Wegbly-kiesers laat stilstuipe oor ANC neerdaal

VAN MOEG NA MOEDELOOS

Wegbly-kiesers laat stilstuipe oor ANC neerdaal

Die IVP, VF+ en EFF het almal beter gevaar in hierdie verkiesing as in 2014, maar waarskynlik het nie een van hulle die kapasiteit om 'n regerende party te word nie, skryf PIET CROUCAMP. En die DA? Ideologies in 'n politieke doodloopstraat.


HET die nasionale en provinsiale verkiesings aan Cyril Ramaphosa die mandaat gegee om die moeras van die Zuma-dekade te dreineer? Wel, 57% is 'n baie goeie mandaat gegewe die huidige morele bankrotskap van die ANC.
Maar die kiesers het ook 'n baie sterk boodskap aan die ANC gestuur in die vorm van 'n wegblystem. ’n Wegblystem is soos stilstuipe; die spanning in die huis is ondraaglik, maar so ook die dawerende stilte. By die stembus is stilbly ook 'n antwoord. 
'n Stempersentasie van 65% beteken dat van die byna 27 miljoen geregistreerde kiesers het ongeveer 10 miljoen nie op 8 Mei gestem nie. Van die 31,4 miljoen stemgeregtigdes het net ongeveer 30% vir die ANC gestem; 8% meer as in 2016 se plaaslike regeringsverkiesing. Die ANC regeer Suid-Afrika dus met 'n 30%-mandaat.
Cyril Ramaphosa dra nogtans die wanhopige hoop van byna alle Suid-Afrikaners. Soos Mandela dra Ramaphosa ook op sy skouers die skrale hoop en vertroue van miljoene burgers wat waarskynlik  nooit vir die ANC sal stem nie. Hy moet red wat daar te redde is van die ekonomie en die staat, en boonop moet hy sy eie party radikaal transformeer van 'n bankrot bevrydingsbeweging tot 'n moderne politieke party.
Die IVP, VF-plus en die EFF het almal beter gevaar in hierdie verkiesing as in 2014, maar waarskynlik het nie een van hulle die kapasiteit om 'n regerende party te word nie. Die DA is ideologies in 'n politieke doodloopstraat en vertoon meer kwesbaar as vyf jaar gelede.
ANC van moeg na moedeloos
Die ANC het van moeg na moedeloos op die telbord by die uitslagsentrum gemigreer en die grootste skade aan sy beeld manifesteer in die lae stempersentasie. Suid-Afrikaners wil nie meer deelneem aan die rituele van 'n korrupte of afwesige staat nie.
Soos sake nou staan, het geen opposisieparty werklik 'n kans om 'n relatiewe meerderheid te kry in die volgende verkiesing nie, maar die ANC het dalk ook sy laaste volstrekte meerderheid in 'n nasionale verkiesing gekry. Dit beteken die ekonomie sal die moontlikheid van uiters onbestendige koalisiepolitiek moet verdiskonteer in die dekades wat kom.
Die EFF het waarskynlik 'n versadigingspunt bereik wat steun betref. Hierdie verkiesing was die eerste werklike – en moontlik enigste – geleentheid vir die rooi barette om te wys dat die vol stadions en opruiende slagspreuke ook in syfers omgesit kan word.
Die syfers lyk beter teen ongeveer 10% van die uitgebragte stemme, maar dis nie genoeg om enige vorm van politieke mag mee te beding nie. In Gauteng, die een provinsie waar meningsopnames voorspel het dat die ANC moontlik in 'n koalisie sal moet regeer, hoef die EFF nie noodwendig die vennoot te wees nie. In die Wes-Kaap sit die EFF ook met 'n wallflower-probleem; die DA is sterk genoeg om sonder vennote die provinsiale regering in die ou wit tuisland te bestuur.
Die EFF se parasitiese verhouding met die ANC het duidelik kwantitatiewe perke. Die deel van die swart middelklas – bedrywig in die privaatsektor – wat vervreem geraak het van die ANC, maar ook in die korporatiewe sektor deur die gedrewenheid van wit manlike bevoorregting geteister word, is nou klaar gemigreer na die EFF.
EFF: Goedkoop populisme het afsnypunt
Met die ekonomie in 'n skynbaar onherstelbare lae trajek van ekonomiese groei is dit meer waarskynlik dat hulle weer sal terugkeer na die ANC in 'n poging om die erodering van hul demografiese dividend te beskerm.  En die jeug is eenvoudig te apaties om op te reken. Hulle registreer nie vir verkiesings nie en hulle stem ook nie in beduidende getalle nie. Goedkoop populisme het 'n 10%-afsnypunt waar politieke beloftes sonder 'n fiskale begroting nie verder geforseer kan word nie.
Die grondkwessie is 'n ontsaglike kopseer vir baie Suid-Afrikaners, maar beset en afvat strook nie met ons sin vir onderhandeling en pragmatisme nie. Jy kan dalk wit sensitiewe siele op Twitter teister met “just give back the land", maar die politieke landskap is groter as die sosialemedia-jagveld waarop die EFF hul opponente intimideer en dreig.
Die DA het seker minstens 150,000 stemme aan die VF+ afgestaan, maar dalk kan Maimane nou sy party finaal in die rigting van 'n sosiaal-demokratiese ideologie stuur. Daar is so min politieke speelruimte vir 'n liberale politieke party in Suid-Afrika as wat daar ideologiese energie is vir kommunisme.
DA se plafon
