Dis tyd om wal te gooi teen uitvloei van vaardige jong mense

KREATIWITEIT EN TALENT RAAK WEG

Dis tyd om wal te gooi teen uitvloei van vaardige jong mense

Buitelandse geleenthede sal al hoe aanlokliker word as die regering nie onder meer plan maak teen korrupsie en misdaad nie, skryf JONATHAN JANSEN.



EK het gemengde gevoelens gehad toe my seun en sy gesin besluit het om Suid-Afrika te verlaat vir 'n onderwyspos in Nieu-Seeland.
Aan die een kant is dit die werklikheid van werk in die globale ekonomie; jong mense het 'n veel groter kans as hul ouers om in ander dele van die wêreld te werk. Dis ook nie 'n slegte ding vir jong mense om te reis, ander kulture te ervaar en in ander kontekste te leer nie.
Aan die ander kant verlaat al hoe meer van ons talentvolste jong professionele mense die land in 'n poging om aan die wreder werklikhede van Suid-Afrika ná apartheid te ontsnap, en dís iets waaroor ons moet praat.
As 'n pa is ek natuurlik bevooroordeeld, maar my seun is 'n uitstaande opvoedkundige sielkundige wat toegewyd werk om kinders met leergebreke te help. Sy vrou is een van die kreatiefste en talentvolste onderwysers wat haar kundigheid in die kunste tot voordeel van jong kinders in die grondslagfase aanwend. Albei het grade van voorste Suid-Afrikaanse universiteite, wat 'n wesenlike belegging van openbare en persoonlike geld in hul opleiding verteenwoordig.
Nou gaan hulle vir minstens twee jaar met kinders in landelike gebiede noord van Auckland werk.
Die waarheid is dat al hoe meer professionele Suid-Afrikaners in die buiteland leef en werk om aan misdaad te ontsnap; baie van hulle vertel gruverhale van ervarings met misdadigers. Sommige van hulle is vort uit vrees vir hul kinders se veiligheid.
Jong gesinne verlaat ook die land weens kommer oor die gehalte van onderwys wat hul kinders sal hê - asook oor die knaende onsekerheid oor die ekonomie en die toenemende snydende toon van rassepolitiek.
Hopeloos en ongewens
Of jy nou daarvan hou of nie, wanneer jong wit mense luister na dreigemente oor die onteiening van private eiendom en onder mekaar stories vertel oor hoe hulle vir poste oor die hoof gesien is oor die kleur van hul vel, dan voel hulle nie net hopeloos nie, maar ook ongewens.
Elders is die geleenthede vir jong Suid-Afrikaners eindeloos. Ek het al ophou tel hoeveel van my voormalige studente, wit én swart, deesdae in Dubai klas gee. 'n Groeiende aantal familielede en vriende gee Engels in Brittanje of Viëtnam of ander Oosterse lande.
Op baie jong professionele mense wag opwindende avonture in die vreemde, soos die een wat vertel word in een van my geliefste nuwe boeke, There goes English teacher: Life lessons from a globe-trotting educator deur Karin Cronjé. Dis 'n humoristiese memoir oor klasgee in 'n klein Koreaanse dorpie wat mens se oë laat oopgaan.
Pres. Cyril Ramaphosa het op 'n onlangse verkiesingsbesoek aan my nuwe tuisdorp, Stellenbosch, gesê: “Ek wil nie hê wit, jong Suid-Afrikaners moet die land verlaat nie. En as ek kon, sal ek hulle aan 'n boom vasmaak en sê moenie gaan nie, ek wil julle hier in hierdie land hê. So, ek wil álmal se vaardighede [hier] hê.”
Ek het gedag dís 'n belangrike stelling, maar die verkiesings was skaars verby of die sekretaris-generaal van sy party sê hierdie in 'n voorbereide toespraak ter ere van die grote Walter Sisulu: “Beheer van die hulpbronne van ons land is steeds hoofsaaklik in die hande van wit mense, die afstammelinge van kolonialiste wat oorspronklik ons rykdom en grond gesteel het.”
Wanneer jong wit Suid-Afrikaners dié soort dubbelpratery hoor, kies hulle koers lughawe toe.
Nie net ’n rassekwessie
Om die land te verlaat is egter lank nie meer nét 'n rassekwessie nie. Trouens, sommige peilings dui daarop dat meer jong swart professionele mense as wittes die land verlaat.
Dis nie ongeskoolde jong mense sonder vaardighede wat die land verlaat nie; dis ons talentvolste mense wat opgeraap word om te werk as ingenieurs, inligtingstegnologiespesialiste, bestuurskonsultante of ouditeurs.
En met 'n skoolstelsel wat vir 80% van ons kinders steeds erg wanfunksioneel is, is die laaste ding wat ons kan bekostig om talentvolle onderwysers te verloor.
Konsekwente boodskap nodig
Die vraag is: Wat kan ons daaraan doen?
Eerstens moet die regering begin om 'n konsekwente boodskap te verkondig: Talentvolle professionele mense moet in die land bly, en dié wat weggaan behoort in een of ander stadium terug te keer om die ekonomie te help herbou.
Ons leiers moet dié idee as 'n wen-wen-situasie aan individue sowel as die groter gemeenskap verkoop; ek het nog nooit geglo dat ons wit talent vir swart geleenthede hoef op te offer nie. Daar is meer as genoeg produktiewe werk vir vaardige professionele lui oor die spektrum heen.
Tweedens moet die regering wys dat hy werk maak van korrupsie, misdaad en die gehalte van onderwys.
Uiteindelik sal dit aksie en nie net woorde wees nie wat talentvolle jong mense in die land hou.
En natuurlik sal dít beteken ek sien my kleindogter meer dikwels!
 

Hierdie rubriek het eers in ons susterspublikasie TimesLive verskyn.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.