Meer as net ’n rooi beret en ’n gebalde vuis

AANSTAP ROOIES

Meer as net ’n rooi beret en ’n gebalde vuis

Die EFF se belangrikste rolmodel is “die Ché Guevara van Afrika”, president Thomas Sankara van Burkina Faso. Dit was by hóm wat hulle die dra van 'n rooi beret as revolusionêre simbool gaan leen het. Het hulle maar sy basiese filosofieë omarm en die lesse van sy opgang en ondergang geleer, skryf MAX DU PREEZ, wat Sankara twee maande voor sy sluipmoord in Ouagadougou ontmoet het.


ONS het Thomas Sankara in die kombuis van sy beskeie, afgeleefde staatswoning ontmoet. Toe ons instap, het hy agter die tafel met sy groen panelyte-blad en chroom omsoomsels soos my ouma s’n opgestaan met 'n breë glimlag wat 'n mens kon aanvoel nie aangeplak was nie. Hy het sy arms uitgestrek en gesê: Bienvenue!
Sankara was 'n aantreklike man in sy laat dertigs, atleties gebou en kersregop in 'n los, gestreepte tuniek van Faso Dan Fani, die plaaslike katoenmateriaal. Saam met hom was sy adjunk-president en ou vriend, Blaise Campaoré, en 'n paar kabinetslede.
Ek was deel van 'n klein afvaardiging Suid-Afrikaners wat onder andere Thabo Mbeki, Van Zyl Slabbert en Breyten Breytenbach ingesluit het. Dit was deel van ons toer deur Wes-Afrika ná ons beraad in Dakar, Senegal in Julie 1987.
Sankara het ons hartlik in Frans welkom geheet en ons blekes mede-Afrikane genoem wat 'n ernstige taak het om die “laaste bastion van die kolonialisme” op die vasteland vry te maak. Net 'n jaar tevore het hy die Franse president, François Mitterand, op besoek aan Burkina Faso goed die hel in gemaak deur hom by die amptelike verwelkoming te kritiseer omdat sy regering vir PW Botha as staatshoof in Parys ontvang het.
Charismaties en pittig
Sankara se charisma was aanvoelbaar, maar hy was ook 'n platjie, pittig en vinnig met 'n grappie. Na sy verwelkoming het hy en sy kollegas vir ons 'n plaaslike volksliedjie gesing en toe daarop aangedring dat ons dieselfde doen. (As ek reg onthou, het ons probeer om Sarie Marais te sing. Ek kan nie onthou of Thabo saamgesing het nie…)
Ons het toe 'n paar dae lank as gaste van die regering in Ouagadougou deurgebring en is ingelig oor Sankara se filosofieë en projekte. Dit is waar my belangstelling in Sankara en sy land begin het en ek was weer jare later daar om te sien hoe dit gaan.
Burkina Faso is 'n brandarm land met 80% van die bevolking wat van bestaansboerdery leef. Dit was 'n Franse kolonie, Bo-Volta, wat in 1960 onafhanklik geword het en toe aan 'n reeks militêre staatsgrepe onderworpe was. Dit is in 'n onstabiele streek geleë met Mali, Niger, Benin, Togo, Ghana en Cote d’Ivoire as bure.
Sankara het as valskermsoldaat naam gemaak en die rang van kaptein gehad toe hy in 1983 deur president Jean-Baptiste Ouédrego as eerste minister aangestel is. Dit het net 'n paar maande gehou voor hy weer tronk toe gestuur is, maar hy is drie maande later bevry toe Ouédrego se bewind omvergewerp is.
Sankara het die leier van die Conseil de la Révolution en president van Bo-Volta geword, wat hy 'n jaar later na Burkina Faso, Land van die Opregte Manne, herdoop het.
Geen gevolg of fanfare 
En só het Sankara se merkwaardige bewind van vier jaar begin. Sy biograaf, Ernest Harsh, het hom in 'n onderhoud só beskryf: “Hy het nie van die vertoon gehou wat met sy amp gekom het nie. Hy het in idees belang gestel. Hy sou altyd eers nadink voor hy 'n vraag antwoord.
Hy het regtig geweet hoe om met sy mense te praat, hy was 'n goeie orator. Hy het daarvan gehou om grappe te maak. Hy het gereeld met die Franse taal gespeel en nuwe terme geskep. 'n Mens kon hom in Burkina Faso sien waar hy in die hoofstad op sy fiets ry of per voet sonder 'n gevolg rondloop.”
