Dis die Cyril-verkiesing. Of is dit die EFF-verkiesing?

ONTLEDING

Dis die Cyril-verkiesing. Of is dit die EFF-verkiesing?

Die persoon en simboliek van die president het lanklaas in Suid-Afrika se geskiedenis so sentraal in 'n algemene verkiesing gestaan, skryf MAX DU PREEZ. Maar die lewenskragtigheid van opposisiepartye en die moontlikheid van koalisieregerings in twee of drie provinsies gaan ook volgende week bepaal word. Gaan die EFF die grootste wenner wees?


MENINGSPEILINGS help ons dié keer nie baie nie. Een peiling voorspel dat die ANC met volgende week se verkiesing meer as 60% steun gaan kry, 'n ander sê weer dalk net 49%. Die DA se vermeende steun wissel weer tussen 15% en 23%. Die enigste gemene deler tussen drie groot meningspeilings is dat die EFF sterk groei en tussen 10% en 15% van die stemme gaan trek.
'n Verdubbeling van die EFF se steun onder kiesers gaan ongetwyfeld 'n groot impak op die nasionale politiek hê. Met die 6% wat die party in 2014 getrek het, het hulle die afgelope vyf jaar daarin geslaag om die media te oordonder, om in die parlement te kere te gaan asof hulle, en nie die veel groter DA nie, die amptelike opposisie is, en om 'n disproporsionele invloed op die nasionale diskoers te hê. Kan jy jou indink hoe hulle met dubbel die aantal parlementslede en 'n klomp provinsiale verteenwoordigers gaan tekere gaan?
'n EFF met 12% of so gaan sorg dat die populistiese virus (met rasondertone en geweld as subteks) wat ons politiek die laaste dekade besmet het, gaan gedy. Die party het in die laaste jaar van die Zuma-presidentskap as ’t ware die ANC se politieke agenda bepaal – radikale ekonomiese transformasie, onteiening sonder vergoeding en witmonopoliekapitaal was EFF-slagkrete wat ANC-beleid geword het.
'n Sterk vertoning deur die EFF kan selfs die eerste tree op pad na 'n uiteindelike hereniging met die ANC wees, veral as die ANC sleg vaar.
Die EFF het hom die laaste paar maande takties agter die anti-Ramaphosabrigade in die ANC geskaar. Dié groep se bevelvoerder, ANC sekretaris-generaal Ace Magashule, vry kliphard na Julius Malema en het dié week erken dat hy hom terug in die ANC wil hê en reeds met hom daaroor gepraat het.
Malema het weer verklaar dat sy party nie meer in alliansies of koalisies met die DA belangstel nie. Die Magashule-groep domineer die nasionale en provinsiale kandidatelyste van die ANC.
Koalisieregerings tussen die ANC en EFF in Gauteng en selfs die Wes-Kaap kan die politieke klimaat nog verder in die EFF se rigting stuur.
Die EFF heul met die Zumaïete omdat hulle deeglik besef hoe gewild Cyril Ramaphosa is – as Zuma se proksie eerder as Ramaphosa in Desember 2017 tot president verkies is, sou die ANC waarskynlik volgende week se verkiesing verloor het.
Die DA besef dit ook en baklei kwaai teen die suggestie dat 'n goeie oorwinning vir die ANC Ramaphosa se hand sal versterk om sy vernuwingsagenda uit te voer, en vice versa. Dit is inderdaad 'n dilemma wat baie kiesers in die gesig staar, al gil die DA ook hoe histeries hieroor.
Dit gaan 'n ramp wees as die DA erg steun verloor en met minder as 20% anderkant uitkom of selfs beheer oor die Wes-Kaap verloor. Die DA regeer strate beter as die ANC waar hulle in beheer is en is as party meestal vry van korrupsie.
Maar dit gaan 'n veel groter ramp wees as die ANC volgende week so sleg verloor dat 'n koalisie met kleiner partye soos die IVP nie goed genoeg gaan wees nie en hulle saam met die EFF nasionaal gaan regeer.
