Verkiesing 2019: Cyril Ramaphosa se dans met die jakkalse en adders

Politieke Analise

Verkiesing 2019: Cyril Ramaphosa se dans met die jakkalse en adders

Die insluiting van soveel skelms, staatskapers en Gupta-handpoppe op die ANC se lys van kandidate in 2019, ná alles wat ons nou al van staatskaping en Zuma se katastrofiese termyn weet, beteken dat die ANC op sy doodsbed lê, sê MAX DU PREEZ

NIEMAND is meer angstig oor die uitslag van die verkiesing oor vier weke as Cyril Ramaphosa nie.
Vir hom is daar drie scenario’s. Die beste een is dat die ANC na aan of meer as 60% van die stem kry (die ANC het in die laaste algemene verkiesing 62% steun geniet). Dan is Ramaphosa nie net veilig in sy pos nie, maar hy kan sy visie van Suid-Afrika as ‘n suksesvolle land met ’n groeiende ekonomie met selfvertroue begin implementeer.
Die tweede scenario, op die oomblik oënskynlik die mees waarskynlike, is as die ANC rondom 54% kry – die getal stemme wat die ANC in die plaaslike verkiesing van 2016 getrek het. So ’n vertoning gaan sy vyande in sy party meer kordaat maak om hul terugvegpoging te verskerp.
Die slegste scenario is as sy party minder as 54% kry. Dan sal hy gedurig oor sy skouer moet loer en sal die moontlikheid dat hy in 2020 as leier uitgestem word, sterker wees. (Die heel slegste scenario is natuurlik dat die ANC minder as 50% van die steun gaan kry en in koalisie moet regeer, maar dit lyk op die oomblik vergesog genoeg om nie verder te ontgin nie.)
Toe ek Ramaphosa in 1984 die eerste keer leer ken het as leier van die Nasionale Unie van Mynwerkers en argitek van Cosatu-in-wording, het ek geweet: dié jong man (hy is ’n paar maande jonger as ek) glo dit is sy lotsbestemming om eendag die leier van ’n vrye en demokratiese Suid-Afrika te wees.
Sy plan was op dreef toe hy later ’n sleutelleier van die UDF was, toe hy die man was wat Nelson Mandela na sy eerste openbare optrede in Februarie 1990 begelei het en in 1991 as die ANC se sekretaris-generaal verkies is. En toe die ballingskap-deel van die ANC in 1994 besluit Thabo Mbeki, en nie Cyril nie, moet Nelson Mandela se adjunkpresident word, het hy die politiek verlaat kort nadat hy sy taak as voorsitter van die grondwetskrywende vergadering voltooi het – maar net om sy kans af te wag.
Sy kans het in 2012 gekom toe hy die ANC se adjunkpresident en in Mei 2014 die land se adjunkpresident geword het en die pad vir hom voorberei het om by Nasrec in Desember 2017 president van die ANC en twee maande later van Suid-Afrika geword het.

Ramaphosa se ideaal is om tot met die verkiesing van 2029 president te wees – twee volle termyne. Hy sal dan 77 jaar oud wees. (Jacob Zuma was 76 toe hy verlede jaar onttroon is.)
As dinge vir hom hiervandaan skeefloop, wonder ek of hy sal terugkyk na die Nasrec-konferensie en besin of hy nie daar sy eerste foute gemaak het, kompromieë aangegaan het wat sy uiteindelike ondergang sou beteken nie.
Ramaphosa het sy teenstander, Nkosazana Dlamini-Zuma, met 179 stemme verslaan - hy het 2,440 stemme getrek, sy 2,261. Maar hy en sy kamp was erg geskok toe dit aangekondig word dat sy kandidaat vir sekretaris-generaal, Senzo Mchunu, met 24 stemme deur Ace Magashule verslaan is – 2,336 teen 2,360. Hulle het vas geglo daar is met die stemtellery gekonkel, en glo dit nog steeds. Daar was destyds hardnekkige gerugte dat 63 stembriewe vir die Top Ses-posisies onverklaarbaar verdwyn het.
Die Ramaphosa-span het besluit om die uitslag te aanvaar eerder as om ’n ondersoek te eis, wel wetende dat die posisie van sekretaris-generaal ’n magtige een is en met die volle besef dat Magashule een van die voorbokke van die verrotte Zuma-kamp was. Maar hulle het waarskynlik geglo Magashule se reputasie van korrupsie en magsmisbruik hom gou genoeg in die tronk sou laat beland en wou nie die risiko loop om die hele konferensie te laat intuimel nie.
Die Ramaphosa-span het hul eie potensiaal om as die faksie met die mag goed te laat gebeur, heeltemal oorskat en die Zuma-faksie se kapasiteit om terug te veg, onderskat.

Dit was terloops ’n soortgelyke argument wat die Ramaphosa-kamp beweeg het om die omstrede kongresbesluit oor onteiening sonder vergoeding te aanvaar. Hulle het hard daarteen baklei, in ’n paar gevalle letterlik op die vloer van die vergadering, maar het uiteindelik besluit om met die besluit saam te leef eerder as om die risiko te loop dat die hele konferensie misluk – en Zuma vir etlike maande nog in die stoel hou.
Magashule is die adder in Cyril se boesem. Dié ou jakkals het die Cyriliete om elke hoek en draai ore aangesit. Hy is die koördineerder van die aanslag om Ramaphosa te saboteer, die generaal van die terugvegstrategie van die ANC-elemente wat hulle ná Ramaphosa se verkiesing buite die binnekring bevind het. Hy het openlik op ’n ANC-vergadering vroeg verlede jaar verklaar dat sy kant die ANC binne vyf jaar sou “terugvat”.
(Fikile Mbalula, nou nie juis ’n Cyril-groupie nie, het enkele dae voor die Nasrec-konferensie verklaar: “Ace Magashule is a definite no no no, the man will finish what is remaining of our movement. He will kill it.”)
Ramaphosa het baie reggekry sedert hy president geword het. Hy het van die beste van die Zuma-afgedankte ministers teruggebring, hy het die staatsondernemings skoongemaak, hy het die Zuma-lakeie uit die leierskap van die Valke, nasionale intelligensie en die nasionale inkomstediens geskop, hy het nuwe lewe in die nasionale vervolgingsgesag geblaas.
Maar hy het ook, in die naam van party-eenheid, gediskrediteerde kabinetslede soos Bathabile Dlamini, Nomvula Mokonyane en Malusi Gigaba heraangestel, en hier slaan hulle vandag hoog op die ANC se verkiesingslys uit. Ramaphosa se oënskynlik eerbare poging om die party in een stuk te hou en in die proses sagkens met sy opponente te werk, sou gewerk het as sy teenstanders dit nie deurgaans misbruik en as ’n swakheid gesien het nie.
Die Ramaphosa-span het myns insiens deurgaans te veel daarop staatgemaak dat hy verreweg die gewildste leier onder die burgers van Suid-Afrika is, en hulle te min oor die onderduimshede en organisasie op grondvlak van die terugvegters bekommer het. Die nasie regeer nie, die ANC doen...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.