Op die slagveld van die onderhoudshof

VERRINNEWEER

Op die slagveld van die onderhoudshof

Die stelsel waarvolgens onderhoud geëis kan word, is geneig om vroue te straf en word deur wanbetalers gemanipuleer, maar dit is die kinders wat die ergste daaronder ly, skryf VIRGINIA KEPPLER.


CANDICE (nie haar regte naam nie) skop haar skoene uit en gaan sit kruisbene op haar bank. Sy steek 'n sigaret aan. Sy is 46 en woon in die ooste van Pretoria. 'n Professionele vrou.
Sy begin huiwerig praat. “ 'n Ma wil net die beste vir haar kind hê,” probeer sy verduidelik. Dan raak haar woorde op.
Miskien begin Candice se verhaal by haar troudag, dalk by die kind wat hulle gehad het. Of by die liefde wat oor die jare verskroei is deur die vuur van haar man se woorde. Dalk in haar besluit, eindelik, om hom te los. 
En toe die oorlog om hul kind, wat hul slagveld geword het.
Vroegoggend in die onderhoudshof
Dit is net ná agtuur die oggend en die gang op die eerste vloer van die Pretoriase landdroshof is stampvol. Daar is nie genoeg sitplek vir al die eisers en verweerders, die geskeides, die alleenouers, die familielede nie. Dit is hier waar die Pretoriase onderhoudshof is.
In die samedromming word staanplek strategies gekies. Die stryd wat iewers tussen ma’s en pa’s begin het, word hier uitbaklei.
Mans daag op met prokureurs wat trollies vol lêers sleep en vernaam lyk. Sommige word vergesel deur vroue met wie hulle waarskynlik onlangs 'n verhouding begin het. Ander is gehawend, asof hulle op 'n parkbankie geslaap het en nie 'n sent besit nie.
Dan is daar die vroue, baie van hulle gewapen met 'n pakkie papiere en kwitansies in 'n deurskynende plastiekomslag, wat kom vra vir geld vir hul kinders. Papgeld, noem hulle dit, al eet jy nie pap nie. Min kan 'n prokureur bekostig.
Hier en daar is 'n kind wat aan 'n ma se bene vashou of vorentoe gestoot word vir die pa om te sien. 'n Verwese tiener.
“Teen die tyd dat mense by die onderhoudshof kom, het die verhouding [tussen die ouers] reeds lankal verbrokkel,” verduidelik Craig Baillie, 'n prokureur wat in gesinsake spesialiseer. “Jy het ernstige konflik. As hulle met mekaar gepraat het, sou hulle sake opgelos het voordat hulle nodig gehad het om hof toe te kom.”
Dis 'n spel van intimidasie, sê Felicity Guest, 'n aktivis wat die Facebook-groep Child Maintenance Difficulties in South Africa begin het. Ná net vier jaar het die groep meer as 52,000 lede.
Volgens Guest is daar dikwels 'n agtergrond van gesinsgeweld, en van pyn. “Die eiser is reeds deur die wanbetaler mishandel. Dan kom hulle by die onderhoudshof omdat die pa nie uit eie wil die kind wil onderhou nie.
“Die eiser is reeds verneder en het waarskynlik nie geld nie omdat sy al maande vir onderhoud wag. Een kyk van die man kan genoeg wees om haar te intimideer.”
Beheer en mag
Candice se gewese man was die een wat altyd daarop aangedring het dat hul kind die beste moes kry. Net 'n privaat skool sou doen.
Toe hul huwelik in duie stort, het sy geld opgedroog. Candice kon nie die skool betaal nie. “My kind het maande lank sonder 'n skool gesit en amper die pad byster geraak,” vertel Candice.
Die man het wel opgedok vir die spogskool waarin die kinders uit sy nuwe huwelik is.
“Dit het nooit gegaan oor die feit dat hy nie sy kind kan onderhou nie, maar oor beheer en mag,” sê sy.
