Dis tyd vir ’n nuwe kiesstelsel en ’n direk verkose president

ZUMA-PRESIDENTSKAP WYS SWAKHEDE

Dis tyd vir ’n nuwe kiesstelsel en ’n direk verkose president

Die oomblik het aangebreek vir 'n nasionale veldtog om Suid-Afrika se kiesstelsel te verander om ook vir kiesafdelings voorsiening te maak, skryf MAX DU PREEZ



AS daar konsensus is dat dit van kritieke belang vir ons demokrasie en regeerkunde is dat politieke aanspreeklikheid en die skeiding tussen staat en regerende party herstel moet word, dan behoort daar ook konsensus te wees dat Suid-Afrika se kiesstelsel nou dringend verander moet word.
Ons het dié week ons sesde parlement verkies. Ons demokrasie is 25 jaar oud. Dit is 'n goeie oomblik om te besin oor die praktiese werking van ons demokratiese stelsel. Dit sluit introspeksie in oor die bestaansreg van die Nasionale Raad van Provinsies en die vraag of die president regstreeks verkies moet word.
Die nege jaar van Jacob Zuma se presidentskap help ons om die swakhede te kan uitwys.
In 2017 het die Konstitusionele Hof bevind dat die Nasionale Vergadering sy grondwetlike plig om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou, geskend het deur die wyse waarin die Openbare Beskermer se verslag oor die Nkandla-skandaal hanteer is. Dit is 'n ernstige oordeel oor die mense wat in 2014 deur die kiesers aangewys is om hul belange op die hoogste vlak te behartig.
Regeer deur Luthuli-huis, ANC-NUK
Dit was die laaste paar jaar baie duidelik dat Suid-Afrika nie deur die parlement nie, maar deur Luthuli-huis en die ANC se nasionale uitvoerende komitee regeer word. Dít is die resultaat van die stelsel van proporsionele verteenwoordiging waar kiesers nie vir individue stem nie, maar vir partye wat self die lyste van kandidate optrek.
Parlementslede word deur die topstruktuur van politieke partye aanspreeklik gehou, nie deur die kiesers nie. In die eed wat parlementslede onderteken wanneer hulle beëdig word, belowe hulle lojaliteit jeens die Grondwet, nie die party waartoe hulle behoort nie. Dit het duidelik tot dusver nie só gewerk nie.
Die president word boonop ook nie deur die kiesers nie, maar deur die meerderheidsparty in die parlement verkies.
Dít is die stelsel waarin Zuma se korrupsie, magsmisbruik en staatskaping gefloreer het, waar daar nie voldoende wigte en teenwigte is nie en waar die skeidslyn tussen die staat en die regerende party vervaag het.
Die voordeel van 'n suiwer proporsionele kiesstelsel is dat kleiner partye ook 'n teenwoordigheid in die parlament verkry. In 'n stelsel wat suiwer op kiesafdelings gegrond is, verdwyn klein partye byna omdat dit nie 'n goeie kans het om 50% plus 1 in 'n kiesdistrik kry nie. In so 'n stelsel kan 'n party selfs die meerderheid setels in die parlement kry al het dit minder as 50% van die stemme in die verkiesing ontvang.
Die voordeel van 'n stelsel waar kandidate in kiesafdelings op stembriewe verskyn, is dat kiesers vir 'n individu kan stem wat hulle glo hulle spesifieke belange die beste gaan verteenwoordig. Dit bring die demokrasie nader aan die mense en verhoog die aanspreeklikheid van parlementslede aansienlik.
Oplossing ’n mengsel van stelsels
Die oplossing is eintlik voor die hand liggend, en een wat in 2003 al deur 'n taakspan onder die leiding van Van Zyl Slabbert voorgestel is: 'n mengsel van die twee stelsels. Ná wye raadpleging en diepgaande navorsing het die span in 'n meerderheidsverslag voorgestel dat die land in sowat 69 kiesafdelings of distrikte verdeel word.
Driehonderd parlementslede moet dan op dié basis verkies word (tussen drie en sewe lede per kiesafdeling, afhangende van die getal kiesers). Die ander 100 lede van die nasionale vergadering se 400 lede moet dan uit die partye se nasionale lyste verkies word om die beginsel van proporsionaliteit in te bring en kleiner partye 'n stem te gee.
