Die lang wanhoop: Suid-Afrika se vergete gyselaars

GEVANG VIR GELD

Die lang wanhoop: Suid-Afrika se vergete gyselaars

Dit is 'n hele bedryf - geld in ruil vir 'n lewe. Drie Suid-Afrikaners word tans in verskillende lande as gyselaars aangehou en hulle lospryse beloop miljoene rande. ERIKA GIBSON het ondersoek ingestel na die binnewerkinge van hierdie donker wêreld.



ONTVOERING vir 'n losprys is een van die mees genadelose soorte georganiseerde misdaad, of dit nou deur milisiegroepe, ekstremiste of gewone misdadigers gepleeg word. Die goue draad wat deur al die ontvoerings loop, is dat dit oor geld gaan. Die slagoffers is kommoditeite, met 'n geldwaarde op hul koppe.
Die afgelope vyf jaar veral is die neem van gyselaars vir betaling aan die toeneem. Die “rooi gebiede” is die Sahel-streek, met Mali, Niger, Libië, die Nigeriese Delta, Burkina Faso en omstreke, sowel as in Jemen en Sirië.
'n Paar jaar gelede het Mosambiek ook deurgeloop en selfs in Suid-Afrika is daar meer ontvoerings as wat noodwendig in die nuus bekend is, sê Anas Al Hamati, een van die Moslem-noodlenigingsgroep Gift of the Givers (GOTG) se hoofonderhandelaars.
Al Hamati was betrokke by die vrylatingsonderhandelings toe Yolande en Pierre Korkie van Bloemfontein in 2014 in Jemen gevange geneem is.
Yolande is vrygelaat, maar op die punt toe GOTG 'n ooreenkoms vir haar man s’n bereik het, het Amerikaanse spesiale magte die vesting bestorm waar Pierre deur ʼn Al-Kaïda-verwante groep aangehou is. Pierre is in dié mislukte ontsettingspoging doodgeskiet.Die groep het aanvanklik R32 miljoen vir sy vrylating geëis. Familie, vriende en mede-Suid-Afrikaners het R1,7 miljoen ingesamel. Dié geld was reeds in Jemen as beste aanbod en die milisies het daarvoor geskik. Toe word Pierre geskiet.Die onderhandelings het in 'n stadium só lewensgevaarlik vir Al Hamati geword dat hy, sy vrou en kind na Suid-Afrika moes vlug omdat die milisies geglo het hy het die losprysgeld verduister.Al Hamati het ook help onderhandel aan die vrylating van die Suid-Afrikaner Stephen McGown wat laasjaar ná amper ses jaar in aanhouding in die Sahel vrygelaat is. Hy is in 2011 in Timbuktu saam met ʼn Sweedse en ʼn Nederlandse toeris gevang toe hy met sy motorfiets van Brittanje na Suid-Afrika onderweg was.'n Duitse toeris saam met hulle is doodgeskiet toe hy geweier het om in die kapers se voertuig te klim. Die kapers, wat glo ook Al-Kaïda-bande gehad het, het sowat R60 miljoen vir McGown se vrylating geëis.
Tans word Shiraaz Mohamed (41), 'n fotojoernalis, reeds vir meer as twee jaar aangehou nadat hy buite 'n hospitaal in Darkoush in die niemandsland tussen Sirië en Turkye gegryp is. In 'n onlangse video wat vrygestel is deur die ekstremistiese groep wat hom aanhou, pleit hy vir ingryping – deur enigiemand – omdat die gebied waar hy is daagliks deur vliegtuie van die VSA of Rusland gebombardeer word. Die losprys op sy kop was aanvanklik R63 miljoen. Al Hamati het dit nou al afwaarts onderhandel tot R23 miljoen.
