Grond: Cyril se paneel eindig in ʼn cul de sac – en wat nou?

DOODLOOPSTRAAT

Grond: Cyril se paneel eindig in ʼn cul de sac – en wat nou?

Daar kan seker diverse interpretasies wees oor wat pres. Cyril Ramaphosa met sy adviespaneel oor grondhervorming wou vermag, maar nou ja ... die finale verslag is op pad. En hulle het nie aan die verwagtinge voldoen nie, skryf PIET CROUCAMP.


DIE raadgewende paneel wat pres. Cyril Ramaphosa aangestel het om hom te adviseer oor veranderinge aan artikel 25 van die Grondwet het in ʼn doodloopstraat geëindig.
Die finale verslag is nou op pad na die adjunkpresident, David Mabuza, wat dit aan ʼn interministeriële komitee gaan oorhandig. En dit is jammer dat die paneel eintlik net met die vraagstuk van “onteiening sonder vergoeding” geassossieer word, want dit is uiters noodsaaklik dat privaat eienaarskap, grondhervorming en voedselsekerheid behoorlik deurdink word.
Ongelukkig het die meeste deelnemers aan die paneel waarskynlik met vooropgestelde veronderstellings – wat hulle net wou verdedig – opgedaag, eerder as om deel te neem met die doel om óf konsensus te soek óf kompromieë aan te gaan.
Tembeka Ngcukaitobi het vir alle praktiese doeleindes weggelam vroeg nadat die paneel se werksaamhede begin het. Sy verskoning was egter heel legitiem. Die paneel moes die president adviseer in die konteks van ʼn partybesluit wat die president reeds daartoe verbind het om die Grondwet te verander.
Bloudruk
Die verandering aan die Grondwet moes onder meer wegdoen met die persepsie dat die gewillige-koper-gewillige-verkoper-beginsel ooit ’n statutêre bloudruk was. Wat hom betref, maak die Grondwet reeds voorsiening vir onteiening sonder vergoeding en moet die regering geblameer word vir nié uiting gee aan dit wat reeds binne die jurisdiksie van die staat val nie.
En met die nodige semantiese en juridiese gimnastiek is dit ook duidelik dat géén vergoeding ná onteiening wetlike implikasies kan hê.
Die punt wat Ngcukaitobi nie insien nie, is dat die morele gewig van onteiening sonder vergoeding waarskynlik reeds in die 1996-grondwet baie duidelik gestel moes gewees het. Die historiese ongeregtigheid in terme waarvan swart Suid-Afrikaners hul regte op grond verloor het, kan nie “geïmpliseer” word nie. “By implikasie” relativeer ’n ongeregtigheid wat die skrywers van die Grondwet moes voorsien het.
Indien enigiemand op die paneel gedink het dat die verandering aan artikel 25 steeds onderhandelbaar is, moes dit met ʼn stewige skeut politieke naïewiteit gewees het. Om die waarheid te sê, die voorskrifte in terme waarvan die paneel saamgestel is, maak dit redelik eksplisiet dat die gesprek sal plaasvind in die konteks van die Nasionale Vergadering se besluit dat artikel 25 gewysig moet word.
Ngcukaitobi se gebrek aan belangstelling het dus met meer te doen as net die feit dat die paneel nie betaal word nie, Hy verstaan ʼn grondige en geldige regsbeginsel. Die moeiliker vraag is of historiese ongeregtighede deur nuwe ongeregtighede reggestel moet word, en of daar tegnokratiese oplossings vir morele kwessies is.
Dan Kriek van Agri SA sou waarskynlik uiters ongemaklik wees met die “geen vergoeding”-regsbeginsel, hoewel dit waarskynlik meestal van toepassing sou wees op stedelike grond eerder as plase.
Die probleem vir Dan Kriek en Nick Serfontein (Sernick-groep) is dus dat hulle nie werklik in die komitee moes dien nie, aangesien hulle nooit sou aanvaar dat die Grondwet, eerstens, verander moes word nie, en, tweedens, dat daar bepaalde gevalle kan wees waar geen vergoeding betaalbaar is nie.
