Die ‘apartheidspolisieman’ en die ‘ANC-terroris’

Geen hênsoppers

Die ‘apartheidspolisieman’ en die ‘ANC-terroris’

Dis 'n ongewone vriendskap, dié tussen oudgeneraal Johan Booysen en Robert McBride, wat Donderdag by die Zondo-kommissie begin getuig het. Dis onder meer om ʼn braaivleisvuur gesmee deur 'n gedeelde missie om korrupsie, nepotisme en bedrog op alle vlakke te beveg. Booysen het die verhaal van dié vriendskap aan JACQUES PAUW oorvertel.


“GOEIEDAG, generaal Booysen. My naam is Robert McBride. Ek is die hoof van die Onafhanklike Polisie-Ondersoekdirektoraat (Opod). Wat kan jy my vertel van die korrupsieondersoek teen senior polisie-offisiere en ’n ryk sakeman van Durban waarmee jy besig is?”
Ek was vir 'n oomblik stomgeslaan en het nie geweet wat om te sê nie. Op die foon was die terroris Robert McBride. Die man wat ’n motorbom op 14 Junie 1986 in Durban laat ontplof het waarin drie vroue dood is en 89 mense beseer is. Onder die oorledenes was ʼn vrou in my kerk.
Ek het die oggend ná die ontploffing na die toneel gaan kyk en gewonder watter monster só iets kon doen.
My kollegas in die Veiligheidstak het hom meedoënloos gejag tot hy uiteindelik in die dodeselle gesit het. Ons het saamgestem dat dit McBride se verdiende loon was.
Ek is ’n oudpolisieman wat deur apartheid gebrei en gevorm is. Ek kan dit nie help nie; dis wie ek is. Maar ten spyte daarvan het ek die nuwe Suid-Afrika omhels en my alles gegee om van dié land ‘n sukses te maak en wet en orde in ons nuwe bedeling te handhaaf. Ek het teen alle verwagtinge in ‘n generaal geword.
Maar vir McBride het ek nooit tyd gehad nie. Wat hy gedoen het, druis in teen elke polisie-grein in my bloed.
Ek sou nooit kon droom dat ek en hy eendag nie net in dieselfde skrum teen korrupsie sou sak nie, maar aande lank in mekaar se geselskap sou verwyl en mymer en droom van ’n Suid-Afrika waar ons sonder inmenging vraatsug en korrupsie op elke vlak beveg.
Haat vir misdaad en korrupsie                      
As die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal het ek vir etlike jare man-alleen teen hoëvlak-korrupsie en bedrog in die provinsie geveg. Onder my teikens was die Durbanse sakeman Toshan Panday, wat nou verbind word met die familie van oudpresident Jacob Zuma. Panday tel Edward Zuma en Deebo Mzobe, albei familielede van Jacob Zuma, onder sy sakevennote.
Daar was ook die provinsiale polisie-kommissaris in KZN, lt.genl. Mmamonnye Nogobeni, en haar man, brig. Lucas Nogobeni, wat in Panday se sak was.
Ek het ’n hoë prys betaal omdat ek die verkeerde tone gekielie het. Dié lot was korrup en ek wou hulle aan die kaak stel.
Dié kabaal wou op hul beurt van my ontslae raak.
Hulle het eers probeer om my om te koop, maar ek het die kolonel wat miljoene voor my neus gevryf het, in hegtenis geneem en aangekla.
Ek haat korrupsie en ek haat misdaad. Ek het geweier om my ondersoeke te staak. Dis nie wie ek is nie. Dis nie die eed wat ek afgelê het toe ek polisieman geword het nie.
Hulle het my lewe is ’n lewende hel gemaak en ’n komplot gesmee om van my ontslae te raak en die ondersoek te kelder. Richard Mdluli se misdaadintelligensiediens het ’n storie in die Sunday Times geplant dat ek die leier van ’n Vlakplaas-tipe moordbende was.
Die destydse polisiekommissaris, Riah Phiyega, het geen geheim daarvan gemaak nie dat sy my uit wou hê. Ek het getuienis in my besit dat die gewese polisieminister Nathi Mthethwa opdrag gegee het dat ek aangekla moet word.
