BROLLOKS & BITTERGAL | Kolossale ego’s, die dapper...

BITTERBEKKE

BROLLOKS & BITTERGAL | Kolossale ego’s, die dapper Panyaza en wat is in ’n f*kken naam?

Daar's baie om hierdie week oor gal af te gaan.


Vrye F*kken Weekblad
By die uitstalling van topverkopers deur Exclusive Books op die Kaapstadse lughawe is daar drie verskillende boeke met “f*ck” in die titel: Manage your money like a f*cking grownup, The subtle art of not giving a f*ck en Every thing is f*cked – a book about hope. Dis nou blykbaar hoe jy seker maak jou boek verkoop goed.
Ons dink nou daaraan om ons naam na VryeFokkenWeekblad.kom te verander.
Twee kamerade met grootheidswaan
Hoender of eier? Het Jacob Zuma Hlaudi-neigings of het Hlaudi Motsoeneng Zuma-neigings?
Dit is 'n feit soos 'n koei dat Zuma die ANC onberekenbare skade aangerig het; dat kiesers die party in die plaaslike verkiesing van 2016 in hordes verlaat het omdat hulle die man nie kon uitstaan nie. Cosatu, die SA Kommunisteparty en die ANC-veterane het hom soos die pes gehaat.
Maar dié week verklaar hy met groot omhaal dat die ANC hom te laat in die jongste verkiesingsveldtog betrek het. As hy vroeër begin stemme werf het, sou die ANC beter gevaar het, het hy buite die hof gesê na nóg 'n verskyning oor sy korrupsie-aanklagte.
En Hlaudi hou vol die paar honderd stemme wat sy African Content Movement in die verkiesing getrek het, beteken hy gaan eendag nog die president van Suid-Afrika word.
O, my ego, roep die polisie!
Ons het laas week oor die woeste binnegevegte in die ANC-leierskap in die Wes-Kaap geskryf en vertel van die Twitter-rekening @NotHelenZille wat allerlei bewerings maak. Niemand weet wie daaragter sit nie, hoewel ons laas week gesê het die skinderstorie is dat dit Ebrahim Rasool is.
Nou het die provinsiale raadslid Cameron Dugmore 'n strafregtelike klag teen dié ongeïdentifiseerde tweeter by die polisie aanhangig gemaak.
“Among the many malicious and unfounded allegations made by this faceless account, which I had elected to ignore until now, is the highly divisive claim that I was party to a plot to undermine the leadership of President Ramaphosa during the Provincial and National Government Elections campaign,” verklaar Dugmore.
“Through these allegations, the holder/s of this account have unlawfully, intentionally and seriously impaired my dignity in the public domain, hence my decision to formally lay charges and allow the law to take its rightly course.”
'n Mens se waardigheid moet maar erg fragiel wees as 'n tweet onder 'n skuilnaam oor jou politieke aktiwiteite jou tot die reg laat wend.
Die onverskrokke kryger Panyaza
Daar is genoeg getuienis om dit as 'n feit te stel dat die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, nie van Afrikaanssprekendes hou nie en dink die Afrikaanse taal behoort uitgeroei te word.
Elkeen van ons het seker maar persoonlike vooroordele, maar as so iemand politieke mag het en dit dan gebruik om sy/haar vooroordele uit te leef, moet hy/sy gou in die bek geruk word.
As die politieke hoof van onderwys in 'n sleutelprovinsie behoort Lesufi sekerlik al kennis te geneem het van die onbetwiste waarde van moedertaalonderrig op skoolvlak. En tog verklaar hy dié week: “If you insist on Afrikaans education, you sink the children. Where will these children study after school?”
Iemand moet Lesufi uitdaag om in landelike KwaZulu-Natal op te staan en te verklaar: “If you insist on Zulu education, you sink the children. Where will these children study after school?” Hy sal baie vinnig daar weggejaag word.
Sy punt is natuurlik dat Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite byna nie meer bestaan nie. Maar enige onderwyskenner wat sy/haar sout werd is, sal vir hom sê kinders wat uit nie-Engelssprekende huise kom en vir die eerste keer op skool met Engels te doene kry, baie beter daaraan toe is as hulle op skool in hul moedertaal onderrig word. Dit is waar hulle moet leer Engels praat, lees en skryf sodat hulle voorberei word vir universiteit of 'n beroepslewe waar die voertaal Engels is.
Elkeen wat hier lees, sal waarskynlik studente wat in Afrikaans skoolgegaan het en briljant op universiteit en in die beroepswêreld gevaar het, kan uitwys. Heelwat van die top 20 hoërskole in die land, gemeet aan matriekresultate, is skole met Afrikaans as onderrigtaal.
Lesufi se strategie is nou om Afrikaanse skole met nie-Afrikaanssprekende kinders te laat oorval en hulle só te dwing om Afrikaans te laat vaar. Sy eintlike taak is om die vrotsige township-skole reg te ruk sodat leerlinge nie so ver hoef te ry om skool by te woon nie.
Maar dit is ook so dat daar Afrikaanstalige skole is wat wonderlike geriewe en infrastruktuur het en plek het vir heelwat meer leerlinge.
Dié skole behoort nou pro-aktief te wees en vir nie-Afrikaanssprekende leerlinge voorsiening te maak deur dubbelmediumskole te word – en om dié nuwe leerlinge net so tuis te laat voel soos dié uit die skool se merendeels wit middelklas-omgewing.
Wie ook al volgende week die nuwe minister van basiese onderwys gaan word – dis dalk weer Angie Motshekga – behoort Lesufi tot orde te roep en hom in te lig dat die nasionale onderwysbeleid wel vir moedertaalonderrig voorsiening maak.
Maar die minister gaan haarself in Lesufi se opgeblaasde ego vasloop. “My mission in this world is to reverse everything this man called Verwoerd has done to our education system. Others names like Jan Smuts will also fall," het Lesufi Maandag getweet.
