Brian Molefe: die sake-genie wat staatskaper geword het

TE GROOT VIR SY EIE SKOENE?

Brian Molefe: die sake-genie wat staatskaper geword het

Die Talentvolle Mnr. Molefe: JACQUES PAUW verduidelik hoe een van die helderste sterre in die SA sakehemel deel van die Guptas se staatskaping-masjinerie geword het en heel moontlik op pad tjoekie toe is.


BRIAN Molefe was eens een van die helderste sterre in die Suid-Afrikaanse sakehemel, en sy pad na heel bo was met goud beslaan. Hy was ’n toonbeeld van swart uitnemendheid en daar is vroeg reeds van hom gepraat as ’n toekomstige minister van finansies.
Vandag, ’n skrale agt jaar nadat hy as die uitvoerende hoof van Transnet aangestel is, is Molefe sonder werk, oënskynlik in ’n finansiële knyptang en, sou die getuienis by die Zondo-kommissie oor staatskaping bevestig word, op pad tronk toe.
Molefe probeer homself uitbeeld as ’n slagoffer van een of ander politieke komplot en hou vol dat hy nie net onskuldig is nie, maar inderdaad die land van Eskom se beurtkrag gered het.
Die getuienis by die kommissie, wat in dié stadium oorweldigend blyk te wees, vertel ’n verhaal van ’n top-staatsbestuurder wat sowel Transnet as Eskom op hul knieë gedwing het.
Hy was ’n instrumentele rat in die staatskaping-masjinerie wat die land aan die Guptas verkwansel het.
As Molefe inderdaad ’n argitek van staatskaping was, het hy ekonomiese verraad gepleeg.
Hoogste lof
Ná ’n meestersgraad in sakestudies aan Unisa en ’n verdere nagraadse kwalifikasie aan die Universiteit van Londen het Brian Molefe in 1997 as ’n direkteur by die Tesourie begin werk. Hy is in 2003 weg as ’n adjunk-direkteur-generaal. Almal het met die hoogste lof van hom gepraat.
Hy was vir die volgende sewe jaar die uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Dié korporasie, wat onder meer daarvoor verantwoordelik is om staatsamptenare se pensioengeld te belê, se beleggings het onder sy leierskap gegroei van R308 biljoen tot ’n triljoen rand.
Die lofbetuigings het op hom neergereën. Hy het ’n eredoktorsgraad van die Glasgow Caledonian-universiteit ontvang en is aangewys as die uitvoerende hoof van die dekade, Afrika se Sakeleier van die Jaar, Beleggingskampioen van die Jaar, en het die Sakesukses in Afrika-toekenning ontvang.
‘Mr Fix-it’
Molefe is in Februarie 2011 as die uitvoerende hoof van Transnet aangestel. Hy is as ’n “Mr Fix-it” beskou en sy aanstelling is wyd verwelkom; hy was immers geskool in die Tesourie onder die leiding van mense soos Trevor Manuel.
Molefe se aanstelling by Transnet is al in Desember 2010 deur The New Age, deel van die Gupta-familie se media-imperium, aangekondig.
Niemand het tóé reeds onraad vermoed nie, en dis eers agt jaar later dat die huidige voorsitter van Transnet, Popo Molefe, by die Zondo-kommissie wou weet: “Watter aandeel het die Guptas in sy aanstelling gehad?”
Brian Molefe was ambisieus en vasbeslote om dié semistaatsinstelling, wat sedert sy stigting in 1990 deur korrupsie en wanbestuur aan bande gelê is, uit te bou en te moderniseer.
Hy het na sy aanstelling gesê: “Ons staan gereed om een van die wêreld se grootste logistieke-goedere-maatskappye te word. Die geskiedenis sal ons oordeel of Transnet blywende dividende vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, sy mense en die omgewing gelewer het.”
