Hoe gemaak met dubbelpratery in jou politieke tuiste?

SWAAR KRUIS

Hoe gemaak met dubbelpratery in jou politieke tuiste?

Die steun wat die DA in die afgelope verkiesing aan die Vryheidsfront-Plus afgestaan het, dui op 'n worsteling by baie kiesers oor waar hulle polities gemaklik voel, skryf INA GOUWS.


DIT was 'n veeleisende verkiesing vir 'n kieser. Om te besluit waar om jou kruisie te trek het 'n kruis geword wat al hoe moeiliker is om te dra. Te veel kiesers het besluit hierdie kruis is te swaar om te dra of gewoon nie die moeite werd om verder aan te sleep nie.
Heelwat het 'n ander rigting ingeslaan met hierdie groot verantwoordelikheid en hul kruisie ná ernstige oorweging langs 'n ander party se naam getrek. Daar word byvoorbeeld baie vrae gevra oor 'n betekenisvolle aantal DA-ondersteuners wat besluit het om vir die Vryheidsfront-Plus te stem.
Sekere kwessies het sedert die vorige munisipale verkiesing en die afgelope een hoër op Suid-Afrikaners se prioriteitslyste begin rondbeweeg. Ja, natuurlik was staatskaping en die gevolglike korrupsie en swak dienslewering 'n ernstige oorweging.
Werkloosheid, grondhervorming en ekonomiese ongelykheid is ook ernstig bedink. Maar waar het bewyse van goeie regering op die lys van prioriteite te lande gekom?
Goeie regering
Dit wil voorkom asof hierdie belangrike aspek nie vir die DA die voordeel verseker het wat hulle verwag het nie. Vir die soort Afrikaner wat ék is, was goeie regering belangriker as enige van die vele ander kwessies waaroor ek my bekommer.
Vir ander Afrikaners was dit nie die geval nie. Dit blyk dat hierdie kiesers dit het teen die DA se hantering van byvoorbeeld insidente soos die Schweizer-Reneke saak, die party se onduidelikheid met transformasiebeleid en die persepsie dat die party nie daadwerklik genoeg optree wanneer haatspraak teen wit mense voorkom nie.
Die DA het ook te lank geneem om hul siening oor grondhervorming behoorlik te verwoord en oor te dra. Die VF-Plus het wel hierdie kwessies direk hanteer en die indruk geskep dat hy nie langer sal duld dat hierdie gebeure en beleid onbetwis gelaat word nie, en dat Afrikaners nie hoef skaam te wees om vir hulself op te staan nie. Kan hierdie kiesers as konserwatief beskryf word? Beslis. Dus regs? Ja. Maar verregs? Ek is nie dáárvan oortuig nie.
Daar is natuurlik verregses in die VF+ en die leierskap kan hulle meer gereeld teen die rassistiese groeperinge in hul midde uitspreek.
Beteken dit die wit kiesers wat hul steun van die DA na VF Plus verander het, is almal 'n klomp regse rassiste wat nie vir 'n party met 'n swart leier wou stem nie? Weer eens, ek is nie oortuig nie. Net soos alle ander ras- en etniese groepe in die land is Afrikaners nie homogeen in hul politieke sienings en denke nie.
Kiesers se worsteling
Die klem lê by die ernstige oorweging wat vroeër genoem is. Daar is by my geen twyfel nie dat heelwat van die kiesers wat die DA vir die VF-Plus verruil het, met heelwat vrae geworstel het. Waar gaan 'n kieser heen wat oor maatskaplike kwessies liberale denke het, maar 'n konserwatiewe benadering voorstaan vir die ekonomie: om grond te kan besit, 'n vrye mark, min regulering, 'n klein regering, beperkings op hoeveel regerings bestee en lae belasting?
Waar trek jy jou kruisie as jy nie ras of etnisiteit of godsdiens wil gebruik as redes om vir 'n party te stem nie, maar tog wil sien dat jou taal die beskerming kry wat in die Grondwet verskans is? Wat doen jy as 'n politieke party 'n huis geword het waar veelrassigheid, veeltaligheid en multikulturalisme verwelkom word, maar jy haatspraak teenoor jou ras moet aanhoor en jou party se leiers klaarblyklik nie daadwerklik daarteen optree nie?
Wat oortuig 'n kieser om weg te stap van 'n party met skynbaar goeie waardes en 'n meestal uitstekende rekord van goeie regering?
In politieke wetenskap kyk ons na teorieë soos “loss-aversion” wanneer kiesers se gedrag ondersoek word. Dié teorie word op verskillende maniere gebruik, maar meer dikwels waar dit oor ekonomiese kwessies gaan. Dit kom neer op 'n afkeer van of vrees vir 'n moontlike verlies of bedreiging wat tot sekere besluitneming lei.
Vrees
Kiesers vrees sekere situasies wat tot verlies van eiendom of werk, swakker toegang tot finansiële dienste, ensovoorts kan lei. Hierdie persepsie van bedreiging oortuig kiesers om vir die party te stem wat oënskynlik kan voorkom dat hierdie verlies plaasvind.
In die konteks van hierdie gesprek sluit ek vrees vir die verlies van moedertaalonderrig en minderheidsregte hierby in.
Soos ek dit sien, het hierdie bekommernisse 'n groter rol gespeel in die beweging van Afrikanerkiesers van die DA na die VF-Plus as die eerlike pogings van die DA om inklusief te wees, en ook as sy rekord van goeie regering. Die DA kon nie daarin slaag om hierdie vrese te besweer nie.
In die breë gesien is Suid-Afrikaanse kiesers se gedrag besig om te verander. Identiteitspolitiek, hetsy volgens volk, etniese groep, geloof of streng ideologie, gaan waarskynlik al hoe meer aanvaarbaar word. Die “kleiner partye" sal hierby baat vind.
Kritiek in die media is nie op sigself 'n rede vir 'n politieke party om steun te verloor, soos wat van die DA-leiers aanvoer nie. Ek hou vol dat indien die boodskap konsekwent, die bedoeling opreg en die visie duidelik is,  daar min rede vir 'n gevestigde party soos die DA is om soveel steun te verloor.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.