Daar’s nog baie karkasse en puin, maar ons het die...

POLITIEKE ANALISE

Daar’s nog baie karkasse en puin, maar ons het die Zuma-tsoenami oorleef

Gegewe die zeitgeist in Suid-Afrika die laaste vyf jaar kon die verkiesingsuitslag baie slegter gewees het, redeneer MAX DU PREEZ. Suid-Afrika het Polokwane 2007 én die vernietigende Zuma-aanslag oorleef.


VERKIESINGSONTLEDERS is goed daarmee om die statistiek en die tendense wat daaruit te lees is vir ons uit te lê. Maar hulle kyk net na die syfers van die vorige en pas afgelope verkiesings en glad nie na wat sedert 2014 se nasionale verkiesing tot en met die 2019-verkiesing op die grond in die nasionale politiek gebeur het nie. 
Dit is 'n groot leemte wat nie tot 'n deeglike begrip van die houdings en sienings van die burgers van die land lei nie. Soortgelyke swaaie in kieserskeuses in lande soos Brasilië, Pole, Oostenryk, Hongarye, en inderdaad Amerika en Brittanje, moet ook verstaan word deur die koers wat die nasionale debatte en sosiaal-politieke interaksies tussen verkiesings daar ingeneem het.
Zuma-tsoenami
Jacob Zuma het in 2009 president geword, maar die vernietigende Zuma-tsoenami het die land eintlik eers ná die 2014-verkiesing getref. Die Marikana-slagting, waarin 34 mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is, het in Augustus 2012 plaasgevind. Die EFF is in 2013 gestig en het in 2014 klaar 6% steun getrek. In November 2014 het Zwelinzima Vavi en Irvin Jim die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) uit Cosatu en die ANC gelei. Vroeg in 2015 het die #RhodesMustFall-manie op ons kampusse losgebars, gou in #FeesMustFall ontwikkel en in 2016 en 2017 was die meeste kampusse aan die brand of erg ontwrig. Dekolonisering, whiteness en swart pyn was van die konsepte wat skielik hoofstroom geword het.
'n Verslag van die Wêreldbank wys dat Suid-Afrika sedert 1994 stewige vordering gemaak het om armoede te bekamp, maar die proses is in 2011 gehalt en omgedraai. Grondhervorming het onder Zuma byna heeltemal tot stilstand gekom.
Ekonomiese groei het van 5% in 2009 tot minder as 1% in 2019 gedaal; daar was 'n afname van 40% in buitelandse beleggings sedert 2010; die ekonomie was meer as R500 biljoen armer net in reaksie op Zuma se skok-afdanking van Pravin Gordhan as minister van finansies; staatskaping en korrupsie het staatsondernemings soos Eskom, Transnet, Prasa en PetroSA uitgehol en met 'n skuldlas van meer as R500 biljoen gelaat; en die Nasionale Inkomstediens het dramaties in duie gestort en sowat R100 biljoen minder as geteiken ingebring.
Protes
Die bestuur en beheer van verskeie provinsiale regerings en 'n meerderheid van plaaslike regerings het die laaste dekade ingrypend versleg terwyl verstedeliking versnel het. Gewelddadige proteste in townships het 'n daaglikse verskynsel geword.
Hoe meer die Zuma-regering onder druk gekom het, hoe meer het hulle hulle na goedkoop populisme gewend, en met die hulp van Bell Pottinger het radikale ekonomiese transformasie, witmonopoliekapitaal en onteiening sonder vergoeding die gonswoorde van die hoofstroom en uiteindelik ANC-beleid geword.
Die EFF het die parlement gereeld in chaos gedompel en selfs bloedige vuisgevegte was later nie meer ongewoon nie. Rasnasionalisme en etniese chauvinisme het die laaste oorblyfsels van nierassigheid doodgewurg.
Julius Malema het goed kwytgeraak soos dat hy die keel van witheid wil afsny en “nog nie” vir 'n slagting van wit mense vra nie, en hy het daarmee weggekom en voortgegaan om die mediadekking te oorheers. Sosiale media het in diep, donker poele van haat en rassisme ingesink. Regse groepe soos AfriForum en die Solidariteit-beweging het probeer terugveg, maar dit was meestal teenproduktief.
Minder belangstelling
So, wat moes ons van 'n verkiesing in so 'n tyd verwag? Sekerlik dat populisme en ekstremisme moes seëvier, soos elders in die wêreld? Die EFF, Black First Land First, Azapo, die PAC, die Land Party, die Socialist Revolutionary Workers' Party met al sy vakbondlede en die verregse Front Nasionaal moes sekerlik gedy? Toe nie, nè? Net die EFF het gegroei, en sedert 2016 ook net met 2,6 persentasiepunte.
Wat wel gebeur het, is dat minder kiesers as ooit tevore by die stembus opgedaag het: 65% teenoor 72,5% in 2014. Omtrent 9,3 miljoen geregistreerde kiesers het nie gaan stem nie. Minder jong mense as ooit tevore het as kiesers geregistreer; omtrent 9 miljoen stemgeregtigdes het nie eens geregistreer nie.
Dit het die grootste party, die ANC, die seerste gemaak, en op 57,51% van die stem gelaat, 4,6 persentasiepunte minder as in 2014 – maar 3,6 meer as met die plaaslike verkiesing in 2016.
