DIE koor van jillende Paul Kagame-groupies – soos byvoorbeeld Tito Mboweni, Suid-Afrika se minister van finansies, wat in vervoering raak oor hoe skoon en bedelaarvry en straatkinderloos die Rwandese hoofstad, Kigali, is, moet hulself net een vraag afvra:
Hoe is dit moontlik dat in die hoofstad van een van die armste lande in die wêreld daar nie hawelose mense of straatkinders of bedelaars is nie?
Hoe is dit moontlik in 'n land waar 40% van die bevolking in armoede leef?
'n Land waar bykans een uit elk ses mense in uiterste armoede 'n bestaan moet uitkrap?
'n Land waar 38% van alle kinders se groei en ontwikkeling deur swak voeding ingeperk is?
Rwanda is 95ste (uit 149 lande) op die wêreld-welvaartindeks.
Suid-Afrika is 68ste op dieselfde indeks.
En almal weet hoeveel straatkinders en bedelaars koek by elke verkeerslig in elke stad of groot dorp in Suid-Afrika saam, en van die see van flentergatte wat elke aand in rye op sypaadjies lê.
Dít terwyl 17 miljoen mense in my land elke maand maatskaplike toelaes ontvang – iets wat Rwanda nie het nie.
Pres. Paul Kagame se obsessie om Kigali in Afrika se eie Dubai of Singapoer te omskep het tot gevolg gehad dat die owerhede Kigali se strate, sypaadjies en openbare ruimtes “gereinig” het en van ongure elemente ontslae geraak het.
Is dit nie 'n honger mens se basiese mensereg om ander vir 'n stuk brood te vra nie? Nie in Rwanda nie.
Dis onwettig om te bedel, leeg te lê of informeel handel te dryf in Kigali. Artikel 690 van die Rwandese strafreg maak voorsiening vir tronkstraf van tussen agt dae en ses maande vir 'n bedelaar.
Die owerhede in Kigali verwyder bedelaars, straatkinders, straathandelaars en sekswerkers van die strate af en plaas hul oor na sogenaamde “rehabilitasie-deurgangsentrums”.
Die menseregte-organisasie Human Rights Watch (HRW) het in Februarie vanjaar gesê dié deurgangsentrums – wat oor Rwanda heen voorkom - is niks anders nie as tronke waar mense mishandel en aangerand word.
Sê HRW: “Die omstandighede in hierdie sentrums is wreed en onmenslik. Die aangehoudenes het nie genoeg kos, water of gesondheidsorg nie, word geslaan en verlaat selde hul vuil kamers.”
In ander gevalle word owerhede in landelike gebiede aangesê om plek te maak vir leeglêers wat in Kigali opgetel en dan terug na hul plek van afkoms geneem word.
Die onderburgemeester van Kigali, Patricia Muhongerwa, het verlede jaar gewaarsku: “Dis 'n skande om 'n Rwandees te sien bedel. Dit strek nie jou gemeenskap of jou land tot eer nie.”
Besoekers aan Kigali moet hul oë opslaan na die 20-verdieping Kigali City Tower en kyk na die kaatsing van die verste groen heuwels in sy glaswand. Dié piramides van groen kring in konsentriese sirkels uit na elke uithoek van Rwanda; van die Virungas in die noorde tot Kivu in die weste tot Akagera in die ooste en Nyungwe in die suide.
Dis in dorpies wat aan dié laslappiekomberse van piesang- en koffiebome, koring- en mielielande en pynappel- en teeplantasies klou waar diegene vegeteer wat uit die hoofstad geskop is.
Kigali is Kagame se glaskas en dis moeilik om nie beïndruk te wees nie. Dis aangewys as een van die vyf skoonste stede ter wêreld (saam met plekke soos Reykjavik en Singapoer) en word gereken as die gerieflikste stad in Afrika om in te woon.
Vyfster-hotelle soos Radisson Blue, Marriot en Serena pryk langs die boomryke lanings, daar is wêreldklasrestaurante en jy kan om middernag deur die middestad wandel en niks sal met jou gebeur nie.
