wangbene. Sy lyk soos ʼn Tutsi – of was een.Antoine praat met haar en ek kan aflei dat hy haar vertel dat ek 25 jaar gelede by die kerk was. Sy kyk na my en skud haar kop. Die pyn en foltering in haar oë lê vlak.“Ek ken haar; sy was al voorheen hier,” sê Antoine. “Sy wil my vertel wat met haar gebeur het 25 jaar gelede. Dis vir haar moeilik, maar sy is nou reg om te praat. Jy moet ons asseblief verskoon.”In Rwanda praat hulle van die lewende dooies.Sy is moontlik een van hulle.Dis vir haar vir wie ek huil toe ek by Nyarubuye wegry.
HOOFFOTO: Foto's van slagoffers by een van die vele gedenkmuseums in Rwanda (Jacques Pauw)..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.