Swart Suid-Afrikaners is waarskynlik oorwegend sosiaal-demokrate, en so is ook die bruin gemeenskappe van die Wes- en Noord-Kaap. Soos in elke ander verkiesing kon Maimane weer nie daarin slaag om die DA se agenda, belange en beleid te kalibreer met die politieke instinkte van 'n nie-liberale steunbasis nie. Soos die EFF het die DA 'n plafon bereik wat steun betref, en 'n nuwe leier met nuwe idees is dalk nodig om die liberale kliek – wat tans 'n beklemmende greep op die bestuur van die party het – te laat wegbreek. Die DA kan duidelik nie hervorm word nie. Die party sal moet skeur as hy wil groei.
Die enigste party wat ná hierdie verkiesing werklik oor 'n brandewyn en Coke kan sit en kraai, is die Vryheidsfronters. Die afgelope drie verkiesings het daar sonder uitsondering 'n faksie van die party met my kom praat oor die leierskap van Pieter Mulder.
Hulle het geweet hy is die verkeerde leier, maar kon nie besluit of hulle hom moes uitwerk of self moes wegbreek nie. My raad was, raak van Mulder ontslae, want wegbreek is soos verraad onder Afrikaners; julle sal in die buitenste duister uitgespu word. Mulder is 'n dood goeie professor, maar in die politiek is jy nie óf bright óf charismaties nie, jy is albei. 
Tans is die VF+ nog regs, hoewel nie noodwendig primêr rassisties nie. Baie van dié party se ondersteuners het by die DA teen die ANC geskuil, nou is hulle huis toe. Hulle sien nie werklik kans vir 'n kompromis met swart Suid-Afrikaners nie. Pieter Groenewald is so onbehendig om 'n onderhandelingstafel as 'n Piet Retief, maar hy is op geen wyse 'n opperste rassis nie.
VF+ moet by Constand leerIndien hy die VF+ van regs na konserwatief kan skuif, is daar nog heelwat residu-steun vir sy party onder laermiddelklas-Afrikaners. As hy werklik impak wil maak, moet hy werk aan sy verhouding met Ramaphosa. Constand Viljoen was 'n meester in dié opsig. Hy boer nie ver van Potchefstroom af nie, Groenewald behoort die plaas te kan opspoor.Die ander party wat op 8 Mei soos Lasarus van eens tekens van herlewing getoon het, is die IVP. Die oplewing van Mangosuthu Buthelezi se party is 'n belangrike verskynsel en moet in die konteks van die stryd om die Ingonyama-trust se grond gesien word. Drie verkiesings gelede het Jacob Zuma begin om die steun van koning Goodwill Zwelithini vir die ANC te werf deur eenvoudig soveel moontlik geld op tradisionele leiers te bestee. Die verhouding tussen die ANC-regering en die koning het die IVP se steunbasis in duie laat stort en KZN het 'n ANC- provinsie geword. Tradisionele leiers het ’n beduidende invloed gehad op stempatrone; op dieselfde wyse as wat Cosatu mynwerkers op stemdag kon mobiliseer vir die regerende party. Tradisionele leiers het in 'n patronaatskapsnetwerk met die ANC en Jacob Zuma beland en minder afhanklik geraak van die steun van die vroue, kinders en oumense wat in die landelike areas agtergebly het terwyl die mans na die stede getrek het op soek na 'n beter lewe.Die koning en sy tradisionele leierskorps het belastings begin hef en verblyfreg het onseker geraak vir die mees kwesbare deel van die landelike samelewings. Hierdie verkiesing is waarskynlik 'n bewys daarvan dat die steun van die tradisionele leiers 'n party inderdaad stemme kan kos eerder as andersom.IVP en Ramaphosa se oordeelsfoutDie ANC se nasionale konferensie het besluit dat die Ingonyama-trust herbesin moet word, en Ramaphosa het ter wille van die verkiesing besluit om daardie resolusie op die lange baan te plaas. Op 8 Mei het die kiesers wat in die drukgang tussen die koning en Ramaphosa beland het, 'n duidelike boodskap gestuur deur vir die IVP te stem. Dit was 'n monumentale oordeelsfout deur Ramaphosa, en die nadraai kom nog.
Vir die sogenaamde radikale partye soos Front Nasionaal aan die regterkant en die BLF aan die linkerkant beier die doodsklokke. Maar gematigde middelmatigheid steier ook na benede; Cope en die strydros van bevrydingspolitiek, Mosiuoa Lekota, kan nou maar tokse ophang.Dié party kon ná interne gevegte nooit die beloftes van hul stigting gestand doen nie. Die uitslae is in elk geval 'n slagting vir kleiner politieke partye, wat saam minder as 10% van die totale stemme kon verwerf.In geen nasionale verkiesing in hierdie land het minder stemgeregtigdes ’n kleiner mandaat aan 'n meer verinneweerde regerende party gegee as in 2019 nie.Van die bevrydingsbeweging van eens is daar weinig oor; nie alleen wat die drieparty-alliansie se sogenaamde morele kompas betref nie, maar ook wat die politieke oordeel van sy leierskorps betref. Ironies genoeg is dit dalk nou die uur om aan die ANC te sê:  Welkom in die wêreld van liberaal-demokratiese politiek.Die era van identiteitspolitiek loop ten einde, en die verkiesing van 2024 hou die moontlikheid in dat die ANC by die stembus sal moet veg om 'n verkiesing te wen eerder as om 'n mandaat vir die president te bevestig.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.