Zimbabwe: ’n Olyftak aan wit boere

Vasgevang in die verlede

Zimbabwe: ’n Olyftak aan wit boere

Die goeie nuus uit Zimbabwe – en goeie nuus is deesdae skaars – is dat die regering eindelik erns daarvan maak om geld in die hande te kry om die duisende onteiende wit boere te vergoed, skryf PETA THORNYCROFT.


Die grondvergrype het amper 20 jaar gelede begin, maar die regering het hulle min gesteur aan grondwetlike bepalings waarvolgens hulle vir “verbeterings soos damme, opstalle en tabakskure op gekonfiskeerde plase” moes betaal. (Nes die voormalige koloniale mag, Brittanje, vir die grond moet betaal, sê die regering.)
Maar ingeligtes sê Mthuli Ncube, die minister van finansies, word binnekort in Washington verwag en sal alles in sy vermoë doen om brûe te bou, veral met die VSA.
Voor sy besoek is onteiende wit boere 10 dae gelede na ’n vergadering in Harare genooi.
Baie van die sowat 500 wat dit bygewoon het, was verswak en het in rolstoele en met looprame daar opgedaag. Sommige was emosioneel, selfs aangedaan, toe hulle hoor dat die regering vir die eerste keer ingestem het om mense te help wat in armoede verval het sedert hulle van hul plase afgedwing is.
Die regering het ingestem om ongeveer R700 miljoen van die jongste begroting opsy te sit – geld wat vir die vergoeding van boere toegeken is – om mense te help wat hulleself nie kan onderhou nie.
Briewe oor die geld sal nou uitgestuur word aan die wit boere wat finansieel die swaarste getref is. Wat hulle ook al van die regering ontvang, sal in die finale vergoedingspakkette verklaar word.
Dié geld sal uiteindelik ’n fraksie van die boere se totale eise dek. Tot dusver is 3,200 gedetailleerde eise ingedien, en ingeligtes glo dat wanneer alles gefinaliseer is, die vergoedingsrekening vir verbeterings sowat 9 biljoen Amerikaanse dollar sal beloop.
Hierdie bedrag sal onderhandelbaar wees, maar verskeie plaaslike en internasionale kenners wat die boere se eise gesien het, sê dit is billik en word deur bewyse soos oudits, belastingopgawes, foto’s en voorraadlyste gesteun. Die eise sluit nie verlies aan inkomste in nie.
Sedert 2005 is al die grond wat by wit boere afgeneem is in staatsbesit. Maar die ontvangers van daardie grond, hoofsaaklike Zanu PF-swaargewigte of -ondersteuners, het tot op hede niks daarvoor betaal nie, nie eens huur nie.
Ncube weet dit moet verander.
Uitmergelend
“Ons het ’n dooie bate in die vorm van grond geskep, en ons moet dit in ’n produktiewe bate omskep,” het hy verlede maand gesê.
Hy het ook erken dat die 99-jaar-huurkontrakte wat tot dusver aangegaan is, nie bankwaardig is nie.
“Daar is nog werk wat gedoen moet word voordat dit afgesluit kan word,” het hy gesê. “Want sonder (bankwaardige) 99-jaar-huurkontrakte kan ons nie genoeg dekking skep in terme van eiendomsregte sodat banke krediet aan boere kan verleen nie.”
Hy en die regering weet dus wat hulle te doen staan. Hy weet ook dat vergoeding betaal moet word: “Dit (vergoeding) is nou die groter olifant in die vertrek.”
Hy het gemeen dat die regering hul eie waardasies van onteiende plase aan die einde van verlede maand sou voltooi. Dit het egter nie gebeur nie.
Die laaste paar jaar is gekenmerk deur uitmergelende onderhandelinge tussen die regering en die onteiende boere se verteenwoordigers in die Waardasiekonsortium.
Die konsortium is deur verskeie klein maatskappye in Zimbabwe gestig kort nadat die inname van plase begin het. Dit word deur professionele eiendomswaardeerders beman wat deur die loop van jare komplekse eise vir onteiende boere (van wie baie vandag elders woon) opgestel het.
