Beloftes en drome op die groot verkiesingstoer

STEMTYD

Beloftes en drome op die groot verkiesingstoer

CARIEN DU PLESSIS hoor nuwe voornemens en ou grappies saam met die politieke partye op hul verkiesingsveldtogte oor die land heen.


OP die astroturf van die sportgronde in die myndorp Khuma naby Klerksdorp, tot op 'n klipperige, oop stuk grond in Seshego, tot in 'n  groot wit tent in Motherwell, weerklink pres. Cyril Ramaphosa se pappiegrappie in byna al 11 amptelike tale: “Terwyl ons op 'n veldtog was in Queenstown, het 'n vrou my in haar RDP-huis ingenooi om te wys hoe gelukkig sy is met haar huis en alles daarin. Sy het my tot in die slaapkamer rondgewys, en na haar nuwe bed geneem. Ek was toe die adjunkpresident, en sy het gesê, ‘Adjunkpresident, lê 'n bietjie op die nuwe bed om te voel hoe lekker dit lê’. Die bed en die kussings was heerlik sag, maar ek het vinnig opgestaan, want ek het gewonder hoe dit vir die ANC-vroueliga sou lyk!”
Teen hierdie tyd skater die skare van die lag. Soms is daar feitevariasies op die grappie, wat hulle nog meer laat skater, soos dat hy na die badkamer gelei word om ook die toilet te inspekteer. Die voormalige sakeman se jong multimediaspan rol egter net hul oë sonder om van hulle toestelle op te kyk. Die grappie maak dit nie eens meer tot op die ANC se Twitter-tydlyn nie, so oud is dit al. Ramaphosa is ook lief om opposisiepartye met brak-anyana (wat rofweg as “stoepkakkertjies” vertaal kan word) te vergelyk, en oor die ANC se eie small-anyana-geraamtes is daar ook soms 'n klankgreep of twee.
Die leiers se veldtogskedule is moordend, en die president en ander lede van die ANC se topses doen die afgelope maand of twee maklik drie tot vyf dae op die verkiesingstoer, met twee of drie openbare vergaderings per dag wat hulle van die party se veldtog-lorrie af toespreek. Dis moontlik dat selfs Ramaphosa al moeg is vir sy eie beloftes en staaltjies.
Die veldtog-lorrie is 'n opwindende en gesofistikeerde gedoente, netjies in ANC-kleure versier en met trappies en 'n afslaanverhogie waarop verskeie sangers agter die president kan optree. (In teenstelling met die vorige president vertoon Ramaphosa maar min musiektalent). Die lorrie het selfs sy eie elektrisiteit – sodat geen toer deur die nagevolge van die ANC se flaters met Eskom versuur kan word nie.
Die regerende party se veldtog is net so goed geolie soos die voertuie, al voel dit al asof Ramaphosa se motorkade – wat nou nie-amptelik op 11 voertuie staan – al hoe langer geword het, en al hoe vinniger ry, soos die dae holderstebolder voortspoed na 8 Mei toe.
Veldtogdae skop gewoonlik af agter geslote deure, met 'n inligtingsessie deur plaaslike ANC-leiers, en wanneer daar binnegevegte en parallelle strukture is, soos in Noordwes, duur daardie vergadering drie keer so lank – en beloof Ramaphosa soms behuisingsprojekte aan die verkeerde gemeenskappe, soos wat in Ikageng buite Potchefstroom gebeur het.
Dan is daar gewoonlik 'n besoek aan tradisionele leiers, en as jy adjunkpres. David “DD" Mabuza in Mpumalanga is, word daar minstens vier van die bestes uit 'n stoet as geskenk afgelewer. Of as jy Ramaphosa is in Limpopo, kan belowende praatjies met 'n hoofman wat eintlik 'n koning wil wees, in 'n volgepakte openbare vergadering ontaard. Daar, waar 'n groot teken is waarop “Moletsi”, onderstreep deur 'n tekening van 'n krokodil, op 'n rotsagtige heuweltjie so 20 km buite Seshego staan, het die ou leiers 'n studentefoto van die president uitgeruk en hul beste idiomatiese Sepedi-voet voorgesit – en Ramaphosa 'n hoender genoem wat weer huis toe gekom het. Ramaphosa het beloof om Kgoshi Kgabo Moloto III se status te hersien sodat hy van kgoshi (hoofman) amptelik na “koning” kan gaan. In ruil daarvoor het die hoofman die onderneming gegee dat al sy onderdane vir die ANC sal stem.
Ramaphosa het waarskynlik gewens dat sy ontvangs in die stedelike Seshego ewe warm en kleurryk sou wees, maar wyk 13 is EFF-gebied, en dinge was maar effens gevrek vir die president.  Een of twee nuuskieriges het op die sypaadjies gestaan, maar min steun gewys. Een jong man wat wel 'n ANC T-hemp aangehad het, het trots vertel hoe hy ook 'n EFF-hemp tuis het, en waarskynlik vir die rooies gaan stem. Met Ramaphosa se besoek was daar darem geen teken van 'n rooi baret nie, anders as 'n paar weke tevore in Noordwes, toe die rooies moerig en warm op 'n straathoek gestaan en pamflette uitdeel het terwyl hulle die geel ANC-groep aangegluur het wat oorkant die pad ondersteuning vir Ramaphosa se deur-tot-deur-veldtog daar probeer lossing het.
Slegs die ANC se veldtogspan het agterop die gemerkte bakkies (dit het gelyk soos dié wat die sakeman Robert Gumede 'n paar jaar gelede geskenk het) gedans terwyl musiek uit die luidsprekers op die dak blêr.
By die enkele huis waar Ramaphosa wel aangedoen het (sy span het gesê die tyd was beperk en ander huisbesoeke is gekanselleer), is die groot, middeljarige kleinsakevrou oorstelp. “Ek voel soos die celebrity in die straat,” giggel sy, “want die president het hier gekuier.” Maar selfs sy is nie seker of sy ANC gaan stem nie. Die EFF het hulself in hierdie wyk bewys as 'n party wat die gemeenskap met oop ore en hande benader, terwyl stories die rondte doen dat die ANC traag is om aan nie-lede dienste te lewer. Die mense in die wyk wil hulle eie kliniek hê sodat hulle nie heeldag in rye hoef te staan vir mediese dienste by die hospitaal 'n paar kilometer te ver nie.
Die EFF se veldtogte is effens kleiner, waarskynlik baie goedkoper, en buite die hoofstroom-media-oog. Einde Maart het die EFF se kommunikasiemasjien verklaar dat die party se provinsiale openbare byeenkomste verby is en dat dié nou slegs op streekvlak sal gebeur. Dit was nadat Julius Malema etlike naweek-blitstoere deur die provinsies gedoen het. Soms was hy in twee provinsies op een dag. Hoewel hy so iets net met lugvervoer sou kon vermag, is dit onwaarskynlik dat die Ekonomiese Vryheidsvegters se hoofbevelvoerder soos Mabuza in 'n militêre Oryx-helikopter rondgevlieg word.
Ander gebruik trapfietse. By die EFF se manifes-onthulling in Soshanguve noord van Pretoria het 'n span moeë fietsryers twee keer in die ry kom staan by die kostafels vir EFF-gaste en joernaliste. Hulle was flou, want hulle het die 63 km uit Alexandra soontoe gery (en sou later  heelpad terugry). Jabu, die middelklas-hoof van die fietsrybrigade, had nie tyd vir grappies of sarkasme oor Malema se uitsprake in die 2016-verkiesing oor hoe fietsbane in Johannesburg 'n wit verkwisting van geld is wat liewer vir behuising vir die armes gebruik moet word nie. In die oë van sy ondersteuners is Malema altyd reg, en hulle dra T-hemde met Fear Fokol Generation agterop gedruk.
Dié boodskap is in teenstelling met die DA, wat op vrees teer vir ondersteuning. 'n Mens sou dalk nie so sê nie as jy kyk na die party se veldtogtaktiek, wat baie optogte en protes en geraas behels. Malema het hierdie manewales toegepas kort nadat hy uit die ANC-jeugliga weg is sewe jaar gelede en aandag wou trek. Mmusi Maimane het dit sedertdien vir die DA aangeneem, netjies blou geverf en gepatenteer, en meer getrou daarby gehou as Malema.
Daar is ook die ander DA, ver verwyder van die strate van massapolitiek, beskut deur minstens een laag private sekuriteit in bedeesde hotelvergaderkamers of kerksale. Die tema van hierdie vergaderings is dikwels iets soos veiligheid, wat 'n kodewoord is vir 'n meerderheid wit,  waarskynlik Afrikaanse en bang gehoor. Hierdie kiesers, goed ingelig deur Maroela Media se gratis AfriForum-gunstige nuuswebwerf, oordink vir die eerste keer in 'n hele paar jaar deeglik vir wie hulle wil stem, sonder om hul kruisie en politiek outomaties aan die DA uit te kontrakteer.

