Hel op die spore: elke rit op 'n Prasa-trein kan jou laaste wees

SPESIALE VERSLAG

Hel op die spore: elke rit op 'n Prasa-trein kan jou laaste wees

Die Spoorvervoeragentskap van Suid-Afrika (Prasa) speel daagliks Russiese roulette met die lewens van meer as 1,4 miljoen van die armste Suid-Afrikaners, waarsku SONJA CARSTENS, 'n adjunk-hoofsekretaris van die United National Transport Union.


DIE land se treinpassasiervervoerstelsel is in so 'n benarde situasie dat die spoorvervoerreguleerder (RSR), die statutêre waghond oor treinveiligheid in Suid-Afrika, Prasa van “growwe nalatigheid en moedswillige wangedrag” beskuldig het.
In ʼn brief van die RSR aan Prasa wat in Vrye Weekblad se besit is, moes dié semi-staatsinstelling redes gee waarom strafregtelike klagtes vir oortredings van die Wet op die Nasionale Spoorvervoerreguleerder (National Railway Safety Regulators Act van 2002) nie teen sy topbestuur ingedien moet word nie.
Prasa se topbestuur het in reaksie opnuut belowe om dinge reg te ruk en gevolglik het die RSR steeds nie strafregtelike klagtes ingedien nie.
President ignoreer waarskuwingPres. Cyril Ramaphosa het hom ook nie aan die RSR se waarskuwings gesteur nie toe hy op 9 April “die mense se trein” in Kaapstad as deel van sy verkiesingsveldtog bekendgestel het. Dié nuwe stedelike passasierstrein wat die geel Metrorail-trein moet vervang, is eintlik reeds op 9 Mei 2017 in Pretoria deur oudpres. Jacob Zuma bekendgestel.Die aanvanklike twintig treine is in Brasilië vervaardig. 'n Verdere 580 treine word plaaslik by die Gibela-aanleg in Dunnottar in Nigel vir Prasa vervaardig as deel van ʼn R59 biljoen-regeringskontrak. Ramaphosa het die Gibela-aanleg op 25 Oktober verlede jaar amptelik geopen.Gibela is 'n swartbemagtigingsaanleg onder die vaandel van Alstom SA, 'n Franse multinasionale maatskappy wat wêreldwyd in spoorvervoer bekend is.
Ramaphosa was verlede week in Kaapstad steeds onder die indruk dat Gibela die enigste aanleg van sy soort in Afrika is.
Dít terwyl Transnet Engineering, waar meer as 4 600 werknemers oortollig verklaar is weens die gebrek aan 'n vraag na hul dienste, al vir dekades treinwaens nie net vir Suid-Afrika bou nie, maar ook vir onder meer Swaziland en Botswana. Transnet is ook 'n semi-staatsinstelling.
Ramaphosa het voet by stuk gehou om voor die nasionale verkiesing op 8 Mei gestand te doen aan die belofte wat hy op 18 Maart gemaak het. Op dié dag het hy wêreldnuus gemaak toe hy drie ure lank op 'n treinrit van die Mabopane-stasie na die Pretoria-stasie vasgesit het weens die abnormale werking van die treine. Hy het toe belowe hy sal die land se passasierstreine verbeter.
Steve Harris, hoofsekretaris van die United National Transport Union (UNTU), die meerderheidsvakbond in Prasa, sê hulle het die RSR twee weke voor Ramaphosa se rit reeds gewaarsku dat dié roete lewensgevaarlik is. Omdat mondelinge seinmagtigings op dié roete gebruik word, duur 'n rit wat normaalweg 40 minute behoort te duur, in werklikheid drie tot vyf ure.
Nie ’n enkele een van die sestien sinjale of kontrolepanele op dié roete werk nie. Dit is al vir meer as 'n jaar onklaar weens vandalisme van die infrastruktuur. 
“Wanneer mondelinge magtigings met die abnormale werking van treine gebruik word, is die treinkontroleerder in die operasionele kantoor aangewese op die treindrywer om hom of haar te laat weet by watter sinjaal die trein op 'n spesifieke tyd stilhou.
