Bonnievale-plaasmoord: wat gaan hier aan?

PLAASMOORD

Bonnievale-plaasmoord: wat gaan hier aan?

Die 55-jarige Tool Wessels is op 13 Mei op sy plaas buite Bonnievale in die Wes-Kaap gemartel en vermoor. Sy vrou, Liezel (51), het die aanval oorleef. KARL KEMP was in die landdroshof in Bonnievale by een van die verdagtes se eerste verskyning.


BONNIEVALE se landdroshof is beknop. Omtrent 30 mense sit ingepak op drie lang houtbanke en kyk na die landdros se hoë stoel, wat nog leeg is. Die gehoor is bruin en wit, boere en plaaswerkers, 'n paar van hulle met DA-T-hemde aan. Die vertrek is helder verlig; die vensters is wawyd oop en sonskyn stroom van buite af in. Albei ingange is byna óp die straat, en mens hoor hoe die tortelduiwe buite koer en die boere se bakkies met die hoofstraat af ry.
Al die hof se kennisgewings is slegs in Afrikaans. Die toeskouers in die hof fluister en maak grappies in Afrikaans. Die landdros praat slegs Afrikaans. Dit is tog 'n Wes-Kaapse, plattelandse hof. Almal ken mekaar. Almal werk op een of ander boer se plaas of het familie wat op 'n ander plaas woon.
Van die voorste houtbank vir die publiek kan mens aan die beskuldigdebank raak. In dié voorste bank sit drie ouerige wit mans. Een van hulle is Stefan Bruwer. Sy swaer, Tool Wessels, is op 13 Mei gemartel en vermoor op sy plaas, Kapteinsdrif. Wessels se vrou, Liezel, het oorleef maar is ernstig beseer en is in Worcester in die hospitaal opgeneem om haar brand- en steekwonde te behandel.
Om 10:15 kom die landdros die hof binne. Eerste op die rol is 'n jong man met 'n Nederlandse van. Hy word daarvan beskuldig dat hy gisteraand 'n ander jong man met 'n skêr aangerand het. Die landdros stel die saak binne drie minute uit en hy loop met 'n breë glimlag die straat in, met die wyn-en-entjies-reuk wat aan hom hang en hom soos 'n wolk agtervolg.
Die landdros vra om orde en kondig aan dat die volgende beskuldigde 'n meneer Tlale is. Sy verbied joernaliste om foto’s te neem weens die hoogs sensitiewe aard van die saak. Ons kan skryf wat ons wil, sê sy, maar geen foto’s nie: Tlale is die 19-jarige man wat van die moord op Wessels aangekla word.
Vroeër die oggend het die takbevelvoerder van die polisie op Bonnievale aan my bevestig dat 'n provinsiale polisietaakspan ingeroep is om te help. Sy kon nie bevestig dat die slagoffer met 'n boor gemartel is nie, maar wel dat sy vrou met kookwater gebrand is. En sy het vreeslik gekla oor die stories wat op sosiale media oor die saak versprei word.
Misdaadseisoen
Voordat die hof begin het, het ek buite gestaan en rook saam met 'n paar bruin mense wat ook moes verskyn. Volgens hulle het misdaad op die dorp 'n seisoen; dit kom en gaan. Verlede maand is 'n jong bruin vrou op straat in die dorp vermoor en die polisie het nog niemand daaroor aangekeer nie. Verlede jaar is 'n egpaar met 'n skerp voorwerp op 'n plaas buite die dorp doodgesteek. En in 2014, sê hulle, “het die swartes agter die valley in die plakkerskamp 'n klong in sy hok [plakkershut] aan die brand gesteek”.
Hulle beskou die swart mense as indringers en sê die polisie is te bang om dit in die plakkerskamp te waag. Elke boer wat vermoor word, is 'n plaas wat nie meer werk bied nie. Dis een van die redes waarom werksgeleenthede al hoe minder word, sê hulle. En: “Waarom moor jy die boer as jy net geld soek om te steel?”
Later gesels ek vlugtig met Stefan Bruwer. Hy wil nie hê besonderhede van sy swaer se marteldood moet versprei nie. Ek moes naby aan hom staan om te kon hoor wat hy sê.