Ek het Sankara self in 'n stokou Peugeot met 'n gekraakte voorruit sien ry, sonder die begeleiding van 'n konvooi met veiligheidswagte, blou ligte en loeiende sirenes. Hy het al die staat se limousines verkoop en sy ministers en senior amptenare het in klein Renault’s of Peugeot ’s rondgery, almal sonder begeleiding.
As ministers moés vlieg, het hulle ekonomiese klas gevlieg. Daar was geen staatsbankette nie. Hy het of sy kamoefleerdrag of sy katoentuniek (en soms ‘n sweetpak) gedra en het sy eie salaris kwaai gesny. Die dag toe hy sterwe, het hy glo net 'n ou kar, vier motorfietse, drie kitare en ‘n yskas besit. (Neem kennis, Julius en Floyd.)
Trots en anti-imperialisties
Sankara se basiese filosofie was baie dieselfde as dié van ons eie Steve Biko: selftrots en waardigheid as Afrikane, gedekoloniseerde denke en leefstyle, selfversorgendheid.
Sankara was teen buitelandse hulp en het daarop aangedring dat die Burkinabé net verbruik wat hulle produseer. Hy het by geleentheid by 'n internasionale konferensie na hom en sy afvaardiging verwys en gesê nie een van hulle dra 'n draad klere wat nie in Burkina Faso gekweek, geweef en gemaak is nie.
Sy sterk anti-imperialistiese houding het hom baie ongewild by Frankryk en die leiers van ander Afrikastate soos Félix Houphouët-Boigny van Cote d’Ivoire en Mobuto sese Seko van die destydse Zaīre gemaak wat by noue bande met Frankryk gebaat het.
Hy het by 'n multinasionale konferensie in Vittel, Frankryk, en by 'n sitting van die ou Organisasie vir Eenheid in Afrika (OAU) skerp teen die korrupte politici in Afrika en “marionette van Frankryk” uitgevaar.
Emansipasie van vroue
Sankara was die eerste Afrikaleier wat hom vir die volledige empansipasie van vroue beywer het. “Die revolusie en die bevryding van vroue loop hand aan hand,” het hy in Oktober 1983 gesê. “As ons van die emansipasie van vroue praat, doen ons dit nie uit barmhartigheid of 'n opwelling van deernis nie. Dit is 'n voorwaarde vir die sukses van ons revolusie. Vroue dra die ander helfte van die hemele .”
Hy het vroulike genitale verminking, gedwonge huwelike en poligamie summier verbied. Hy het vroue in senior posisies aangestel en deur die weermag laat rekruteer – teen dieselfde salarisse as mans. Hy het vroue aangemoedig om te werk en verklaar dat alle vroue op Vrouedag tuis moes bly en dat hul mans en seuns op dié dag al die huiswerk en inkopies moet doen.
Sankara was 'n man van aksie. Hy het grond van grondbaronne afgevat en aan kleinboere gegee, maar ook met die opleiding van landbou-adviseurs en die bou van damme en besproeiingstelsels gehelp en die graan- en katoenproduksie het in die eerste drie jaar van sy presidensie met 75% gestyg.
'n Groot deel van die sukses hiervan was dat hy die magte van tradisionele leiers en hoofmanne erg ingekort het. Hy het ook meer as 10 miljoen bome laat aanplant om verwoestyning te stuit.
Onderwys en opleiding was vir hom 'n prioriteit. Hy het dadelik 'n landwye geletterdheidsveldtog geloods en skoolbywoning verpligtend gemaak. In net vier jaar het die geletterdheidsyfer van 15 na meer as 70% opgeskuif. Hy het klinieke reggeruk en binne 'n week of twee 2,5 miljoen kinders teen breinvliesontsteking, geelkoors en masels laat inent.