Status quo
Om egter Ramaphosa se versoek om deel te wees van die paneel van die hand te wys, sou ʼn doodskoot vir georganiseerde landbou se betrokkenheid by die gesprek gewees het.
Ramaphosa en Kriek het reeds ʼn vertrouensverhouding ontwikkel en die Agri SA-president maak juis staat op hierdie verhouding – en die president se ondernemings om grondregte uit te brei eerder as in te perk – om aan landbou ’n regverdige kans te gee om minstens die status quo te handhaaf.
Kriek sou nie inkoop op enige variasie van onteiening sonder vergoeding nie, maar as ʼn strategiese punt is dit waarskynlik juis wat hy moes doen. Hy sou dan daarop kon aandring dat dit wat reeds implisiet in die Grondwet is, net eksplisiet omskryf moes word, en hy sou die president se oor daarvoor gehad het.
Want aangesien kommersiële landbou vrede het met die bestaande veronderstellings oor onteiening in die Grondwet, kan aangeneem word dat “eksplisiet” ’n waardige plaasvervanger vir “implisiet” sou wees.
Deur te weier om ʼn verandering aan die Grondwet te aanvaar, ontneem Kriek en Serfontein die president van die opsie om ʼn nominale verandering aan die Grondwet te aanvaar as ʼn bevestiging van die besluit van die ANC se nasionale konferensie dat die Grondwet inderdaad gewysig moet word. Dit is nou buiten die feit dat kommersiële landbou die geleentheid ontneem word om aan die herbewoording van artikel 25 deel te neem.
Ingrypende veranderinge
Daar kan seker diverse interpretasies wees wat betref die president se doel met die paneel, maar uiteindelik moet die slotsom wees dat die president, as ʼn minimumstandaard, van raad bedien wou word om dit wat reeds implisiet in die Grondwet staan, eksplisiet te maak. Die paneel kon seker ander, meer ingrypende voorstelle ook maak, maar dit sou moes wees in die konteks van ʼn verandering aan die bewoording van artikel 25.
Dit is juis die waarskynlikheid van meer ingrypende veranderinge wat Kriek en Serfontein onrustig sou maak. Indien hulle ingestem het tot ʼn wysiging aan die Grondwet, en Ruth Hall (van UWK se instituut vir armoede-, grond- en landelike studies, oftewel Plaas) en die voorsitter, Vuyo Mahlati, slaag daarin om ʼn radikale verandering in die finale verslag in te skryf – wat eienaarskap betref – was Kriek in groot moeilikheid by Agri SA. Die “gelekte” verslae dui almal daarop dat Kriek en Serfontein se vrese nie totaal ongegrond was nie.
Kommersiële boere sien meestal rooi wanneer Ruth Hall landbousake praat. Sy maak ook die punt redelik dikwels, ruiterlik en animaties dat wat ook al die uiteinde van grondhervorming is, dit nie die status quo van landbouproduksie en grondeienaarskap mag reproduseer nie. Haar aksie is teen, waarna sy verwys as, die neo-liberale agenda van kommersiële landbou.
Ideologiese dreigement
Daar is weinig twyfel dat Hall die “sonder vergoeding”-deel van onteiening sien as ʼn vorm van noodwendige geregtigheid. Die oplossing vir die grondvraagstuk is dus ideologies en gaan oor die herstel van geregtigheid. Dit kan nie bloot ʼn tegnokratiese proses wees nie.
Kriek het in sy eerste ontmoeting met die president toegegee dat daar ʼn historiese ongeregtigheid was, maar sal aanvoer dat selfs morele vraagstukke met sinvolle tegnokratiese proses bestuur moet word.
Ben Cousins, ook eens betrokke by Plaas, maak selfs die punt dat indien grondhervorming nie ʼn drastiese regstelling van historiese onregtighede beteken nie, die miljoene verarmde en gegriefde jeugdiges hulle op ʼn gewelddadige wyse sal laat geld.
