BROLLOKS & BITTERGAL | Steve, Tony, Floyd en Busi

POLITIEK

BROLLOKS & BITTERGAL | Steve, Tony, Floyd en Busi

Die oorspronklike Vrye Weekblad se oneerbiedige politieke skinderbekke is terug.


Ons soek oranje oorpakke
DIE Groot Toenadering het in alle erns begin. Julius Malema sê dié week die EFF sal ná die verkiesing met die ANC oor koalisies praat, maar nie met die DA nie. Die DA, sê Julius, “byt die hand wat hulle voed”. Wat vir Julius eintlik die donner in gemaak het, was dat die DA die EFF op plakkate met die VBS Bank-skandaal verbind het. Die ANC kan nie sulke beskuldigings na die EFF se kant toe gooi nie, want hul leiers het ewe veel of meer by VBS gesteel. 'n Koalisie van skelms, dus. As die EFF 10% of meer steun in volgende maand se verkiesing kry, wat moontlik lyk, gaan Julius meer onspeelbaar as ooit wees. Ons hoop is op jou, Shamila Batohi. Ons verkies oranje oorpakke vir ons politici eerder as rooies.
Pienk Floyd 
Die storie loop rond dat Floyd Shivambu onlangs in Thohoyandou ná 'n laataand-ete in 'n restaurant na sy kar gestap het toe 'n man met 'n klapmus 'n mes uitgehaal en vir hom gesê het: Gee vir my jou geld! Floyd het geprotesteer: Weet jy met wie jy praat? Ek is die onderleier van die EFF! Toe sê die man: in daai geval, gee vir my mý geld!
Debat: EFF-styl
Wat bedoel die EFF met 'n “gesonde uitruil van menings”? Dis wanneer jy na 'n EFF-vergadering toe gaan met jou eie mening, en jy vertrek met die party s’n.
Grondbronne
Laas week se berig in Vrye Weekblad oor die paneel wat die president oor grondhervorming moet raadgee, was 'n knuppel in die duiwehok. Eers klim Rapport (dis 'n Afrikaanstalige Sondagkoerant) op 'n preekstoeltjie en betreur in sy redaksionele kommentaar die feit dat dit uitgelek het, want nou gaan die verskillende kante van die saak mekaar kwansuis moeiliker vind. Watter oningeligte twak. En watter valsgatgeit van 'n koerant wat 'n ander kritiseer omdat dit eerste oor 'n saak van groot nasionale belang geskryf het. Vrye Weekblad glo die son moet oral inskyn. Ons dien die publiek, nie die politici of mense wat agter geslote deure onderhandel nie.
En toe kom die paneel se voorsitter, Vuyo Mahlati, en die African Farmers Association se voorsitter, Neo Masithela, en reik verklarings uit waarin hulle AgriSA se Dan Kriek en Nick Serfontein, albei lede van die paneel, prontuit beskuldig dat hulle die verslag laat uitlek het. Masithela beskuldig die twee van swak leierskap en dat hulle die paneel se werk ondermyn.
Maar Kriek en Serfontein was NIE Vrye Weekblad se bron nie. Ons het nie met een van die twee enige kontak gehad nie. Mahlati en Masithela se optrede is skandalig en hulle behoort Kriek en Serfontein in die openbaar om verskoning te vra dat hulle hul integriteit bevraagteken het. Sies!
Vrystaaaaat
'n Tweet van Chester Missing: “Ace Magashule screwed the Free State so hard Virginia is gonna have to change its name.” Wel-kom se naam kan egter dieselfde bly.
Steve: Lui of leek?
Ouerskap-advies van Steve Hofmeyr? Ha-ha-he. Charlize Theron het dié week aan 'n tydskrif vertel haar aangenome kind, die 7-jarige Jackson, hou al vier jaar lank vol dat hy nie 'n seuntjie nie, maar ’n dogtertjie is, en Charlize sê sy gaan hom nou só grootmaak. “Ek het nou twee pragtige dogters wat ek soos enige ouer wil beskerm en sien floreer,” het sy gesê.
Waarop reeksrondslaper Steve op Twitter gereageer het: “Liewe Charlize, my dogter dra soms broekies. Sy is 20 maande oud. Is dit dalk die regte tyd om haar te vra of sy 'n oorwig van Y-chromosoom aanvoel?” Is die man net verstok bevooroordeeld, of te lui om “transgender” te Google? Hy sou gelees het: “denoting or relating to a person whose sense of personal identity and gender does not correspond with their birth sex.”
Tony Yengeni soek ’n rooi oorpakkie
Kom ons bly eers by Twitter. Donald Trump het ons geleer dít is die plek waar 'n mens agterkom wie en wat politici regtig is, eerder as deur hul voorbereide toesprake. Kom ons kyk na die geval Tony Yengeni, invloedryke lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en deesdae voorsitter van dié se komitee oor misdaad en korrupsie. (Hy is goed vir die pos gekwalifiseer – hy was in 2005 weens bedrog in die tronk.)