Gerco van Deventer (43), 'n paramedikus van Swellendam, is in November 2017 in die woestynagtige suide van Libië saam met drie Turke gevang. Van Deventer het na die mediese welsyn van 'n Turkse groep omgesien waar hulle besig was om 'n kragstasie te bou. Hy sou net vir 'n maand daar werk. Nou word hy al vir langer as 18 maande aangehou.
Christo Bothma (54) van Potchefstroom het net soos Van Deventer gesukkel om werk in Suid-Afrika te kry toe hy in September 2018 naby Djiba in Burkina Faso digby die Mali-grens saam met 'n Indiese kollega en hul plaaslike motorbestuurder gegryp is. Bothma het daar op 'n myn gewerk en die mynbaas se seun is die kollega wat saam met Bothma gevang is.
Van Deventer en Bothma word aangehou deur verskillende groepe wat deur een onderhandelaar verteenwoordig word, vermoedelik in Mali, saam met nog ses ander mense.
Aanvanklik is meer as R350 miljoen geëis vir die vrylating van twee van die gyselaars, waaronder 'n Australiese dokter, twee Colombiaanse nonne, 'n Italianer en 'n Indiër. GOTG is weens hul betrokkenheid by vorige onderhandelings genader om te help.
Al Hamati het bewys van lewe geëis, wat die eerste stap is om te bepaal of die onderhandelaar nie 'n blote swendelaar is wat probeer munt slaan uit die situasie nie.
“Onthou dit gaan oor geld en die aanhoudings is gewoonlik in 'n gebied waar daar geen sprake is van wet en orde óf enige regeringsteenwoordigheid nie.
Bewys van lewe in die vorm van 'n video of vrae waarop net die gyselaars die antwoorde sal weet, dui gewoonlik daarop dat hulle nog lewe en inderdaad in ʼn groep is waaroor die onderhandelaar beheer het.”
'n Video van Van Deventer met 'n lang baard en in 'n Moslemstyl-tuniek waarin hy smeek om huis toe te gaan, is uitgereik.
Genoegsame bewyse is ook verskaf dat Bothma, hoewel hy apart aangehou word, nog lewe. Dit is Van Deventer se video wat deur vriende, familie en mede-paramedici op Facebook só aangegryp is dat 'n groepfondsinsamelingspoging aanlyn geloods is.
Dié week het die fonds op R5 700 gestaan – nog ver van die mikpunt van R9 miljoen.
Die eerste paniek en skok
Die nuus breek gewoonlik met 'n vrystelling op ekstremistiese groepe se eie nuuswerwe of sosiale media. Of die families kry 'n direkte telefoonoproep van die ontvoerders, vertel Al Hamati.
“Die eerste 48 uur ná 'n ontvoering is die belangrikste om die milisie ter sprake te vang, maar dan moet ʼn land se veiligheidsmagte vinnig uit die blokke kom. In Burkina Faso se geval is die weermag wel agter Bothma se ontvoerders aan, maar etlike soldate is in skermutselings met die groep doodgeskiet. Daarna was dit te laat.
“Baie van die lande waar ontvoerings gebeur, het 'n mislukte of wankelrige staatsbestel met ewe onbevoegde veiligheidsmagte.
Gewoonlik is die eerste dreigement genoeg om die familie in 'n paniek te laat as die buitensporige hoop geld genoem word. Waar dit een van die meer ekstremistiese groeperings soos dié in die Sahel is, is daar maklik 'n dreigement dat die gyselaars se koppe afgesny sal word as die geld nie gou betaal word nie.Die desperate families is aanvanklik stom van skok en verwag die ergste. Rapporteer hulle dit by die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), word hulle gemaan om vir eers die insident geheel en al stil te hou – waarskynlik sodat die departement eers homself van die besonderhede kan vergewis. Intussen sal die dreigemente van die groep ontvoerders voortgaan.'n Losprys-ontvoering is 'n saketransaksie. Die groep wat iemand aanhou, het geld nodig. Die onderhandelaars glo hul gyselaar – die meeste Suid-Afrikaners wat al in dieselfde bootjie was – het óf toegang tot baie geld óf die groep verwar hulle met van die nasionaliteite uit die sogenaamde “ryk” lande waaronder die VSA en Brittanje. In die meeste gevalle is die gyselaars en hul families nie in staat om miljoene dollar te betaal om hul geliefdes te laat vrylaat nie.Die toename in ontvoerings word bemoeilik deur sommige regerings in Skandinawië en Europa wat wel 'n onderhandelde losprys betaal. Die ontvoerders glo dus “iewers” sal daar wel geld bymekaargemaak word.