Candice het aansoek gedoen om 'n onderhoudsbevel teen haar gewese man sodat sy die skoolgeld kon betaal. Die eerste keer dat sy in is hof toe, in Pretoria se middestad, het hy nie opgedaag nie. Hy het die kennisgewing geïgnoreer dat hy daar moes wees.
Toe word hy gedagvaar om te verskyn.
Candice is 'n tweede keer en 'n derde keer in hof toe. Nie een keer het hy opgedaag nie. Die balju kon hom glo nie opspoor nie, al het Candice al sy besonderhede aan die onderhoudbeampte gegee. Haar gewese man is nooit gearresteer vir minagting van die hof nie, sê sy.
“Ek het genoeg gehad van die vernedering en senuwees. Elke keer het ek daar gesit en bewe en vrees en ek kon dit nie meer uithou nie.”
Candice kon nie meer haar kind beheer nie en het dié in die pa se sorg gesit.
Uit die blou het Candice se gewese man háár egter gedagvaar – vir onderhoud van een sent. Dit moes hom geld gekos het om die dagvaarding te laat beteken. Hy moes ook geweet het die hof sou dit uitgooi.
Dit was uit pure moedswilligheid, sê sy.
100,000 sake per jaar
Wanneer die klerk soggens met die hoflêers aangestap kom, druk almal om in Hof F te kom. Dan is almal skielik stil. Die klerk lees die name uit van die sake wat die dag gaan voorkom.
Soms word tot 100 sake per dag hier hanteer: Vir die meeste onderhoudshowe is die gemiddelde 30 sake elke dag. Dit is 'n fraksie van die bykans 100,000 onderhoudsake wat landwyd elke jaar deur die departement van justisie ontvang word, maar steeds 'n magdom sake vir een kantoor.
Die onderhoudshowe is hopeloos oorlaai, erken Steve Mahlangu, nasionale woordvoerder van die Departement van Justisie. Hy wys daarop dat 65% van die land se kinders in enkelouer-huishoudings grootword – en dus moontlik in 'n onderhoudsgeding betrokke kan wees.
“Ons is deurentyd besig om die vakante poste vir onderhoud- en ondersoekbeamptes te vul,” verduidelik hy.
Volgens Peet du Plessis, 'n prokureur wat in onderhoudsake spesialiseer, is daar net drie onderhoudbeamptes in die Pretoriase hof, en hulle kan eenvoudig nie die werklading hanteer nie.
Mahlangu kon nie besonderhede gee van hoeveel vakante poste daar landwyd is nie, en daar is nie 'n nasionale databasis daarvoor nie.
Prokureurs en eisers bevestig egter daar is oral probleme: In Randburg is daar byvoorbeeld net twee onderhoudbeamptes (daar was drie, maar een is oorlede en die pos is nie gevul nie); in die gesinshof in Kaapstad is daar net een (daar was ook twee, maar ʼn pos het vakant gebly nadat die beampte geskuif is). In Bellville is daar twee onderhoudbeamptes, en in Atlantis, Humansdorp, Athlone en Pinetown is daar een onderhoudbeampte in elke hof.
Hy sien sy kind nooit nie
Thembi staan in 'n hoek van die gang in die Pretoriase landdroshof. Sy probeer oogkontak vermy met die pa van haar sesjarige dogter. Hy sien sy kind nooit nie, sê sy sag.
“Hy betaal die afgelope vier jaar R700 onderhoud elke maand en weier om dit te verhoog. Ek betaal R600 skoolgeld.
“En dan het hy die vermetelheid gehad om vir die hof te sê hy het vir hom 'n huis gekoop wat hy met sy nuwe meisie gaan deel en daarom het hy nie geld vir meer onderhoud nie.”
Thembi het aansoek gedoen dat die onderhoud verhoog word en is hier om die skikkingsooreenkoms te wysig. Haar aansoek is reeds twee keer vir verdere ondersoek uitgestel.
Sy raak stil toe die man nader stap. Sy voetstappe, in “skerp” skoene, klik die gang af.
