Die kolonisering van kannabis

KALM SOOS ’N DAGGAWALM

Die kolonisering van kannabis

Daggaboerdery moet die armes verryk, nie geleenthede vir vermoënde multinasionale maatskappye en beleggers skep nie, sê die mense van die Cannabis Development Council of South Africa. En Suid-Afrika kan by Lesotho leer, skryf JESSICA PITCHFORD.

  • 24 Mei 2019
  • Nuus & Politiek
  • 10 min om te lees
  • artikel 15 van 30
  • Jessica Pitchford


DIE hoofkantoor van die Cannabis Development Council of South Africa (CDCSA) is weggesteek bokant ’n paneelklopper in Hoofrifweg, Johannesburg. ’n Banier wat die weg wys na ’n broeines van karig gemeubileerde kantore lees: “… the National Cannabis Industry Association … membership applications available on site: enquire now.”
Dis asof die CDCSA met die laaste walmpie van ’n hennepolielappie aangedryf word, deur ’n uiteenlopende groep mense wat duidelik al met ’n baie lang pad vol amptelike rompslomp langs kom.
“Ons is ’n diverse klomp wat bymekaar gekom het – entrepreneurs, boere, rastas, healers, hippies en stoners,” sê Thau-Thau Haramanuba, een van die CDCSA se nasionale strateë.
“Die regering het ons ’n mandaat gegee om die daggabedryf te help reguleer, en ons is gemagtig om namens die Departement van Gesondheid permitte aan kwekers uit te reik.”
 Hoewel onuitgesproke, is die gevolgtrekking dat die regering steeds sou weifel terwyl die res van die wêreld kapitaliseer, sou die CDCSA nie eiemagtig opgetree het nie.
Eerste kweekpermitte
Die eerste klomp langverwagte kannabiskweekpermitte is uiteindelik uitgereik sodat die bedryf gereed is om aan die werk te spring sodra die appèlle en wysigings in die parlement uitgesorteer is – en Suid-Afrika kan begin opvang.
Lesotho het (letterlik) nie die gras onder sy voete laat groei nie. Dagga is al sedert die 19de eeu ’n belangrike kontantgewas daar. Die sentrale Malutiberge en westelike voorheuwels is die tuiste van sommige van die suiwerste plantlyne, ongeskonde deur kruisteling. Die oorspronklike “Durban poison” kom van Lesotho en die land voorsien blykbaar in 60% van Suid-Afrika se dagga wat vir ontspanning gebruik word.
Mediese marijuana
In 2017 het Lesotho die eerste Afrikaland geword wat die kweek van mediese marijuana gewettig het. Verskeie gefrustreerde Suid-Afrikaanse maatskappye het die kannabis-golf na die bergkoninkryk gery.
Verve Dynamics, wat in Kaapstad gebaseer is en in botaniese ekstrakte spesialiseer, het die eerste lisensie van die Lesotho-regering ontvang, en ’n paar maande later is nog vier lisensies aan maatskappye met internasionale vennootskappe toegeken. Almal moes Basotho-vennote met ’n 50%-aandelebelang kry, maar het die opsie gehad om hul aandele bykans onmiddellik te verkoop.
Noord van ons grens het ’n Israeliese maatskappy aansoek gedoen vir ’n lisensie om mediese marijuana in Uganda vir Duitse farmaseutiese behoeftes te kweek, en ’n Amerikaanse maatskappy, GoIP Global Inc, snuffel in Kenia rond.
Dagga is mal oor Afrika – dit het water, sonlig, ruimte en arbeid – en die wêreld is gretig om te kapitaliseer. Die vrees onder Suid-Afrikaanse kwekers is dat hulle nie hul deel sal kry nie.
“Ons moet die regulering doen voordat die Monsanto’s en Coca-Colas die mark verower en vir ons sê hulle besit die saad en die patente. Ons moet ons eie bedryf omhein en beskerm. Dit moet ons green rush wees,” sê Thau-Thau.
Twee jaar gelede het ’n lisensie in Lesotho R500,000 gekos; deesdae sal jy R5 miljoen opdok. Die idee is om entiteite te ontmoedig wat bedryfslisensies vir spekulasiedoeleindes bekom en dit dan aan derde partye verkoop.
Maar Basotho-kleinboere kla dat die enigste manier waarop plaaslike bewoners uit die kapitaal-intensiewe bedryf kan voordeel trek, is om lisensies tweedehands te koop. Hulle het aan die Lesotho Times gesê al hoe minder Basotho-mense kan dit bekostig om aan die bedryf deel te neem, terwyl al hoe meer geleenthede vir vermoënde buitelandse beleggers beskikbaar raak.
Die Suid-Afrikaner Vincent Clarkson se maatskappy, Maluti Green Med, het vroeg ingespring. Hy reken meer as ’n biljoen rand is al in Lesotho ingepomp met hierdie kommersiële lisensies.
Suid-Afrika sleep voete
“Lesotho pluk die vrugte danksy hul dapperheid en avontuurlikheid, terwyl Suid-Afrika sy voete sleep. Ons het dieselfde gunstige klimaat, plante met hoë kannabinoïedvlakke en baie ruimte, maar nie dieselfde vasberadenheid nie.”
