‘Ja, maar’ oor onteiening sonder vergoeding

Meningsverskil

‘Ja, maar’ oor onteiening sonder vergoeding

Die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou stel inderdaad 'n wysiging aan die Grondwet voor om onteiening sonder vergoeding toe te laat, maar daar lê duidelik 'n lang proses voor voordat dit toegepas kan word. MAX DU PREEZ het 'n eerste weergawe van die paneel se ongepubliseerde verslag onder oë gehad.


PRESIDENT Cyril Ramaphosa se paneel van kenners wat hom oor grondhervorming moet raad gee, was toe allesbehalwe eenparig.
Buiten die instemming met die ANC se eis dat die Grondwet verander word, was daar ook skerp verskille oor onder meer teenstand teen titelaktes in kommunale gebiede, nuwe belasting op landbougrond, 'n sterk voorkeur vir klein- en bestaansboere eerder as kommersiële boere en 'n moratorium op alle plaasuitsettings.
Die president van AgriSA, Dan Kriek, en die vooraanstaande megaboer Nick Serfontein het hul besware amptelik deur hul medepaneellede laat aanteken. Die ander paneellede is Vuyo Mahlati van die African Farmers Association, prof. Ruth Hall van die Institute for Poverty, Land and Agrarian Studies (Plaas) aan die Universiteit van Wes-Kaapland, prof. Mohammed Karaan van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, Bulelwa Mabasa van Werksmans-prokureurs, adv. Thandi Ngcobo en Wandile Sihlobo, 'n landbou-ekonoom.
'n Oorwinning vir aktiviste van Plaas
Na wat verneem word, het Karaan en Sihlobo ook hul ernstige bedenkinge oor aspekte van die verslag uitgespreek. Iemand wat die proses van naby dophou, sê die verslag is ’n oorwinning vir die aktiviste van Plaas.
Die verslag sê grootskeepse onteiening sonder vergoeding en sonder voorwaardes sou in stryd wees met hoofstuk 1 van die Grondwet, die grondliggende bepalings, en sal die kernwaardes van die Grondwet skend.
Hulle het die regsadvies van verskeie grondwetkenners dat die huidige Grondwet voldoende voorsiening vir onteiening maak, by die venster uitgegooi en stel 'n bykomende paragraaf aan Artikel 25 voor wat moet lees: “Die parlement moet wetgewing opstel wat gevalle wat onteiening sonder vergoeding vir die doeleindes van grondhervorming regverdig soos in Artikel 25 (8) voorsien word, bepaal.”
Nuwe Onteieningswet
Die paneel sê dit is “noodsaaklik dat die Grondwet moet uitspel dat daar buitengewone omstandighede is wat onteiening sonder vergoeding regverdig, maar die besonderhede en inhoud moet deur 'n nuwe Onteieningswet beskryf word”.
Dié wet moet die hele vergoedingspektrum uitspel, “wat strek van zero vergoeding na minimale vergoeding, na substansiële vergoeding tot by markverwante vergoeding”.
Die verslag voer aan dat eienaars wat eiendom ná 1994 aangekoop het, nie oor dieselfde kam geskeer word as mense wat dit daarna gedoen het nie.
(Die huidige Onteieningswetsontwerp verklaar dat onteiening sonder vergoeding moontlik is waar grond deur woonarbeiders bewoon word; waar die eiendom bloot vir spekulasie besit word; grond wat deur 'n staatsinstansie besit word; grond wat deur die eienaar verlaat is; en waar die markwaarde gelyk aan of kleiner is as die bedrag wat die staat aan die eiendom bestee het.)
Geen private titelaktes by kommunale grond
'n Kontroversiële aanbeveling is dat daar geen private titelaktes by kommunale grond moet bestaan nie. Die paneel stel 'n Grondregisterwet voor wat burgers wat ongeregistreerde reg op grond het, die geleentheid gee om hul “eiendom” te registreer en op rekord te plaas. Dit sluit inwoners van plakkerkampe, plaasbewoners, huurarbeiders (labour tenants) en mense in die ou swart tuislande in.
Die paneel sê daar is tans vyf wetsontwerpe oor kommunale grond wat mekaar weerspreek of irrasioneel is en die ou tuislandstelsel verskans. Die paneel versoek die president om nie dié wetsontwerpe te onderteken totdat daar 'n witskrif oor die saak gepubliseer is nie.
Een van die redes waarom die ANC nie wou hê dat die paneel se verslag voor die verkiesing gepubliseer moet word nie, is die omstrede aanbeveling oor die Ingonyama Trust, wat 'n derde van alle grond in KwaZulu-Natal (28 000 km2) beheer. Die koning van die Zoeloes is die hoof van 'n beheerraad oor die grond.
Die paneel stel voor dat die wet wat die trust geskep het, herroep en die trust ontbind word, of andersins dat die beheer oor die grond na plaaslike vlak afgewentel word. Dit gaan koning Goodwill Zwelithini en tradisionele Zoeloes baie kwaad maak.
Moratorium van 2 jaar op plaasuitsettings
Die verslag vra die president om 'n moratorium van twee jaar op alle plaasuitsettings te verklaar en dat alle hangende hofsake daaroor vir eers opgeskort word. Onwettige uitsettings moet as kriminele oortredings verklaar word en die regering moet dringend stappe neem om plaasbewoners se verblyfreg te beskerm en hul reg op grondgebruik uit te brei.
Woonarbeiders (wat op grond gevestig is in ruil vir hul arbeid) behoort voorkeur in die hervormingsplanne te geniet, ook deur onteiening.
Die paneel is duidelik ten gunste van 'n beleidsverskuiwing na die vestiging van kleinboere eerder as swart kommersiële boere. “Die paneel beveel aan dat die grootste deel… van die beskikbare begroting vir grondhervorming op twee kategorieë gefokus word – plaasbewoners (farm dwellers), woonarbeiders (labour tenants), bestaansboere en kleinboere wat vir plaaslike markte produseer.”
Die verslag is minder voorskrywend oor stedelike grond, maar vra dat die staat sy perspektief verander en munisipaliteite ondersteun om “op inklusiewe en demokratiese wyse saam te werk met sosiale bewegings en organisasies wat die grondloses, dakloses en agterplaas- en hutbewoners verteenwoordig”. Mense met RDP-huise en diegene in plakkerkampe se eiendom moet geregistreer word en hulle moet bewys van okkupasie ontvang.
Teelaarde vir korrupsie en 'elite capture'
Die verslag waarsku dat grondhervorming 'n teelaarde vir korrupsie en “elite capture” kan wees en maak voorstelle oor hoe die behoefte aan grond bepaal moet word – wie wil watter grond waar hê en vir watter doeleindes.
Die paneel bied 'n verskeidenheid voorstelle oor die jurisdiksie van bestaande staatsdepartemente wat moet verander, en oor die daarstelling van 'n Land and Agrarian Reform Agency wat alle hervorming moet koördineer, vir nuwe oudits van stedelike en landbougrond en nuwe wetgewing om dit alles tot stand te bring.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.