O Panyaza, jou onverskrokke man.
Die minister moet vir hom sê die enigste Verwoerd wat nog in die onderwysstelsel teenwoordig is, is in die patetiese gehalte van onderrig wat aan townshipkinders gebied word. En sy moet hom 'n les gee oor die verskil tussen Hendrik Verwoerd en Jan Smuts.
Maar miskien moet die Afrikaanssprekende ouers van Eersterus en Reigerpark opruk en aan Lesufi sê as sy stryd teen Afrikaans 'n poging is om wit mense 'n dwarsklap te gee, is dit heeltemal misplaas.
Drie grappe in ’n sjebeen
Iemand met die Twitter-naam Saxonwold Shebeen tweet die week: “Duduzane Zuma, Carl Niehaus and Des van Rooyen walk into the Shebeen... There is no punchline, they are all the jokes you need.”
Nog kolossale ego’s
So gepraat van narsiste. Hier is wat die akademikus en skrywer RW Johnson eergister van die radio-omroeper en selfverklaarde openbare intellektueel Eusebius McKaiser skryf: “McKaiser is a sworn enemy of the DA and is strictly a one-trick pony: every article, every broadcast is merely another anti-white fulmination. He has no other suit. Moreover, he has a colossal ego, often referring to his own ‘excellence’.”
Dit is na aanleiding van 'n relletjie tussen McKaiser en die DA-parlementslid Ghaleb Cachalia. Cachalia het op Twitter gesê hy het op goeie gesag verneem dat McKaiser aansoek gedoen het om 'n DA-LP te word en toe bygevoeg: “Nothing quite like a woman scorned …" (McKaiser is gay.)
Die Eusebius reageer toe deur te sê hy sien dit nie as 'n belediging om as 'n vrou beskou te word nie. Maar, voeg hy by: “What is problematic is the purpose of the slur in terms of its socio-linguistic and political history. That matters. Cachalia is instinctively drawing from the old well of insults that aim to mock gay men by feminising them."
McKaiser is onses insiens reg, hoewel dit opvallend is dat hy nie ontken dat hy aansoek gedoen het om in die DA se parlementêre kontingent opgeneem te word nie.
Cachalia ontken dat hy homofobies is. “The phrase ‘a woman scorned' has universal currency, and is adapted from a line in the play by an English author of the late seventeenth and early eighteenth centuries,” het hy teruggekrabbel en geprotesteer dat hy sy lewe lank vir LGBTQI-regte opgestaan het. Hy het daarop gewys dat McKaiser al lankal 'n probleem met hom het: “McKaiser took massive umbrage at my temerity to confront this identitarian wokeness (which defines him), and ever since has nursed an animus.”
Identitarian wokeness inderdaad. Maar sy seksualiteit het niks daarmee uit te waai nie, Ghaleb.
Baai-baai Busi
Die ANC-koukus in die parlement het Jacob Zuma se Nkandla-skandaal hand en tand verdedig en dit as 'n geskinder deur wit rassiste afgemaak. Eers nadat 'n hof duidelik hieroor uitspraak gegee en parlementslede daarvan beskuldig het dat hulle nie hul grondwetlike pligte nagekom het nie, het hulle 'n linksomkeer gemaak.
Elke Suid-Afrikaner met 'n IK oor 30 weet al geruime tyd dat die amptenaar wat die titel van openbare beskermer dra, Busisiwe Mkhwebane, onbevoeg en/of oneerlik en/of 'n politieke werktuig van die terugvegbende is.
Dit is onhoudbaar, want haar pos is 'n kritieke bousteen van die grondwetlike opdrag dat die uitvoerende gesag verantwoordbaar gehou moet word.
Die parlement het net 'n paar maande terug die kans gehad om van haar ontslae te raak, maar die ANC-koukus het dit verhoed.
Dit is nádat regter Cynthia Pretorius in Februarie die volgende oor Busi te sê gehad het toe sy die OB se verslag oor die Absa/Bankorpsaak uitgegooi het: “In the matter before us it transpired that the public protector does not fully understand her constitutional duty to be impartial and to perform her functions without fear, favour or prejudice.” 
Dié week het nog 'n regter haar oor Mkhwebane uitgespreek nadat 'n hof nóg 'n OB-verslag, dié keer oor die Estina-melkplaas, opgeskeur het. Regter Ronel Tolmay se uitspraak verwoes elke greintjie geloofwaardigheid wat Mkhwebane nog gehad het.
“It seems the public protector chose to simply ignore the information supplied to her and then blamed financial constraints for her failure to execute this simple task.
“The failure of the public protector to execute her constitutional duties… points either to a blatant disregard to comply with her constitutional duties and obligations or a concerning lack of understanding of those duties and obligations.
“The public protector’s failures … are of serious concern … as it may point to a concerning incomprehension of the nature and extent of her obligation towards the people of this country and her obligations in terms of the Constitution and the Public Protector Act.
“The report by the public protector did not address the major issues raised in the complaints, nor the numerous indications of irregularities.”
Hoe kan enigiemand in 'n posisie van verantwoordelikheid staande bly nadat sulke woorde oor haar deur 'n regter gebesig is?
Dit gaan sekerlik die nuwe parlement se eerste taak wees om Mkhwebane weer te ondersoek en dan onseremonieel uit haar pos te boender.
Want, in die woorde van regter Tolmay: “When the public protector fails to discharge her mandate and duties, the strength of South Africa’s constitutional democracy is inevitably compromised and the public is left without the assistance of their constitutionally created guardian. It means that a vital constitutional check against abuse of power is lost.”
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.