Hy het haar gevra of hulle inligting oor hul uitgawes kan uitruil, vertel sy later. “Toe ek hom maande gelede gevra het vir die inligting en of hy dit by my kan aflewer, het hy my gesê hy het nie petrolgeld nie. Ek kon dit nie by hom gaan haal nie, want ek woon ver en ek het nie 'n voertuig nie."
Vernederende openbaarmaking
Wanneer die prokureurs, die geskeides en alleenouers – en soms kinders – in die onderhoudbeampte se kantoor verdwyn, word elke gebreekte stukkie van die verhouding oor en op 'n lessenaar (gewoonlik bruin en van hout) uitgestort. Onder buisligte word dit bestaar en bestudeer. Nie ryk of arm kan hierdie vernederende openbaarmaking van die intieme vryspring nie.
Bankstate, kwitansies en salarisstrokies word bespreek. Hoeveel kos Sussie se swemlesse? Hoe lank hou 'n sakkie meel vir vier mense? Waarom is deodorant so duur?
Hier word skikkingsooreenkomste uitgehamer en gewysig. Die onderhoudbeampte moet op die slagveld bemiddel. Dit verg onder meer ervaring, geduld, empatie – en 'n baie sterk ruggraat.
Baillie sê die onderhoudbeamptes probeer hul bes, maar is dikwels nie opgelei nie en het nie genoeg hulpbronne nie.
As die strydende partye nie kan ooreenkom nie, word die saak na die hof verwys waar dit deur 'n landdros aangehoor word.
Dit is ook hier by die onderhoudbeampte waar 'n eiser die eerste keer om 'n onderhoudsbevel aansoek doen. Die eisers is in die meeste gevalle vroue, hoofsaaklik omdat hulle die primêre versorgers is, omdat vroue meestal steeds minder geld as mans verdien en omdat baie van hulle tuis gebly het om die kinders groot te maak. Hulle moet aan 'n lang lys vereistes voldoen. Dit sluit in die inhandiging van 'n bewys van inkomste en uitgawes asook die adres van die verweerder.
Die stelsel plaas 'n onregverdige las op die applikant, meen Guest. “Van die oomblik dat 'n mens om onderhoud aansoek doen , rus die verantwoordelikheid op die eiser om seker te maak die kennisgewing word op die verweerder beteken.”
Die probleem is dat baie alleenma’s reeds nie geld het nie. Nie net is regsverteenwoordiging dikwels hopeloos buite bereik nie, maar baie geld is ook nodig vir vervoergeld hof toe, gewaarmerkte afskrifte en internettoegang om navorsing oor hul regte te doen.
Dikwels daag die verweerder (gewoonlik die pa) eenvoudig nie op nie.
Mahlangu beklemtoon dat 'n lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik word indien 'n verweerder sonder enige reëlings vooraf versuim om vir 'n verskyning op te daag. Dit beteken egter nie dat hy of sy gearresteer en in die tronk gegooi gaan word nie.
“Om 'n ouer toe te sluit is die laaste uitweg. Daar moet in belang van die kind opgetree word,” verduidelik Mahlangu. “Dit help nie 'n ouer sit in die tronk nie, want dan kan hulle glad nie onderhoud betaal nie.”
Maar Guest sê die howe is nie konsekwent met arrestasies nie. Maande kan verbygaan voordat 'n lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik word.
Die groot probleem is om die onderhoudsbevel af te dwing. Daar is volgens Guest in die praktyk selde strafregtelike gevolge vir 'n versuim om onderhoud te betaal, tensy 'n egskeidingsbevel in die hoë hof toegestaan is.
Indien 'n verweerder nie 'n onderhoudbevel nakom nie, verduidelik Mahlangu, mag die hof beslag lê op hul roerende eiendom en dit verkoop om op te maak vir die kind se onderhoudgeld. Die hof mag ook 'n bevel aan 'n ouer se werkgewer uitreik om geld regstreeks van ʼn salaris te verhaal.
Baillie sê egter die baljukantore is oorlaai en is daar te min hande om beslaglegging behoorlik te doen.