“Omdat dié manier van werk die risiko vir 'n menslike fout vier keer verhoog, verbied die RSR treine wat met mondelinge magtigings ry om vinniger as 30 km/h te ry. Dit maak die rit nóg stadiger,” sê Harris.
Volgens die RSR se amptelike syfers was foutiewe spoorstroomkringe wat vir die operasionele kantoor moet aandui of die spoorlyn veilig is, vir 30,33% van alle abnormale werking verantwoordelik. Die naasgrootste oorsaak was foutiewe sinjale (23,71%) gevolg deur kabeldiefstal en vandalisme (22,16%).Die gevolg is dat 'n treinrit van Vereeniging tot Germiston wat normaalweg 'n uur en twintig minute moet duur, langer as drie ure kan neem.Dit veroorsaak dat pendelaars woedend raak omdat hulle laat kom vir werk en afgedank word, of bitter laat tuis kom. Volgens 'n treindrywer behoort die laaste trein van Germiston byvoorbeeld teen 21:00 in Vereeniging te wees, van waar die laaste busse na Sasolburg, Sharpeville en Sebokeng teen 22:00 vertrek.Die trein is egter selde voor 23:00 in Vereeniging weens die gesloer met die mondelinge magtigings. Dan moet pendelaars noodgedwonge in die omgewing van die stasie slaap omdat hulle nie alternatiewe vervoer huis toe het nie.
Van 11 Januarie verlede jaar tot 18 Februarie vanjaar is meer as 1,2 miljoen mondelinge treinmagtigings landwyd uitgereik. Dié inligting is vervat in die RSR se amptelike syfers wat UNTU onder die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) se aandag gebring het. Vrye Weekblad is in besit van dié verslag.
Altesaam 746 365 mondelinge magtigings is in die betrokke tydperk uitgereik in Gauteng, waar daar die afgelope twee jaar vyf ernstige treinbotsing was wat hieraan toegeskryf is.
Meer as 1 300 pendelaars is in dié botsings in Gauteng beseer en sewe mense het gesterf.
Prasa se verouderde infrastruktuur en die aanhoudende vertragings met moderniseringsprojekte wat die stelsel vir die “mense se trein” moet aanpas, veroorsaak dat al hoe minder treinstelle daagliks beskikbaar is. Vyf jaar gelede was daar byvoorbeeld 67 treinritte per dag van Vereeniging na Park-stasie in Johannesburg en terug. Tans is daar net 27 treinritte op dié roete, het ʼn treindrywer gesê.
Kaapstad se treine veral oorvol
In Kaapstad is nie minder nie as 54 van die ou Metrorail-treinwaens wat elkeen sowat R6 miljoen werd is oor ʼn tydperk van ’n jaar aan die brand gesteek. Niemand is nog hiervoor vervolg nie. Van die 88 treinwaens wat benodig word om ʼn behoorlike diens te lewer, is net 34 tans in werking.
Kaapstad worstel reeds met oorvol treine weens ʼn bevolkingstoename van 1,5 miljoen mense die afgelope twaalf jaar, asook ʼn gebrek aan ander soorte openbare vervoer.
Die Kaapstadse metroraad het al herhaaldelik gedreig om die bestuur van die passasierstreine by Prasa oor te vat. Die Wes-Kaap het die voortou geneem deur verlede week ʼn konsepwet vir die verbetering van passasierstreine vir kommentaar te publiseer. Dié wetsontwerp maak voorsiening vir 'n spoorinspektoraat wat sal toesien dat Prasa aan veiligheidstandaarde voldoen.

Van 11 Januarie verlede jaar tot 18 Februarie vanjaar is 276 938 treine in die Wes-Kaap toegelaat om met mondelinge magtigings te loop. Die situasie in die Wes-Kaap is uniek, sê Harris, omdat bendes die treinspore gebruik om hul gebied af te baken. Wanneer Prasa dus ʼn foutiewe sinjaal vervang, is daar wedywering tussen die bendes om te kyk wie die sinjaal eerste kan uitskiet. “Dit is letterlik ʼn oorlogsone,” sê hy.