Kosbare “kommoditeit”
 “Die milisies kyk mooi na hul gyselaars. Van die groepe het selfs dokters wat help om mediese behandeling en medikasie te verskaf as dit nodig is. Hulle beskerm ook die gyselaars as hulle aangeval of gebombardeer word. As hul kosbare kommoditeit sou doodgaan, verloor die groep sy traksie op enige losprys. Die groepe verkoop dikwels die gyselaars onderling aan ʼn ander groep as hulle nie meer na iemand kan omsien nie.
“Een van die faktore wat die situasie verder bemoeilik, is dat die groepe gedurig hul gevangenes rondskuif – selfs oor landsgrense heen – as dit in 'n  bepaalde gebied te ‘warm’ raak. Sommige gyselaars soos Amerikaners of Britte het 'n hoër prys op hul koppe as ander, want die kapers glo hulle kan meer munt slaan uit die publisiteit wat gewoonlik in dié lande se gevalle volg. Dit gee aan hulle 'n soort status as hulle 'n ‘duur’ slagoffer gevang het,” sê Al Hamati.
Veral in die Sahel blyk dit duidelik dat selfs regerings of regeringsamptenare kommissie verdien wanneer 'n losprys wel betaal word.
In Sirië is daar meer as 100 verskillende groeperings wat almal daarop aanspraak maak dat hulle Al-Kaïda-bande het, want dié benaming gee aan hulle 'n soort legitimiteit en dit boesem vrees in, al is hulle baie keer bloot 'n kriminele klomp struikrowers.
Die onderhandelaar probeer om dan die ringleiers te oortuig dat dit hulle net ekstra geld gaan kos om die aangehoudenes onbepaald te onderhou. GOTG maak dit van meet af duidelik in onderhandelings dat 'n losprys vir Suid-Afrikaners buite die kwessie is.
Die kapers sal dan voorstel om 'n tussengangerland met baie geld te nader.
Komplekse eierdans
Daar is lande soos Katar wat al as tussenganger opgetree het, maar dit gaan gewoonlik dan weer gepaard met 'n soort “diplomatieke skuld” tussen die onderskeie regerings en Suid-Afrika was tot op hede nog nie vir dié soort ingryping te vinde nie.
Geduld is die wagwoord, anders verloor ʼn onderhandelaar kontak met die gesiglose, naamlose stem oor die selfoon in wie se hande die lot van ʼn gyselaar berus.
Dis 'n komplekse eierdans tussen emosies en realiteit waar families desperaat uitkoms soek, waar die milisies geduldig wag om te sien wie knip eerste sy oë.
Die gyselaars bevind hulle sonder enige kontak met die wêreld, onseker wanneer ʼn bewapende hommeltuig of bombardement (soos in Shiraaz in Sirië se geval) of 'n aanval deur gewapende spesiale magte (soos die Franse en Amerikaanse soldate in Mali) hul lewens kan kortknip. Die tussenganger-onderhandelaar dra die hoop en die wanhoop van die families op sy skouers.
'n Ander soort onderhandelaar
Mark Courtney van die Wes-Kaap, wat in 2001 in risiko-beperking begin spesialiseer het, was deel van 'n internasionale maatskappy wat wêreldwyd maatskappye gehelp het wat projekte in hoërisiko-gebiede bedryf het. Courtney was vir Afrika verantwoordelik in 'n tyd toe ontvoerings in die Nigeriese olievelde hoogty gevier het.