Ek het dit in November in 'n radio-onderhoud gesê en ek word steeds gereeld daaraan herinner, maar ek staan daarby. Maar dié week het DA-akiviste, onder die leiding van Helen Zille, my weer op grond daarvan op sosiale media daarvan beskuldig dat ek die ANC ondersteun en mense aanmoedig om vir hulle te stem.
Dit is myns insiens inteenseglik waar dat Ramaphosa se beweegruimte as president bepaal gaan word deur hoe goed of sleg die party volgende week vaar. Dit is algemene kennis dat die ANC se gewildheidstrajek onder Zuma skerp afwaarts geloop het.
As die party na aan 60% kom, sou Ramaphosa en sy span met reg kon sê hy het die party gered. As die ANC net bo die 50% gaan deurskraap, gaan die Magashule-bende Ramaphosa aan 'n leiband rondlei.
Kan dit wees hoekom Magashule 'n week voor die verkiesing aan die wêreld vertel het dat “die staat” (lees: Ramaphosa) sy masjinerie gebruik om hom, sy adjunk, Jesse Duarte, en ander ANC-leiers polities te ondermyn?
As dit regtig waar is dat hy deur staatsagente wat 'n ANC-faksie se vuilwerk doen, lastig geval word, hoekom nie maar 'n week wag om dit openbaar te maak nie? Probeer hy om die ANC se kans op 'n stewige oorwinning te verswak sodat hy ná die verkiesing ammunisie teen Ramaphosa kan hê?
Magashule is duidelik goed in beheer van Luthuli-huis. Dinsdag het die waarnemende ANC-woordvoerder, Dakota Legoete, Magashule se beweringe op televisie gestaaf en gepraat van lede van die ANC wat kla hulle word deur staatsagente agtervolg. Magashule het dit glo Maandag op 'n vergadering van die ANC se Top-Ses te berde gebring. Die ANC, sê Legoete, “keur enige poging om staatsmasjinerie vir politieke doeleindes te misbruik af”.
Maar die redenasie dat 'n stem vir die ANC 'n stem vir 'n sterk Ramaphosa is, is erg ondermyn deur die nare waarheid dat Magashule gesorg het dat die kandidatelyste in sy faksie se guns gelaai is. 'n Stem vir Cyril, is die teenargument dan, is ook 'n stem vir Ace. En vir David Mabuza. En Bathabile Dlamini, Nomvula Mokonyane, David Mahlobo, Mosenenzi Zwane en Malusi Gigaba.
Selfs die struggle-ikoon en akademikus Barney Pityana het dié week in 'n stuk getiteld “Confessions of a tactical voter” die sondes van die Zuma-ANC gelys en geskryf: “Dit is belangrik dat ons weet en oortuig is dat daar stappe gedoen gaan word om die skade te herstel en die nasie in 'n ander rigting te stuur. Dit is moeilik om dit te glo as die uitvoerende gesag wat die staat gaan bestuur baie dieselfde is as die een wat Zuma ter wille was en die Zuma dictat afgedwing het, en dat meer as die helfte van die parlementslede dieselfde mense is wat Zumaïsme geesdriftig verdedig het, of dat meer as twee-derdes van die ANC se nasionale uitvoerende komitee dieselfde mense is wat Zuma self uitgesoek het.”
Ek het al tevore hier geskryf dat ek nie politieke ontleders se koppetellery in die almagtige NUK heeltemal ernstig opneem nie. Ja, daar is identifiseerbare mense in die groep van 86 wat tot die Zuma/Magashule-faksie behoort, en daar is mense wat duidelik hul lojaliteit aan Ramaphosa te kenne gee.
Maar daar is 'n hele klomp manteldraaiers wat hul lojaliteit gaan skuif soos die magsbalans skuif, want hulle tree bloot in eie belang op. As daar na die stryd om die “hart van die ANC” gepraat word, word eintlik na dié groep se lojaliteit verwys.
