Rabada: Op koers om die geskiedenisboeke te herskryf

KRIEKET

Rabada: Op koers om die geskiedenisboeke te herskryf

Suid-Afrika het in Kagiso Rabada 'n krieketspeler wie se briljantheid in dieselfde asem as legendes soos 'n Tiger Woods in gholf of 'n Lionel Messi en Cristiano Ronaldo in sokker genoem sal kan word, meen DEON GOUWS.


'n PAAR maande gelede tik ek my dogtertjie ligweg op die vingers omdat sy reeds meer as genoeg televisie gekyk het vir een dag. Haar reaksie was voorspelbaar vir 'n 11-jarige: “Maar Pappa, dis so onregverdig!”
Ek dog toe maar ek gebruik die oomblik as 'n opvoedkundige geleentheid. “Besef jy dat ons nie eens televisie gehad het in Suid-Afrika toe ek so oud soos jy was nie?” Ja-nee, ek self was min of meer dieselfde ouderdom as wat my kind nou is toe Heinrich Marnitz en Dorianne Berry se vriendelike glimlagte uiteindelik in 1976 die kleurvolle toetsprogram op ons skerms vervang het.
“Maar Pappa, hoekom het julle dan nie net na julle gunstelingprogramme op die iPad gekyk nie?” kom haar teenvraag vinnig – 'n kombinasie van berekende logika, kinderlike onskuld en moderne bevoorregtheid. Nodeloos om te sê dat dit toe uitloop op heel 'n ander gesprek oor die geskiedenis van rekenaartegnologie eerder as beeldradio-uitsendings (soos wat ons die “kassie” destyds genoem het …)
Nog iets wat ek as jongeling natuurlik nooit regtig beleef het nie, was blootstelling aan internasionale sport in al sy glorie: Suid-Afrika se isolasiejare het meer as twee dekades geduur, van rondom 1970 tot die vroeë 1990’s (afhangende van die spesifieke sportsoort waarop jy wil fokus; ná die Basil D’Oliveira-skandaal het die krieketgemeenskap ons byvoorbeeld heelwat vroeër uit hul geledere geskop as wat die rugbybase het).
Ja, ons het wel rebelletoere gehad, maar dit was uiteraard nie dieselfde nie. Dit het veral seergemaak toe krieket en rugby hul eerste wêreldbekertoernooie begin reël het in onderskeidelik 1975 en 1987, en Suid-Afrika se eie Graeme Pollock en Clive Rice en Naas Botha en Danie Gerber nie daar was om hul onteenseglike talent ten toon te stel nie.
Ek was reeds 'n werkende man toe Nelson Mandela in 1990 uit die Victor Verster-gevangenis gestap het om 'n nuwe era in ons land se politieke geskiedenis in te lui. Madiba se vrylating beteken natuurlik verskillende dinge vir verskillende mense; vir my was dit veral 'n groot oomblik omdat dit skielik beteken het dat ons land ingesluit is op die lys van deelnemers aan krieket se wêreldbekertoernooi in Australië skaars twee jaar later.
Nét hy het dit nie gehoor nie
Sal ek ooit vergeet hoe ons rondom middernag op 'n Woensdagaand in Februarie 1992 voor 'n flikkerende televisiestel plaasgeneem het om te kyk hoe Allan Donald met Suid-Afrika se eerste bal van die toernooi vir Geoff Marsh uitknikker by wyse van 'n vangskoot agter die paaltjies ... net vir die skeidsregter om sy kop te skud: Hy was klaarblyklik die enigste persoon in die Suidelike Halfrond wat nie die dik buiterand van kolf teen bal kon sien of hoor nie.
Ek was nie alleen in my opgewondenheid oor Suid-Afrika se deelname nie: Almal in my destydse verwysingsraamwerk was net soveel in hul noppies daarmee dat sportisolasie behoorlik iets van die verlede was nog voordat die eerste demokratiese verkiesing in 1994 kon plaasvind.
Ek onthou nog goed die ironie opgesluit in gesprekke met sekere vriende en kennisse wat destyds nog 'n stewige klap van regs weggehad het; aan die een kant was daar diegene wat desperaat probeer het om vas te klou aan die ou Suid-Afrika; aan die ander kant het hierdie selfde mense dit tog te veel geniet om skielik op 'n Saterdagmiddag met 'n sakkie nartjies onder die arm te kon optrek Nuweland toe vir 'n toets teen Nieu-Seeland.
Praat van botter aan albei kante van 'n mens se brood … Hoe verklaar jy immers dat enigiemand kan hunker na die dae van Hendrik Verwoerd en B.J. Vorster, maar terselfdertyd jubel wanneer Kagiso Rabada vir David Warner opkeil op die krieketveld? Waar sou iemand soos Rabada vandag gewees het as apartheid nie lankal iets van die verlede was nie?
