SPESIALE VERSLAG | HKGK met water...

STANK VIR DANK

SPESIALE VERSLAG | HKGK met water...

Op Kimberley word water elke aand afgeskakel. In Noordwes se Tswaing-munisipaliteit is boorgate die enigste uitweg (vir diegene wat dit kan bekostig). Dorpies naby Vryburg, Stella en Schweizer-Reneke se munisipale water is maande al af, terwyl dit in die noorde van KwaZulu-Natal so droog is dat ’n emmer water vir tot R5 verkoop kan word. Dit is maar enkele voorbeelde uit ’n landwye krisis wat véél, véél groter as Eskom gaan wees. Vergeet van die pyn van beurtkrag, hier kom beurtwater. Die afgelope paar dae se goeie reën oor groot dele van die land gaan min doen om die krisis af te weer, en die blote omvang gaan die meeste Suid-Afrikaners onkant vang, skryf YOLANDI GROENEWALD.


DIE vragmotors kom in gelid die straat af.
Van die oostekant van Makhanda, voorheen bekend as Grahamstad, kan ’n mens net-net die dorp se historiese kloktorings op die horison sien uitsteek: die langwerpige suil van die Rhodes-Universiteit, langs hom die spitstoring van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in rooi bakstene en ’n ent verder die toring van die Katedraal van St. Michael en St. George, waar Afrika se eerste kerkklokke in 1879 geïnstalleer is. Iewers nog wys die punt van die stadsaaltoring net-net tussen die bome, swaar belaai met hulle somerse vrag pers jakarandablomme.
City of the Saints – dis hoe die oumense die dorp genoem het.
Maar dis nie die blomoortrekte bome of die uitsig oor die groen heuwels wat mense op dié somersmiddag in die middel van Februarie op die straathoeke laat saamdrom nie. Dis die konvooi vragmotors.
Meer spesifiek, hulle vrag. Water. Duisende liters gebottelde water.
Vir die meer as 80,000 inwoners van dié universiteitsdorp, wat toe al meer as ’n week sonder drinkwater was, waar kinders huis toe moes gaan omdat skole se toilette nie gebruik kon word nie en ’n ouma ’n kruiwa daagliks 10 km ver moes stoot om water te gaan haal, is dié geskenk van die hulporganisasie Gift of the Givers soos ’n bestiering van bo.
Met uitroepe van “God seën julle!” sak hulle op die vragmotors toe. Met gretige hande uitgestrek na die manne op die staalflap word die bottels een-een gegryp en na agter aangegee. Dis water. Die water het gekom.
Dr. Gideon Groenewald was een van die eerste helpers daardie dag by die uitdeelpunt op Makhanda. Die bebaarde hidroloog, geoloog en paleontoloog reis saam met die Gift of the Givers-span om droogtegeteisterde gemeenskappe landwyd te probeer help deur vir water te boor. Skaars ’n week later hét hy ook water gevind – in sy eerste boorpoging op 145 meter: skoon water, ’n punt wat 20,000 liter water per dag sou verskaf.
Dit was naby die Waaihoek-waterwerke aan die westekant van die dorp. Maar al glimlag Groenewald breed op die foto, sy kenmerkende bruin slaprandhoed agtertoe gestoot op sy kop, erken hy self dié vonds is net die spreekwoordelike druppel in die emmer.
Net soos dié gryskop is die Gift of the Givers-span met wie Groenewald saamspan nie vandag se kinders nie. Baie van hulle het al diens gedoen in Somalië, Mosambiek en die Filippyne. Hulle ken rampe. Hulle verstaan menslike lyding. Maar die optrede van die inwoners daardie dag in Mkhanda het selfs hulle geskok.
Oom Gideon, soos almal hom ken, is uitgesproke oor die instandhouding van toerusting as mense die waterkrisis op die dorp die hoof wil bied.
“Die bestaande boorgate moet almal nagegaan en behoorlik skoongemaak word,” het hy aan die plaaslike koerant, Grocott’s Mail, gesê. “As jy weet wat jy doen, sit Makhanda op een van die grootste grondwaterbronne in die land.”