Gehoorsaamheid is deel van Rwandese kultuur. Dis waarom die bevolking in 1994 die land se politici, burgemeesters, polisie- en weermagoffisiere, priesters en onderwysers se oproepe tot moord gehoorsaam en 'n miljoen van hul landsgenote in die valleie en op die heuwels en in kerke doodgemaak het.
Bestuurders – selfs dié in taxi’s – gehoorsaam die spoedgrens en voetgangers wag vir die groen lig voordat hulle by sebrastrepe oor die pad stap.
Plastiek is verbode in Rwanda en niemand waag om iets by 'n venster uit te gooi of te mors nie. Die grasperke in parke en oop ruimtes is perfek versorg en daar’s geen losloop-diere nie.
Kigali is die laaste Saterdagoggend van elke maand 'n spookstad. Niemand is op straat nie. Die inwoners word verplig om by die huis te bly om hul omgewing skoon te maak, te verfraai en van vullis ontslae te raak. Dit staan bekend as Umuganda en almal neem deel.
Dit laat mens wonder: hoekom is Rwandese so gehoorsaam terwyl Suid-Afrikaners so ontsettend óngehoorsaam is?
Probeer nou vir ons mense sê om op 'n bepaalde Saterdagoggend by die huis te bly en teen stiptelik 9:00 papiere en vullis te begin opruim, die sypaadjies te vee en blomme te plant.
Hulle sal jou uitlag.
Die verskil lê waarskynlik in die persoon van Paul Kagame.
Jy durf hom nie teengaan nie.
Afrika se sterkman
Op 19 Julie 1994 het Paul Kagame en die Rwandese Patriotiese Front (RPF) verklaar dat die volksmoord verby was en 'n nuwe regering saamgestel. 'n Hutu, Pasteur Bizimungu, is as president aangestel met Kagame as vise-president, hoewel laasgenoemde die ware mag agter die kroon was.
Ek was in Kigali toe Bizimungu in die gebomde Le Merdién-hotel sy nuwe regering aangekondig het. Dieselfde vraag was op almal se lippe: hoe herbou jy só 'n verpletterde land?
Die bevolking was uitgedelg. Die moordenaars het 'n miljoen verrotte lyke agtergelaat, die lewendes was getraumatiseer, daar was 95 000 weeskinders en tussen 250 000 en 500 000 vroue is verkrag.
Die parlement en staatsgeboue was vol bomgate, staatsamptenare het gevlug, rekords was vernietig, die banke was leeg, hospitale was sonder medisyne en skole sonder onderwysers en toerusting.
Daar was net ses regters wat honderde duisende volksmoord-beskuldigdes moes verhoor. Die beskuldigdes is in oorvol tronke gesmyt waar hulle soos vlieë doodgegaan het.
Boonop het die beplanners van die volksmoord – die genocidaire – en baie van die moordenaars na die ooste van die Kongo gevlug vanwaar hulle hul program vir die uitwissing van Tutsi’s wou voltooi.
Asof hy nie genoeg op sy vurk gehad het nie, moes Kagame 'n siviele oorlog in die weste van Rwanda en die ooste van die Kongo voer.
Kagame was net 36 jaar oud; 'n rebel van die Kongo wat geen ondervinding van landsregering of administrasie gehad het nie.
Ek het hom drie keer ontmoet en onderhoude met hom gevoer. Die eerste was in 1994 tydens die volksmoord, toe hy en sy bevelvoerders besig was om die regeringstroepe in'n knyptangbeweging suid van Kigali te uitoorlê.
Hy was duidelik 'n skitterende strateeg en krygsman, maar was skaam en teruggetrokke en het nie van die kamera gehou nie.
Die tweede keer was net ná Bizimungu se nuuskonferensie, en die derde keer in 1999, vyf jaar ná die volksmoord.
Teen daardie tyd het Kagame homself bewys as Afrika se sterkman. Hy het sy troepe in die Kongo ingestuur, die Hutu-vlugtelingkampe toegemaak en die genocidaire dieper in die oerwoud ingejaag. Hy het hulle meedoënloos gejag en geslag.