Resultate skets ’n rooskleurige prentjie van sy eerste jaar of twee by Transnet. Inkomste het met 21% van R38 biljoen tot R46 biljoen gestyg, spoorvolumes het met 9% gegroei tot 201 miljoen ton en 3,159 nuwe personeellede is aangestel.
Hy het gesê: “Oor die volgende sewe jaar gaan Transnet se belegging van R300 biljoen aan infrastruktuur dié land in die toekoms indra en die ekonomiese groei teweeg bring wat ons nodig het om ons mense op te hef en ’n beter lewe vir almal te skep.”
Dis inderdaad sewe jaar later. Brian Molefe se Transnet-droom lê aan skerwe.
En dan is daar PopoDie ander Molefe, Popo Simon, is ’n strydros-kameraad wat in die loopgrawe teen apartheid baklei het, of dit nou was as ’n studente-aktivis, ’n stigterslid van Azapo, sekretaris van die United Democratic Front (UDF) of ’n verraad-veroordeelde wat ’n dekade lank agter tralies moes deurbring.Hy’s ’n man wat wat vele laagte- en hoogtepunte in sy 67 jaar beleef het. Hy sê een van die laagstes was in die tweede helfte van die 1980’s toe hy op Robbeneiland gesit en deur Nelson Mandela na Pollsmoor ontbied is.
Mandela en die apartheidsregering was in gesprek en sy vrylating was op hande. Hy wou die binnelandse verset van die ANC ontmoet om hulle by die nasionale strategie van die beweging in te lyf.
Maar toe gaan die bewaarders op die eiland en haal ’n verkeerde Molefe uit die selle – ’n gewone misdadiger – en vat hom vir Mandela. Die ANC-leier het dié een kyk gegee en gesê dis nie Popo nie. Die regte Popo is darem later Pollsmoor toe geneem en het van aangesig tot aangesig met sy ikoon gekom.
Bykans 30 jaar later het Popo, nou die voorsitter van Transnet, een van sy laagtepunte as sakeman beleef toe hy ’n staatsbeheerde maatskappy gevind het wat weens staatskaping, korrupsie en bedrog in die “kloue van verlamming” was.
Popo het vir die kommissie gesê: “Die raad was stomgeslaan deur die wydverspreide korrupsie en hoe aankoopregulasies willens en wetens verbreek is.”
Hy het gesê geld is verduister en gesteel, en niemand het iets gedoen om dit te keer nie. Vir enigiemand wat gewoond is aan ’n “normale” manier van dinge doen, was die situasie by Transnet ’n “gruwelverhaal”.
Hooffigure geïdentifiseerHy het die hooffigure van staatskaping by Transnet geïdentifiseer as die uitvoerende hoof, Brian Molefe, die uitvoerende finansiële bestuurder, Anoj Singh, en die hoof van spoorgoedere en latere uitvoerende hoof, Siyabonga Gama, en gesê: “Die rekords sal wys dat hulle die grootste onreëlmatige kontrakte geteken het. In sommige gevalle sluit dit ‘afwykings’ in sodat hul liefling-maatskappye ook kon inkom.”Die kommissie hoor tans getuienis aan oor Transnet wat voortspruit uit 20 forensiese ondersoeke deur verskeie oudit- en regsmaatskappye wat 26,000 bladsye se getuienis beslaan en terugdateer na 2012.Popo Molefe het gesê daar was ’n duidelike patroon oor hoe staatskaping by Transnet plaasgevind het. Dit het begin met die minister van staatsbeheerde maatskappye – toe Malusi Gigaba – wat die regte aanstellings op die raad en in die topstruktuur gemaak het.
Die kommissie het gehoor dat die aankoms van Brian Molefe by Transnet die begin was van die aanstelling van ’n groep amptenare wat ’n gemeenskaplike doelwit gehad het: die bevordering van die belange van ’n groep individue en ondernemings wat onreëlmatig uit Transnet wou munt slaan.
Brian Molefe en sy kabaal het die besluite rondom aankope gesentraliseer en die beheerstelsels binne die organisasie laat verswak.