Die Wes-Kaapse hooggeregshof het in die moordverhoor van die treinbestuurder Piet Botha, wat in Junie 2016 op die Netreg-stasie koelbloedig deur lede van die Young Dixie Boys-bende doodgeskiet is, gehoor die situasie met oorvol treine is só erg dat polisielede weier om op treine diens te doen. Hulle moet só naby aan pendelaars op die treine staan dat hulle veral vrees dat hulle van hul dienspistole beroof sal word.
Dit is ook waarom Prasa deur die RSR toegelaat is om net twee stelle van “die mense se trein”, elk met ses waens, van Pretoria na Kaapstad te neem. Slegs twee treinbestuurders van Kaapstad is in Pretoria opgelei om dié treine te bestuur.
Die RSR laat Prasa slegs toe om toetsritte sonder enige passasiers met dié treine in die Kaap te ry om onder meer vas te stel waar aanpassings gemaak moet word aan die platforms, substasies en oorhoofse elektrisiteitskabels.
Die smal treine het van meet af probleme veroorsaak omdat die land se stasieplatforms nie op ʼn standaardhoogte of -breedte gebou is nie. Dit veroorsaak dat daar ʼn gaping kan wees van tot soveel as 700 cm tussen die trein en ʼn platform en waardeur pendelaars tot op die spoorlyn kan val.
Rolstoele kan weens dié probleem ook nie toegang tot die treine kry nie, hoewel daar in die trein duidelike spasies vir rolstoele uitgemerk is.
In Pretoria word Prasa die afgelope twee jaar deur die RSR net toegelaat om pendelaars in dié treine te vervoer op ʼn toetsroete tussen die Pretoria-stasie en die Pienaarspoort-stasie in Mamelodi buite Pretoria. Dit is die enigste plek in die land waar pendelaars met die trein vervoer mag word.
Dit is die enigste roete wat Prasa weerskante met hoë mure kon afsper om te keer dat dié trein, wat binne minute ʼn spoed van tot 120 km/h kan bereik, voetgangers tref wat onwettig die spoorlyne kruis.
Die platforms is ook hier aangepas en die sinjale en kontrolepanele is opgegradeer.
KwaZulu-Natal nie veel beter nie
In die Durban-omgewing is 216 688 treine van 11 Januarie verlede jaar tot 18 Februarie vanjaar mondelings gemagtig.
Ook hier is pendelaars keelvol. Op 17 April vanjaar is trein 9407 op Durban-stasie deur woedende pendelaars met klippe bestook omdat dit laat was.
Van die 90 treinwaens wat benodig word om ʼn behoorlike diens te lewer, was daar teen 18 April net 59 in werking, sê Harris.
Treine ‘loop op regter se genade’ 
Al Prasa se treine landwyd loop van 12 Oktober verlede jaar net op die genade van regter Cassim Sardiwalla van die Gauteng-Noord- hooggeregshof. Sardiwalla het dit van dié dag af op homself geneem om Prasa toe te laat om die treine te laat loop nadat die RSR die passasiervervoeroperateur se veiligheidspermit opgeskort het. Dit is gedoen weens Prasa se onvermoë om ʼn veilige en betroubare passasierstreindiens te lewer.
Die RSR laat Prasa slegs toe om toetsritte sonder enige passasiers met dié treine in die Kaap te ry om onder meer vas te stel waar aanpassings gemaak moet word aan die platforms, substasies en oorhoofse elektrisiteitskabels.
Die smal treine het van meet af probleme veroorsaak omdat die land se stasieplatforms nie op 'n standaardhoogte of -breedte gebou is nie. Dit veroorsaak dat daar 'n gaping kan wees van tot soveel as 700 cm tussen die trein en ʼn platform en waardeur pendelaars tot op die spoorlyn kan val.
Rolstoele kan weens dié probleem ook nie toegang tot die treine kry nie, hoewel daar in die trein duidelike spasies vir rolstoele uitgemerk is.
Die regter het streng voorwaardes aan Prasa opgelê en hou persoonlik toesig dat die organisasie daarby hou tot sy hofbevel se keerdatum van 4 Junie vanjaar.