“Die gebrek aan mannekrag en ervaring – ook aan kennis van die wet – in die baljukantore beteken weer dat die proses maande kan vat. Indien 'n eiser nie 'n prokureur kan bekostig wat die balju help nie, kan dit eenvoudig net nie gebeur nie.”
Guest verduidelik dat dit drie tot vier maande vat om 'n loonbeslagleggingsbevel teen 'n verweerder se salaris te kry. “Dan is dit boonop die werkgewer se verantwoordelikheid om dit uit te voer.”
Intussen hoop die eiser se skuld by die dag op.
Bedrieglike egskeiding
Guest het saam met haar man en hul vyf kinders in 'n spogbuurt gewoon. Sy het uitgevind dat hy op bedrieglike wyse van haar geskei het toe sy 'n egskeidingsbevel kry – wat beweer het hulle het geen kinders nie. Guest en haar man was 21 jaar lank getroud.
Een van hul kinders is gestrem en het spesiale sorg nodig.
Nadat sy die bedrieglike egskeiding tersyde laat stel en wettig van hom geskei het, het hy haar gestraf, sê sy, deur onderhoud te weerhou. Sy kat-en-muisspeletjie hou al agt jaar aan: Die volgende hofverskyning is in Junie. “Ek het daai hofbanke al warm gesit.”
Guest het self die hofbevel gaan op haar gewese man beteken. Sy sê baie lede van die Facebook-ondersteuningsgroep is al gedreig wanneer hulle sulke dagvaardings probeer beteken het. “Ons moet nou die rol van die Departement van Justisie oorneem. Jy moet onthou hierdie is mense wat nie geld het nie; wat nie 'n ander keuse het nie.”
Stelsel word gemanipuleer
Die onderhoudstelsel in Suid-Afrika is “siek” en 'n “groot straf” vir vroue, meen Du Plessis.
Die wanbetalers manipuleer eenvoudig die stelsel en weerhou geld om die ander party by te kom. “Hulle kom daar aan met hul duur prokureurs en elke keer word die saak uitgestel vir die een of ander uitstaande dokument. Intussen raak die eiser se geld op.”
Mahlangu verwys na wysigings wat die departement verlede jaar in werking gestel het. Só is 'n spertyd van 90 dae ingestel om onderhoudsake af te handel. Dít, sê Mahlangu, het 'n groot verskil gemaak. “In die finansiële jaar 2018-’19 is altesame 98,793 onderhoudsake landwyd ontvang. Van dié sake is 59,665 afgehandel.”
Die meeste daarvan, net minder as 50,000 sake, is binne 90 dae voltooi. Boonop is dit nou onder makliker om 'n tussentydse bevel te kry.
Dié wysigings is te min en te laat, meen Baillie. Hy verwys na die saak Bannatyne versus Bannatyne wat reeds in 2002 voor die Konstitusionele Hof gedien het. Regter Yvonne Mokgoro het toe bevind: “Die onderhoudshowe en -reëls is belangrike meganismes om aan kinderregte uitvoering te gee. As daar nie toegesien word dat die onderhoudstelsel doeltreffend werk nie, beteken dit dat kinders nie behoorlik beskerm word nie.”
Baillie verduidelik daar was 'n “klomp getuienis” oor die tekortkominge van die onderhoudstelsel in die Bannatyne-saak wat wys dat die verweerder inligting tot sy of haar voordeel kan manipuleer.
“Ongelukkig het niks sedertdien verander nie. Die hele onderhoudstelsel moet vernuwe word,” meen Baillie.
Volgens Guest is daar is 'n gebrek aan politieke wilskrag om te verseker dat onderhoud betaal word. Sedert die wysigings in Januarie 2018 in werking getree het, sê Guest, is nog nie 'n enkele persoon op die swartlys geplaas vir versuim om onderhoud te betaal nie.
“Die klem moet wees om mense te dwíng om te betaal. Dit is die kind se belange wat beskerm moet word."

Adri Kotzé het tot die artikel bygedra.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.