Die meeste van die mense wat nie water het nie, woon aan die oostekant van die dorp, die onderdorp, waar geld nie volop is nie. Hulle water vloei vanuit die Gariepdam via die Visrivier en word skoongemaak in die kleinerige James Kleynhans-waterwerke. Maar daar het die pompe al in Januarie die gees gegee – volgens die munisipaliteit weens vuil water met meters dik slik wat die watersuiweringswerke nie kon hanteer nie. Sedertdien belemmer gebreekte filters die noodplan.
In die weste van die dorp, waar die Rhodes-Universiteit se klimopbedekte geboue lê, omsoom deur sommige van die land se eksklusiefste privaat skole, het waterprobleme ook begin. Tot onlangs was Waainek, glo die rykes se waterwerke, nog volstoom aan die gang. Maar terwyl Waainek heerlik aan die pomp was, was sy bron, die Setlaarsdam, byna kurkdroog. En die munisipaliteit het nie ’n vinger verroer om die krisis te probeer keer nie.
“Toe ek by die dam aankom, was daar nog net 1,5% se drinkwater oor,” sê Groenewald. En net soos by James Kleynhans was die pompe by Waainek ook voos, met net een of twee in gebruik. Skielik moes die rykes se water ook af.
Intussen het almal gehoop op ’n ingryping van bo: reën, pompe wat werk. “Maar hier sit ons nou aan die einde van April, en die somerreënval is verby.”
Aan die begin van die maand was die Howiesonpoortdam 29.3% vol en die Setlaarsdam het op 7.6% gestaan.
Anele Mjekula, woordvoerder van die munisipaliteit, het intussen gesê waterverbruik word beperk en bestuur, en die meeste inwoners is reeds aan beurtwater onderworpe. As die water in die krane egter heeltemal opdroog – wat steeds ’n moontlikheid is omdat die vroegste planne vir Waainek se opgradering eers in Mei is – sal inwoners water moet gaan haal by watertenks wat in strategiese gebiede opgerig en deur water uit bestaande boorgate gevul sal word. Dan sal professors en skoonmakers skouer aan skouer in die ry moet staan.
En Graaff-Reinet, sê Groenewald, is volgende.
Tweede krisis
Die waterkrisis leen hom tot ’n tweede krisis: ’n onaangename een; wat boonop ’n gesondheidsgevaar inhou.
Een van die vragmotorstoppe op Makhanda was langs ’n skool, waar die stank in die lug die wagtendes hulle gesigte laat wegdraai het. “Daar is nie water om die skool se toilette te spoel nie,” het ’n juffrou verskonend aan een van die Gift of the Givers-vrywilligers gesê.
Ander dorpe het wel water, maar die gehalte daarvan gee die plaaslike aptekersbedryf ’n onverwagse hupstoot. Op Vryheid het Ingrid Klingenberg se apteek nie meer maagmedisyne nie en die burgemeester het gewaarsku: “Moenie ons dorp se water drink nie.” Dit het R160,000 gekos om die water te laat toets, maar niemand is seker wat presies fout is nie.
Op Parys in die Vrystaat, reg langs die Vaalrivier, vertrou inwoners nie die water nie. Dit ruik snaaks en maak hulle siek.
Op Sannieshof verkoop rubberstewels soos soetkoek, want die rioolvullis stroom dikwels langs die straat af. As jy die pad wil oorsteek, moet jy oor die nat gemors. Mense is al gewoond aan die stank, sê die plaaslike wateraktivis Carin Visser, wat haar deesdae in die politiek bevind weens haar stryd met die owerhede.
ʼn Emmer water vir R5
Op Kimberley word water elke aand afgeskakel, en die stad se watersuiweringswerke is in so ’n chaotiese toestand dat die flaminke by die Kamferdam bedreig is. In Noordwes se Tswaing-munisipaliteit is boorgate die enigste uitweg vir diegene wat dit kan bekostig. Dorpies naby Vryburg, Stella en Schweizer-Reneke se munisipale water is maande al af, terwyl dit in die noorde van KwaZulu-Natal so droog is dat ’n emmer water vir tot R5 verkoop kan word, afhangende van die graad van desperaatheid.
