Cyril: Ons wag op die kaptein

RUBRIEK

Cyril: Ons wag op die kaptein

Daar is geen manier waarop ons nou kan bereken of Cyril Ramaphosa se strategie om in die naam van party-eenheid konfrontasie met sy teenstanders te vermy, goed of sleg vir hom was nie. MAX DU PREEZ begin wonder of die president hom dalk nie totaal misreken het nie.


EK het die laaste twee jaar telkens Ramaphosa se versigtige, langsame strategie om sy party in een stuk te hou en te wag dat sy vyande hulself ophang, verdedig teen kritici wat sê hy het nie ruggraat nie; hy wil almal ter wille wees.
Daar is genoegsame bewyse dat dié strategie inderdaad in sekere opsigte gewerk het. Sy teenstander by die Nasrec-verkiesing in Desember 2017, die Jacob Zuma-proksie Nkosazana Dlamini-Zuma, is byvoorbeeld nou so half aan sy kant en die ANC in KwaZulu-Natal is nie meer vir hom so 'n groot probleem nie.
Maar buite die ANC-binnekringe, onder gewone ANC-ondersteuners en die kiesers, is die persepsie nie so sterk dat hy enigiemand uitoorlê het nie. 'n Klomp van die venynigste senior Zuma-apologete en bewese skelms is terug, hóóg op die ANC se kandidatelys. Hulle gaan die kitaar in die parlement en provinsiale wetgewers wil slaan.
Zuma self dans nog van verhoog tot verhoog in die verkiesingsveldtog asof sy nege jaar as president 'n triomf was. Die Trojaanse perd Ace Magashule het die stadsmure binnegedring en hy het die voorste Cyril-beswadderaars soos Carl Niehaus saamgevat. Die terugvegters zoem soos bye rond, paradeer vol selfvertroue op sosiale media. Thuma Mina en die Nuwe Daeraad waai soos ou plastieksakke in die strate rond.
Woensdag sit ek by veteraan Franklin Sonn aan huis en hy sê dié Cyril-strategie, as dit een was, is uitgedien. Boonop, herinner hy my, Cyril was nog nooit regtig 'n vegter nie. (Sien die onderhoud hier.) Hy hou nie van konfrontasie nie; hy’s 'n diplomaat, 'n vredemaker, 'n fyn, gekultiveerde mens.
Dis natuurlik hoekom so baie Suid-Afrikaners van Ramaphosa hou – hy is alles wat Zuma nie was nie. Hy is presidensieël. Hy’s 'n ordéntlike man.
Maar 'n bleeksiel met blink skoentjies, hoe lief sy ma ook al vir hom is, staan nie 'n kans in 'n rowwe straatgeveg nie. Ander reëls as dié vir die debatkompetisie geld daar. Jy gaan gebliksem raak as jy nie jou storie ken nie. En as jy weghardloop, is jy nie weer maklik welkom in dié strate nie.
Zuma, Magashule en hul bende skelms se monde het saam met Ramaphosa s’n die woord party-eenheid herhaal, maar in werklikheid het hulle hulself ingegrawe en hulle ondermyningsveldtog verskerp. Die kere dat Ramaphosa in die openbaar saam met Magashule, Zuma en diesulkes in ANC-kleure verskyn het om die ANC kwansuis sterker te maak, het húlle in die oë van baie sterker geword en hy swakker. Baie van die staatskapingelemente is nog in posisies van mag – openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane is een – en hulle stoom voort met hulle veldtog asof Zuma nog baas is.
Dis 'n gewilde partytjietruuk van sommige politieke joernaliste om die koppe in die ANC se nasionale uitvoerende komitee, die party se mees invloedryke orgaan, te tel en te sê soveel is vir en soveel is teen Ramaphosa. Die werklikheid, soos ek dit sien, is dat daar wel klein groepe keiharde lojaliste aan albei kante is, maar dat daar net soveel lede is wat hul mantel na die wind draai en bloot hul eie posisies en bankrekeninge in gedagte hou as hulle moet steun of opponeer. Hulle wil nie aan die verloorkant gevang word nie. Dit is lankal ANC-kultuur.
Die ANC het inderdaad nie geskeur nadat Ramaphosa in Desember 2017 as ANC-leier gekies is nie, en nie nadat hy van die voorste Zuma/Gupta-ondersteuners uit die kabinet gegooi of uit staatsondernemings laat verwyder het nie. Maar feit van die saak is dat die ANC vandag presies net so verdeeld is as in die weke voor Ramaphosa se verkiesing. Almal bly in die kraal, want die verkiesing kom. Die afrekening kom daarna.
Soos sake nou staan, gaan die ANC gaan heel waarskynlik goed oor die 50% van die stem trek op 8 Mei. Maar dan moet Ramaphosa nie net 'n nuwe kabinet saamstel nie, hy moet sy belofte gestand doen dat hy dit gaan verklein. Hoeveel vryheid gaan hy gegun word om sy eie keuses aan te stel, en hoeveel vrot appels sal hy weer verplig word om in te sluit?
Die wiele van die Zondo-kommissie en dié van die Valke en die nasionale vervolgingsgesag draai te stadig om die meeste van Ramaphosa se teenstanders só te diskrediteer dat hulle verswak word en in die agtergrond verdwyn. Van sy sterkste ondersteuners in die kabinet en die partyleiding, soos Gwede Mantashe, is self voor Zondo met ‘n nare kwas geverf.
So hier is die teorie. Ramaphosa staan volgende week op en praat hard en reguit oor die korrupte en onbevoegde elemente in sy party. Hy draai nie doekies om en fluister oor “nege vermorsde jare” soos onlangs nie, hy praat hard en duidelik en wys dat hy in beheer is en nie langer die nonsens gaan duld nie. Soos Franklik Sonn sê, 'n do or die-toespraak, 'n ysterruggraat-toespraak.
Die party gaan nie tussen volgende week en 8 Mei skeur as hy dit doen nie. 'n Klompie bitterbekke gaan dalk wegbly of vir die EFF of IVP of vir Jimmy Manyi se partytjie stem. Maar daar is myns insiens 'n goeie kans dat die ANC self gaan reageer soos 'n perd wie se leisels die ruiter stewig in die hand gevat het; dat die breë publiek 'n sug van verligting gaan slaak en sê, dankie tog, ons het weer 'n leier, en hy’s nie 'n skelm nie.
Ramaphosa kan dalk net met só 'n skuif die nasionale sentiment omdraai, die kiesers s’n én die sakegemeenskap s’n. Hy kan dalk net nuwe lewe in 'n sterwende ANC blaas.
As dit werk, gaan hy met 'n ekstra wip in sy stap by die eerste vergadering van die uitvoerende komitee na die verkiesing inloop. Daar’s 'n nuwe sherriff in die dorp en hy vat nie nonsens van kabouters nie. Hier’s my kabinet, hier’s my agenda, julle beter vrede maak daarmee.
As dit nie werk nie, gaan dit nie veel aan sy posisie verander nie. Daar gaan baie geraas wees, maar hy is nog die president van die party en die land en daaraan kan nie gou iets gedoen word nie.
Ons wag op die kaptein. Maar dit kan 'n lang wag wees.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.