Is Helen Zille ’n rassis?

STANDPUNT

Is Helen Zille ’n rassis?

Oudpremier Helen Zille sê sy veg teen identiteitspolitiek. Die ironie is dat haar terugveg-strategie dié vorm van politiekery eerder aanhelp, meen MAX DU PREEZ.


“Hel, tannie, as jy die goed voor die verkiesing gesê het, sou ek nooit van die DA af na die Vryheidsfront toe gehardloop het nie,” het iemand dié week op Twitter aan Zille gesê.
Zille se postverkiesing-Twitterstorm oor wit en swart bevoorregting is inderdaad 'n vorm van “slaan terug”, die Vryheidsfront Plus se slagkreet wat dié party soveel stemme besorg het.
Zille se tweets gaan nou deur die DA se federale uitvoerende raad vir moontlike optrede bespreek word, maar dit lyk asof haar uitlatings en uitdagende houding haar nog gewilder onder veral wit kiesers maak.
Dit kan die gaping tussen wit en swart DA-ondersteuners net groter maak en DA-leier Mmusi Maimane verder isoleer.
Storm
Die storm rondom die DA het gister verdiep toe die LP Belinda Bozzoli op Twitter teen die ANC-LP’s se gesingery in die parlement beswaar gemaak het: “ANC trying to ‘claim’ Parliament as their own by using a recess to dominate the chamber through sound. Their persistent and relentlessly deafening singing of struggle songs is really irritating.”
Sy het 'n artikel wat sy oor die gevare van etniese nasionalisme geskryf het, ter verduideliking aangeheg. Sy is dadelik van rassisme, onverdraagsaamheid, kulturele stompsinnigheid en 'n ontkenning van die struggle-verlede beskuldig.
“Genoeg is genoeg” is die tema van 'n groot aantal wit mense en DA-ondersteuners wat Zille se veldtog op sosiale media steun, baie van hulle onder die vaandel van #ThankYouHelen.
Dalk is dit ook 'n teken van die gatvol-faktor onder veral die wit minderheid wat die laaste paar jaar of so al hoe duideliker geword het, 'n faktor wat sekerlik 'n rol in die toename in die steun vir die VF+ gespeel het.
Raspolitiek
Dit is 'n neweproduk van die populistiese raspolitiek wat die EFF, die #FeesMustFall-beweging en, in die laaste twee jaar of so van sy bewind, ook Jacob Zuma bedryf het.
Die beswaardes sal gou vir jou vertel: 'n bejaarde wit vrou wat swart mense met ape vergelyk, word swaar beboet, en 'n ander vrou wat die k-woord besig, word tronk toe gestuur, maar swart politici wat wit mense beledig en met geweld dreig, kom skotvry daarvan af. Op sosiale media het ekstreme anti-wit-rassisme nou epidemiese afmetings aangeneem en niemand doen iets daaraan nie.
AfriForum en openbare figure soos Steve Hofmeyr het lank gelede al met 'n slaan-terug-strategie begin, en sommer plaasmoorde ook as wapen bygetrek.
Die ANC se koersverandering laat in 2017 om ook, soos die EFF, die onteiening van grond sonder vergoeding te eis, het verder tot 'n wit gevoel van slagofferskap bygedra.
Kolonialisme
Zille het in Maart 2017 die eerste keer 'n Twitter-storm ontketen toe sy getweet het: “For those claiming legacy of colonialism was ONLY negative, think of our independent judiciary, transport infrastructure, piped water."
Sy is deur haar eie party se leiding tereggewys en het later probeer om te verduidelik dat sy nie kolonialisme probeer goedpraat het nie, maar in die oë van die meeste swart Suid-Afrikaners was dit 'n bewys dat sy 'n rassis is.
Baie van haar vriende en ondersteuners het by haar gepleit om eerder van Twitter af weg te bly omdat dit 'n medium is wat nie ruimte vir subtiliteit en konteks laat nie, maar sy het nie geluister nie.
Nou het sy dit weer gedoen. Sy het in reaksie op 'n Amerikaanse video op Twitter waar 'n swart vrou haarself oor wit bevoorregting uitspreek, getweet: “Why is she saying these things in English?” Toe die twitterati haar daaroor aanvat, het sy verklaar: “Well, you clearly don't understand black privilege. It is being able to loot a country and steal hundreds of billions and get re-elected. If ppl want permanent poverty for the masses they are going about it the right way.”
Dear Helen
Selfs die besadigde Thuli Madonsela het haar op die vingers getik: “Dear @helenzille, white privilege is universal and comes with the premium the world places on whiteness plus accumulated historical advantages. To equate it with black privilege is myopic. To brand blacks as looters and political pretenders is wrong. Please withdraw and apologize.” (Die twee het later ooreengekom om saam tee te drink en te gesels.)
Maar die res van die land was nie so besadigd nie. Zille is as die moeder van alle nare rassiste uitgekryt, veral op sosiale media.
Maimane het hom gou van haar stellings gedistansieer en gesê hy sal geen benadering ondersteun wat rassepolarisering aanwakker nie.
'n Hele klomp mense, onder meer prominente joernaliste, het toe besluit om alle wit Suid-Afrikaners uit te daag om Helen Zille as 'n rassis te repudieer, of as lafaards of self rassiste gebrandmerk te word. Ag, julle moer man, was my eerste reaksie. Maar dalk is dit 'n vraag waaroor ons moet nadink.
