Wapenskandaal: As die meeste bote en vliegtuie ten minste nog...

SPESIALE VERSLAG

Wapenskandaal: As die meeste bote en vliegtuie ten minste nog in diens was ...

Duikbote en vegvliegtuie was dalk nie wat ons nuwe demokrasie ná 1994 die nodigste gehad het nie, maar ten minste het ons ná die groot wapentransaksie ’n parate, moderne weermag gehad, reg? Nie eintlik nie. ERIKA GIBSON het gaan ondersoek instel en bevind dat meer as die helfte van die wapentuig in die werkswinkel, die skrootwerf of aan die oproes is.


Suid-Afrika het destyds R6 biljoen vir die vier skepe betaal. Vyf jaar se onderdele is ook by die Duitse Fregatkonsortium aangekoop. Sedert 2011 is die vloot met die fregatte ingespan om langs die ooskus van Afrika in die Mosambiek-kanaal te help met seerowerpatrollies.‘
Dié onverwagse taak het veroorsaak dat die vloot binne 18 maande al die skepe se see-ure opgebruik het. Soos met vliegtuie, moet groot skepe binne ’n gegewe aantal see-ure groot versienings ondergaan.
’n Enkele van dié versienings kos nagenoeg R350 miljoen, oftewel R1,4 biljoen vir al vier. Tot op hede kon nog net die SAS Amatola dié groot versiening ondergaan.
Die ander drie se gevegstelsels gaan weens die gebrek aan onderhoud nou vinniger ook agteruit. Slegs twee skepe is ten volle seewaardig terwyl die ander tans beperk is om in en om die hawe rond te vaar.
Die vloot het drie van die bote teen R4,7 biljoen by die Duitse Duikbootkonsortium aangekoop. Die vloot se plan was om minstens een duikboot op ’n slag te gebruik, terwyl die tweede vir opleiding gebruik sou word en die derde een enige versienings sou ondergaan. Slegs twee bemannings is tans opgelei, waarvan een operasioneel en een vir opleiding. Slegs die SAS Manthatisi is tans seevaardig met ’n volle bemanning.
Net soos met die fregatte moet die duikbote ook ná ’n bepaalde aantal see-ure die nodige versienings ondergaan. Met die destydse aanskaffing en die kabaal rondom die omvang van die wapentransaksies is die nodige toerusting egter nie aangekoop om dié versienings plaaslik te doen nie.
Geen gereedskap, opleiding of die mees basiese handleidings om die werk in Simonstad se droogdokke te doen is aangeskaf nie, volgens vise-adml. Mosiwa Hlongwane, die vloothoof. Dié vermoë sou uit die operasionele begroting ná die aanskaffing gefinansier word, maar toe droog die verdedigingsbegroting op en word die vloot genoodsaak om met wat hy het voort te ploeter en reg te maak wat hy kan. Een van die duikbote is wel klaar versien, terwyl op onderdele vir die tweede gewag word. Die derde een se versiening sal iewers in die toekoms gedoen word.
Vier AgustaWestland-helikopters is teen R702 miljoen uit Brittanje aangekoop vir spesifieke gebruik aan boord van die fregatte. Dié duur en komplekse helikopters se instrukteurs is oorspronklik in Brittanje opgelei. Die lugmag het egter nooit enige plan in werking gestel om dié kundigheid oor te dra nie. Waar die instrukteurs afgetree of bedank het, was daar niemand om hulle te vervang nie. Dit het die lugmag genoodsaak om Britse instrukteurs ten duurste te huur om met die opleiding te help.
Met die fregatte se beperkte see-ure het dit beteken die volle potensiaal van die Lynx word ook nie benut nie. Daar is tans geen voltydse instrukteurs nie en die vier jong vlieëniers wat die helikopters moet vlieg, het nie een al ’n enkele see-uur op hul kerfstok nie.
Ses-en-twintig van hierdie vliegtuie is teen R9,1 biljoen by SAAB van Swede aangekoop juis omdat dit met die minimum grondsteun en op kleiner aanloopbane gebruik kon word. Dit was destyds van die mees gevorderde vegvliegtuie van sy soort. Die gebruik is egter gekortwiek omdat die lugmag weggedoen het met sy ou Boeings wat in vlug die vegvliegtuie van brandstof kon voorsien. Dít beperk die reikafstand en aanwending van die Gripens.
Teen ’n geraamde uitgawe van R150 000 per vlieguur het begrotingbesnoeiings vliegure drasties ingekort. Dit het die lugmag genoodsaak om sedert 2013 die helfte van die vliegtuie op rotasiegrondslag te stoor. Twee jaar gelede was daar slegs vyf voltydse Gripen-vlieëniers oor.
