Brexit: Theresa May se ‘politieke antenna was stukkend’

'n Baie Britse klug

Brexit: Theresa May se ‘politieke antenna was stukkend’

Amper drie jaar nadat die Britse publiek gestem het om die Europese Unie te verlaat, is hulle nie een tree nader aan ’n oplossing nie. Brexit lyk nou moeiliker en minder haalbaar as ooit. Hoe het een van die wêreld se oudste demokrasieë en grootste ekonomieë in hierdie impasse beland? ANDY PRICE verduidelik aan die hand van vyf artikels wat die verhouding tussen Brittanje en die Europese Unie oopvlek.


DAT die huidige Britse premier, Theresa May, baie het om voor te antwoord is seker, maar Brexit is ’n veel groter verhaal as net dit. Dit is die produk van Britse eienaardighede gekruis met Europese politiek. Dit is ’n storie wat eintlik net op hiedie buitengewone argipel kan gebeur. Dit is inderdaad ’n baie Britse klug.
Die geskiedenis
As dit vir die buitestaander lyk of Brittanje se optrede teen-intuïtief is, sê Christopher Fear in sy geskiedenis van Brexit, was dit uit die staanspoor so. Heel aan die begin van integrasie op die Europese vasteland in die 1950’s het Frankryk en Duitsland die leiding geneem in projekte met ander nasies waar hulle ekonomiese en industriële hulpbronne kon saamsnoer. Brittanje het geweier om deel te neem.
Verknog aan hulle selfbeeld van die dapper en vreeslose eiland wat Europa gered het van fascisme en hul (lang) verhale van ’n glorieryke en keiserlike geskiedenis, het Brittanje van die begin af ’n inherente eksepsionalisme gehandhaaf. Tien korte jare later was die ses nasies wat die Europese Unie gestig het besig om goed te herstel van die Tweede Wêreldoorlog terwyl Brittanje ekonomies die agteros was. Teen die vroeë 1960’s wou Brittanje deel word van die klub.
Hulle het uiteindelik in 1973 by die EU aangesluit, maar die uitdagings wat lidmaatskap vir sekere dele van die Britse samelewing meegebring het, was van die begin af opmerklik. Baie van die regses het van die ekonomiese elemente van die projek gehou, maar het integrasie in Europa gevrees. Aan die linkerkant het party mense van die internasionale solidariteit gehou, maar was minder entoesiasties oor die ekonomiese etos van die Europese projek.
Dieselfde kwessies is die kern van die 2019-Brexit-debakel.
Die vele beproewinge van Theresa May
Gegewe die spanning wat endemies is aan Brittanje se verhouding met Europa, sou Brexit nooit maklik gewees het nie, maar as ons ooit ’n les gekort het oor hoe om dit nié te doen nie, het Theresa May die les vir ons gegee.
Heel aan die begin van die onderhandelinge het sy op die verkeerde voet met die EU geland – toe sy onrealistiese eise gestel het – wat haar aan die genade van ongenaakbare Brexit-ondersteuners in haar eie party oorgelaat het. Nog belangriker: Sy het beloftes gemaak wat sy nie kon nakom nie. Matthew Flinders, direkteur van die Sir Bernard Crick Centre for the Public Understanding of Politics, het dit só gestel: “haar politieke antenna was stukkend”.
En tog het sy vurig aan haar sienswyse bly vasklou om te bewys dat sy steeds vir die Brexit-saak baklei – maande van retoriek, ontkennings en herhaling.
Vir enigiemand wat John Bercow – die nou bekende Speaker in die Laerhuis – dophou wanneer hy desperaat orde probeer handhaaf as May met parlementslede oorlog voer, is daar ’n heilige les: Soos in die lewe, so ook in die politiek – selfs vir dié wat die hoogste amp beklee, bring dit jou nêrens om jou voete te stamp en die onmoontlike te eis nie.
Die moontlike handelstransaksies
Die onversetlike en onregeerbare benadering tot Brexit-onderhandelinge het May en die hele politieke klas tot op ’n punt gebring waar hulle nie kan saamstem oor hoe om die EU te verlaat nie en, nog belangriker, nie kan saamstem oor hoe ’n toekomstige verhouding tussen die Britte en die EU sal lyk nie.
Die vraag wat nou aan die kern van die saak staan, is hoe Brittanje ekonomies sal funksioneer nadat hulle die EU verlaat het. Maria Garcia het die voor- en nadele uiteengesit van die vyf verskillende opsies wat tans op die tafel is.
