Tussen bangmaaktaktiek en ras-retoriek

NIE 'N PYNLOSE BESLUIT

Tussen bangmaaktaktiek en ras-retoriek

Die regerende party is korrup en onbevoeg. Mense se besluiteloosheid oor wie om voor te stem, sê dus baie oor die opposisie, skryf JONATHAN JANSEN.



NOU weet ek nie meer nie. Al die jare van korrupsie onder ons huidige regering het nie net gevreet aan die staat se kritiese hulpbronne nie maar ook aan die hoekstene van die morele ekonomie waarop demokratiese regering staatmaak.Mense het hul geloof verloor in ons openbare instellings. Dis waarom ons skole, biblioteke en kunswerke verbrand. Dis gedeeltelik die verinnerliking van geweld in ons siele – ons het geword soos diegene wat ons verafsku – maar dit is ook ons frustrasie dat instellings nie meer werk vir die armes en kwesbares nie.Maar ek is gerieflik middelklas, en het nie 'n regeringstoelaag nodig nie. Dus, soos almal van ons wat onsself in daardie situasie bevind – swart en wit – doen ek my politieke keuses vanuit die oogpunt van ekonomiese onafhanklikheid danksy my universiteitsopleiding en 'n goeie werk.
Waarvóór om te stem
Vir hulle wat sukkel om van dag tot dag te oorleef, lyk die regering na die enigste bron van oorlewing danksy 'n vrygewige stelsel van maatskaplike toelae, selfs al word hulle in die proses deur die ore gewerk.
In die aangesig van die totale onbevoegdheid en korrupsie van die regerende party, sê mense se besluiteloosheid oor wie om voor te stem baie oor die opposisie.
Die politieke plakkate teen die lamppale help ons nie juis nie. Die een party se “Slaan terug” is weersinwekkend betekenisvol, maar ook sprekend van sy ideologiese wortels in die steun vir die gewelddadige apartheidstaat.
“Stop die ANC en EFF” is 'n slim en slinkse bangmaaktaktiek vir wittes en bruines in die Wes-Kaap, want daardie plakkate sal vertolk word presies soos hulle bedoel is (genoeg gesê). Nie een van hierdie plakkate sê vir my waarvóór ek moet stem nie, slegs waartéén ek moet reageer, of wat ek moet vrees.
Skole, korrupsie, groei
Ek sou bitter graag wou stem vir 'n party wat die publiek kan oortuig hoe dit voorskoolse opleiding van gehalte aan elke kind sou verskaf; nie op papier nie, maar in die werklikheid. Ek sou 'n party ondersteun wat staatskorrupsie kan kelder en wat vinnig sou werk om die mees senior politici tronk toe te stuur; nie net die pionne onderaan die rangorde nie.
My stem sal gaan na die party met 'n beleid om immigrante van oor ons vasteland heen te verwelkom. En ek sou beslis my kruisie trek langs die naam van 'n party by wie ekonomiese groei voorrang geniet, en wat hard sal werk om plakkershutte in ordentlike behuising te omskep. En wat spesiale visums sou gee aan tegnologie-entrepreneurs van oor die hele wêreld.
Die DA
Wat dan van die DA? Hulle ry elke week betyds my rommel weg. Die strate vanaf Stellenbosch na Swellendam is skitterskoon. Vir iemand wat gerieflik middelklas is, is die toeriste-hoofstad van Suid-Afrika nie 'n slegte plek om te woon nie.
Indien jy nog nie opgelet het nie, herinner die amptelike opposisie jou gereeld aan die stad se skoon ouditeursverslae. Lekker, behalwe as ek elke dag ry verby die groeiende massa bousels van Khayelitsha, met die stank van rou rioolvullis wat my motor binnesypel.
En dan Lavender Hill, waar ontelbare jong mans met tatoes doelloos rondstaan en tyd verwyl tussen die Pollsmoor-tronk en die miserabele Vlakte. Hierdie is die ondersy van Kaapstad, en totdat die DA se ontwikkelingstrategie kan pa staan vir die lewenstandaard van elke burger van die provinsie, is dit moeilik om te stem vir slegs skoon strate en Kampsbaai se vlekkelose strand.
Die EFF
Die ander partye boesem nog minder vertroue in. Die EFF word gelei deur meester-taktici, maar geen ernstige ontleder glo dat die land bloot van wit na swart hande sal verwissel in hierdie konstitusionele demokrasie nie – en dit boonop sonder vergoeding.
Boonop maak die rassistiese retoriek my bang, selfs al vind die populistiese politiek aanklank by arm en desperate mense vir wie dit lyk of die rooikepse kitsredding bied.
Dus, wat nou? Ek kan by die huis bly en nie stem nie, maar dit voel eenvoudig verkeerd. Ons het so lank gewag vir die reg om te stem, en dis belangrik om mens se keuses in 'n demokrasie te kan aanteken. Maar wie om voor te stem? Ek het regtig geen idee nie, maar ek sal waarskynlik my stem verdeel tussen nasionale en provinsiale keuses.

Hierdie artikel het eers in ons suster-publikasie, TimesLIVE, verskyn.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X