Die skadu oor Helen Zille se sukses

TWITTER-TIRADES

Die skadu oor Helen Zille se sukses

Ná tien jaar as premier, drie as burgemeester van Kaapstad en agt as DA-leier is Helen Zille nog nie heeltemal reg om die politiek te groet nie. Sy maak wel reg om 'n reeks artikels oor haar mislukkings te skryf, het Zille aan CAROL PATON vertel. Maar daar is een probleem wat sy klaarblyklik nie raaksien nie.



HELEN Zille maak reg om ’n reeks artikels oor haar mislukkings te skryf, sê sy.
Ná tien jaar as premier van die Wes-Kaap het Zille die doeltreffendste administrasie in die land opgebou. In die kantoor van haar direkteur-generaal hang toekennings een hele muur vol: Haar administrasie het beter presteer as elke provinsie en nasionale departement volgens die maatstawwe van die departement van monitering en evaluasie in die presidensie, en met meer as 80% skoon ouditmenings in al die departemente het sy 'n regering in werking gestel wat politici én amptenare verantwoordbaar hou.
Nadat die DA onder haar stuur 'n groeitydperk beleef en van die opposisiebanke na die provinsiale regering geskuif het, sou 'n mens dink sy maak gereed om oor haar suksesse te skryf. Maar min mense is so obsessief oor prestasie en om rég te wees as sy. Mislukkings maak haar net meer vasbeslote om tot die kern van die probleem deur te dring; argumente maak haar vasbeslote om méér en lánger te stry.
Hoewel ons 'n paar dae ná die verkiesingsuitslae ontmoet het, het sy nie dit in gedagte gehad toe sy hierdie stelling (oor die artikels) maak nie. Sy is egter ooglopend teleurgestel met die uitslag en het reeds artikel nommer een vir Rapport geskryf.
Vir die eerste keer sedert 1994 het die DA nasionaal steun verloor en in sy vesting in die Wes-Kaap geval van ruim oor die 60% in 2016 tot 55%.
“Dis duidelik ons het 'n hobbel in die pad getref,” sê sy.
Wat het skeefgeloop?
Haar ontleding van wat skeefgeloop het, versinnebeeld hoe sy dink: Sy is doodseker van die oorsaak van die DA se agteruitgang, en haar ontleding is goed geartikuleer en fassinerend. Daar is geen ruimte vir dubbelsinnigheid of enige ander interpretasie nie.
Dit is hoe Zille dit sien: Die DA se unieke politieke aanbieding is gegrond op sy liberale demokratiese waardes. Dít sluit in die oppergesag van die reg, konstitusionalisme en nierassigheid. Namate die DA gegroei het en die politieke omgewing toenemend hier en in die buiteland deur identiteitspolitiek oorheers is, het jonger mense in die party – vars uit die universiteit – nader beweeg aan 'n weergawe van ANC-beleid en -filosofie (soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging), wat volgens Zille “rasse-nasionalisme” onderskryf.
Die aantrekkingskrag van identiteitspolitiek, sê sy, is versterk deur Amerikaanse politiek en swart Amerikaanse populêre kultuur met sy konsepte van “wokeness” en “whiteness". Dit is terme wat sy belaglik vind.
Hierdie migrasie van waardes het tot uiting gekom toe die DA in die bed geklim het met sy aartsvyand, die EFF, om die mag te behou in Johannesburg en Tshwane, sê Zille. Dié skuif het die onderskeid tussen die DA en ander partye laat vervaag. Dit het ook wat sy sien as die DA se unieke aanbieding vir kiesers – 'n party wat 'n tuiste is vir alle Suid-Afrikaners eerder as net vir een groep – laat vervaag.
Die ANC, wat oorspronklik die term nierassigheid besit het (die DA het aanvanklik verwys na veelrassigheid, wat 'n veelvuldigheid van rasgroepe impliseer), is afwysend teenoor die DA se aanspraak en gebruik steeds die term as sy eie in al sy beleidstandpunte en dokumente. Maar, soos Zille so obsessief die afgelope dekade beklemtoon het, nierassigheid is iets waaraan die ANC ál minder in die praktyk uiting gee.