Hy het in die proses van die Kongolese diktator Mobutu Sese Seko ontslae geraak en sy eie despoot – Laurent-Désiré Kabila – in Kinshasa aangestel. Toe Kabila teen sy meester draai, het Kagame 'n burger- en Afrika-oorlog in Kongo ontketen waarin daar uiteindelik miljoene mense dood is.
Kagame se troepe het volgens menseregte-organisasies ernstige vergrype in die Kongo begaan. Die Verenigde Nasies het so ver gegaan as om Kagame te beskuldig van volksmoord teen Hutus in daardie land.
Ek het probeer om hom tydens ons derde ontmoeting te pols oor sy troepe se wandade in die Kongo, maar hy het dit afgemaak met: “Wie gee hulle die reg om mý te kritiseer vir wandade wanneer hulle met arms gevou in 1994 gesit en toegelaat het dat die volksmoord gebeur?”
Hy het toe reeds 'n visie gehad: om sy bloedbespatte land te omskep in 'n geordende en veilige gemeenskap met robuuste ekonomiese groei ten einde armoede en ongelykheid te beveg.
En hy sou nie toelaat dat enige andersdenkende of teenstemmer sy planne ontspoor nie.
'n Waan van demokrasieAlmal weet Paul Kagame is 'n diktator. Hy duld nie politieke teëpratery nie. Hy smyt opponente in oorvol tronke of laat hulle spaander vir die landsgrense.Daar’s 'n waan van demokrasie, en elke sewe jaar is daar 'n presidensiële verkiesing waar Kagame bykans 100% van die stemme kry. Opposisie-politici word geïntimideer of verban. Voor een van die verkiesings is 'n opposisie-politikus sonder 'n kop in die veld gekry.Met die presidensiële verkiesing van 2017 is drie opposisie-kandidate verbied om deel te neem. Hy het sy belangrikste teenstander, Diane Rwigara, laat aankla dat sy 'n rebellie probeer stook het en haar in die tronk gegooi. Sy is in Oktober verlede jaar onskuldig bevind, waarna sy gesê het: “Rwanda is soos 'n mooi meisie met baie grimering, maar haar binneste is donker en vuil.”Die regering het die grondwet verander om Kagame in staat te stel om tot minstens 2034 die president te wees. Dit volg nadat 3,5 miljoen kiesers glo 'n petisie onderteken het om sy termyn te verleng.Kagame het in 2017 98,78% van die stemme gekry en gesê: “Wat kan ek sê? Dit was die wil van die mense.”Dit kan dodelik wees om swaarde met Kagame te kruis. Vier van sy vertrouelinge het met die einde van die millennium teen hom gedraai, na Suid-Afrika en Amerika gevlug en 'n nuwe politieke beweging begin.
In Junie 2010 is een van hulle, sy gewese weermaghoof, genl. Kayumba Nyamwasa, in 'n kritieke toestand in 'n Johannesburgse hospitaal opgeneem ná 'n sluipmoordaanval.
Vier van Kagame se agente is in hegtenis geneem en elk tot agt jaar tronkstraf gevonnis. Suid-Afrika het sy ambassadeur in Kigali ná die aanval teruggeroep.
Dit het Kagame nie afgeskrik nie. Sy gewese militêre intelligensiehoof en een van die verraaiers, Patrick Karegeya, is in Januarie 2014 dood in 'n Johannesburgse hotelkamer gekry.
“Hierdie man was 'n selfverklaarde vyand van my regering en my land,” het die Rwandese minister van buitelandse sake getwiet. “Verwag julle simpatie?”
Die Rwandese minister van verdediging het bygevoeg: “Wanneer jy kies om soos 'n hond te leef, moet jy vrek soos 'n hond.”
Kagame het net daarna in 'n toespraak gesê: “Moes ons dit dan nie gedoen het nie?”
Kagame-vyande het dwarsoor die kontinent dood opgeëindig en hy het uitgewekenes so ver as Noord-Amerika en Europa gejag. Hulle leef oral in vrees vir hom – selfs dié wat duisende kilometer weg is.
Daar is 'n lang lys van joernaliste in Rwanda wat in hegtenis geneem en gemartel is en van publikasies wat verban is. Talle joernaliste het Rwanda verlaat, terwyl minstens vyf vermoor is.