Die kritici van die Britse Hawks, wat Suid-Afrika R3,8 biljoen gekos het, het van die begin af gesê dit is ou tegnologie al was die avionika ten volle gemoderniseer. Die vier-en-twintig vliegtuie vlieg sedert 2004 steeds met die oorspronklike sagteware omdat dit R1 biljoen sal kos om dit op te gradeer.
Slegs vier van die vliegtuie is weens ’n gebrek aan onderdele en vlieëniers ten volle diensbaar. Van die vliegtuie in onbruik is reeds gedeeltelik gestroop vir onderdele.
Ingeligtes meen dat minstens die helfte van die vliegtuie permanent aan diens onttrek of verkoop kan word as die lugmag se begroting verder besnoei word. Die ander alternatief is om tussen die Hawks en die Gripens te besluit.
Dié Italiaanse helikopters moes die lugmag se stokou Alouettes teen R1,5 biljoen as opleidingshelikopters vervang. Vergeleke met die “Draadkar”, soos die ouer Alouette bekend was, het die lugmag so ’n gesofistikeerde helikopter gekies met soveel ekstras aan boord dat dit van die begin af as ’n twyfelagtige keuse beskou is. Leerlingvlieëniers het gesukkel om basiese opleiding te slaag, wat die lugmag genoodsaak het om van die opleiding uit te kontrakteer. Groot en lang vlieëniers het nie behoorlik ingepas nie en nog minder ’n draagbaar waar die helikopters in soek en redding gebruik is.
In 2013 is die Agustas tydelik aan diens onttrek omdat die helikopters 0% diensbaarheid gehad het, hoofsaaklik omdat tipe-spesifieke opleiding nie naastenby voldoende was om die vliegtuie in die lug te hou nie. Vyf van die helikopters is in ongelukke afgeskryf en tans is daar sowat 10 van die helikopters wat landwyd gebruik word.
Teenhandel
Nou ja, ons het nie veel gebruik van al die bote en vliegtuie nie, maar ten minste het die regering destyds gesorg dat die wapenmaatskappye werkgeleenthede en infrastruktuur as vorme van teenhandel skep, reg? Nie eintlik nie.
Die nugtere mening van een voormalige senior weermagoffisier wat by die wapentransaksies betrokke was oor die teenhandel wat volgens belofte meer as 65 000 nuwe werkgeleenthede sou skep, is dat die wapenverskaffers bloot net waardes begin heg het aan gedeeltes van die kontrakte wat in elk geval deel van enige transaksie sou wees.
Die handelaars moes krediete vir teenhandel in die plaaslike wapenbedryf opstapel, asook in die kommersiële sektor waarby die hele land sou baat vind. Laasgenoemde het enigiets van ’n kondoomfabriek tot die verwerking van goud in juwele ingesluit. Die getal werkgeleenthede wat geskep is, word nêrens presies aangedui nie – nie eens voor die Seriti-kommissie wat die wapenpakkette ondersoek het nie.
Die huidige stand van die plaaslike wapenbedryf is miskien ’n aanduiding met wapenuitvoersyfers wat in 2010 altesaam R8,3 biljoen beloop het en in 2017 minder as die helfte op R3,4 biljoen bereken is. Die wapenbedryf sukkel met Denel, die staat se vervaardiger, waarskynlik die duidelikste voorbeeld daarvan.
Tog sê Krygkor die die teenhandelverpligtinge is grootliks nagekom.
Die Departement van Handel en Nywerheid het by herhaalde navrae geswyg oor die finale syfers rondom die Nasionale Industriële Deelname-program (NIP). Van die 30 NIP-projekte het etlikes gesink. Een daarvan is die sukkelende Magwa-teeplantasie in die Oos-Kaap. Die Duitse Fregatkonsortium het R23,5 miljoen in die plantasie belê. In 2011 het die werkers die hoogs suksesvolle plantasie grootliks verrinneweer totdat dit later in sakeredding geplaas is.
Debevoise & Plimpton, ’n internasionale ouditeursfirma wat die transaksies ondersoek het, het bevind dieselfde konsortium se belegging van R26 miljoen in ’n opvoedkundige program, Atlantis Development, was ook ’n mislukking. Grootskaalse korrupsie het dit gekelder.
Daar is waarskynlik suksesse, want luidens getuienis voor die Seriti-kommissie is 93% van die NIP-verpligtings nagekom.
Dalk lê die antwoord daarin dat daar nie ’n voorwaarde ingesluit is dat die projekte suksesvol moes wees nie, wat beteken het dat etlike van die wapenverskaffers bloot geld in die projekte “belê” en dit toe afgeskryf – hul verpligtings was nagekom en dus ’n “sukses”.
Of die land of die weermag op lang termyn enige vrugte van die transaksies se beloftes gepluk het, is ’n blywende onderwerp van debat.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.