Hul bondgenoot was Nomgcobo Jiba, die gewese waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV). Sy was naby aan die destydse president, Jacob Zuma, en het geweier om Richard Mdluli vir korrupsie en bedrog aan te kla. Sy was ook betrokke by die onwettige inhegtenisneming van adv. Gerrie Nel toe hy die gewese kommissaris van polisie Jackie Selebi vervolg het.
Sy het met groot entoesiasme my vervolging geteken en in ’n daaropvolgende hofgeding oor die proses onder eed gelieg.
Ek is in boeie geslaan, stasie toe geneem, aangekla en geskors. Ses-en-twintig van my speurders – goeie en toegewyde polisiemanne wat misdaad soveel haat as ek – is saam met my aangekla.
Ek is nou nog besig om dié stryd te stry en ná agt jaar is ons saak al twintig keer uitgestel.
Maar ek het teruggeveg. Ek sou eers later uitvind dat ek en McBride dié eienskap deel. Ons ken die kuns om te oorleef. Ons gee nie op nie. Miskien omdat ons albei as kinders aan die verkeerde kant van Durban grootgeword het en moes veg om bo uit te kom.
Ek het my dissiplinêre polisie-verhoor 6-0, 6-0 gewen en ek het tot my vyande se groot ontsteltenis aangemeld vir diens.
Ek was terug by die werk, maar ek was alleen en geïsoleer.
Toe kry ek daardie oproep van McBride.
Die begin van die vriendskap
Ek het nie geweet of ek McBride kan vertrou nie, maar ek het hom nietemin in breë trekke van my ondersoek vertel. Hy het my gevra om ’n verslag vir hom te stuur. Ek het ingestem, min wetende dat dit die begin was van ’n hoogs onwaarskynlike alliansie: dié tussen die “terroris” en die eertydse apartheidspolisieman.
Ons het notas begin uitruil en ek was verbaas dat McBride, wat soms die indruk skep dat hy lomp is, so ’n noukeurige en puntenerige ondersoeker was.
Ons eerste ontmoeting was stug en saaklik. Daai bom en die gepaardgaande chaos bly maar hier in jou agterkop maal. Ek het daai tyd ook nie geweet wie is vriend en wie is vyand nie.
Intussen was daar ’n baie belangrike ontwikkeling: Mxolisi Nxasana is aangestel as die nasionale direkteur van openbare vervolging. Ek het vir McBride ’n regsmening oor my sensitiewe ondersoeke geskryf en hoekom daar genoeg gronde vir ’n vervolgings was.
Hy het saamgestem en gesê ek moet my dossiere voorberei vir vervolging. Ek en McBride het aan die werk gespring.McBride was van meet af vreesloos en onverskrokke in sy vasberadenheid om my te help om die korrupsie aan die kaak te stel.
Hy het met sy eie parallelle ondersoek begin. Terwyl ek geskors was, het hulle met my dossier gepeuter en belangrike getuienis het verdwyn.  
Die oud-terroris en die oud-apartheidspolisieman het dag en nag gewerk om sake te herleef. Ons het mekaar pragtig aangevul en vir die eerste keer in meer as twee jaar het ek geglo ons gaan die stryd teen die korruptes wen.
McBride en ek het platforms en netwerke gedeel en hy het nooit geskroom om raad oor ondersoektegnieke te vra nie. Hy het altyd my raad gevolg.
Wanneer dit by ondersoekstrategie kom, het hy egter sy eie kop gevolg. McBride het nooit gehuiwer om korrupsie tromp-op aan te vat nie. Ek het hom menige keer aangeraai om briek aan te draai of terug te hou omdat die tydsberekening nie reg was nie. Maar hy het geweier om terug te staan.
Ek en McBride het mekaar meer begin sien. Ons was besiel en vol moed.
Dis tóé dat ek besluit het ek hou regtig van hom. Sy hart was op die regte plek. Hy’s van Wentworth; ek van Amanzimtoti. Ek het verstaan waar hy vandaan kom, en hy het verstaan wie ek is.
Maar toe raak Zuma van Nxasana ontslae. Hy het vir Shaun Abrahams as die vervolgingsbaas aangestel. Dit was slegte nuus.
Intussen is lt.genl Berning Ntlemeza as die hoof van die Valke aangestel.
Hy het die Valke geheel en al gekaap en gekastreer. Ek was een van sy laaste struikelblokke. Ek het hom telkemale aangevat. Hy het telkens soos ’n besetene gereageer.
