Zondo: Feite, flaters en Vytjies

Ondersoek na staatskaping

Zondo: Feite, flaters en Vytjies

Suid-Afrika sien politici in 'n gans ander lig sedert een skande ná die ander op die lappe begin kom het, skryf ERIN BATES, eNCA-verslaggewer.


OP 20 April sal dit presies agt maande wees sedert die regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping onder voorsitterskap van adjunk-hoofregter Raymond Zondo met sy openbare verhore begin het. Die kommissie het sedert 20 Augustus die getuienis van minstens 50 getuies aangehoor. Aan die begin het die regspan terrein gedek wat aanvanklik bestryk is deur die vorige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, in haar “State of Capture”-verslag.
Maar toe, op 16 Januarie 2019, was daar ’n aardskuddende verskuiwing met die bekendstelling van ’n nuwe “speler” – Bosasa.
“Ons het nie baie tyd om die werk van die kommissie klaar te maak nie,” het Zondo verlede week gesê toe hy ’n getuie aangespoor het om gou te maak met bykomstige getuienis.
Zondo het op 26 Maart vanjaar aan Vuyo Mvoko van eNCA gesê hy mik om teen die einde van die jaar die mondelinge getuienis af te handel. In Julie verlede jaar het hy die Hoër Hof met ’n dringende aansoek genader om die 180 dae te verleng wat Madonsela in haar remediërende aksie aanbeveel het.
Die Madonsela-aksieplan is ná ’n lang gesloer teensinnig deur oudpres. Jacob Zuma aanvaar en uiteindelik is die kommissie in die staatskoerant van 25 Januarie aangekondig. Weke later het Zuma laatnag bedank. Die Hoër Hof het Zondo se termyn van ses maande tot 24 maande verleng, met 1 Maart 2018 as aanvangsdatum. Nou bly minder as ’n jaar oor. Daar is baie korrupsie wat nog ontrafel moet word, kruisondervraging wat afgehandel moet word, en – heel moontlik – onwillige getuies wat gedagvaar moet word.
Zuma teen die res
Met minder as ’n jaar om te gaan wonder jy dalk wat die werk van die Zondo-kommissie nou eintlik beteken. Moontlike antwoorde hang af, ten minste gedeeltelik, van jou politieke gesigspunt. Oudpres. Jacob Zuma, byvoorbeeld, dink glad nie dat hy geïmpliseer is nie.
Zuma moet nog sý weergawe van gebeure stel. Toe hy studente van die Walter Sisulu-universiteit op 12 September verlede jaar toegespeek het, het hy die onafhanklikheid van die regsbank voorgehou as bewys dat staatskaping nooit gebeur het nie. “Daar is geen staatskaping in Suid-Afrika nie,” het hy gesê. “Daar is mense wat goed aan ander gedoen het, maar daar is glad nie iets wat staatskaping genoem word nie.
Meer onlangs het Zuma aangevoer dat daar geen getuienis van korrupsie teen hom was nie. “Sommige mense maak my die sondebok van alles,” het hy gekla in ’n onderhoud met Steven Motale, die huidige hoofredakteur van die webtuiste Africa News 24-7.
“Jy weet, wanneer ’n mens luister na die kritiek oor korrupsie in Suid-Afrika, word ek uitgemaak as die nommer een korrupte man. Daar was al ondersoeke en nóg ondersoek om te probeer vasstel wat dit is wat ek gedoen het. Niks het nog aan die lig gekom nie.”
Zuma se ontkennings is in skrille kontras met die getuienis van onder andere die voormalige minister van minerale bronne, Ngoako Ramatlhodi. Ramatlhodi het getuig hoe die Guptas gespog het met hulle invloed oor Zuma. Ramatlhodi het aan Zondo gesê die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het verskeie kere die Guptas se verhouding met Zuma bespreek.
“Ons kon nie verstaan watter houvas hierdie familie op Zuma gehad het nie,” het Ramatlhodi getuig. “Dit was asof ’n luislang hom om Zuma verstrik het.”
Ramatlhodi het gesê dat Zuma sy vriendskap met die Guptas verdedig het omdat hulle sy seuns, Edward en Duduzane Zuma, gehelp het toe hul pa persona non grata was. “Wat hy gedoen het, was om uitvoerende gesag op te veil,” het Ramatlhodi van Zuma gesê. “En nou gaan die volgende president wat kom, ’n leë kantoor erf wat gesag betref.”
Tydens sý getuienis op 22 Maart het die vorige minister van sport en ontspanning, Fikile Mbalula, na die Guptas verwys as “die olifant in die kamer”. Hy het getuig dat hy na dié familie verwys het tydens ’n NUK-vergadering in Augustus 2011.
Ses dae ná Mbalula se verskyning het Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, getuig dat omkoopgeld van R300,000 per maand kontant deur Bosasa betaal is aan Dudu Myeni, afgedankte voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiensraad. Dít was skynbaar bedoel vir die Jacob G. Zuma-stigting.