Beaufort-Wes het, tot die afgelope weke se goeie reën, van dag tot dag oorleef met die hulp van boorgate, en vragmotors gelaai met water was ’n algemene gesig op die N1.
“Ongeveer 60% van ons munisipaliteite is in ’n finansiële krisis,” het die waternavorser dr. Anthony Turton in Maart in ’n TV-onderhoud op CNBC Africa gesê. “En wanneer ʼn munisipaliteit in krisis is, ly basiese dienste eerste skipbreuk, soos sanitasie en waterverskaffing.”
Die Emfuleni-munisipaliteit het onder meer 44 rioolpompe wat nie werk nie en 150 megaliter rou rioolvullis vloei in die Vaalrivier in. Sommige paaie in die munisipaliteit is oorspoel van rioolvullis.
Turton, ’n professor aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se sentrum vir omgewingsbestuur, is uitgesproke hieroor. “Ons het veel eerder ’n rioolkrisis as wat ons ’n waterkrisis het,” sê hy.
“Ons vervaardig daagliks 5 biljoen liter rioolvullis in die land. Hiervan word 4.2 biljoen liter as verwerk, of gedeeltelik verwerk, in ons damme teruggepomp.”
In Mei 2010 is hy deur die Suid-Afrikaanse Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) geskors net voordat hy ’n lesing oor einste dié onderwerp by ’n WNNR-konferensie sou lewer. In “A Clean South Africa” maak hy die punt dat 98% van ons surplus water reeds toegeken is en omdat ons damme en rivier so besoedel is, is dit nie meer in staat om afvalwater na behore te verdun nie.
Vandag erken die Departement van Waterwese en Sanitasie (DWS) dat ongeveer 56% van munisipale rioolvullisbehandelingswerke nie reg werk nie en vuil water orals in riviere inloop.
‘Waterfabrieke’ kwyn
Van die grootste probleme met die verskaffing van die land se water in Suid-Afrika is dat dit – anders as in die geval van Eskom – sáám bestuur deur die nasionale departement (DWS), munisipaliteite en waterrade bestuur word. Die DWS sien om na die land se damme en riviere. Maar die infrastruktuur om water by mense te kry, berus by die plaaslike owerhede. Die munisipaliteite en waterrade koop die water aan van die DWS se damme en riviere.
Die DWS weet ook daar is ’n krisis. Trevor Balzer, die DWS se adjunk-generaal vir spesiale projekte, het verlede maand in Boksburg gesê sonder ingryping gaan Suid-Afrika ’n watertekort van 3,000 biljoen water teen 2030 hê.
En Suid-Afrika se “waterfabrieke” is aan die kwyn, met 50% van vleilande wat verlore gegaan het. Klimaatnavorsers aan die Universiteit van Kaapstad voorspel ook die westelike deel van die land gaan al hoe droër word, terwyl die oostelike deel al hoe meer groot storms gaan beleef wat op sy beurt die infrastruktuur kan beskadig.
“Boonop is minstens ’n derde van die 144 munisipaliteite wat moet water lewer wanfunksioneel, terwyl 50% geen of baie beperkte tegniese personeel het,” sê Balzer. “Wat distrikte betref, word 27 as kritiek beskou; hulle kan nie sonder ingryping aangaan nie, en skoon water word net aan 64% van Suid-Afrika se bevolking gelewer.”
Ongelukkig sit die DWS met sy eie probleme.
Ná jare van wanbestuur wys die jaarverslag die DWS is bankrot. Daar is R4 biljoen te min om hulle werk behoorlik te doen; trouens, daar was verlede jaar so min geld in die bank dat die DWS net 21% van sy teikens probeer haal het. Toe Beaufort-Wes se water einde verlede jaar opgedroog het, moes die DWS die krisis meestal van Pretoria af bestuur. Daar was nie genoeg geld om die nodige deskundiges uit te stuur nie.