Ek kan nie maklik sien dat dié groep in die afsienbare toekoms gaan dink hoe dit in hul belang gaan wees om 'n kragtige Ramaphosa, verreweg die gewildste politikus in die land, te ontman of selfs opdrag te gee om te bedank nie.
Ek sou ook redeneer dat ons in die hitte van die verkiesingstryd nie Ramaphosa se suksesse moet onderskat nie. Die afdank van die twee Zuma-rysmiere in die nasionale vervolgingsgesag, Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi, is die jongste.
Dit gee die nuwe NVG-hoof, Shamila Batohi, baie meer ruimte om politieke verantwoordbaarheid te help herstel. Die afdanking van Tom Moyane en die hervorming van SARS, staatsekuriteit, die Valke, die openbare beleggingskorporasie en verskeie staatsondernemings is baie betekenisvol, so ook Ramaphosa se nuwe goeie verhouding met die private sektor. Dit is al dié stappe, en die onverbiddelike voorwaarts mars van die Zondo-kommissie na staatskaping, wat die Magashules so paniekerig maak.
Dit lyk of die DA vir die eerste keer sedert sy ontstaan slegter gaan vaar as die laaste verkiesing. Dit gaan veral 'n groot slag wees as die DA sy beheer oor die Wes-Kaap aan 'n ANC-koalisie moet afstaan.
Ja, dit is deels as gevolg van swak leierskap, insluitende dié van leier Mmusi Maimane. Patricia de Lille se Good-party gaan waarskynlik 'n paar persent steun by die DA in die Wes-Kaap steel. Sy moes nooit uitgedryf gewees het nie; sy moes beter bestuur en regverdiger behandel geword het.
Maar ander faktore speel ook 'n rol. Honderdduisende mense uit die Oos-Kaap het sedert die laaste algemene verkiesing in die Wes-Kaap aangekom, en hulle is nie tipiese DA-ondersteuners nie.
Dit is ook half onvermydelik dat wanneer die politieke temperatuur styg en goedkoop populisme hoogty vier, gematigde sosiaal-demokratiese partye eerste onder druk kom. Die verwagting is dat die Vryheidsfront Plus ook van die kiesers gewerf het wat voorheen DA gestem het.
Nog 'n faktor is dat die DA gestraf word vir die sondes van die nasionale regering: die dakloosheid in die townships, die hoë misdaadsyfer en die skokkende toestand van treinpassassiersvervoer in die Skiereiland.
As die DA inderdaad volgende jaar swak gaan vaar, sal die party diep introspeksie moet doen en nuwe strategieë moet oorweeg om te voorkom dat die daling in steun voortduur.
Die party sal veral ook moet besin of dit hoegenaamd enige koalisie-ooreenkomste moet oorweeg. Daar is 'n saak uit te maak dat dit nie in die DA se belang was om met die samewerking van die EFF in Johannesburg en Tshwane te regeer nie.
Wat ons sonder veel twyfel wéét, is dat die ANC volgende week weer ons regering gaan vorm, op sy eie of in koalisie met ander.
Ons weet ook dat Cyril Ramaphosa deur die ANC-meerderheid in die parlement tot president van die land herkies gaan word.
Wat ons nié weet nie, is of Ramaphosa genoeg beweegruimte, en ruggraat, gaan hê om die uitvoerende gesag kleiner te maak en bekwame, skoon mense in sy kabinet aan te stel sodat sy verklaarde visie van vernuwing en ekonomiese groei vergestalt kan word.
Waarop ons kan hoop, is dat die gesaboteerde strafregstelsel met sy nuwe personeel gou genoeg kapasiteit gaan opbou om die korruptes en magsmisbruikers in die ANC-leierskap, Magashule en sy trawante, voor die hof te sleep en suksesvol te vervolg.
“Gou genoeg” is die sleutelwoorde, want tyd is nie aan ons kant nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.