En wanneer die Weste of die Verenigde Nasies dit durf waag om Kagame te kritiseer, strek hy sy rietskraal gestalte orent, druk 'n elegante vinger in die lug, en sy donker oë gloei van intensiteit. Dan spoeg hy terug: hoe durf julle!
Andersins is hy onverstoorbaar, spartaans en somber. En genadeloos en brutaal. En vir gewone mense voel dit asof hy weet wat in elke uithoekie van Rwanda gebeur. Sy oë en dié van sy informante is oral. Sy invloed is oorweldigend. En sy woord is wet en sy wil geskied.
Kagame is vandag die wêreld se liefling-diktator. Bill Clinton, die Amerikaanse president tydens die 1994-volksmoord, het Kagame beskryf as “een van die grootste leiers van ons tyd”. Tony Blair sê hy is 'n “visionêr”. Hy tel Bill Gates en Bono onder sy bewonderaars en is aangewys as die tydskrif Forbes se Afrikaan van die Jaar vir 2018.
Die Weste het 'n lang geskiedenis van die ondersteuning van menseregteskenders – soos byvoorbeeld Saoedi-Arabië, Pakistan en Irak – ten einde die olie te laat vloei of een of ander strategiese rede.
Rwanda het niks wat Amerika wil hê nie, maar Kagame hou die sleutel tot die minerale, diamante en olie van die Oos-Kongo. Sy troepe, goed opgelei en toegerus en met 'n reputasie dat hulle soos besetenes veg, het sedert 1997 'n teenwoordigheid in die Oos-Kongo en met tye het Kagame dié gebied – verskeie kere groter as Rwanda – beheer.
Daarbenewens het Kagame 'n rare simbool van hoop en vooruitgang geword op 'n kontinent wat vele voorbeelde het van mislukte regimes en verlammende korrupsie.
Buitelandse bystand stroom sedert 1994 Rwanda binne en vandag nog ontvang dié land – wat kleiner is as Lesotho – jaarliks sowat R14 biljoen van skenkers.
Kagame was in dié opsig briljant omdat hy skenkers van meet af verseker het: “Gee vir ons 'n dollar en ons sal jou wys wat ons daarmee doen. Jy sal die resultate sien van elke sent wat jy insit.”
Die verskil tussen Kagame en ander Afrikaleiers is dat hy nie net hol beloftes maak nie. Hy kry goed gedoen. Hy verwag van staatsamptenare om agtuur elke oggend te rapporteer vir diens. En hulle sál werk. En hoewel hulle wetlik die reg het om te mobiliseer en selfs te staak, gebeur dit nie. Hulle is te bang vir hom.Kabinetsministers, top-staatsamptenare en burgemeesters teken 'n prestasie-ooreenkoms met Kagame. Hou hulle nie daarby nie, is hulle weg.Hy het oorlog teen korrupsie verklaar en gooi korrupte amptenare in die tronk. Volgens Transparency International se korrupsie-indeks is net Botswana en Seychelle minder korrup in Afrika as Rwanda. Dié land het 'n veel beter korrupsierekord as Suid-Afrika, Suid-Korea, Griekeland en China.
Van Kagame se suksesse is verstommend. In 2000 was die lewensverwagting van die gemiddelde Rwandees net 49 jaar. Vandag is dit 67 jaar – hoër as Suid-Afrika. Die kindersterftesyfer het gedaal met twee derdes. Daar is nou een dokter vir elke 10 500 mense. In 2000 was dit een dokter vir elke 66 000 mense.
Kagame het van dag een af armoede as vyand nommer een geïdentifiseer en beloof om iets daaraan te doen – en hy het. Rwanda het die afgelope dekade 'n ekonomiese groeikoers van tussen 7% en 8% gehad. Die jaarlikse per capita-inkomste aan die einde van die volksmoord was $150. Nou is dit $750 (Suid-Afrika s’n is $6 160, oftewel sowat R89 000). Ten spyte van die vooruitgang bly Rwanda een van die armste lande in die wêreld.
Die Weste wou 'n suksesstorie in Afrika sien, en Paul Kagame was hul man. Hulle sou nie toelaat dat 'n menseregte-vergrypie hier en daar dié verhouding belemmer nie.