Voordat Gift of the Givers die soeklig op die situasie in Beafort-Wes gewerp het, het die DWS die pleidooie glo geïgnoreer omdat die dorp deur die Demokratiese Alliansie bestuur word.
Voorts betaal munisipaliteite nie hulle waterrekeninge nie. Verlede jaar in November het Paul Nel, ’n direkteur en forensiese ouditeur van die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, in die parlement onthul munisipaliteite se skuld by die waterrade beloop R8.6 biljoen, terwyl die waterrade op hulle beurt R4.5 biljoen by die DWS in die skuld is.
Dit help ook nie munisipaliteite glo water moet gratis wees nie. Statistieke wys ongeveer 58% van Suid-Afrika se huisgesinne betaal nie vir water nie. Die prys van water is ook goedkoop, met 1,000 liter wat ongeveer R50 kos.
Maar die DWS, en veral sy vorige minister, moet ook pa staan vir sy eie beroerde sake. Die omstrede Nomvula Mokonyane, deesdae Minister van Omgewingsake, het onreëlmatige besteding in haar departement van R13 miljoen in 2009 tot ’n verstommende R4 biljoen in 2017 laat styg.
’n Ondersoek deur City Press het destyds bewys hoe Mokonyane dikwels ingemeng het in biljoenrandprojekte wat water vir Suid-Afrikaners moes lewer, maar dat bitter min waarde gewys kon word vir die biljoene wat gespandeer is.
Bedenklike kontrakteSaam met Luvo Makasi (hy is onlangs onder ’n wolk weg as voorsitter van die Sentrale Energiefonds), haar “spesiale adviseur” (wat later geblyk het ook haar bedmaat te wees) het Mokonyane bedenklike kontrakte gesluit vir die DWS wat nou nog ’n impak het op die bestuur van ons waterbronne.
Die departement se multibiljoen-projekte het ’n trekpleister vir korrupsie geword, en verskeie projekte in die DWS word tot vandag ondersoek. In Februarie het die Zondo-kommissie, onder voorsitterskap van adjunkhoofregter Raymond Zondo, getuienis aangehoor hoe onder andere Mokonyane geheime veiligheidsopgraderings by haar huis ontvang het waarvoor die sakeman Gavin Watson se Bosasa Operations (vandag bekend as die African Global Group) betaal het, terwyl Bosasa se bedryfshoof, Angelo Agrizzi, in Maart getuig het sy het R50,000 kontant van hulle per maand ontvang. Die Zondo-kommissie ondersoek omvangryke korrupsie in die staatsdiens, asook die betrokkenheid van politici en amptenare by staatskaping.
Vandag gaan die DWS onder ’n erge kontantkrisis gebuk wat hulle werk belemmer. Einde Februarie het die DWS ’n donker prentjie in die parlement geskets van hulle projekte waarvan bitter min voltooi is. Volgens Leonardo Manus, waarnemende adjunk-direkteur-generaal, is daar 15 projekte van meer as R1 biljoen en 53 tussen R250 miljoen en R1 biljoen wat nog uitstaande is.
Maar die nuwe Minister van Water en Sanitasie, Gugile Nkwinti, wat in Februarie verlede jaar by Mokonyane oorgeneem het, het ’n regrukstrategie beplan en in Junie 2018 is dié meesterplan vir waterbronne en dienste tot 2030 deur die kabinet goedgekeur.
‘Oproep tot aksie’
So wat kan gedoen word om Suid-Afrika se waterkrisis op te los, en wat is volhoubaar?
Die DWS se plan is ’n “oproep tot aksie” wat berus op beter samewerking tussen die onderskeie rolspelers om “inklusiewe ontwikkeling oor die land heen te verseker”. Die vyf pilare van die regrukstrategie sluit onder meer in sowel die skep van ’n nasionale gesag om infrastruktuur te ontwikkel en te bestuur, as ’n nasionale reguleerder vir watertariewe en standaarde.