Gelukkig het Steve Hofmeyr en sy volgelinge hierdie probleem intussen vir hulself opgelos deur onlangs hul DStv-dekodeerders op die braaivleisvuur te werp. Hierdie mense hoef hulle derhalwe nie verder te bekommer oor die onversoenbaarheid van hul uiteenlopende standpunte en voorkeure nie, want hulle sal in elk geval nie meer kan saamkyk wanneer Suid-Afrika binnekort vir Engeland pak in die openingswedstryd van hierdie jaar se krieket-wêreldbekertoernooi nie.
Ek sien met groot afwagting uit na hierdie toernooi wat einde Mei in Londen afskop. Die meeste kommentators skryf die Proteas af, maar ek dink hulle het tog 'n kans om 'n verrassing of twee te veroorsaak, op voorwaarde dat 'n warrelwind-kolwer soos Quinton de Kock net een of twee groot beurte kan speel wanneer dit die meeste saak maak.
Besef ons hoe goed hy regtig is?
Die speler wat my meer opgewonde laat voel as enigiemand anders, is die einste Kagiso Rabada. Ek wonder of die meeste Suid-Afrikaanse krieketondersteuners besef hoe goed hierdie speler regtig is.
Dit mag dalk oordrewe klink (en dit gaan uiteraard nog 'n hele paar jaar wees voordat ek op die ou einde dalk reg bewys kan word), maar ek meen ons het in Rabada iemand wat vergelyk kan word met 'n Tiger Woods in gholf, of 'n kombinasie van Lionel Messi en Cristiano Ronaldo in sokker. Hy is myns insiens 'n speler sonder gelyke, die heel beste in 'n generasie of twee, en een wat die rekordboeke kan herskryf.
Daar is 'n horde statistieke wat ek kan aanhaal ter stawing: Rabada is byvoorbeeld vandag die enigste bouler in die wêreld se topvyf in die eendag- sowel as vyfdagformate van die spel (hy was inderdaad ook tot onlangs toe nog die nommereen-toetsbouler op die planeet, en ek wil my verstout om te sê dat dit nie lank gaan wees voordat hy weer hierdie posisie inneem nie).
Dis wanneer mens die statistieke van Rabada se hele toetsloopbaan onder die vergrootglas plaas, dat jy besef sy presiese posisie in vandag se wêreldrangorde is minder belangrik as sy algehele kwaliteit. 'n Voorbeeld: Hy het tot dusver 'n totaal van 176 paaltjies geneem in 37 toetse teen 'n treftempo van een slagoffer elke 38,8 balle.
Vir die oningeligte leser sal dié syfer dalk nie baie beteken nie; derhalwe verskaf ek 'n bietjie verdere perspektief: Onder topboulers in die geskiedenis van die spel (vir doeleindes van hierdie artikel gedefinieer as diegene wat meer as 150 paaltjies geneem het op die hoogste vlak van die sport se vyfdagformaat) is daar net een speler wat naby kom aan Rabada se gemiddelde, en dit is toevallig nog 'n Suid-Afrikaner wat eersdaags in die wêreldbekertoernooi gaan uitstap, naamlik Dale Steyn, wat 'n loopbaan-treftempo in toetse het van een paaltjie elke 42,3 balle (hoe laer die syfer, hoe beter, ingeval jy gewonder het).
Slegs 'n handvol spelers in die geskiedenis kan spog met 'n syfer kleiner as 50.
’n Lang loopbaan lê voor
Gegewe hoe jonk Rabada was toe hy sy toetrede tot die internasionale arena gemaak het, in kombinasie met 'n treftempo sonder gelyke, beteken dit derhalwe dat hy stewig op koers is om meer toetspaaltjies te neem in sy loopbaan as enige ander snelbouler in die geskiedenis van die sport.
Dis nie toevallig nie dat ek hier spesifiek fokus op die kategorie vir snelboulers. Die rede is eenvoudig dat draaiboulers oor die algemeen heelwat langer loopbane het as hul blitskollegas, gegewe die verskil in aksie en gevolglike impak op 'n speler se lyf. Hou in gedagte dat 'n snelbouler min of meer top-hardloopspoed bereik tydens die laaste klompie treë van sy aanloop, en dat hy dan skielik al sy gewig verplaas na die voorste been die oomblik net voordat die bal sy hand verlaat.
Diegene wat 'n jaar of twee se fisika op hoër skool agter die blad het, sal derhalwe verstaan: Die effek van momentum (naamlik snelheid vermenigvuldig met massa), beteken dat die effektiewe lading wat die voorste knie tydens 'n snelbouler se aksie moet dra 'n veelvoud is van die speler se eie gewig – sommige ontleders beweer dat die syfer soveel soos 12 tot 15 keer kan wees.
In Rabada se geval beteken dit met ander woorde dat sy linkerbeen 'n ton of meer se weerstand moet kan bied elke keer wat hy vastrap om 'n bal te boul – vergelykbaar met die impak van 'n ligte motorongeluk. Dit verklaar dan ook waarom snelboulers oor die algemeen meer beserings kry as die stadiger draaibalboulers.