Popo Molefe het dit só gestel: “Dié aanstellings het met ’n vernis van kundigheid en professionaliteit gekom, maar wat ontbreek het, was etiese en morele leierskap. Dit was ’n baie gesofistikeerde operasie.”
Hy het hulle as ’n “sindikaat” beskryf wat Transnet – buig of bars – wou vernietig.
Transnet se uitvoerende hoof vir staatsbestuur, Peter Volmink, het getuig dat Brian Molefe geskep het en dan konsultante aangestel het om die probleem op te los.
Molefe het deur middel van hierdie “kunsmatige en dringende krisisse” honderde miljoene rand se werk geskep vir McKinsey, ’n internasionale bestuurskonsultasiemaatskappy wat op sy beurt nou saamgewerk het met Trillian, wat deur die Guptas beheer en bestuur is.
McKinsey en Trillian het agt kontrakte ter waarde van R2,1 biljoen by Transnet gekry. Ten spyte daarvan dat albei maatskappye baie min of minderwaardige dienste gelewer het, is hulle klokslag betaal.
(Popo) Molefe het gesê hoewel die raad bekommerd was oor dié krisisse en die honderde miljoene rande wat aan die “fix-it”-maatskappye uitbetaal word, het hulle niks gedoen om dit te stop nie.
Dit was op dié manier, het Volmink getuig, dat (Brian) Molefe daarin geslaag het om China South Rail (CSR) vir die multibiljoenrand-lokomotieftender aan boord te kry.
Vrye Weekblad het verlede week hieroor berig. CSR was aanvanklik nie onder die bieërs vir die kontrak nie, maar Salim Essa het dié maatskappy oortuig dat hy hulle kan help om ’n deel van die tender te kry.
Daar was aanvanklik twee lokomotiefverskaffers, maar Molefe het in 2014 aan die raad gesê dat Transnet geld gaan verloor indien hy ses jaar vir aflewering moet wag en dat vier in plaas van twee maatskappye die lokomotiewe sou voorsien.
Die maatskappye Regiments en Trillian, wat albei aan die Guptas verbind word, is as bestuurskonsultante aangestel en het elk R46 miljoen ontvang.
Vergrote begroting
Die koste van die lokomotiewe was aanvanklik R38 biljoen, maar die koste het tot R54 biljoen vermeerder. Die Gupta-vriendelike raad het die vergrote begroting goedgekeur en Essa en die Guptas het met meer as R5 biljoen in hul sakke weggestap.
Forensiese ondersoeke het ná die tyd die lokomotiewe se koste-inflasie as “onverklaarbaar, onredelik en buitensporig” bestempel en die transaksie self as “korrup, erg opgeblaas en onvanpas vir Transnet se behoeftes”.
Transnet se huidige waarnemende uitvoerende hoof, Mohammed Mahomedy, het getuig dat Molefe en sy kabaal Transnet “leeggebloei” het.
Hy het ’n bom gelos toe hy vertel het van ’n e-pos wat ’n uitvoerende amptenaar van CSR, Wang Pan, aan die gewese hoofbestuurder van verkryging van Transnet, Garry Pita, geskryf het waarin hy sê dat die geld “in jou rekening inbetaal sal word vir die ondersteuning wat jy gegee het”.
Pita was een van Molefe en Singh se vertrouelinge en hy word self wyd in staatskaping geïmpliseer. Volgens getuienis het hy kontrakte en dokumente onreëlmatig verander en aangepas.
Van Eskom na Transnet
Eskom was Brian Molefe se finale Waterloo. Sy vyfjaar-aanstelling as uitvoerende hoof by dié beleërde staatsmaatskappy in 2015 is wyd verwelkom – merendeels omdat sy kattekwaad by Transnet nog nie op die lappe gekom het nie.
Hy is aangestel teen ’n maandelikse salaris van meer as ’n halfmiljoen rand met die vooruitsig op ruim produksiebonusse.
