Christo Wiese: die riller van die rykste man in die land se ...

INSIG

Christo Wiese: die riller van die rykste man in die land se Steinhoff-waagspel

Christo Wiese het 'n fortuin gemaak uit goeie tydsberekening met transaksies. In sy vyf dekades as sakeman het hy diamantmyne, kleinhandelgroepe en spogeiendomme gekoop en meestal weer op die regte tyd verkoop. Maar een transaksie verdwerg die ander. In 2014 kondig Steinhoff International aan dat hy meer as R60 miljard vir Wiese se Pepkor-groep – meestal met Steinhoff-aandele – wil betaal. Volgens sekere maatstawwe maak dit Wiese die land se rykste man. Dit stort ook 'n groot deel van sy fortuin in 'n oornamelustige meubelgroep onder leiding van Markus Jooste, vertel TJ STRYDOM, skrywer van die nuwe biografie Christo Wiese: Risiko & rykdom.


DIT het Jooste se Steinhoff gepas om ’n premie te betaal vir die maatskappye wat hy oorneem omdat daardie premie dan in sy boeke as ’n bate getoon kan word. Maar as hy kontant moes betaal vir die besighede, sou daar geld uitgevloei het en dan is die netto-uitwerking niks en hy het boonop minder geld in die bank.
Daarom het dit Steinhoff ook gepas om in aandele te betaal, want dit het min aan sy kontantvloei verander.
Die voordeel van die voortdurend groeiende klandisiewaarde op Steinhoff se balansstaat was dat hy meer kon leen, want hy het dan meer bates wat skuldeisers gemoedsrus moet gee.
Maatskappye leen natuurlik op verskillende maniere. Een daarvan is om skuldbriewe en effekte uit te reik. Dit is een van die groot redes waarom Steinhoff na ’n notering in Europa gemik het – daar is dit goedkoper om op dié manier geld by beleggers in te samel.
“Ons leef vandag in ’n wêreld waar grootte en finansiële krag ’n baie belangrike faktor is. Hoe meer geld jy het, hoe meer geld wil hulle vir jou gee, so jou toegang tot kapitaal word goedkoper,” sê Jooste (aan Alec Hogg).
In ’n onderhoud met Reuters in 2016 herhaal hy ’n paar keer die woorde: “Skaal is jou vriend ... skaal is jou vriend.”
Teen middel 2014 kondig Steinhoff aan dat hy dieselfde jaar nog op die DAX-aandelebeurs in Frankfurt, Duitsland, wil noteer. Die nuus wek groot belangstelling. Is hier dalk ’n nuwe manier om geld in die buiteland te kry?
Steinhoff samel in Augustus daardie jaar kapitaal van R18,2 biljoen in vir die skuif en om sy sake in Europa uit te brei.
Intussen, op die agtergrond, is die ware “game changer”-transaksie aan die broei.
En as Steinhoff al vantevore premies betaal het by oornames, is dit hierdie keer iets spesiaals. In November daardie jaar kondig Steinhoff aan dat hy Pepkor, wat in dié stadium in die hande van Wiese en sy familie, Brait en die Pepkor-bestuur is, gaan oorneem. Die koopsom is byna R63 miljard – die grootste oorname in daardie stadium in Suid-Afrika.
En ’n hele paar wenkbroue lig sommer gou, want die prys is omtrent dubbel Pepkor se jaarlikse omset. Die beleggingsbank JP Morgan waarsku: “We think Steinhoff is overpaying.”
En vir Wiese is dit ’n reuse-meevaller. Pepkor se minderheidsaandeelhouers is in 2004 deur Brait en Ou Mutual vir R2,6 biljoen uitgekoop en die groep is toe gedenoteer. In 2011 het Brait sy belang na 37% opgeskuif en die hele Pepkor in daardie stadium teen R16,5 miljard waardeer.​
Net meer as drie jaar later is Steinhoff bereid om vier keer soveel op te dok.
“Christo het vir ons gesê Pep is ’n great kleinhandelbesigheid. Dit is onderontwikkel oorsee en hulle het nie toegang tot kapitaal nie ... hy sê, julle ouens, met julle steun kan ons dit vat van 0 tot 10,000 (winkels) ... en dit is hoe die idee gekom het om daarna te begin kyk,” sê Jooste.
Steinhoff betaal ’n deel in kontant – maar die grootste deel in Steinhoff-aandele. Dit maak van Wiese die grootste aandeelhouer in Steinhoff en gee vir Brait ook ’n beduidende belang en ’n groot hoop kontant – en skielik sit die Pepkor-bestuur met Steinhoff-aandele.
“Dié soort transaksie kan net gebeur as almal tevrede is. Pieter Erasmus (besturende direkteur van Pepkor) het die Sondag van Australië af teruggekom en die Maandag was daar ooreenstemming met wat hulle wil hê. As hy nee gesê het, was daar nie ’n transaksie nie. Dis eenvoudig hoe dit gebeur het.”
Wiese dink Steinhoff en Pepkor pas goed bymekaar wanneer dit by maatskappykultuur kom en hy haal spottenderwys vir Erasmus aan wat glo gesê het dis ’n klomp boere en “die aksente is dieselfde”.
Aksente bly maar ’n moeilike besigheid, en Jooste dra ’n swaar Afrikaanse een. So het hy en ’n sakeverslaggewer mekaar sleg verkeerd verstaan kort nadat die transaksie aangekondig is.
Die Pepkor-oorname verhoog die maatskappy se markwaarde beduidend omdat dit ’n groot toename in kapitaal meebring, lui die storie in The Star se Business Report. Die koerant haal Jooste aan:
“It would also enhance our positioning in terms of size and waiting in the ducks in Frankfurt which is a positive.”
Dit gaan dalk oor die weighting on the (Frankfurt) DAX, maar dit klink darem baie soos waiting in the ducks.
Vir Steinhoff is die groot transaksie ’n reuse-geleentheid vir verdere uitbreiding.
“Met Christo het die Pep-Steinhoff-samesmelting ons in ’n ander liga geplaas wat ons balansstaat en kapitaal betref. Ons het die maatskappy se markwaarde meer as verdubbel met die transaksie,” sê Jooste.
En die mandaat wat hulle by die Wiese-familie gekry het, is om die besigheid verder uit te brei.
Steinhoff koop in April 2015 die minderheidsaandeelhouers van die JD Group uit. Wat vroeër ’n beduidende transaksie vir Jooste en sy span sou wees, lyk nou klein in vergelyking met Pepkor.
Maar vroeg daardie jaar begin iets anders ook krap.
In Duitsland voer die belastingowerheid ’n klopjag op ’n Steinhoff-maatskappy uit. Jooste sê dit is ’n werknemer wat hulle in die pad gesteek het wat aantygings by die owerhede oor daardie onderneming gaan maak het. Die media en Steinhoff self steur hulle nie te veel aan die insident nie.  
* Die uittreksel kom uit Christo Wiese: Risiko & rykdom deur TJ Strydom en is deur Tafelberg uitgegee. Dit kan hier bestel word.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X