'n Onlangse tussenverkiesing in 'n veilige Krugersdorp-wyk het aangedui dat meer DA-kiesers die VF-Plus begin vertrou. In Bonteheuwel 'n maand of twee gelede was daar 'n swaai van die DA af na die ACDP toe. Daar is ook diegene (volgens die voormalige DA-hoofsweep Douglas Gibson is dit oorwegend wit, Engelssprekende kiesers) wat glo dat Ramaphosa se hand versterk moet word, en die enigste manier om dít reg te kry, is om sterk steun aan die ANC toe te sê. Die DA se antwoord is dan om vir elke noem van Ramaphosa se naam twee keer die name van Mabuza en ANC-sekretarisgeneraal Ace Magashule voor die kiesers te paradeer.
Twyfelaars kry ook gereeld 'n dosis van die DA se gladdebek-hoofsweep, John Steenhuisen. Vir die DA se verkiesingspan – Team One South Africa – is hy die woordvoerder oor misdaad. “Ons woon onder 'n beleg van misdaad in Suid-Afrika. Sewe-en-vyftig Suid-Afrikaners word elke dag op die strate van Suid-Afrika vermoor. Ons regering verloor die oorlog teen misdaad,” het hy vroeër vandeesmaand aan grootoog-inwoners van Kempton Park in die Gereformeerde kerksaal daar vertel. Die ANC is ook onbeholpe as dit by werkskepping en die omswaai van die kwynende ekonomie kom, het hy gesê: “Daardie verandering gaan nie onder Ramaphosa gebeur nie. Daar is 'n groter kans dat 'n eenhoring hier sal uitspring en 'n soen op my wang plant as dat daardie verandering gaan gebeur.”
Hulle slaap tans dalk nie baie nie, maar ten minste het die politici nog vaagweg drome.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.