Is Zille 'n rassis? Natuurlik sal net sy weet wat werklik in haar hart en gemoed aangaan, so ons moet na haar lewe, haar dade en haar uitsprake kyk as ons iets daaroor wil sê.
Terug na die verlede
Ek het Zille die eerste keer as mede-verslaggewer tydens die Soweto-opstande van Junie 1976 ontmoet toe ons nog nat agter die ore was. (Sy is 'n dag voor my gebore.) Sy het vir die Rand Daily Mail gewerk en haar verslaggewing oor die geweld in die townships was skerp krities teenoor die polisie en die regering, en dit in 'n tyd dat joernaliste baie versigtig was. Sy het 'n jaar of so later die storie gebreek dat Steve Biko weens breinskade ná aanranding deur die polisie dood is en dat die regering daaroor gelieg het. Sy is as 'n leuenaar en 'n meeloper van die kommuniste uitgeskel.
Zille was ná haar joernalistieke dae 'n aktivis van die Black Sash en die End Conscription Campaign, en ons weet dat sy by geleentheid 'n veilige hawe aan swart aktiviste gebied het wat deur die veiligheidspolisie gesoek is. Geen getuienis van rassisme tot dusver nie.
Sy het in 1999 'n ampsdraer van die Demokratiese Party en die LUR vir onderwys in die Wes-Kaap geword, in 2006 burgemeester van Kaapstad, in 2007 leier van die DA en in 2009 premier van die Wes-Kaap. Min van haar kritici sal dit in twyfel trek dat sy 'n hoogs suksesvolle burgemeester en premier was, waarskynlik die mees suksesvolle tussen 1994 en vandag.
DA groei onder Zille
Dit was Zille wat die DA aangepor en aangehelp het om swart steun te werf en swart leiers te kweek. Sy is vlot in Xhosa en is meestal gul in die Kaapse townships ontvang waar sy duidelik heel tuis gevoel het. Haar visie was 'n party wat mense as individue eerder as lede van ras- of etniese groepe sien.
Onder haar leiding het die party dramaties gegroei en meer as 22% stemme in die 2014-verkiesing behaal. Sy het in 2015 as leier onttrek en is deur Mmusi Maimane opgevolg.
Die aanklagte van rassisme het eintlik eers daarna begin, en veral ná haar tweet oor kolonialisme. Haar vurige en veglustige persoonlikheid het haar gekeer om diplomaties op te tree en soms om verskoning te vra as sy verkeerd verstaan is.
En hoe meer sy beledig is, hoe meer uitdagend het sy geword. Sy het dit myns insiens nie goed hanteer dat sy nie langer die leier van die DA was nie, en was nie ontvanklik vir versoeke uit die party se leierskap om 'n laer profiel te handhaaf nie.
Onverstaanbaar
Ek dink haar tweet oor kolonialisme was lomp, onwys en het nie op Twitter gehoort nie, al was dit, soos sy later moes verduidelik, tegnies korrek.
Ek was baie verbaas dat sy nie die hipersensitiwiteit onder die swart meerderheid hieroor verstaan het nie. Ek het haar destyds daarop gewys dat my eie ouma en oupa, oorlewendes van die krygsgevangenekampe en konsentrasiekampe en verskroeide-aardebeleid van die Britse Empire, ook nie haar tweet sou waardeer het nie.
Maar haar jongste tweet is baie moeiliker om te verdedig of selfs te verstaan. Sy klap enige verwysing na wit bevoorregting weg, en kla dan dat daar swart bevoorregting is en dat dit deur korrupsie manifesteer: “It is being able to loot a country and steal hundreds of billions and get re-elected.”
Is dit naakte rassisme, of is dit eerder bitterbekkigheid en uiterste swak oordeel? Laat ek dit só stel: As Steve Hofmeyr of Ernst Roets van AfriForum die tweet geskryf het – en dit is die soort goed wat hulle kwytraak – sou ek geen twyfel in my gemoed gehad het nie dat dit 'n manifestasie van rassisme was.
'n Mens sou kon redeneer dat wat sy eintlik wou sê, is dat die aanhoudende gehaper op wit bevoorregting onregverdig en 'n opportunistiese kamoeflering van misbruik deur die swart elite is, maar dit sou 'n belediging vir haar aansienlike intelligensie wees – as dit is wat sy wou sê, hoekom het sy dit nie gesê nie?
Gat gegrawe
Helen Zille het haar nou finaal in 'n gat ingegrawe waaruit sy nie weer gaan uitkom nie. Dit lyk asof sy bitter is dat sy nie meer politieke mag het nie en dit lyk asof sy nie die politieke dinamika in die land goed verstaan of wil verstaan nie.
Sy gaan 'n held vir baie bly, maar solank sy in die kalklig bly, gaan sy haar party verdeel en skade aanrig. Dit is 'n absolute tragedie dat iemand met haar durf, energie, dryfkrag en rekord van uitstekende diens aan ons demokrasie se openbare lewe só tot 'n einde kom.
Daar is natuurlik 'n saak uit te maak dat die wanbalans wat daar inderdaad bestaan in hoe swart en wit rassisme behandel word, onregverdig en gevaarlik is.
Ek stem saam dat die beskuldiging van wit bevoorregting dikwels as dekmantel vir korrupsie en swak bestuur misbruik word, al glo ek Zille en mense wat soos sy dink, onderskat die mate waarin wit bevoorregting tog wel steeds bestaan.
Maar ek glo daar is ander maniere, en ek bedoel nie virtue signalling of gatkruiperigheid nie, om dié wanbalanse, misbruike en vooroordele aan te pak as wat Zille en AfriForum dit nou doen. Dit is 'n onderwerp vir 'n volgende meningsartikel.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.