Drakoniese regulasies en wette
Paul Kagame kan homself probeer voorhou as 'n Afrika-voorbeeld van moderniteit en vooruitgang, maar talle van sy wette is argaïes en uitgedien en hoort nie tuis in 'n konstitusionele republiek nie.
Daar was byvoorbeeld tot twee weke gelede nog honderde vroue in Rwandese tronke omdat hulle self aborsies ondergaan het of verwagtende vroue gehelp het om hul swangerskap te beëindig.
Hulle is vroeg in April deur Kagame begenadig en vrygelaat in wat sy regering beskryf het as bewys dat Rwanda 'n “baken van vroueregte is”.
Meeste van dié vroue was die slagoffers van mislukte aborsies en moes gehospitaliseer word. Dokters en verpleegsters het die polisie ontbied en asof die vroue nie reeds deur genoeg trauma was nie, is hulle aangekla en vir tot tussen een en drie jaar tronk toe gestuur.
Weens die drakoniese mediaregulasies en -wette in Rwanda syfer nuus drupsgewys uit die land uit en dis dikwels menseregte-organisasies wat alarm maak. Hulle loop egter gevaar om, soos Human Rights Watch, uit die land geskop te word.
So byvoorbeeld was daar berigte in Maart vanjaar dat Kagame 700 kerke in Kigali verban het en nog honderde ander dwarsoor die land gesluit het. Ses pinksterpastore wat teen die dekreet geprotesteer het, is in hegtenis geneem omdat hulle onwettig sou vergader het met “slegte intensies”.
Dié kerke – meeste van hulle klein pinksterkerkies in woonbuurtes – het glo nie aan bouregulasies voldoen nie en 'n gesondheidsrisiko ingehou.
Dis naïef om te dink jy sal by enige iemand in Rwanda die waarheid oor Kagame en sy bewind hoor. Dis asof mense soos robotte geprogrammeer is. Ek het die land vir agt dae van noord na suid en oos na wes deurkruis en met tientalle gewone mense gesels. Hul antwoorde was dieselfde:
Ondersteun jy Kagame?
Ja.
Hoekom ondersteun jy hom?
Want hy het sekerheid en vooruitgang na Rwanda gebring.
Hoekom is daar nie kinders op die strate van Kigali nie?
Want ons kyk na ons kinders.
En hoekom is daar nie bedelaars in die hoofstad nie?
Want om te bedel is nie goed nie. Ons vat hulle en lei hulle op sodat hulle 'n beter lewe kan lei.
Ensovoorts, ensovoorts.
Behalwe een keer toe ek in Huye, die intellektuele hoofstad van Rwanda en setel van die nasionale universiteit, met 'n afgetrede professor in 'n kuierplek gepraat het.
Toe ek hom oor Kagame gevra het, het sy stemtoon gedaal en hy het na my kant toe oorgeleun. Wat hy gesê het, het by my gebly
“Luister, ek ondersteun nie noodwendig die regering nie. Daar’s te veel wat verkeerd is. Maar as dit by Kagame kom, wil ek net een ding sê: Ek het dalk nie al die vryhede wat ek moet hê nie. Maar ek bly in 'n geordende land waar alles werk. Daar’s nie korrupsie nie. My kleinkinders gaan skool toe en dis verniet en daar is 'n onderwyser wat hard werk. Die staat betaal my elke maand 'n pensioen. Ons is veilig in Rwanda. Niks bedreig ons nie. En ek dank Kagame daarvoor, al steun ek hom nie.”
Ek het ure later in 'n grondpad afgedraai en deur teeplantasies gery wat soos groen fluweel teen die heuwelhange vasgeplak was. Ek het aan die professor se woorde gedink en tot dié slotsom gekom:
In 1994 was Paul Kagame 'n noodsaaklike maar wrede oplossing vir ʼn probleem uit die hel. Rwanda het 'n ysterhand nodig gehad om hom uit die moeras van volksmoord te lig en op die pad na herstel en genesing te plaas.
Nou is Paul Kagame besig om self die probleem te word.
Dis ná 25 jaar tyd om te gaan.
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.