Toenemend sterker variasies van Afrika-nasionalisme het vir die ANC 'n hefboom geword om sy kiesers te behou. Die party het al hoe meer in die maalstroom van rasse-chauvinisme ingesuig geraak om met die groeiende EFF mee te ding en dit te neutraliseer, maar ook om sy eie tekortkominge te probeer regverdig.
Rasoorlog op Twitter
Zille se grootste kommer is die gevaar van ras- en etniese nasionalisme. Omdat dit haar ontleding van die Suid-Afrikaanse politiek so geheel en al oorheers en haar duidelik woedend maak, kan sy haar in 'n oogwink in 'n rasoorlog bevind. Sy sal nie die onregverdige realiteit aanvaar dat woorde wat deur 'n wit mens geuiter word – veral in Suid-Afrika – 'n betekenis dra wat hulle nie het wanneer 'n swart mens dit sê nie.
Dít is presies wat gebeur het toe die uitdrukking “wit bevoorregting” in 'n gedig wat deur 'n swart Amerikaanse vrou opgevoer is, op Twitter opduik. Zille het haar bloedig vererg oor wat sy gesien het as onregverdig: Dat #whiteprivilege aangeval kan word, maar #blackprivilege gaan ongesiens verby. Binne minute het sy swart bevoorregting gedefinieer as om 'n land kaal te steel en dan herverkies te word, met verwysing na die ANC se verkiesingsuitslag.
“Ek is klaar met dubbele rasstandaarde,” het sy drie dae lank getier en elke daaropvolgende tweet of gebeurtenis deur 'n sterk gekleurde prisma van ras geïnterpreteer.
Met twee swart pleegkinders, 'n diepe toewyding om Xhosa te leer (sy praat dit amper vlot) en gereelde besoeke aan Kaapstad se townships, waar sy dag en nag mense met hul persoonlike probleme gehelp het, is Zille se standpunt oor ras diep gekompliseerd en verweef met haar psige. As sy eers vertoorn is, kan sy eenvoudig nie onttrek nie en sal sy aanhou om haar punt te maak – sonder om ag te slaan op die skade wat in die proses aangerig word.
Vir die publiek is die redes vir Zille se tirades irrelevant. Wat hulle sien is 'n woedende wit vrou wat haarself onthul het as 'n ongebreidelde rassis noudat sy nie meer aan bande gelê word deur stemwerwing nie.
Argumente soos die een oor swart bevoorregting word al jare lank met dieselfde patologiese intensiteit in die DA gestry. Dít maak haar 'n moeilike mens om mee te werk. Hoe moeilik sy ook al mag wees, het Zille ongetwyfeld 'n hoogs doeltreffende regering daargestel en bestuur.
Sukses in die Wes-Kaap
Geen ander provinsiale regering of nasionale departement kom eers naby die punte wat die Wes-Kaap op die departement van monitering en evaluasie se assessering van prestasiebestuur gekry het nie. Dié jaarlikse assessering ontleed strategiese bestuur, regeervermoë en verantwoordbaarheid, die bestuur van menslike bronne en finansiële bestuur.
Dit is op die gebied van regeervermoë wat Zille voel sy het veel meer om te bied en dít is ook waar sy van plan is om haar mislukkings te evalueer en te probeer uitwerk hoe om dinge beter te doen.
“Ek gaan 'n hele reeks artikels van die binnekant skryf oor my mislukkings. Wanneer jy in die regering is, kan jy so hard as moontlik probeer om die beste beleid te vind en 'n begroting daaragter te sit, net om agter te kom jy kan dit nie verander nie,” sê sy.
Ná 'n dekade van lees, dink en toepassing van die beste praktyk oor die wêreld heen, bejeën Zille die wetenskap van regeerkunde met dodelike erns. Haar breë filosofiese raamwerk kom van die Amerikaanse politieke wetenskaplike Francis Fukuyama. By die Britse opvoedkundige Michael Barber, wat naam gemaak het as iemand wat resultate gekry het vir die destydse Britse premier, Tony Blair, het Zille die metodologie geleen van hoe om dinge in 'n regeringsburokrasie gedoen te kry.