Sy stem was skor en 'n groep DA-lede en plaaswerkers langs ons buite die hof het hardop met mekaar gesels en vir foto’s geposeer. Op hul plakkate staan slagspreuke soos “Stop the killings” en “No bail!”.
Volgens 'n plaaslike boer wat ook buite die hof was, was hierdie die vyfde plaasverwante misdaad die afgelope vyf jaar in Bonnievale se omgewing.
Soos ’n ruimtewese
Toe Tlale die hof binnestap, was daar doodse stilte. Hy was geklee in swart werkstewels, 'n ou broek en 'n hoodie. Sy hare was kort geskeer, sy gesigsuitdrukking onleesbaar. Hy was vir my soos 'n ruimtewese, van 'n ander planeet, asof ek hom nie as 'n mens kon aanskou nie.
Hy het vorentoe gekyk en die bank betree met sy rug na ons, 'n tree of wat weg van die houtbanke af – die houtbanke vol Afrikaanssprekendes wat dit nooit naby sy hok daar agter die valley sou gewaag het nie.
Tlale is Sothosprekend, maar praat ook 'n bietjie isiXhosa. Geen Afrikaans of Engels nie. Die landdros praat Afrikaans met hom en wag dan dat die hoftolk in isiXhosa herhaal wat sy gesê het; dié herhaal dit dan weer in Afrikaans aan die landdros.
Tlale kyk vorentoe en sê niks nie. Hy knik of skud net sy kop soos nodig. Niemand anders in die hof weet presies wat die tolk hom vertel nie, of hoeveel hy daarvan verstaan nie.
Die landdros lig hom in dat hy tereg staan op aanklagte van moord, poging tot moord, ontvoering en roof. Sy saak word uitgestel tot 17 Julie sodat 'n Sotho-tolk vir hom gereël kan word. Geen borgtog word toegestaan nie. Dit is in elk geval nie duidelik waarheen hy sou gegaan het indien hy wel vrygelaat is nie.
Sy drie medeverdagtes het na bewering Oos-Kaap toe gevlug. Die selle is die naaste ding aan 'n blyplek wat hy nou het, behalwe dalk terug in Lesotho.
Plaaswerkers woedend
Inwoners van die omgewing, insluitende Montagu, Ashton en Robertson, gaan binnekort kameras by die dorpe se hoofingange laat installeer, op hul eie koste, om boere en hul werkers te help beskerm. Dis ook gister bespreek by die jaarlikse byeenkoms van die omgewing se plaaswag, waar meer as 90 mense teenwoordig was.
'n Boer buite die hof vertel dat die slagoffers se plaaswerkers geweldig getraumatiseer is, veral die een wat die lyk ontdek het. Hulle het traumaberading ontvang by twee plaaslike boere en 'n dominee. Tussen die “ou inwoners” van die dorp, sê die boer, is verhoudinge geweldig goed.
Die plaaswerkers van die omgewing is woedend oor wat gebeur het. Die misdadigers, sê die boer, is mense wat onwettig in die land is.
Hy het die slagoffer goed geken, vertel die boer verder. Baie goed. 'n Vrolike man. Goeie sangstem.
Tlale word uit die hof gelei. Hy kyk nog links nog regs. Hy kyk vir die uitgang, en dit is al. Hy stap weer slegs enkele sentimeters van my af voor my verby en ek wonder weer  hoe 'n 19-jarige wat so normaal lyk só iets kon doen. Of hy dalk net toegekyk het. Of hy die ketel gekook het. Of hy weet waar sy ouers in Lesotho is en of hy maar net rondswerf.
Die hek se grendel klap agter hom toe. Ek voel naar. Die meeste mense in die hof staan op en begin uitloop, maar 'n klompie bly agter.
Die volgende saak word geroep en 'n jong man lig hom uit die houtbanke uit op. Sy ma sit langs hom. Buite het die ry al weer langer begin word. Ek kan nie Stefan Bruwer se gesig sien nie.
Die landdroshof voel weer ruim en leeg.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.