Die Saharawi-mense is haar mense, sê Suid-Afrikaner

Wes-Sahara se stryd teen Marokkaanse besetting

Die Saharawi-mense is haar mense, sê Suid-Afrikaner

Catherine Constantinides sê die menseregtekrisis in Wes-Sahara word selfs deur ander Afrikalande geïgnoreer, skryf PETER KENNY.



DIE Suid-Afrikaanse aktivis Catherine Constantinides sê sy gaan nie ophou om 'n “vryheidsvegter” vir die Saharawi’s van Wes-Sahara te wees nie totdat die mense van dié betwiste gebied onafhanklik is.
Constantinides, wat in Johannesburg woon, is die enigste lid van die Saharawi- menseregteraad wat nie self 'n Saharawi is nie. Sy deurkruis die wêreld om Wes-Sahara se strewe na vryheid te bevorder en het die mees onlangse sessie van die Verenigde Nasies se menseregteraad op 24 Maart in Genève, Switserland, toegespreek. Die tema was: “Hoe kan ek vry wees en lewe met die vryheid wat aan my gegee is as my Saharawi-broers en -susters nie vry is nie?”
Op die dag van haar toespraak het 'n bytende, ysige wind van die Alpe af neergeswiep. Reënwindbuie het uitgesak op die paar honderd stoere Saharawi’s wat in hul tradisionele drag vlae geswaai het in Genève se ikoniese Plek van Nasies.
“Ek het die afgelope vyf jaar in die Saharawi-vlugtelingkampe gewerk. Die wêreld móét hoor van die humanitêre krisis,” het Constantinides gesê. Ongeregtighede in Wes-Sahara gaan “te lank” aan en “word deur die wêreld en selfs deur Afrika geïgnoreer.”
“Maar des te meer moet die skending van menseregte, die plundering van natuurlike bronne en die mishandeling en marteling van die Saharawi-mense en hul land deur Marokko oorvertel en openbaar gemaak word sodat die wêreld dit kan sien.”
Sprekers by die protesoptrede het Marokko se besetting van Wes-Sahara veroordeel, asook die gebrek aan vordering in die stadige vestigingsproses wat deur die VN gesteun word.
Verteenwoordigers van Suid-Afrika en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), wat einde Maart in Pretoria ontmoet het, het geëis dat die Afrika-Unie 'n prominente rol speel om Marokko se “onwettige” besetting van die Wes-Sahara en die eksploitasie van sy natuurlike hulpbronne te probeer beëindig.
Wes-Sahara, aan die noordwestelike kus en in die Maghreb-streek van Noord- en Wes-Afrika, word beskou as die vasteland se laaste kolonie. Die VN klassifiseer dit as 'n “nie-selfbeskikkende gebied”.
Dit val deels onder die beheer van die self-geproklameerde Saharawi Arabiese Demokratiese Republiek en word deels beset deur die naburige Marokko. Die grondgebied is 226 000 km2.
#StandInTheSand-betoging
Die #StandInTheSand-betoging is voor die monument van die gebroke driepootstoel by die Plek van Nasies gehou. Dié monument is van groot betekenis vir dele van die Wes-Sahara wat met myne besaai is.
“Ons wil die raad se aandag vestig op die feit dat ontmyning al langs die Berm,” het Constantinides gesê. Die Berm is hoofsaaklik 'n sandmuur wat oor meer as 2 700 km strek en as die grootste militêre versperring in gebruik ter wêreld beskou word. “Dit is ook bekend as die Muur van Skande.”
Volgens haar het die “besettende mag, Marokko”, nog aan geen organisasie van ’buite toegang gegee tot die gebied om ontmyning te kan doen nie.
“Soos ons weet, is myne veral weersinwekkend omdat hul enigste doelwit as wapens is om die slagoffers te vermink eerder as om dood te maak. Dít laat hulle met die vloek van die ergste lyding moontlik. Boonop lewe hierdie vlugtelinge in onmenslike omstandighede.
“Na raming is daar steeds tussen 5 en 10 miljoen landmyne in die Sahara.”
Constantinides is medestigter van Generasie Aarde, 'n jeugbeweging wat hom vir die omgewing beywer.
Haar grootste fisieke uitdaging was om in Februarie vanjaar aan die Sahara-marathon deel te neem. Dié jaarlikse wedloop is moordend: dit is deur die warmste woestyn op aarde. Dit begin by die vlugtelingkamp in Dakhla in die besette deel van Wes-Sahara.
“Ek is nie 'n hardloper of atleet nie, maar is geseën met vier werkende lidmate,” het Constantinides by 'n geleentheid by die VN in Genève gesê.
“Die Saharawi-mense is my mense.”
 “Ek het gedink ek gaan in die woestyn doodgaan, maar besef dat dít waardeur ek gaan, niks is in vergeleke met die mense in die vlugtelingkampe nie,” het sy in 'n onderhoud gesê.
Marokkaanse gesant
Laas maand het Suid-Afrika se ysige betrekkinge met Marokko die eerste tekens van ontdooiing begin toon begin toon toe Pretoria  vir die eerste keer in 15 jaar 'n volwaardige ambassadeur van Rabat aanvaar het.
Dít kan 'n aanduiding wees dat Suid-Afrika meer pragmaties kan wees in sy ekonomiese bande met Marokko, maar Afrika-diplomate in Genève glo nie dat Pretoria van koers sal verander in sy steun vir Wes-Sahara se strewe na onafhanklikheid nie.
Intussen lyk dit of Marokko nie gaan toegee aan Constantinides se strewe om onafhanklike groepe te kry om die mynvelde te besoek nie.
Die VN se spesiale rapporteur oor die onafhanklikheid van regters en regsplegers, Diego García-Sayán, het op 19 Maart aangekondig dat die voorwaardes vir sy besoek aan Marokko steeds nie in plek is nie. “Die regering van Marokko kon nie verseker dat daar ʼn werksprogram is in ooreenstemming met die behoeftes van die mandaat nie en [ook] nie verwysingsterme vir landbesoeke ingevolge spesiale prosedures nie,” het hy gesê.
Dié menseregte-kenner moes die land van 20 tot 26 Maart besoek het om te bepaal wat die impak is van maatreëls wat daarop gemik is om die onafhanklikheid van die regbank en aanklaers te verseker, asook dat die regsberoep onafhanklik beoefen word.
Peter Kenny dek die Verenigde Nasies en Wêreldhandelsorganisaie in Genève. Hy was voorheen by die Rand Daily Mail en Agence France-Presse in Suid-Afrika en het ook vir die ou Vrye Weekblad geskryf.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos [email protected] of skakel 0860 52 52 00.

X