“Ons het 'n skoon, funksionele regering gevestig, 'n bekwame staat en 'n kultuur van aanspreeklikheid. Dit is belangrike kwessies. Dit mag teoreties klink, maar Francis Fukuyama was absoluut reg toe hy gesê het enige suksesvolle land moet gebou word op die grondslag van die oppergesag van die reg; 'n bekwame staat; en 'n kultuur van aanspreeklikheid. En dit is wat ons die laaste tien jaar in die Wes-Kaap gevestig het.”
Klem op dienslewering
Zille sê sy het by Trevor Manuel, voormalige minister van finansies en beplanning, gehoor van Barber se werk. Manuel het al die provinsiale premiers aangemoedig om Barber se boek te lees. Sy was beïndruk en het Barber op 'n besoek aan Engeland opgesoek. Aan die begin van haar tweede ampstermyn het sy 'n diensleweringseenheid in haar kantoor geskep.
Die eenheid, met die bestuurskonsultant en -navorser Jenny Cargill aan die hoof, moniteer nie net implementering nie, maar ook die impak van programme op grondvlak. Die eenheid is verantwoordelik vir strategie en probleemoplossing. Dit is deels danksy dié eenheid dat e-leerplanne so 'n merkwaardige sukses in die provinsie is. Ook katalitiese ontwikkelingsprojekte is deur die eenheid gedryf en dit het die provinsie gereed gemaak om huishoudings te help om hul eie hernubare energie op te wek.
Zille is so obsessief oor dienslewering, sê Cargill, dat sy net twee uit 119 “nabetragtingsvergaderings” gemis het waar 'n spesifieke projek of program nagegaan is.
Daar was ook innovering in die Wes-Kaap: 'n Voorbeeld daarvan is die provinsie se “samewerkende skole”, 'n model wat by Engeland geleen is.
Provinsiale wetgewing is einde verlede jaar goedgekeur wat nuwe bestuursmodelle vir skole toelaat. Dit beteken die beheerliggaam gee gelyke beheer aan 'n private finansier, soos 'n opvoedkundige trust, aan die aan kant en ouers en onderwysers aan die ander – eerder as wat dit meestal uit ouers bestaan met onderwysers wat die res van die posisies beklee.
Die effek daarvan is dat private geld in arm skole ingebring word en finansiers toerekenbaarheid vir die besteding daarvan kan afdwing. Die samewerkende skole kan onderwys vir die armes transformeer, sê Zille. Daar is reeds 'n drastiese verbetering in geletterdheids- en rekenkundige uitslae in die skole wat van meet af aan begin is.
Twitter en nalatenskap
Op 68, ná tien woeste jare as premier, drie as burgemeester van Kaapstad en agt as nasionale leier van die DA, is Zille steeds nie reg om politiek vaarwel toe te roep nie. Sy stem volmondig saam met Jannie Steytler, die stigter van die destydse Progressiewe Party, dat “Suid-Afrika eendag volgens ons beginsels geregeer gaan word, want dit is die énigste manier waarop dit regeer kan word.”
Ondanks die DA se verkiesingsuitslae sê sy die DA se “historiese doelwit” spruit uit hierdie oortuiging. Dit moet die geloof in 'n gemeenskaplike samelewing aan die hele bevolking verkoop en uiteindelik die lyn in die politiek trek tussen nierassigheid en konstitusionaliteit enersyds en etniese nasionalisme andersyds.
Die wyse waarop Zille hierdie veldtog aangepak het, is uitstekend én rampspoedig. Haar prestasies in die vestiging van 'n funksionele en verantwoordbare regering sal beslis op lang termyn vrugte afwerp en die mense van die Wes-Kaap sal met rede dankbaar wees.
Maar die openbare rol wat Zille op sosiale media speel, is tot nou toe vernietigend en roekeloos. Dit sal 'n nalatenskap bederf waarop sy andersins trots kan wees. Dit is jammer dat haar reeks artikels oor haar mislukkings nie refleksie oor haarself, haar grootste fout, sal insluit nie.
 

Hierdie artikel het oorspronklik in ons susterpublikasie Business Day verskyn.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.