Baie internasionale maatskappye het ontvoeringsversekering sou hul werknemers gyselaar geneem word. Courtney se werkgewers het die onderhandelaars verskaf wat dan om die vrylating van werknemers wat ontvoer is, gaan beding het.
“My span het oor 'n paar jaar meer as 7 000 ontvoerings in Kameroen, Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo en elders in Oos-Afrika hanteer. Wanneer ons gemobiliseer het, moes ons binne 24 uur so na as moontlik kom aan die gebied waar die ontvoering was.“Sommige lande soos Amerika het vereis dat hul intelligensiedienste ook iemand stuur. In Nigerië het die polisie gewoonlik die lospryse gaan oorhandig. As onderhandelaar het ek nooit 'n idee gehad wie die eiser aan die ander kant van die telefoon was nie. Nadat 'n mens 'n paar gevalle hanteer het, het ek later van die sleutelkarakters herken. Dít weer het dit makliker gemaak, want mens kon soort van voorspel het hoe die patroon van hul onderhandelings gaan werk.“Die heeltyd is 'n mens bitter bewus van jou eie veiligheid om nie self in die hande van die kriminele te val nie, so ons het altyd vir swaar beveiliging gesorg.“My laaste intervensie was in 2009, twee weke voor Kersfees. Dit was my vierde geval daardie jaar waar ek komplekse ontvoerings moes hanteer. Ek was moeg, want ek was 262 dae in een jaar van die huis af weg en die kanse was goed dat ek nie eens Kersfees saam met my gesin sou wees nie. Ek het binne agt dae ʼn skikking met mag en krag afgedwing.“Toe ek betyds vir Kersfees terugvlieg, het ek besef ek het te onverskillig en afgestomp begin raak. Dit is die goue reël wat enige onderhandelaar nooit mag verbreek nie, want dan plaas jy die lewe van ʼn hulpelose mens op die spel. Ek was tot in my siel in moeg en het net dáár besluit: tot hiertoe en nie verder nie.”
En nou?
GOTG se onderhandelaar in die Sahel, waar daar geen selfoondekking is nie, is pas terug uit die gebied waar hy weer eens gaan beding het vir Van Deventer en Bothma se vrylating (hy word nie geïdentifiseer nie omdat die situasie te sensitief is). Die milisies het gevra vir ʼn amptelike voorstel of aanbod van Suid-Afrika se kant af. Hulle wil weet wat die families bymekaar kan skraap.
Die kapers raak kriewelrig, want die gebied raak by die dag meer onstabiel en riskant om in rond te beweeg. Hulle vrees die teiken op hul rûe raak al hoe groter en wil van hul gyselaars ontslae raak.
Intussen glo Al Hamati hy gaan vir Shiraaz loskry – tensy 'n bombardement die gebied waar hy in Sirië aangehou word, die proses in 'n rookwolk beëindig. Dis 'n dodelike dobbelspel waar die steentjie vinnig verkeerde kant toe kan rol.
Al drie die Suid-Afrikaners is deur omstandighede gedwing om hul brood te gaan verdien waar 'n gewone salaristrekker hom nooit sal begewe of bevind nie.
Shiraaz is 'n joernalis wat die oorlog in Sirië gaan dek het soos wat joernaliste daagliks doen. Bothma het sy werk in die Vrystaatse goudmyne verloor weens die kwynende goudmynbedryf. Hy het 'n gesin en kinders wat hy moes onderhou. Sy enigste opsie was by 'n myn in Burkina Faso.
Van Deventer was ook sonder werk – ook met 'n gesin. Die maand lange kontrakwerk in Libië sou die pot aan die kook hou.
Al drie mans en hul gesinne se lewens hang van 'n handvol milisies af. En die rol van 'n dobbelsteen.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.