Vincent en sy vennote het eers die moontlikhede van kannabisproduksie in Zimbabwe, Zambië en Swaziland ondersoek voordat hulle Basotho-vennote gekry en Maluti Green Med gestig het. Hulle het nou 12 permanente personeellede op die perseel en nog 50 deeltydse werknemers: “Hulle is die beste kwekers van mediese kannabis in Afrika,” sê hy.
Nadat daggablomhofies gepluk is, word dit in ’n temperatuurbeheerde vertrek gedroog.
“Dit word volgens spesifikasies gedroog. Ons los dit nie daarna om ryp te word nie omdat dit nie vir die ontspanningsmark is nie. Ons bêre dit in ’n kelder om dit veilig te hou, maar jy kan dit nie vir te lank opgaar nie. Dit moet op die mark kom, anders is die risiko van ongemagtigde oordrag te groot, en dat dit op die swartmark versprei sal word. Dit moet na ’n wettige bron met ’n permit toe gaan.”
Verlede jaar het Maluti Green Med hul eerste mediese kannabisblomme verkoop aan Verve Dynamics, wat ’n moderne ekstraksie-aanleg in die Bela-Bela-gebied in Lesotho het waar kannabinoïed-isolate vir medisyne geproduseer word.
“Ons het voorraad gehad, hulle het nie. Ons verwerkingsaanleg word nog gebou, so dit het goed uitgewerk en was vir ons ’n mylpaal. Ons het die eerste kannabisverkope op die vasteland gedoen!”
Hy is geheimsinnig oor hoeveel verkoop is en presies waar in Lesotho Maluti Green die gewas kweek. Dis ’n gewaagde besigheid.
“Ons gesaaides word bewaar deur ’n twee meter hoë grensheining, dan ’n elektriese heining en veiligheidswagte gewapen met aanvalsgewere. Kameras is 24/7 aangeskakel en werknemers word deursoek. Alle maatreëls word volgens internasionale protokol getref om te keer dat die oes gebuit word. Een kilogram se ekstrak kan op die swartmark vir tot $50,000 verkoop word.”
Lisensiëring vereenvoudig
Terug in die CDCSA-kantoor in Jo'burg sê voorsitter Rozayne Malyo die raad het probeer om die komplekse lisensiëringsproses te vereenvoudig.
“Ons reik kaarte aan ons lede uit, help hulle met die aansoekproses vir ’n lisensie, en verseker dat inspeksies as deel daarvan uitgevoer word. Nie al die provinsies het al die kaartstelsel in werking gestel nie, maar die proses is aan die gang.
“Lidmaatskapvorms stipuleer dat lede na algehele emansipasie van kannabis in Suid-Afrika moet streef,” sê sy.
Die CDCSA word verplig om by die Departement van Gesondheid se riglyne te hou, maar hulle hoop dat dit sal verander wanneer die wet verander.
Die Suid-Afrikaanse Beheerraad vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) sê in sy riglyne oor die “verbouing van kannabis en vervaardiging van kannabisverwante farmaseutiese produkte vir medisinale en navorsingsdoeleindes” dat om ongemagtigde oordrag en misbruik te keer, moet daggaboere ’n grensheining hê wat aan SABS-standaarde voldoen en waaroor iemand nie kan klim nie, en dit moet beskerm word deur twee of meer lae fisieke versperrings wat indringers sal buite hou.
Die oorspronklike aansoekvorm vir ’n kweeklisensie was 33 bladsye lank. Die CDCSA het dit na twee verminder. Jy kan óf vir ’n medisinale óf ’n kommersiële permit – met ’n paar variasies – aansoek doen, soos “inheemse kennisstelsels”, wat op Rasta en Khoi-San-boere van toepassing is.
Aansoekers het minstens ’n hektaar – omheinde – grond nodig, maar as jy kommersiële dagga wil kweek, het jy tussen 10 en 20 hektaar nodig. En plase mag nie binne ’n 15 km-radius van mekaar wees nie, sodat kruisbestuiwing nie kan plaasvind nie. Saam met elke aansoek moet GPS-koördinate verskaf word.
Die CDCSA het twee inspekteurs aangestel wat gekwalifiseer is in kweking en verwerking, en hulle besoek en keur geriewe goed voordat permitte uitgereik kan word. As jy nie omheinings of sekuriteit, stoorplek en verwerkingsgeriewe het nie, kan jy nie ’n permit kry nie.
Dit klink alles baie duur, en dis hoekom die CDCSA hard werk om te verseker dat nie net mense met geld in hierdie bedryf floreer nie, sê Thau-Thau, wat namens ’n gemeenskap tradisionele genesers in Limpopo vir ’n permit aansoek gedoen het.
Armes moet verkoopwerk doen
“Ons moet versigtig wees vir mense wat net in die wins belangstel. In Kanada verkoop kwekers aan die regering, en die regering verkoop aan die eindgebruiker. Ons wil dit nie hê nie. Ons wil die armes verryk – hulle moet die verkoopwerk doen.”