Vegter teen korrupsieHy was die grootste vegter teen korrupsie wat Afrika nog gesien het. Ons het self 'n sitting van een van sy “Revolusionêre Volkstribunale” in 'n stadion bygewoon waar staatsamptenare weens korrupsie aangekla is. Die saak wat ons bygewoon het, was teen 'n amptenaar wat glo $10 gesteel het.Dit was meer daarop gemik om amptenare in die verleentheid te stel en voorbeelde van te maak as swaar te straf, en van die amptenare se straf was om 'n tyd lank sonder vergoeding te werk. (Nie heeltemal 'n slegte idee nie, is dit?)Sankara het 'n obsessie met 'n gesonde lewe gehad en het skole en staatsdepartemente aangemoedig om elke oggend liggaamsoefeninge te doen – ons het self ervaar hoe honderde amptenare vroegoggend voor 'n staatsgebou, almal in hul Faso Dan Fani-tunieke, op en af spring. Hy het self gereeld saam met studente en sportspanne sokker gespeel.As dit effe bisar klink, moet 'n mens onthou Burkina Faso was in die 1980’s 'n sukkelende, hopeloos onder-ontwikkelde, onstabiele en ondemokratiese land met swak infrastruktuur en burgerlike administrasie.
Soos Sankara se vriend, die destydse Ghanese president Jerry Rawlings, by geleentheid opgemerk het: “Thomas is 'n baie, baie ongeduldige man. Maar as jy na die toestand van sy land kyk, dan moet jy vra of dit nie is wat nodig is nie.” (Ons groep het Rawlings 'n paar dae na die ontmoeting met Sankara in Accra besoek.)
Sankara het inderdaad wondere verrig en sy visie, energie, positiewe aksie en nederige persoonlike lewe het van hom 'n ikoon oral in Afrika gemaak. Die EFF verwys gereeld na hulself as 'n “Sankaristiese” party en het 'n tyd gelede selfs oorweeg om nuwe lede 'n “Sankara-eed” van diens en eerlikheid te laat neem. Black First Land First, 'n militante partytjie wat die Guptas se skoothondjies was, gee ook hoog op oor hoe “Sankaristies” hulle is.
Maar dié soort Sankara-aanhangers sien eintlik net sy rooi beret en aanvalle op die gewese kolonialiste raak, nie sy asketiese lewe van diens, sy kruisvaart teen korrupsie, sy veldtog vir geslagsgelykheid, beter onderwys en beter gesondheidsorg nie.
Sankara se lesse
Hy is vir hulle 'n T-hemp, soos Ché Guevara of Iron Maiden. Julius Malema, Floyd Shivambu en Dali Mpofu is rykgatte wat daarvan hou om hul welvaart ten toon te stel en is waarskynlik boonop korrup.
Sankara se ondergang hou ook vir diesulkes lesse in.
Die elite in Burkina Faso en ander met gevestigde belange het teen hom begin konkel. Studente en werkers het begin mor oor die gebrek aan persoonlike vryheid.
Toe onderwysers op groot skaal begin staak, is hulle almal afgedank en deur onervarenes en studente vervang. Die Revolusionêre Verdedigingskomitees in die dorpe en stede het al meer diktatoriaal en gewelddadig begin word.
Op 15 Oktober 1987, ses weke nadat ons hom ontmoet het, het Sankara in sy Peugeot 205 voor sy ampswoning stilgehou. Geklee in 'n wit T-hemp en rooi sweetpakbroek (hy was op pad om sokker te gaan speel) het hy in die vertrek ingestap waar 'n kabinetsvergadering geskeduleer was.
Soos 'n hond doodgeskiet
Hy het net begin praat toe outomatiese geweervuur buite die huis knetter. Sankara het sy kabinet aangesê om te bly sit – “Hulle wil my hê, nie vir julle nie,” het hy gesê en met sy hande bokant sy kop na die stoep uitgestap. Sy lyfwag se lyk het voor hom gelê.
Thomas Sankara is net daar, 'n paar treë vanwaar ons vir hom gesing het, soos 'n hond doodgeskiet. Dieselfde aand het sy adjunk, Blaise Compoaré, wat ons saam met Sankara ontmoet het, sy plek ingeneem.
Compoaré was in beheer van die soldate wat hulle president doodgeskiet het. Hy het “sterf weens natuurlike oorsake” op Sankara se doodsertifikaat laat inskryf. Sankara se lyk is opgekap en in 'n naamlose graf êrens begrawe. Hy het eers jare later 'n behoorlike graf gekry.
Compoaré se bewind het net ses jaar lank geduur. Na 'n gewelddadige opstand het hy in 2014 na Cote d’Ivoire gevlug en daar is 'n internasionale lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik weens die moord op Sankara.
Ek vermoed Thomas Sankara sou dalk vandag 'n paar harde woorde vir die EFF-leierskap gehad het.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.