Hy het my in hegtenis laat neem omdat ek glo ’n produksiebonus aan myself betaal het. Dit was opperste snert, maar hy het nietemin swaargewapende lede van die Nasionale Intervensie-eenheid gekry om ‘n skorsingsbevel op my te beteken.
Ek het ’n hofaansoek gebring en die saak is uitgegooi. Dit het nie saak gemaak nie. My loopbaan in die polisie was verby en op 1 Maart 2017 het ek op 60-jarige ouderdom uit die mag getree en Pretoria toe verhuis.
Dit was ’n groot oorwinning vir diegene soos genl. Ngobeni wat vir soveel jare my bloed gesoek het. Sy en haar volgelinge het gedink hulle het weggekom.
Maar hulle het vir Robert McBride onderskat.
Jy sal hom moet skiet om hom te stop.
Ons sal nooit hênsop nie
Een aand, seker so skuins ná agt, het alle hel losgebars in die tuinhuiskompleks in die oostelike voorstede van Pretoria waar ek woon.
Een van die inwoners het die sekuriteitswagte laat weet dat ’n “donkerkleurige” man in my woning is, maar dit was net McBride wat kom kuier het. Die wagte het toegeslaan en aan my deur geklop. Daar was amper oorlog op my drumpel, met McBride wat reg was om te baklei!
Hy het naby my gebly en ons het mekaar al hoe meer begin sien. Ek was uit die polisie uit en ek het hom gehelp waar ek kon.
McBride self was ‘n slagoffer van die gewese minister van polisie Nathi Nhleko en sy handlangers. Soos ek is hy geskors, maar elke keer teruggekom en voortgeveg.
Die hoof van die Valke in Gauteng, Prince Mokotedi, het selfs klagtes van verraad en ’spioenasie teen McBride aanhangig gemaak. Dié saak het ook uitmekaargeval.
Ek en McBride het baie aande om die braaivleisvuur gesit en praat; ek met ’n glasie wyn en hy met ’n stywe whisky ‘on the rocks’!
Ons het nooit oor die bom gepraat nie, maar ek weet dat dit sy eie lewe ook onherroeplik verander het. Dis ’n kruis wat hy altyd sal dra.
Ons het wel gesels oor die vier of vyf jaar wat hy in die dodeselle gesit het. Elke dag was ’n lewende hel. Wanneer kom hulle mý nek meet? Of kom haal my, soos wat hulle verlede week die kameraad skuins oorkant my kom haal het en galg toe gelei het terwyl ons vir hom gesing het.
Ek het sy vrou, wat by die Verenigde Nasies in New York werk, net een keer ontmoet. Hy het ’n dogter in Ierland, ’n dogter in die VSA en ’n dogter hier.
Hy praat nie baie oor sy familie nie, maar hy verlang na hulle en ek dink hy voel baie keer alleen. Dis dié dat hy so kort-kort hier by my aangesit kom.
McBride het dapper voortgeveg en sy ondersoeke het uitgebrei na offisiere op die hoogste vlak – onder hulle die waarnemende kommissaris van polisie, lt. genl Khomotso Pahlane.
Pahlane is uiteindelik vir korrupsie en bedrog in hegtenis geneem en voor die hof gebring. Twee ander generale is vervolg en verskeie ander was in McBride se visier.
Ek is teleurgesteld oor die uitval tussen McBride en die minister van polisie, Bheki Cele. Ek ken albei, en ek adviseer trouens soms die minister.
Ek werk nou by Fidelity Security Services, waar ek betrokke is met die ondersoek van transitorooftogte. Sedert Cele die minister geword het, het die polisie in samewerking met die sekerheidsbedryf ’n groot impak gemaak om transitorowers aan te keer. Baie mense vra my wat aan die gang is. Ek sê altyd ek weet nie. En ek weet werklik nie. Ek wil ook nie weet nie, want ek wil nie kant kies nie.
Dis ’n verlies in die stryd teen korrupsie dat McBride weg is by die Ondersoekdirektoraat. Maar ons het beslis nog nie die laaste van hom gesien nie. Dié man is ‘n survivor.
Ek én McBride is survivors en ons sal nooit hênsop nie.
As jy in die waarheid glo en dit nastreef, sal jy wen.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.