Wat het met die DA gebeur?
Die DA, wat volgens sommige ontleders nie deur die wegblystem benadeel is nie, het van 22,3% in 2014 na 20,76% gedaal, maar die daling is erger as 'n mens kyk na die 25,6% wat hy in die plaaslike verkiesing getrek het.
Die EFF se steun het van 6,3% in 2014 na 8,2% in 2016 na 10,8% in 2019 gestyg. Die Vryheidsfront-Plus het van 0,9% na 2,38% gespring.
Die ANC het meestal stemme aan die EFF afgestaan en die DA aan die VF-Plus en veral in die Wes-Kaap ook aan die Good Party van Patricia de Lille en die ACDP.
As 'n mens in die algemene sin na die uitslae kyk, kan 'n mens sê meer as 80% van die kiesers het hul rug op die populistiese ekstremiste gedraai en vir die ANC, die DA, IVP, VF-Plus en kleiner partye soos Good en die ACDP gestem.
Cyril het die ANC gered
Dit is betekenisvol dat die ANC op nasionale vlak meer stemme as op provinsiale vlak getrek het: in Gauteng 3 persentasiepunte meer, die Wes-Kaap 2,6 meer, Noordwes 1,8, Mpumalanga 1,6, Limpopo 1,5, KwaZulu-Natal 1,3, Noord-Kaap 1 en Oos-Kaap 0,5 persentasiepunte. Dit kan wees dat sommige kiesers 'n opposisieparty 'n kans wou gee om op provinsiale vlak te regeer, maar dit is waarskynlik dat die meeste kiesers wat hul  stemme só verdeel het, vir Cyril Ramaphosa gestem het.
Dit is dan ook die boodskap wat die Ramaphosa-span na die ANC se strukture toe vat: As dit nie vir hom was nie, het die ANC baie swakker gevaar. Een van die Ramaphosa-groep het in 'n WhatsApp wat wyd in die party versprei is, gesê as die 3,6 persentasiepunte meer stemme vir die ANC vergeleke met 2016 gevoeg word by die getal stemme wat spesifiek vir Ramaphosa uitgebring is, dui dit daarop dat die party dalk die verkiesing sou verloor het as dit nie vir Ramaphosa was nie. Die party se verkiesingsorganiseerder, Fikile Mbalula, het Ramaphosa ʼn “game-changer” genoem.
Die swaar pil wat die DA moet sluk, is dat hul veldtog die laaste paar jaar om aansienlik meer swart steun te werf nie geslaag het nie. Die DA het minder swart kiesers bygekry as die wit kiesers wat hulle aan die VF-Plus afgestaan het. Dit kan ook in 'n mate aan die Ramaphosa-faktor toegedig word, hoewel die party se strategieë en sentrale boodskap dalk drasties hersien sal moet word. Die werklikheid is egter dat dit nie maklik is om 'n gematigde, vryemarkgesinde sosiaal-demokratiese party oor ras- en klasgrense in 'n klimaat van populisme en rasnasionalisme te laat groei nie.
Loodballon
Die EFF is besig om die boodskap te kry dat hul basiese instink wat sê hoe meer militant jy is en hoe meer jy vloek en dreig, hoe meer steun gaan jy kry, verkeerd was; dat hulle nie die bui van die kiesers volgens Twitter kan meet nie. Kiesers wil meer as politieke teater hê.
Die beleid wat alle grond wil nasionaliseer, het soos 'n loodballon gesink. Die gewelddadige optrede in die parlement, en deur leiers soos Floyd Shivambu, sit baie potensiële kiesers af, so ook die oordadige beledigings en dreigemente teenoor wit mense in Indiërs.
Meningspeilings deur die navorsingsmaatskappy MarkData het onlangs gewys dat baie kiesers wat lojaal teenoor die EFF is, bang is dat grootskeepse grondonteiening en nasionalisering die ekonomie gaan skaad.
Koalisies
Ek het op goeie gesag verneem dat EFF-leiers die aand van die verkiesing, toe dit gelyk het asof die ANC minder as 50% in Gauteng sou kry, boodskappe na die DA-leierskap gestuur het dat hulle oor 'n moontlike koalisie wil gesels. Donderdag het die EFF aangekondig dat hulle 'n volbloed-magsdelingooreenkoms met die DA in Johannesburg en Tshwane wil aangaan. Die EFF wil 'n burgemeester in Tshwane hê met bestuurskomiteelede van die DA, en in Johannesburg steun hulle die DA-burgemeester, maar hulle wil EFF-lede in sy bestuur hê.
Of is die magsdeling-voorstel 'n foefie? Verwag hulle dat die DA dit van die hand gaan wys, sodat hulle dan saam met die ANC in die bed kan klim?
Is dit te veel om te hoop dat die enfants terribles van ons politiek 'n bietjie meer volwasse gaan word? Kan ons dalk 'n soberder, meer nadenkende EFF met sy groter kontingent van 44 parlementslede verwag?
Die uitslag van die volgende algemene verkiesing sal grootliks daarvan afhang hoe goed die ANC-regering van nou af die ekonomie aan die gang kon kry, hoeveel werkgeleenthede geskep is, in watter mate die staatsdiens meer effektief gemaak is, hoe plaaslike owerhede reggeruk is en in watter mate politieke aanspreeklikheid herstel is.
As Cyril net die helfte van sy beloftes nakom, is die kans goed dat ons langer uit die kake van roekelose populiste sal bly.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.