Dit is duidelik dat elkeen van hierdie opsies die probleem van politieke opposisie inhou. Die Brexit-debat het – aan die “bly”- én “gly”-kante van die debat – getoon dat niemand eintlik ’n probleem met Brittanje se huidige verhouding met die EU het nie. Die debat rondom die vertrek uit die EU het gedraai om emosionele redes: die vrees oor die verlies van imperialistiese oppergesag en oor ’n verbrokkelende nasionale identiteit.
Nou moet hierdie emosionele kwessies op een of ander manier met ’n ekonomiese model beantwoord word. Een van die groot ironieë van die Brexit-eindspel is dat die debat gereduseer is tot kwessies oor handelsverhoudings, terwyl selfs die vurigste voorvegters van vryhandel tevrede was met die verhouding soos dit was.
As enigiets die waansin van Brexit uitlig, is dit politici wat veldtogte vir Brexit gevoer het in die belange van soewereniteit en om “beheer terug te neem”, wat nou druk vir nuwe ekonomiese verhoudings met die EU wat eintlik beheer en soewereiniteit inboet.Wat is die laaste “backstop”?As die toekomstige handelsverhouding ’n onderwerp was wat nooit behoorlik in die EU-referendum bespreek is nie, dan was daar ’n ander probleem wat heeltemal verwaarloos is: Noord-Ierland.Noord-Ierland was ’n betwiste gebied wat in wese 30 jaar lank in ’n burgeroorlog (bekend as “The Troubles”) gewikkel was. Een kant wou ’n verenigde eiland van Ierland hê en die ander wou binne die Verenigde Koninkryk bly. Vyandelikhede het in 1998 opgehou met die ondertekening van die Goeie Vrydag-ooreenkoms.Hierdie ooreenkoms het dit duidelik gestel dat daar geen terugkeer kan wees na ’n grens tussen Noord-Ierland en die Republiek van Ierland nie. Ná Brexit word daardie grens natuurlik die enigste landsgrens tussen die VK (waarvan Noord-Ierland ’n deel is) en die EU (waarvan die Republiek van Ierland ’n lid is).’n Onsigbare grens werk terwyl albei kante deel is van dieselfde regulatoriese handelsstelsel, maar is onmoontlik waar beheer uitgeoefen moet word, soos byvoorbeeld wanneer goedere wat van die EU af in die VK inkom, of as belasting gehef moet word.
En aangesien al May se voorstelle tot dusver verskillende regulatoriese stelsels vereis, moes sy baie politieke kontorsies uitvoer om die raaisel te probeer oplos. Dis waar die befaamde “Irish backstop” inkom. Hierdie terugval-meganisme moet gebruik word as die twee kante nie ’n toekomstige handelsooreenkoms kan bewimpel wat ’n harde grens onnodig maak nie. Wat dit in wese beteken, is dat die VK binne die EU se doeane-unie sou bly – wat vir baie ’n onaanvaarbare kompromie sou wees.
Wat ook al die vorm, die grensprobleem bly gevaarlik onbeantwoord. Dit is die grootste haakpunt vir die LP’s weerskante van die debat. ’n Vraag vir historici sal wees hoekom niemand in enige besonderhede gedink het oor wat Brexit vir Noord-Ierland sou beteken nie – een van die groot uitdagings in die moderne Britse geskiedenis – alvorens die stem uitgebring is om die EU te verlaat.
Die oponthoud
Ons het so pas gehoor dat Brexit vertraag gaan word – moontlik tot 31 Oktober. So wat gebeur tussen nou en die sperdatum? Ten spyte daarvan dat dit duideliker as ooit tevore is dat May en haar Brexit-projek ’n totale mislukking is, het sy, soos altyd, belowe om voort te gaan.
Dit beteken dat sy dalk sal voortbeur om haar ooreenkoms te laat goedkeur, dalk met ’n paar onderskrifte van Jeremy Corbyn se Arbeid-opposisie. Die twee partye is nou amptelik besig om die weg vorentoe te bespreek.
May se oënskynlike onvermoë om 'n middeweg te vind, maak die sukses van die besprekings onwaarskynlik. Party mense hoop dat ’n nuwe referendum gehou sal word, met ’n stembrief wat die opsie om binne die EU te bly sal insluit. Ander hoop vir ’n verkiesing, maar dit is onduidelik of die gebeurlikheid ’n oplossing vir die Brexit-debakel sal bied.
Watter scenario ook al in die komende maande ontvou, die ongelooflike waarheid is dat alle opsies nou op die tafel is – ook die een om Brexit in sy geheel te kanselleer. Dit kan inderdaad ’n baie eienaardige uitkoms wees vir die 2016-stem om die EU te verlaat. Maar daardie stem self, en die veldtog om dit te aanvaar, was niks indien dit nie eienaardig was nie.
 

Andy Price is hoof van Politiek by Sheffield Hallam Universiteit 
 Hierdie artikel kom uit www.theconversation.com

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.