Die plan lyk goed op papier, sê waterdeskundiges, maar daar is kommer of die DWS die hulpbronne het om dit uit te voer, terwyl daar ook ’n vraagteken hang oor die leierskap wat nodig is om die plan deur te voer. Die DWS is steeds sonder ’n permanente direkteur-generaal óf finansiële hoof, en baie beamptes word ondersoek weens korrupsie.
Vroeër vandeesmaand het Nkwinti wel aangekondig ingrypende maatreëls is ingestel om grootskaalse korrupsie in die bestuur van groot infrastruktuurprojekte, soos die De Hoop-, Mzimvubu-, Loskop- en Xhariep-grootmaatwatervoorsieningsprojekte en die Clanwilliamdam-projekte, hok te slaan.
Balzer glo ook Suid-Afrikaners kan hulle houding teenoor water verander. “Ons is watervrate,” sê hy. “Internasionaal gebruik mense gemiddeld 173 liter water per persoon per dag; in Suid-Afrika 237 liter.” In Gauteng is dit selfs erger. Hier gebruik mense 300 liter per dag, sê die senior waternavorser van die Gauteng City-Region Observatory (GCRO), Gillian Maree.
Bangmaaktaktiek in Kaapstad het gewerk
Terwyl Dag Zero Kaapstad bedreig het, het die stad se bestuur bangmaaktaktiek gebruik om Kapenaars te dwing om minder water te gebruik. Daar is verwag Kaapstad sou die eerste groot stad in die wêreld word met droë krane ná drie jaar van geen reën nie. Maar Kaapstad kon die krisis afweer. Vrees was wel ’n faktor. Koerantberigte met einde-van-die-wêreld-beelde, waar inwoners ure sou moes toustaan vir water met die weermag wat die orde handhaaf, het beslis ’n rol gespeel. Maar inwoners het ook hulle houding verander en besluit hulle wíl en gáán water spaar.
Vandag, ’n bietjie meer as ’n jaar sedert die reël van net 50 liter water per dag per persoon ingestel is, gebruik Kapenaars steeds 40 miljoen liter minder as hulle kwota van 650 miljoen liter per dag.
Meer onlangs het die vrees vir ’n Dag Zero ook in Johannesburg posgevat, in so ’n mate dat die Gautengse regering die GCRO aangestel het om ’n plan te ontwikkel om dit te voorkom. Die verslag lê nou op die lessenaar van die Gautengse premier, David Makhura, vir goedkeuring.Die vrese is nie ongegrond nie. Volgens Gift of the Givers se oom Gideon kon Johannesburg al in 2017 sy Dag Zero gehad het.“Op 12 April 2017 was die Vaaldam 26% vol, en dit was die einde van die reënseisoen,” sê hy. “Maar op 13 April het die sluise van die hemele oopgemaak en die dam het tot meer as 80% gestyg.”Tog flikker gevaarligte. Rand Water, wat 83% van die provinsie se water verskaf, mag nie nog water uit die damme en riviere pomp nie en is volgens ’n bron in die DWS reeds oor sy kwota. Rand Water wou nie kommentaar lewer of dit wel die geval is nie, buiten om te laat weet hulle “gaan versigtig om met water”.Hoewel meer as 90% Gautengers water op hulle erf het, het GCRO se Gillian Maree se navorsing gewys ’n kwart van die mense se watertoevoer word minstens een keer per maand onderbreek.
Waterinfrastruktuur
Sy sê die GCRO se data wys watter probleme daar is om die waterinfrastruktuur te onderhou. “Omdat die munisipaliteite watervoorsiening bestuur, is die onderbrekings beduidend. Veral in die Emfuleni-munisipaliteite het die helfte van die inwoners gesê hulle sit verskeie kere per maand sonder water.”
Gauteng se water kom van ’n netwerk van 14 damme, wat oor vier provinsies en Lesotho strek. Water word van die Lesotho-Hoogland-waterprojek (LHWP) en KwaZulu-Natal na die Vaalrivierstelsel, insluitende die Vaaldam, gepomp.
Suid-Afrika betaal Lesotho sowat R700 miljoen per jaar vir sy damme se water – dis 10% van dié landjie se inkomste.