Agrizzi het gesê hy het nie geglo dat die geld na die Zuma-stigting toe gegaan het nie – die bedrag is altyd kontant betaal en gevolglik kon die uiteindelike bestemming(s) daarvan nie nagespoor word nie. Agrizzi het verder getuig dat Gavin Watson, Bosasa se uitvoerende hoof, Nkandla besoek het om met Zuma te praat oor die beskerming van Bosasa. Agrizzi het Watson as “bulletproof” bestempel met Zuma as ’n politieke vennoot.
Pres. Cyril Ramaphosa, Zuma se opvolger, het die Zondo-kommissie verskeie kere as “suiwerend” en “hoopvol” bestempel.
In Davos op 23 Januarie vanjaar het Ramaphosa gesê: “Die positiewe ding is, terwyl die waarheid na vore kom, dat dit bydra tot ons vasberadenheid as ’n land en as ’n regering en as ’n nasie om korrupsie te beveg, om dit tot ’n einde te bring en om seker te maak dat diegene wat aandadig is aan dade van korrupsie aan die pen ry.”
Die mees siniese onder ons kan antwoord dat die Zondo-proses ’n vermorsing van regeringsgeld en ’n skouspel van die sogenaamde “Nuwe Daeraad”-administrasie is. Dis waar dat die Zondo-kommissie ’n duur prosedure is en die eindproduk gaan ’n verslag wees wat bevindings en aanbevelings bevat. Dit staan los van vervolging in die howe en die koste vir die eerste ses maande alleen was R230 miljoen.
Vytjie maak foute
Of dit nou bedoeld of toevallig is, die Zondo-kommissie is ’n strategiese plekhouer. Dit samel inligting in, toets weergawes van gebeure en weeg – in ’n hoogs openbare arena – die ernstige bewerings op wat onder eed gemaak is. Die regspan takseer getuienis, insluitende relevante ondersteundende dokumentasie, besin oor die geloofwaardigheid (of nie) van ’n getuie se aansprake.
Intussen lyk dit of regstelwerk, wat dringend nodig is, gedoen word aan staatsinstellings wat verantwoordelik is om korrupsie hok te slaan. Kyk byvoorbeeld na die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Tribunaal wat onlangs aangekondig is om die terugkry van wanaangewende staatsgeld te bespoedig.
“Daar gáán vervolgings wees en party mense gaan in die tronk beland en oranje oorpakke dra,” het Ramaphosa onder applous belowe op die Myn-indaba op 23 Februarie vanjaar. Ramaphosa staan bekend as iemand wat glo in die korrekte prosedure, en soos die dier waarmee hy die meeste geassosieer word – die buffel – kan sy volgende beweging voorspelbaar wees. Maar buffels is hoogs gevaarlik - en moet hulle nie onderskat nie.
Ramaphosa het voorts by die Myn-indaba gesê: “Alles moet binne die regsreëls se parameters geskied, en ons wil hê dat ons instellings sonder vrees, voortrekkery of vooroordeel moet optree. En hulle moet hulle werk doen. En hierdie keer gáán hulle hul werk doen."‘
Ramaphosa het gevra dat kommissies van ondersoek ruimte gegee moet word om hul werk te doen. “Laat ons die proses sy loop laat neem terwyl ons deur die veranderinge gaan. En daarna sal daar verlossing wees. Ons gáán verlos word, ons sal skoongewas word. En daarna gaan ’n beter land kom. Ek belowe julle dit.”Dié soort optimisme oor die Zondo-kommissie word deur sommige van die getuies gedeel, maar nie deur almal nie. Mzwanele Manyi, wat vroeg in 2018 die Guptas se mediabates bekom het, is in die tweede kategorie.Adv. Vincent Maleka SC het op 26 November 2018 aan Manyi gevra: “Aanvaar jy dat lede van die Gupta-familie en hul sakebelange ernstig onder verdenking gebring is deur geloofwaardige getuienis wat voor die voorsitter gelewer is?”Manyi het geantwoord: “My antwoord is dat ek nie weet nie [...] mense wat hier was, was baie poëties sonder om getuienis voort te bring. Dus, ek weet eenvoudig nie. Ek kan nie na enige brok inligting wys wat enigiemand hier op die tafel gesit het nie.”Die laaste getuie in 2018 was Cheryl Carolus, wat in haar hoedanigheid as ’n voormalige voorsitter van die raad van South African Airways (SAA) getuig het. Sy het dokumente voorgelê wat daarop dui dat Malusi Gigaba, die vorige minister van openbare ondernemings, aan die einde van 2012 in die parlement bewustelik gelieg het oor die SAA se finansiële state. Sy het die getuienis gestaaf van Barbara Hogan, ook ’n voormalige minister van openbare ondernemings, dat die uitvoerende hoof van Jet Airways die SAA-roete van Johannesburg na Mumbai wou inpalm.