Die voorwaardes sluit in dat Prasa moet toesien dat afdelingsbestuurders teenwoordig is wanneer treinkontroleerders mondelinge magtigings aan treinbestuurders gee.
Prasa moes ook omvattende planne indien van hoe infrastruktuur-instandhouding en voorraadaankope gedoen gaan word en 'n tydlyn gee waarbinne kritiek vakante poste gevul sou word.
Die RSR het desnieteenstaande aan Nedlac se staande komitee gesê Prasa voldoen nié aan al die bepalings van die hofbevel nie. Die RSR bring die nodige bewysstukke byeen en lig die regter deurgaans oor die stand van sake in ter voorbereiding vir die hof se keerdatum.
Minister se leë beloftes
Dr. Blade Nzimande, minister van vervoer wat deur Sardiwalla as 'n party in die hofbevel gevoeg is, het in Januarie in reaksie op 'n parlementêre vraag belowe dat Prasa teen 15 April 'n permanente uitvoerende hoof aan die stuur sou hê. Dit het nie gebeur nie.
Dié pos is vakant sedert die afdanking van Lucky Montana deur dr. Popo Molefe, ʼn vorige voorsitter van Prasa se raad, in Junie 2015 in reaksie op die voormalige Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, se omvattende verslag oor wanbesteding by Prasa, getiteld Derailed.
Nadat Prasa meer as R169 miljoen aan Werksmans-prokureurs betaal het om ʼn forensiese ondersoek aan die hand van Madonsela se bevindings te doen, is Montana steeds nie strafregtelik aangekla nie en word hy ook deur geen siviele eise in die gesig gestaar nie.
Mountain View-botsing kon vermy word
Op 8 Januarie was geen toesighouer teenwoordig toe 'n kommunikasiegaping tussen 'n treinkontroleerder en 'n treindrywer tydens 'n mondelinge magtiging veroorsaak het dat ʼn volgelaaide trein teen 'n stilstaande trein by die Mountain View-stasie in Pretoria gebots het nie.
Ses mense is in dié botsing dood en 640 beseer.
Nzimande het beloof koppe sal rol, maar Prasa het bloot die treinkontroleerder en die treinbestuurder summier in die pad gesteek. Geen haan het gekraai oor waarom daar geen toesighouer teenwoordig was ten tyde van die voorval soos wat Sardiwalla se hofbevel vereis nie.
As daar 'n toesighouer was, sou dié persoon gehoor het hoe die treindrywer die verkeerde sinjaalnommer aan die treinkontroleerder herhaal. Die treinkontroleerder het die verkeerde nommer toe bevestig, lui die RSR se verslag oor die oorsaak van die botsing.
UNTU se herhaaldelike versoeke aan Ramaphosa en aan drie opeenvolgende ministers van vervoer om oplossings te vind, val steeds op dowe ore.
UNTU het met die hulp van sy geaffilieerde federasie, die Federasie van Unies van Suid-Afrika (Fedusa), ʼn aansoek teen Prasa, die president, die RSR, die departement van vervoer, die Suid-Afrikaanse Polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ingevolge die bepalings van seksie 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge by Nedlac se staande komitee ingedien.
As dié staande komitee die aansoek toestaan, mag UNTU se lede hulle wend tot protesoptrede, wat 'n landwye staking kan insluit, om die regering te dwing om daadwerklike oplossings te vind.Harris sê Prasa kan UNTU steeds nie oortuig dat hy in staat is om onmiddellik 'n veilige en betroubare passasierstreindiens vir pendelaars te lewer nie.UNTU eis dat Prasa weer gevoeg word by Transnet, soos dit was voordat Maria Ramos, ʼn voormalige hoof van Transnet, die twee in 2006 van mekaar geskei het.Transnet is finansieel gesond en het die nodige kundigheid en vaardighede om Prasa te red en om die onderdele te vervaardig wat nodig is om die infrastruktuur wat hulle deel, reg te ruk, meen UNTU. Die vakbond eis ook dat die weermag ontplooi word om Prasa se platforms en infrastruktuur te beskerm omdat die polisie nie in staat is om dit te doen nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.