Teen hierdie agtergrond is dit dus nie 'n verrassing nie dat die drie boulers wat die heel meeste paaltjies in die geskiedenis van toetskrieket geneem het, al drie draaiers was. Hierdie driemanskap (Muttiah Muralitharan van Sri Lanka, Shane Warne van Australië en Anil Kumble van Indië) was dan ook geseën met lang loopbane: Elkeen van hulle het meer as 40,000 toetsaflewerings afgestuur.
Kontrasteer dit met die mees suksesvolle snelbouler tot op hede, te wete Jimmy Anderson, wat nog “net” 'n titseltjie meer as 32,000 balle in toetse geboul het. Anderson se loopbaan is natuurlik nog nie verby nie, maar op ouderdom 37 wonder'n mens hoe lank hy nog op die hoogste vlak sal kan speel.
'n Kortkop agter Anderson op die lys van meeste paaltjies vind jy die name van twee ander snelbouers: Glenn MacGrath en Courtney Walsh. Dié twee se loopbane het albei tot 'n einde gekom nadat hulle ongeveer 30,000 balle in toetse afgestuur het.
Laat my dus toe om op 'n verbeeldingsvlug te gaan. Kom ons aanvaar dat Rabada ook rondom 30,000 balle in sy toetsloopbaan gaan boul. Op die aanname dat hy sy huidige treftempo gaan handhaaf, beteken dit dat hy moontlik eendag soveel soos 773 toetspaaltjies sal kan inpalm – 'n syfer wat hom nie net binne trefafstand van Muralitharan se algehele wêreldrekord van 800 sal bring nie, maar ook loshande beter sal wees as Shane Warne se totaal van 708!
'n Mens kan die somme ook anders doen: Rabada het drie en 'n half jaar gelede toetskrieket begin speel en hy vier eersdaags sy 24ste verjaardag.
As 'n mens aanvaar dat hy nog 12 jaar op die hoogste vlak kan speel ('n ietwat korter loopbaan as enige van die voorste snelboulers in die geskiedenis waarna hierbo verwys is), en dat hy ewe gereeld gaan speel tot en met sy 36ste verjaardag, lei 'n eenvoudige ekstrapolering gegrond op sy treftempo in hierdie geval tot die gevolgtrekking dat hy 779 toetspaaltjies in sy loopbaan kan neem.
Quod erat demonstrandum, soos my Latyn-onderwyseres altyd gesê het (of was dit my wiskunde-onderwyser?).
Sal Rabada so 'n lang loopbaan hê? Die tyd sal leer. Die sleutelvraag is eenvoudig of sy lyf gaan hou, en in hierdie verband help dit dat hy so 'n vloeiende aksie het.
Nog 'n positiewe faktor is dat hy 'n kompakter bou het as die meeste van die ander topsnelboulers in die geskiedenis. Hy is byvoorbeeld 5 cm korter as Glenn McGrath en 8 cm korter as Courtney Walsh (hoe langer die bouler, hoe meer druk op die ledemate wanneer hy die bal aflewer, alles te danke aan die wondere van hefboomwerking – nog 'n les uit jou fisikahandboek).
As hy kan én as hy wil
Die ander vraag is of Rabada bereid gaan wees om so lank aan te hou om toetskrieket vir Suid-Afrika te speel. Met al die geld wat daar deesdae in die T20-formaat te make is, het individue soos Chris Gayle en AB de Villiers reeds vir ons gewys dat prioriteite aanskuif soos wat spelers ouer word, en toetsloopbane verkort as gevolg daarvan. Ons almal kan maar net ons duime styf vashou.
Hoe dit ook al sy, dit spreek vanself dat die sukses van 'n speler soos Rabada 'n wesenlike invloed gehad het op die gewildheid van krieket, veral onder swart Suid-Afrikaners. Volgens syfers van die internasionale inligting- en metingsmaatskappy Nielsen was daar byvoorbeeld meer as 11 miljoen kykers wat die mees onlangse reeks tussen die Proteas en Sri Lanka (ten minste gedeeltelik) op Suid-Afrikaanse televisie dopgehou het – soveel as 60% van hierdie gehoor het hul eerste taal aangegee as een van isiZulu, isiXhosa, Tswana, Noord-Sotho of Suid-Sotho.
Nog 'n interessante syfer: Gemeet aan moedertaal was daar ongeveer dubbel soveel mense wat Zoeloe praat as Engelssprekendes wat die TV-dekking van hierdie reeks gevolg het.
Rabada is nie net 'n rekordbreker nie, maar ook 'n rolmodel – ons moet elke dag ons seëninge tel dat hy vir die Proteas speel. Dis hoekom ek nie kan wag om te sien hoe hy indraf om Engeland se topkolwers te teister met sy kartetse in die eerste wedstryd van die Wêreldbekertoernooi oor 'n week of wat nie. Ek hoop maar net die skeidsregter dra hierdie keer 'n dik genoeg bril ...
My tuisgemaakte biltong is reeds besig om uit te droog; my rusbank staan reg: Ek en my dogtertjie is gereed om ons plek voor die TV in te neem. Of dalk kyk ons sommer op die iPad.
Net jammer dat Steve Hofmeyr en sy trawante nie in staat sal wees om saam met die res van ons die drama dop te hou nie.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.