Onse Tony, eens 'n Zuma-pryssanger, hoort lankal in 'n rooi oorpakkie en baret. Sy vyande is die EFF se vyande: pres. Cyril Ramaphosa, Pravin Gordhan en Trevor Manuel. Twee weke gelede, toe Alexandra in opstand was en geëis het dat burgemeester Herman Mashaba hulle moes kom toespreek, tweet hy: “The people of Alex have spoken ... they want Mayor Mashaba to come to Alex ... The mayor has run away...! Those tyres are clean and nicely polished waiting for the mayor...!” Niemand wat dit gelees het, het nie aan die berugte halssnoermoorde van die 1980’s gedink nie.
Die laaste paar dae het Yengeni sy mes in vir Maria Ramos, vir wie Ramaphosa glo wil aanstel om Eskom se ontbondeling te hanteer. Sy eerste tweet boaan 'n foto van Ramos lui: “There is a light coming your way at the end of the tunnel comrade Gorvenor (sic)...! Its (sic) a goods train...!”
En dan trek Tony 'n ou Twitter-truuk: hy her-tweet ander mense, veral EFF-tipes, want niemand kan dan sê dis hý wat dit sê nie. Hy versprei byvoorbeeld ene Tumelo Mapaa se tweet met 'n foto van Ramos wat lui: “When we call out these WMC [white monopoly capitalist] thugs, they call us Zupta puppets.” En Charlie Mavrenc se tweet: “Cyril Ramaphosa, Trevor Manuel, Tito Mboweni, Chris Stals, Tienie Groenewald, Maria Ramos have been running this economic cartel for a while now.” (Die enigste Tienie Groenewald wat ons ken, is die oudgeneraal van die SAW. Hoe hy hierby inpas, weet nugter.)
Red nou 'n bevrydingsbeweging met sulke kamerade. Arme Cyril. (Nie arm Cyril nie, arme Cyril.)
’n Ander MAGA
'n Bufferplakker in New York: Ban pre-shedded cheese. Make America grate again.
Busi: Ernstige flopsiekte 
Wat is die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se werklike agenda? Is sy 'n pion van die anti-Ramaphosa-kamp in die ANC? Is daar 'n kans dat sy bloot ongelooflik onbevoeg is en onwetend deur sekere elemente misbruik word?
Haar jongste oorlog is teen Pravin Gordhan, die kampioen van die stryd teen staatskaping. Dit maak haar 'n bondgenoot nie net van die ou Zuma-lot nie, maar inderdaad van die EFF. Haar kantoor kla hulle het nie genoeg geld en mense om by belangrike ondersoeke uit te kom nie, en tog het sy besluit om alles in te gooi om die stokou beweringe van die Inkomstediens se sogenaamde rogue-eenheid, 'n spesialis-ondersoekeenheid, weer eens te ondersoek. Die koerant wat die skinderstories oor die eenheid geplaas het, The Sunday Times, het alles teruggetrek en apologie aangeteken; die Nugent-kommissie na die Inkomstediens het bevind daar was niks ongerymd nie; en die ouditeure wat dit ondersoek het, het hul bevindinge teruggetrek. Maar Busi byt vas, en sommer ook met aggressie en wilde beweringe van 'n sameswering tussen Gordhan en die Inkomstediens. Gordhan eis nou dat sy bewyse daarvoor gee. Hier kom sports.
Die getuienis skep die vermoede dat Mkhwebane deel van 'n groter aanslag op die nasionale tesourie is. Ons weet almal van haar absurde verklarings oor die Reserwebank en Absa se beweerde R1 biljoen skuld uit die apartheidsdae, bevindings wat sy nagelaat het om in die hof te verdedig. Maar nie lank gelede nie het sy ook skerp met die minister van finansies, Tito Mboweni, gebots toe sy omstrede bevindinge oor die direkteur-generaal van die Tesourie, Dondo Mogajane, gemaak het. Mboweni het in die hof aangevoer dat Mkhwebane se verslag irrasioneel was en die Tesourie en die ekonomie skade aangedoen het.
Vreemd genoeg ondersoek Mkhwebane nie 'n geheimsinnige besoek wat die destydse Inkomstediens-hoof, Tom Moyane, in November 2017 aan Rusland gemaak het nie. Die Inkomstediens het daarvoor betaal, maar het geen rekords daarvan nie en beskryf dit as “suspisieus”. Die minister wat die besoek goedgekeur het, Malusi Gigaba, het aan die Nugent-kommissie gesê hy weet nie wat die doel van die besoek was nie. Moyane self weier om enige verduideliking te gee behalwe dat hy sy Russiese eweknie gaan besoek het. (Ons onthou natuurlik ook hoe halfhartig sy die Gupta-skandes by die Estina-melkery ondersoek het.)
Almal weet Mkhwebane is 'n flop en doen haar instelling ernstige skade aan, 'n instelling wat onder Thuli Madonsela 'n kritieke rol gespeel het om staatskaping uit te roei. Maar die ANC het 'n paar maande gelede nog by haar gestaan en 'n poging van die DA in die parlement gefnuik om van haar ontslae te raak.
Brolloks sien Ace se hand. Arme Cyril.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.