Bestaande eise word gereeld bygewerk en die konsortium aanvaar ook nuwe kliënte wat meer onlangs van hul grond afgedwing is, sowel as dié wat ophou boer het of voormalige boere wat minimale vergoeding aanvaar het en gedurende die eerste paar jaar van die onteieningsproses geëmigreer het.
Sommige van die emigrante wat eenvoudig uit Zimbabwe wou wegkom nadat hulle hul plase verloor het, het nou gedetailleerde eise ingedien.
Arbitrasie
Ingeligtes sê hulle glo die regering begin aanvaar dat daar onafhanklike arbitrasie van byvoorbeeld die Wêreldbank sal wees indien hulle die eiswaardes vir “verbeterings” soos opstalle, skure, veedippe en heinings sou bevraagteken.
Hulle meen die regering sal die Wêreldbank versoek om ’n raadgewende rol te speel in die herbepaling van die grond se waarde en die ontwikkeling van gediversifiseerde landbou vir groot- en kleinskaalse boere wat nou op ongeveer sewe miljoen hektaar se gekonfiskeerde grond van wit mense boer.
Daar is steeds sowat 300 wit boere wat op klein gedeeltes van hulle oorspronklike eiendom boer. Dit is nie duidelik of hulle aanbly omdat hulle geld maak of omdat hulle nie ’n keuse het nie.
Daar is nog ’n groep wat in die stilligheid onteiende grond by Zanu-PF-begunstigdes gehuur het, gewoonlik nadat diegene wat die grond ontvang het nie daarin kon slaag om suksesvol te boer nie en in die skuld geraak het.
Boere het ook verlede week gehoor die regering vra dat hulle met idees vir ’n nuwe landboubeleid na vore moet kom om waardes te herbou en die landboubedryf, wat van tabak afhanklik is, te diversifiseer.
Zimbabwe produseer tans meer tabak as vóór die grondvergrype aangesien dit vandag deur tienduisende kleinskaalse boere aangeplant word.
Baie bewaringsgesindes sê hulle is spyt hieroor, want alhoewel hierdie gewas maklik groei, benodig dit reuse-hoeveelhede giftige chemikalieë om te floreer. Voor die grondvergrype het sommige van die tabakboere na ander gewasse begin diversifiseer.
Kleinskaalse boere is dan ook verantwoordelik vir die jaarlikse uitkap van woude om as brandstof vir hul tabakoonde te dien.
Tabak was verantwoordelik vir minstens 40% van Zimbabwe se uitvoerinkomste, maar ná die grondvergrype het produksie ineengestort.
Toe die landbank terselfdertyd sneuwel en kommersiële banke verseg om lenings toe te staan omdat grond waardeloos geword het, het internasionale tabakhandelaars ingegryp.
Die massiewe tabakbedryf word tans deur ses welvarende tabakhandelaars gefinansier en bestuur, waaronder Britse, Amerikaanse en Chinese maatskappye.
Tabakproduksie het herstel, maar verskeie ander landbou-ondernemings – koffie, tuinbou, vrugte – het verdwyn en mielieproduksie het nooit herstel nie. Vanjaar se droogte het produksie weer geknou en Zimbabwe gaan enorme voedselhulp benodig. Daar is egter tekens van nuwe beleggings uit die privaat sektor in avokado’s en verskeie neutbome, sommige daarvan op staatsgrond.
Die landboukundige infrastruktuur wat Zimbabwe se wêreldklas-landbou ondersteun het, het ná die grondvergrype agteruitgegaan: plaaskolleges, paaie, damme, besproeiing, navorsing, eksperimentering, diversifisering, ensovoorts.
Maar dit is nie ’n totale ramp nie. Landbou-akademici sê daar is vandag meer as ’n miljoen mense wat op hul eie stukkie grond woon, leer en boer.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.