Zim: Waar sal ons geld vandaan kom?

LEË KASTE

Zim: Waar sal ons geld vandaan kom?

Suid-Afrika sal dringend moet leer uit Zimbabwe se lesse, sê PETA THORNYCROFT. Want geld kan opraak. Letterlik. Dinge het daar beter geraak ná die hiper-inflasietydperk in 2008 – maar weens die regering se skuld en gebrek aan dissipline sedert die verkiesing-sege in 2013 is inflasie nou weer 70% en ʼn brood kos al drie keer soveel as in Januarie.


ESKOM, Transnet, Prasa, SABC, SAA. Is daar geen einde aan die biljoene (of is dit miljarde)  – rande wat gevind moet word om die Suid-Afrikaanse enjin aan die loop te hou nie?
Besef Suid-Afrikaners dat geld kan opraak – omdat daar nie meer kontant oor is nie, of omdat die beskikbare note geen waarde meer het nie?
Dit het in Zimbabwe in die vroeë jare 2000 gebeur, en dit gebeur nou weer. Probeer jou indink: Daar is geen kontant in die kitsbanke of in die banke self, of in die kasregisters in supermarkte nie. En debiet- en kredietkaarte werk nie.
Destyds in 2008 was daar geen kruideniersware op die rakke nie, behalwe vir ʼn item hier en daar. Soms kon kopers koolkoppe in die hande kry, maar is slegs een elk toegelaat.
Geen geld vir boereDie grondgrype wat in 2000 begin en kommersiële landbou vernietig het, het ook baie kleiner boerderye verwoes. En dis juis die kleinboere wat die meeste mielies verbou het. Baie van hulle was afhanklik van wit boere vir die vervoer van sade en bemesting. Dus het die landbank inmekaargestort. Dus was daar geen geld om aan boere te leen nie.Daar was geen onderwysers by staatskole of personeel by staatshospitale nie – mense kon nie by die werk uitkom nie, want daar was geen bus- of taxigeld nie.Die dag toe die waarde van Zimbabwe se geldeenheid begin val, het só begin: Ons het ons “geldhandelaar” gebel. “Wat is die koers vandag?” Aanvanklik was dit 20 Zim-dollars vir een Amerikaanse dollar. ʼn Paar jaar later was dit Z$10,000 vir US$1.Teen 2004 het die koers feitlik daagliks verander. Teen 2008 het dit elke uur verander – jy het dadelik vir jou bier by die sportklub betaal, want daar was ʼn kans dat dit anderhalf uur later dubbel soveel sou kos.
Ons het ons handelaars betaal uit ons “onwettige” buitelandse bankrekeninge – die geld was óf in Suid-Afrika óf in Brittanje. Daar was ook “onwettige” Amerikaanse dollars of rande onder ons matrasse.
Een aand in 2004 wou die joernalis David Beresford – hy het geskryf vir The Guardian in Brittanje en Mail & Guardian in Johannesburg – ons uitneem vir ete. In daardie stadium was daar slegs Z$20-note beskikbaar, en ons sou kilogramme daarvan nodig hê.
David het rande by hom gehad. Ons het ons kontant in swart vullissakke by die restaurant ingedra en die plek se geldteller gehuur om by ʼn ander tafel te sit en die hope note te tel. Die rekening was ʼn paar honderdduisend Zim-dollars. Of was dit miljoene?
Dit was nog van die beter tye – daar was toe ten minste nog maaltye te koop.
Hoe het ons dit reggekry? Sommige van ons het ons inkopies gaan doen in Johannesburg omdat buitelandse lugrederye Suid-Afrikaanse kredietkaarte aanvaar het.
Drie nulle minder
ʼn Paar jaar later het Gideon Gono, goewerneur van Zimbabwe se staatsbeheerde sentrale bank, drie nulle van Zimbabwe se dollarnote afgekap. Dus het ʼn Z$100,000-noot ʼn Z$100-noot geword.
Ek was eendag op ʼn drie uur lange rit van Harare na die ooste om ʼn politieke vergadering in Manicaland te dek. Ek is deur 22 padblokkades. Die polisie het in ons voertuie en bagasie en selfs agter ons motorbande gesoek na Zim-dollars of buitelandse kontant.
Ek was toe te laat vir die vergadering.
Dit was onwettig om ʼn buitelandse bankrekening te hê. Gono het buitelandse joernaliste gedreig via die staatsbeheerde koerant The Herald en ons daarvan beskuldig dat ons in buitelandse valuta betaal word (natuurlik is ons!). Ons was in elk geval self almal onwettig in die land aangesien die Zimbabwiese regering ons geen akkreditasie gegee het nie. Feitlik alles wat ons in ʼn werksdag gedoen het, was teen die wet.
