Want hulle maak mekaar mooi, selfs as ander nie wil nie

‘MY ANNEDOGTER'

Want hulle maak mekaar mooi, selfs as ander nie wil nie

Hoe dra mens aan die labels wat onverskillige hande op die lyf van jou meisiekind plak? Hoe maak jy haar bene sterk, keer op keer wanneer lekkerbekkige oë haar soos ’n insek dissekteer? Hoe roep jy dan ’n God van liefde aan, is wat ANASTASIA DE VRIES van Caster Semenya se ouma wil weet.

EINTLIK hét ek die brief begin skryf. Liewe mevrou Maputhi Sekgala. Beste mevrou Sekgala. Geagte mevrou Sekgala. Ek skryf aan u aangaande. Ek skryf aan u oor. Ek skryf aan u.
Maar taal het my verraai. Met watter woorde kon ek na die ouma van onse Mokgadi Caster Semenya gaan wat my nie soos ’n ploert in haar hart sou laat trap nie? Want ek wou haar vra hoe dra mens aan die labels wat onverskillige hande op die lyf van jou meisiekind plak, hoe maak jy haar bene sterk, keer op keer wanneer lekkerbekkige oë haar soos ’n insek dissekteer, hoe was jy hul vatmerke van haar vel af, hoe roep jy dan ’n God van liefde aan.
Ek moes weet. Vir my. Veral vir my. Ek moes weet of sy tóé kon weet hoeveel ongenade Caster se deel sou word. Of hoeveel keer haar hart vir haar kind sou breek. Breek moet haar hart breek elke keer as haar meisiekind betoets en bepaal word, aangesê word om te aanvaar wat die wetenskap sê sy is. Wie kan stry met die wetenskap?
Ek wou vir mevrou Sekgala vertel ek is waar sy is wanneer mý meisiekind, sy met die blinkswart oë en ’n hart so groot soos die Here se genade, hoor sy kan maar “drange”vir ’n vrou hê solank sy dit nie uitleef nie. Mens moet mos selfbeheersing hê, magtag! En sy weet mos wat sê die Bybel. Wie kan stry met die Bybel?

Het ék, toe sy klein was, geweet hoeveel liefdeloosheid haar deel sou word? Sy wat praatjies met mense sou aanknoop omdat hulle net te alleen lyk, wat opgewonde handjies kon klap oor gryskop-vreemdelinge wat sy in parke raakgeleef het en “al honderde en honderde jare getroud” was of bejaarde mense in winkels voorgekeer het om te hoor waar is hul kinders en hoekom help hulle nie hul ma met die inkopies nie.
Het ek toe geweet hoeveel keer my hart kon breek oor die wyses waarop vriende en familie haar van haar menswaardigheid, haar goeie naam en eer probeer stroop, oor haar verset teen nog ’n etiket en nog een. Is sy lesbies? Maar sy’t tog nog laas die ou jongetjie gehad. Is sy dan bi? Wat ís sy? Ai, sy is so cute, man. Sjym, sy lyk nie eens soos ’n jy-weet-wat nie. Miskien is dit net ’n fase. Miskien is sy ’n geleentheidslesbiër (of so iets), nie ’n regte een nie; jy weet, van daardie wat êrens in hul lewe sielkundig geknou is, of.
Dis al. En alles
Sy is ’n goeie mens, het ek nog aan die begin heel ordentlik gesê. Rustiggies. My kind het so waar as wragtag ’n goeie mens geword. Dis al. En als. “Ek soek nie labels nie, Mamma! Hoekom moet ek iets, enigiets, wees sodat ander mense comfortable kan wees?” En dan word sy weer die meisiekind met die vuur in haar oë wat in gr.8 haar vriende se gespot met haar naamlose jeans stopgesit het met “júlle het name-klere nodig om te weet wie julle is. Ekke nie. My ma het my ’n naam gegee wat sê wie ek is”.

Ek wou vir Caster se ouma sê my kind se naam beteken “genade”, dat ek iewers gelees het Mokgadi beteken “gids” of “leier”. Dat hulle hul name is, onse kinders. Dat hulle niks anders kan wees as hul name nie. Ek wou hê sy moes weet haar kind is oukei, myne ook. Ek skryf dit neer om te weet: My kind is.
Want soms is ek nie. Raak ek ’n tewerasie wat vloek teen die etikette wat die wêreld om my meisiekind se nek wil omhang, die woorde wat haar menswees binneste-buite teen ’n skandpaal vasspyker. Blaf in eenwoordsinne op vrae soos hoe dít (bedoelende my kind) met my kon gebeur het van mense “wat maar net probeer verstaan”: Seks, hoe blêrrie anners!
Maar enige regdenkende mens sal tog wil weet hoe en hoekom, hou sommige vol. Issie my wêkie! Want ek mag niks weet nie, maar dít weet ek: My werk is om my kind lief te hê. Staan daar dan nie ook geskryf nie: Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is?
Soos toe sy 16 was
Ook dit skryf ek neer, die wete dat ek eendag ten volle sal ken. Maar vir nou? My meisiekind is gelukkig getroud. En sy lyk soos toe sy 16 was, haar gesig na die son gehef, haar oë groot, oop, verwonderd. Sy loop deur die land met die wiegstap van ’n Kaapse Vlakte-vrou, een-vir-jou-een-vir-my, asof die kaart en transport van dié gronde volledig aan haar behoort. Eendag gaan hulle in die Kerk trou waar sy gedoop is, haar Eerste heilige kommunie en die Vormsel ontvang het. So waar as wat daar ’n liewendagge God boe onse koppe is, sê sy.
Ek wou vir mevrou Sekgala vra wat sy haar Caster se vrou noem. Ek noem my meisiekind “die Eerste” en haar vrou “my Annedogter”, sou ek vir haar skryf. En dat hulle oukei is, hulle maak mekaar mooi. Sal ek vir haar van die salf stuur waarmee ek my kniekoppe uitsmeer, sou ek vra. Want ek weet dat sy, soos ek, hulle aan onse Here God opdra, op onse knieë. Ons is nie oukei nie, kan nie wees nie, solank onse kinders buite die vesting wat ons vir hulle is, nog nie vry is nie...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.