Dit is ʼn uiters geldige punt dat daar historiese ongeregtighede was en dat dit inderdaad reggestel moet word, maar dit is nie ʼn deurdagte oordeel nie. Wat hy eintlik doen, is om georganiseerde landbou en paneellede soos Kriek en Serfontein te dreig met ʼn politieke Armageddon indien hulle nie toegee aan sy en Plaas se verstaan van historiese ongeregtigheid nie.
Ramaphosa het hom reeds verskeie kere in die openbaar én in die Nasionale Vergadering verbind tot ʼn wysinging aan die Grondwet. Hy is ook ingebind deur die ANC se nasionale konferensie in Desember 2017 wat die voorstel aanvaar het dat die Grondwet gewysig moet word om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.
Sonder om onnodig krities te wees, kan die vraag tóg gevra word of paneellede wat steeds nie ingekoop het op die teorie dat die Grondwet verander gaan word nie, enigsins ʼn rol in die paneel gehad het.
Die paneel se besluit oor die Ingonyama-trust is egter die politieke hekkie wat te hoog is vir Ramaphosa om oor te kom. Die ANC se nasionale konferensie het ʼn resolusie aangeneem dat die Ingonyama-trust moet ontbind. Die dapperheid vir die besluit is waarskynlik geput uit die Kgalema Motlanthe-verslag wat tradisionele leiers beskryf het as “village tin-pot dictators”. Ironies genoeg het die Motlanthe-verslag eintlik reeds gedoen wat die president se paneel moes doen.
Daarna, en in aanloop tot die verkiesing, het die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC egter aan die president ʼn mandaat gegee om aan koning Goodwill Zwelithini die versekering te gee dat dit nie gaan gebeur nie. ʼn ANC president kan dissiplinêr aangekla en verwyder word indien hy nie gehoor gee aan die besluite van die nasionale konferensie nie, en Ramaphosa mag dalk net ʼn perd opgesaal het wat eers met die volgende nasionale konferensie gaan begin spring.
Politieke gaping
Maar dit laat ook vir Kriek en Serfontein met ʼn politieke gaping. Aangesien minstens Hall en Mahlati baie sterk daaroor voel dat die Ingonyama-trust moet ontbind, is die president nie in ʼn situasie waar hy die finale verslag net so kan aanvaar nie; iets wat hy tot op hede byna sonder uitsondering gedoen het met die finale verslae van die kommissies en komitees wat hy aangestel het.
Eerder as om te “cherry pick” uit die verslag vir waarmee hy polities kan saamleef, gaan Ramaphosa nou waarskynlik kennis neem van die verslag en die interministeriële komitee versoek om ʼn finale beleid vir grondonteiening sonder vergoeding te ontwikkel. Die komitee sal nou opnuut saamgestel moet word nadat Ramaphosa sy nuwe kabinet aangestel het.
Die finale bewoording van die wysiging aan die Grondwet is nou al wat saak maak. Kriek en Serfontein wou nie deelneem aan die proses wat die wysiging verwoord nie, en sal uiteindelik ʼn regsmening voor die interministeriële komitee moet doen wat Vuyo Mahlati se paneel nie kon doen nie.
Daar sal nog baie gepraat word oor wat in die binnekringe van die paneel gesê en gedoen is. Maar Mahlati, wat terloops ook voorheen die president van die African Farmers Association was, se bestuur van die dispute, asook die finale verslag, was eenvoudig onbeholpe, sydig en destruktief.
Sy kon nooit die vertroue van al die paneellede kry vir die noodsaak van onafhanklike meningsvorming nie. Ruth Hall se menings het sonder ʼn begroting gekom en wou ʼn historiese ongeregtigheid met ʼn filosofiese hamer regstel.
Bulelwa Mabasa is ’n regspraktisyn, maar nie ’n grondwetkenner nie en moes waarskynlik nooit deel van die paneel gewees het nie.
Ek sal altyd wonder wat Wandile Sihlobo, Thandi Ngcobo en Mohammad Karaan se menings was, maar hulle kaarte was te naby die bors vir ʼn buitestander. Dis jammer, maar dit is nou een instelling wat die president met goeie bedoelings geskep het, maar wat nie aan die verwagtinge voldoen het nie.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.