In Augustus 2008, na aan die einde van die sogenaamde hiper-inflasietydperk, is die Zim-dollar nêrens in die land meer aanvaar nie. Ek was daardie maand besig met ʼn komplekse dokumentêr vir ʼn Britse televisiemaatskappy. Dit was ʼn aaklige jaar – die mense van Zimbabwe was vuisvoos.
ʼn Paar maande tevore het ons verslag gelewer oor ʼn uiters gewelddadige tweede ronde van presidensiële verkiesings. Baie mense is deur die skurke van die regerende Zanu-PF-party vermoor. Toe volg ʼn cholera-epidemie waartydens duisende dood is, hoofsaaklik in Harare.
Staatshospitale gesluit
Ek het ʼn assistent gehuur om met die dokumentêr te help. Sy vrou was op die punt om te kraam, en hy het ʼn vroedvrou gehuur wat vanuit haar huis sowat 40 km noord van Harare gewerk het – die staatshospitale was gesluit. Ons het haar voortdurend gebel totdat ons uiteindelik bevestiging ontvang het dat die kleinding gebore is. Ons kon die ma se vreugdekrete hoor, en trane van verligting het oor my assistent se wange geloop.
Ons moes die geboorte vier! In die kombuis was daar ʼn kas vol speserye, kruie, mayonnaise, asyn, tamatiesous en ʼn halwe botteltjie gaslose dieetkoeldrank, een teesakkie en ʼn bietjie poeiermelk. Geen suiker nie. Geen brood nie. Geen lekkernye nie.
Ons het die baba se geboorte gevier – hy het die tee gedrink en ek die futlose Diet Coke.
Ek het later daardie dag by ʼn nabygeleë supermark gaan draai. Daar was niks op die rakke nie. Ek het die eienaar gevra of hy kruideniersware uit Suid-Afrika sou kon kry as ek vir hom rande gee. Hy het stilweg ingestem en my na ʼn kamer agter in die supermark geneem.
Ek het verstom gestaan. Al die basiese kruideniersware was daar: suiker, koffie, ProNutro, sardiens, geblikte tamaties, kookolie, brood, margarien en worsies, selfs jogurt en waspoeier.
Ek het gevat wat ek nodig gehad het en my besonderhede ingeskryf in ʼn boek wat hy onder die toonbank gehou het. Ek het die volgende dag vir hom die rande geneem. Dit was nie meer nodig om in Johannesburg te gaan inkopies doen nie.
Aan die einde van daardie jaar het die Zimbabwiese minister van finansies, Patrick Chinamasa, gesê dat dit nie onwettig was om buitelandse valuta te besit of om goedere se pryse in buitelandse valuta aan te dui nie. Toe kom die inklusiewe regering – bemiddel deur Thabo Mbeki – en alle buitelandse valuta word gewettig. Ons kon ook uiteindelik erken dat ons geld in buitelandse bankrekenings inbetaal word.
Die supermarkte het weer vol geraak. Pick n Pay het ingekoop in ʼn plaaslike maatskappy. Suid-Afrikaanse kruideniersware was dubbel die prys in Harare. Maar daar was weer kruideniersware. Daar was petrol. Onderwysers kon terugkeer werk toe. Verpleegsters ook.
Die krisis is terug
Maar nou het die krisis teruggekeer. Die regering het te veel geleen ná hul oorwinning in die 2013-verkiesing en nie by die begroting gehou nie. En Zimbabwe se uitvoer is nie genoeg om die koste van invoer te dek nie.
Dit is nog vroeg in die nuwe krisis en daar is hervormings wat die ronde doen, maar kontant soos Amerikaanse dollar het meer as twee jaar gelede opgeraak. Die kitsbanke is leeg. Mense doen inkopies met hul selfone wat gelaai is met kontant uit hul salarisse – of dalk kontant van ʼn geldwisselaar wat regte dollars geruil het vir die elektroniese geld – teen die daaglikse wisselkoers. Maatskappye gebruik interbanktransaksies om hul rekeninge te betaal.
Dis nie meer onwettig om ʼn buitelandse bankrekening te hê nie, maar daar is ʼn florerende swartmark vir Amerikaanse dollar. Die huidige wisselkoers is omtrent $4.8 elektroniese geld vir ʼn regte dollar. Daar is ook ʼn poging om die hoeveelheid elektroniese geld in die stelsel te verminder. Maar inflasie staan nou op 70%. Brood is drie keer die prys wat dit in Januarie was.
Die regering is uiters bekommerd en het verlede week mense wat pryse opjaag as “terroriste” beskryf. Daar is geen raad nie. Daar is geen redding nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X