Slabbert se deeglike verslag is sonder veel omhaal op 'n rak geliasseer en niks het daarvan gekom nie. Die ANC het duidelik nie gevoel hulle sal by so 'n stelsel baat vind nie, veral nie wat betref die partybase se beheer oor parlementslede nie – hulle is nog verknog aan Lenin se konsep van demokratiese sentralisme.
Dit sal 'n diepgaande ontleding van dié week se verkiesingsuitslae verg om 'n idee te kry watter partye by 'n kiesafdelingstelsel sal baat vind. Die EFF sal waarskynlik sterk daarteen gekant wees. Wat nie betwyfel kan word nie, is dat die burgers en die demokrasie daarby gaan baat vind.
Die veldtog om 'n nuwe kiesstelsel sal dus primêr deur aktiviste van die burgerlike samelewing gedryf moet word – organisasies soos die Ahmed Kathrada-stigting, die Helen Suzman-stigting, Accountability Now, die New Nation Movement, die Council for the Advancement of the South African Constitution (Casac) en Freedom under Law. Die New Nation Movement het reeds 'n aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien wat pleit dat die kieswette ongrondwetlik is omdat individuele kandidate nie hulself verkiesbaar kan stel nie. Die saak sal op 15 Augustus aangehoor word.
Verkies president regstreeks 
Maar die debat behoort veel dieper as dit te gaan. Suid-Afrika moet begin besin of dit nie wenslik is om die president regstreeks te verkies nie. Zuma was byvoorbeeld baie minder gewild as die party waarvan hy die leier was, en vandag is dit andersom: Cyril Ramaphosa is heelwat gewilder onder kiesers as die ANC.
Dit sou die dilemma opgelos het vir baie kiesers wat Ramaphosa se hand wou sterk om sy visie vir vernuwing te kan toepas, maar nie vir 'n korrupte ANC wou stem nie.
Nog belangriker is dat regstreekse verkiesings vir die president die probleem gaan oplos dat die regerende party die president kan “herroep”, of opdrag gee om as 'n ontplooide kader te bedank, soos wat met Thabo Mbeki en Jacob Zuma gebeur het.
Dit is nou weer relevant met al die praatjies dat die ANC net vir Ramaphosa aanhou om die verkiesing te wen, maar agterna van hom ontslae wil raak. 'n Regstreekse verkiesing van die president sal ook die probleem oplos dat die kongresse waar partye (lees: die ANC) hul leiers kies, met die nasionale algemene verkiesings gesinkroniseer word.
Grondwetlike voorsiening moet natuurlik daarvoor gemaak word dat die parlement onder sekere omstandighede van 'n verkose president ontslae kan raak, soos wat in ander demokrasieë ook die geval is.
Wye magte van die president
En terwyl ons besin oor hoe die president verkies moet word, behoort Suid-Afrika ook oor die wye magte van die president te gesels. Dit geld veral die magte om eensydig belangrike aanstellings te maak, soos die hoof van die nasionale vervolgingsgesag.
As die kiesstelsel vir kiesafdelings (plaaslike distrikte in die nege provinsies, dus) voorsiening maak, maak dit ook eintlik die Nasionale Raad van Provinsies oorbodig. Die raad word deur baie as 'n mors van tyd en geld gesien, want dit het bloot 'n rubberstempel van die regerende party geword en funksioneer nie werklik effektief as die soort “hoër huis” wat ons in ander demokrasieë sien nie.
Hoofstuk 4 van die Grondwet verklaar: “Die Nasionale Raad van Provinsies verteenwoordig die provinsies ten einde te verseker dat provinsiale belange in die nasionale regeringsfeer in ag geneem word. Hy doen dit hoofsaaklik deur aan die nasionale wetgewende proses deel te neem en deur as ʼn nasionale forum te dien vir die openbare oorweging van sake wat die provinsies raak.”

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.