“Ek dink die werk van die kommissie is van die uiterste belang,” het Carolus ter afsluiting van haar getuienis gesê. “Ek wil my land terughê. Hulle het probeer om ons hede te steel en ons toekoms te verwring. Maar ek gaan nie toelaat dat hulle ons toekoms steel nie.”Vir ander, soos die voormalige ANC-parlementslid Vytjie Mentor, het die Zondo-kommissie nie so rooskleurig uitgedraai nie. Talle van haar aansprake het onder die soeklig verdamp. Haar kleurvolle beskrywing van die Guptas se herehuis in Saxonwold in Johannesburg kan haar ondergang beteken. Sy het marmertrappe beskryf, asook ’n goudbeslaande gastebadkamer waarheen sy beweer een van die Gupta-broers haar gebring het.Nadat sy in 2018 getuig het, het Mentor verskoning gevra dat sy Fana Hlongwane genoem het en dié getuienis teruggetrek. Dié fout voor die Zondo-kommissie het gekom nadat sy die name Brian Hlgonwa en Fana Hlongwane aanvanklik verwar het in haar boek wat sy self uitgegee het.Twee latere getuies, Hlengiwe Mgabadeli en Daphne Mashile-Nkosi, het Mentor se weergawe van gebeure ’n verdere knou toegedien. ’n Ondersoek ter plaatse deur Zondo op 3 Desember 2018 het gate geskiet in haar herinneringe van die Gupta-eiendom. “Dit is baie belangrik dat daar deeglik gekyk word na die kwessies wat uit haar getuienis voortgespruit het,” het Zondo verlede jaar gesê.Wat nou?Daar word verwag dat Zondo se regspan binnekort sy aandag gaan vestig op die beweringe van korrupsie en bedrog deur hoëprofiel-politici in die Vrystaat. Ongetwyfeld sal Ace Magashule, die regerende party se sekretaris-generaal, vol in die kollig wees. Magashule is die fokuspunt van die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh se jongste exposé, die boek Gangster State.In sy inleiding mymer Myburgh of daar nie 'n “aparte kommissie van ondersoek nodig is om tot die kern deur te dring van verrotitng wat die Vrystaatse regering besmet het gedurende Magashule se tyd aan die stuur nie".Wanneer die Vrede-suiwelprojek voor die Zondo-kommissie ter sprake kom, sal die naam van Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne, weer ter sprake kom. Met behulp van data van #GuptaLeaks – ’n skatkis van onthullende e-posse wat van (die Guptas se) Sahara Computers verkry is, het amaBhungane die wanpraktyke onthul wat gepaard gegaan het met ’n suiwelprojek in die Vrystaat wat veronderstel was om swart boere te bemagtig.’n Gedeelte van die bemagtigingsgeld is aangewend vir die troue van ’n Gupta-niggie, Vega Gupta, in 2013 by Sun City wat etlike miljoene gekos het. Zwane was aan die stuur van die Vrede-suiwelprojek toe hy LUK van landbou in die Vrystaat was voordat hy tot Zuma se kabinet bevorder is in September 2015.
Zwane was reeds in die kollig toe getuienis voor Zondo gelewer is oor steenkoolbelange in Mpumalanga wat in 2016 bekom is deur die Guptas en Duduzane Zuma (die oudpresident se seun) deur middel van hul maatskappy Tegeta. Volgens Clinton Ephron van Glencore was Zwane teenwoordig tydens twee vergaderings in 2015 in die vyfster-Dolder Grand Hotel in Zürich, Switserland.
Ephron het onder eed voor die Zondo-kommissie getuig dat die vergadering wat hy op 2 Desember 2015 in dié hotel bygewoon het, deur Zwane se kantoor gereël is. Ephron het getuig dat hy en sy baas by Glencore, die uitvoerende hoof, Ivan Glasenberg, met Zwane, Rajesh (Tony) Gupta en Salim Essa vergader het. Tydens dié ontmoeting het Glencore, volgens Ephron, ingestem om Optimum aan Tegata te verkoop.
Adv. Vincent Maleka SC van Zondo se regspan het op 20 Februarie 2019 aangedui dat Zwane veronderstel was om ’n week later te getuig. Hy het nog nie sy verskyning gemaak nie.
Mxolisi Dukwana, ’n voormalige Vrystaatse LUK, sal na verwagting die volgende getuie voor die kommissie wees. Setumo Stone skryf in City Press dat Dukwana gaan getuig oor ’n beweerde omkoopaanbod van R2 miljoen kontant deur Tony Gupta.
Stone skryf ook dat Dukwana inligting het oor Mugashule se teenwoordigheid, saam met Duduzane Zuma by ’n vergadering in Saxonwold êrens in die loop van 2011.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.