Sodra ’n lisensie verkry is, kan “navorsing” begin – wat eintlik kweking beteken. Tot dusver is meer as 30 permitte uitgereik, en nog 70 aansoeke word verwerk.
Party boere kweek reeds in afwagting op hul lisensie. Gerald Zeederberg, die CDCSA se direkteur van landbou, is besig om infrastruktuur op te rig om nywerheidshennep op ’n plaas in Vryheid in Noord-KwaZulu-Natal te kweek. Hy wil spesialiseer in vesel om aan die internasionale mark te verkoop.
“Jy kan 50,000 produkte uit nywerheidshennep maak wat in meer as 20 bedrywe gebruik kan word. Jy kan plastiek, olies, materiale en stene vir huise maak. Een hektaar hennep is genoeg vir ’n Hop-huis. In Amerika is die eerste Ford-motor deur hennep- en plantaardige olies aangedryf. Dit is hoekom hennep in die eerste plek verbied is – dit was kompetisie vir die petrochemikaliebedryf.”
Spanpoging tussen rolspelers
Die CDCSA span saam met mense wat grond en geld het, met kleinboere en ekspert-kwekers wat die afgelope eeu weens hul daggaproduksie in die valleie en heuwels van Transkei en Zoeloeland gekriminaliseer is. Gerald het met stamowerhede in sy omgewing vergader en vennootskappe aangegaan.
“Wanneer die wetmakers hul ding gedoen het en kannabis gewettig het, wil ons ’n sakemodel gereed hê sodat regulasie so maklik is as om vir ’n rybewys aansoek te doen.”
Elke provinsie het sy eie CDCSA-tak wat individueel bedryf en befonds word. Lidmaatskapkaarte bied ’n bietjie beskerming, maar nie teenoorywerige owerhede nie.
“Ons moet die grys gebiede in die wet benut,” sê Thau-Thau. “Ons kan nie dat dieselfde mense wat marijuana onwettig gemaak het, nou die wettiging behartig nie. Die CDCSA as ’n bedryf moet die reguleerder wees, want ons is die gebruikers van marijuana en ons is die kenners. Parlementariërs behoort nie ganja te reguleer nie.”
Hy vertel hoe hy onlangs met 100 g dagga in sy drasak op die Kaapstadse Internasionale Lughawe voorgekeer is.
“Hulle het my gestop en toe sê ek vir hulle dis my heilige krui. Daar is geen wet oor hoeveel ganja ek by my mag hê vir my persoonlike gebruik nie. Persoonlike voorraad is anders vir almal. Dit kan my maandelikse of jaarlikse voorraad wees. Terwyl daar nie wetgewing is nie, is dit ’n grys gebied. Ek is dus deurgelaat. Maar baie broers en susters word nog vervolg.”
Die kannabiskonsultant Pierre van der Hoven sê die uiteindelike doel is die wettiging van dagga, en niemand behoort dit te bevraagteken nie. Hy is die uitvoerende hoof van AfriCannaBiz en het ook vir ’n kweeklisensie aansoek gedoen.
“Suid-Afrika moet sy eie reguleringsraamwerk saamstel sodat dit in ons guns is. Ons moet plaaslike maatskappye skep sonder burokratiese bullshit. Anders sal ons die slawe van multinasionale maatskappye word wat die wêreldvoorraad wil beheer.
“Suid-Afrika is die internasionale cherry – ’n marijuanamark wat almal wil oorheers. Die navorsing is gedoen – so nou moet ons ophou praat en begin werk skep, die vaardighede gebruik van mense vir wie daggaboerdery in hul bloed is. Honderde duisende kleinboere produseer al jare lank kannabis sonder omheinings en plaagdoders.
Omkopery van die magtiges
“Kom ons hou by ons standaarde, voordat ons dagga die slaaf word van farmaseutiese maatskappye met baie geld. Mense met die mag in die hand word maklik omgekoop, soos ons goed weet.”
Vincent, ’n gevestigde kannabiskweker in Lesotho, waarsku teen ’n ooraanbod van kwekers en ’n gebrek aan regulering: “Baie kwekers in Kalifornië het bankrot gespeel of terug na die swartmark gegaan omdat daar te veel verskaffers in die gereguleerde ruimte is. Die geld is in die veredeling, maar op die oomblik word marijuana-medisyne in Suid-Afrika onwettig vervaardig. En daar is baie amateurs wat vreemde dinge met kannabis doen – soos om skadelike chemikalieë en metodes te gebruik – wat die produk in gevaar stel.
“Daar is geen konsekwentheid nie en mense sal die goedkoopste produk koop wat hulle kan kry en hulself in gevaar stel. Sommige marijuana is met plaagdoders, swaar metale en karsinogene van die grond besmet. Wie kontroleer dit? Wanneer die hubbly-bubbly bars, watter produkte sal oorleef? Dié waarvan die vervaardigingsmetodes beproef en getoets is.”
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.