Die water uit Lesotho is silwerskoon, maar op pad na die Vaalrivier sypel rioolvullis en ander afvalstowwe in. Die weermag is juis einde verlede jaar na die Vaalrivier uitgeroep weens die rivier se erge besoedeling, waar rioolvullis selfs gate in die paaie gespoel het.
Gauteng se watertoekoms steun op fase 2 van die LHWP, wat die provinsie se water sal moet aanvul. Konstruksie van die Polihali-dam van R25 biljoen moet volgende jaar begin sodat dit teen 2026 kan klaar wees, wanneer navorsing wys Gauteng se water gaan opdroog.
“Die projek is agt jaar agterstallig en totdat dit klaar is, is geen ander water vir Gauteng beskikbaar nie,” sê die GCRO in sy verslag.
Dis by dié projek waar Mokonyane se hand weer verskyn. City Press het blootgelê hoe Mokonyane self ingegryp het om dié projek te vertraag sodat LTE Consulting, ’n maatskappy waarmee sy oor ’n lang tydperk noue bande het, by dié uiters winsgewende waterprojek betrokke kon raak. Die vertraging het die prys van die projek laat opskiet van R22 biljoen tot R26 biljoen.
Projek met twee jaar vertraag
Mokonyane erken self sy het die projek met twee jaar vertraag om “kontrakte te hersien”, maar sê dit was nodig omdat “swart Suid-Afrikaanse ondernemings en Lesotho-burgers ook moes kans kry om aan die projek deel te neem”.
Die gesloer was egter ’n rooi vlag vir Thuli Madonsela, toe nog Openbare Beskermer, en in 2016 het sy Mokonyane daaroor ondervra, terwyl die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) ook ’n regsaksie teen haar begin het weens die beweerde korrupsie en wanadministrasie by die projek. Mokonyane is egter uit die DWS vort voordat daar enige duidelikheid was oor haar aandeel aan wat Madonsela toe al “staatskaping” genoem het.
Maree glo wel die LHWP alleen gaan nie vir Gauteng watersekuriteit bied nie. “Daar moet ’n verskeidenheid waterbronne wees, soos byvoorbeeld om ou mynwater te suiwer. En mense sal minder water moet begin gebruik.“Ons het die helfte van die wêreldwye gemiddelde reënval en tog verbruik ons dubbel die internasionale gemiddelde op ’n per-kapita-basis.”Hoewel die DWS alte vinnig vinger wys na landbou as die grootste waterverbruikers, gebruik dié sektor net 61% van Suid-Afrika se water. Wayman Kritzinger, voorsitter van AgriSA se afdeling vir natuurlike hulpbronne, sê boere probeer juis help waar hulle kan, en AgriSA moedig ook hulle lede aan om water meer doeltreffend te gebruik. AgriSA twyfel egter of die DWS nog die vermoë het om Suid-Afrika se water te bestuur.
Nie oornag nie
Maklik gaan dit nie wees om die duisende sukkelende watersuiweringswerke in die land te herstel nie, en oornag gaan dit nie gebeur nie, sê deskundiges.
Tog glo Turton “geen behoorlike krisis mag vermors word nie” en dat dié “stadig ontwikkelende ramp” wel belangrike lesse inhou, en dalk selfs ’n silwer randjie het.
“Water,” sê hy in sy onderhoud met CBNC Africa, “is ’n oneindig hernubare bron. Ons moet belê in ’n onafhanklike waterreguleerder. Op die oomblik het water geen ekonomiese waarde nie, want dit is genasionaliseer. Ons moet kyk na ’n sakemodel wat gerig is op beleggingsopbrengs. Ons moet dit verdeel in klein, medium en groot behoeftes – met die sakesektor as die een met die groot behoeftes. Die privaat sektor met sy klem op innovering kan hier ’n groot rol speel.”
Met hulle kundigheid en die regte leierskap, glo hy, “kan die situasie omgedraai word”. Maar tot dan, sê Gift of the Givers se oom Gideon, moet ons water hanteer asof dit ’n sekonde voor middernag is.
“Anders bars alle hel los.”

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.