Hy het ’n reputasie gehad as ’n man met ’n skerp intellek, ’n duidelike visie van waar hy wil uitkom, en ’n formidabele werk-etiek.
Met die aankoms van Molefe by Eskom – en dié van van sy sleutel-luitenant, Anoj Singh, wat as uitvoerende finansiële hoof aangestel is – het hy sy aandag gevestig op die kragvoorsiener se primêre energiebegroting van R40 biljoen.
In Desember 2015 het die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, agt nuwe Eskom-raadslede aangestel. Ses van die agt het óf sake- óf persoonlike verhoudings met die Gupta-broers en Salim Eassa gehad.
Dié sirkel van onheil is voltooi met die aanstelling van Ben Ngubane as Eskom-voorsitter.
Vrye Weekblad het verlede week berig hoe Molefe, Singh en die Gupta-vriendelike raad die familie en Essa gehelp het om hul steenkoolmynbelange uit te brei en uiteindelik kontrakte ter waarde van R12 biljoen te kry.
Eskom het die Guptas selfs R659 miljoen vooruit betaal om hulle te help om die Switserse maatskappy Glencore se Optimum-steenkoolmyn te koop.
Molefe en sy trawante het in 2015 en 2016 aan McKinsey en Trillian R1.5 biljoen se kontrakte gegee om ’n “ommekeer-strategie” vir die elektrisiteitsvoorsiener te prakseer. Daar het min van gekom, maar die geld is uitbetaal.
Dié geld is stilletjies oorgeplaas van die energiebegroting, wat onder meer bedoel was vir die instandhouding van Eskom se kragstasies. Kort daarna is Suid-Afrika met beurtkrag geteister.
Die res is geskiedenis.
Die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, het in Oktober 2016 haar nou befaamde verslag oor staatskaping by Eskom gepubliseer waarin sy onder meer bevind het dat Molefe gereeld in Saxonwold besoek afgelê het en Atul Gupta herhaaldelik gebel het.
Molefe het 44 keer met Ajay Gupta gepraat het, Saxonwold 19 keer besoek en was in gereelde kontak met Gupta-werknemers.
Op 3 November 2016 het Molefe ’n mediakonferensie gehou waar hy aangekondig het dat hy bedank “in belang van goeie korporatiewe bestuur”. Hy het trane weggepik, die aantygings teen hom ontken, en erken dat hy gereeld in Saxonwold was – nie om die Guptas te besoek nie, maar omdat sy gunsteling “sjebeen” in dié miljoenêrsbuurt wegkruip.
Pensioenuitbetaling op 46
Molefe is ryklik beloon vir sy 15 maande by Eskom toe die kragvoorsiener aangekondig het dat hy ’n R30 miljoen-“pensioenuitbetaling” gaan ontvang. Hy was toe 46 jaar oud, maar sy “pensioen” is uitgewerk asaof hy op 63 weg is.
Molefe was op ’n vyfjaarkontrak aangestel en was dus ’n “tydelike werknemer” wat nie op ’n pensioen geregtig was nie. Eskom het later die bedrag verminder en R11 miljoen aan hom uitbetaal.
Molefe is teen daardie tyd allerweë gesien as ’n Zuma-volgeling en hy het die Guptas en hul kaping van Eskom luid verdedig.
Ondanks Madonsela se verslag het Molefe as ’n sterk kandidaat na vore gekom om uiteindelik die minister van finansies, Pravin Gordhan, te vervang. Gordhan het soos ’n neet aan die staatsbeursie geklou en sy ondergang was net ’n kwessie van tyd.
Molefe se pad om die sleutels van die staatskas te bekom het oop gelê toe hy in Februarie 2017 as parlementslid beëdig is. Tydens die eerste sitting wat hy bygewoon het, wou die EFF se Sipho Mbatha weet: “Waar’s daai korrupte bliksem?”
Die adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, Jessie Duarte, het in Desember 2017 erken dat in Maart daardie jaar, net dae voordat Zuma vir Gordhan die trekpas gegee het, hy Molefe as die nuwe minister van finansies wou aanstel.
Die topses van die ANC was sterk daarteen gekant en Malusi Gigaba is in Gordhan se plek as die minister van finansies aangestel. Molefe het drie maande later as parlementslid bedank.
Hoekom het hy dit gedoen?
Brian Molefe was eens ’n toegewyde ondersteuner van Thabo Mbeki en was in Desember 2017 in Polokwane ’n verslae man toe Jacob Zuma as die nuwe president van die beweging aangewys is.
Hoekom het hy uiteindelik sy lot by Zuma en die staatskapers ingegooi wat uiteindelik sy loopbaan vernietig het?
Kan dit wees dat hy te groot vir sy eie skoene geword het? Hy het by Eskom oorgeneem midde-in ’n beurtkragkrisis en het homself krediet gegee dat hy nie net die ligte aangehou het nie, maar Eskom uit die krisis gekry het.
Dis nie heeltemal waar nie, sê die gerespekteerde finansiële joernalis Carol Paton. Molefe blaas sy eie beuel te hard omdat die einde van beurtkrag by Eskom teweeg gebring is deur ’n skielike daling in aanvraag deur nywerhede, die mynwese en landbou.
Daily Maverick se Rebecca Davis sê dat Molefe se afwaartse profiel verband kan hou met die oeroue temptasie van mag en geld. Hy het moontlik gevoel dat rykdom hom toekom en dat die Guptas onder die loep was vir sakepraktyke waarmee wit entrepreneurs jare lank mee wegkom.
Inderdaad. Vraatsug is ’n siekte in Suid-Afrika en het heel moontlik ook vir Molefe besmet.
Hy is in 2016 van sy vrou geskei. Luidens berigte het hy ’n kind by sy gewese huiswerker verwek en vir haar ’n vierslaapkamer-huis met ’n swembad gekoop, en moes onderhoud betaal. Hy het dié gerugte as kwaadwillige skinderpraatjies bestempel.
Molefe is in 2017 by ’n glansgeleentheid met ’n veel jonger vrou getroud. Hy het in dieselfde tyd vir hom ’n luukse villa vir R10 miljoen in die Cornwall Hill-landgoed in Pretoria gekoop. Hy het dié huis, wat vir R17 miljoen gewaardeer is, vir ’n “appel en ’n ei” van ’n vriend gekoop wat ’n ander aanbod wat R14 miljoen van die hand gewys het.
Molefe het in ’n ander villa in dieselfde landgoed gewoon wat hy nie verkoop het nie. Hy het ook ’n villa naby die Hartbeespoortdam in die Noordwes-provinsie, en luidens berigte ’n vakansiehuis in Plettenbergbaai.
Molefe is steeds amptelik op “pensioen” en handhaaf ’n lae profiel. Hy het intussen nie die moontlikheid uitgesluit nie dat hy self voor die Zondo-kommissie kan getuig om sy naam in ere te probeer herstel.
Molefe sit in ’n geldelike verknorsing nadat die hooggeregshof in 2018 beslis het dat hy nie geregtig was op die R11 miljoen wat Eskom aan hom uitbetaal het nie en dat hy dit moet terugbetaal. Hy het ’n smeekskrif aan die president van die Appèlhof gerig, maar dit is verlede maand verwerp.
Intussen het Transnet ’n eis van R79 miljoen teen Molefe ingestel omdat hy sy vertrouensposisie by Transnet misbruik het en nagelaat het om sy fiskale verpligtinge uit te voer.
Molefe en sy trawante moet ook nou wag en kyk of Shamila Batohi se nuwe span van die Nasionale Vervolgingsgesag die lang arm van die gereg om hulle gaan span.
Volgens die getuienis wat tot dusver voor die kommissie gelewer is, kan Molefe aangekla word van onder meer bedrog, korrupsie en rampokkery. Hy word deur minstens 15 jaar tronkstraf in die gesig gestaar.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.