Hamba kahle, Stenie

RUS SAG, OU BROER

Hamba kahle, Stenie

Lank voordat hy een van Suid-Afrika se jongste regters geword het, was Anton Steenkamp 'n joernalis by Vrye Weekblad. Sy tragiese dood hierdie week in Zambië het ons harte gebreek. KARIEN NORVAL bring hulde, en PEARLIE JOUBERT, CHARLES LEONARD en ELSABÉ WESSELS onthou hom in woorde.


ANTON Steenkamp se tragiese sterfte op Maandag 20 Mei laat Suid-Afrikaners armer in ’n tydperk waarin ons mense soos hy bitter nodig het. Dis nie net ’n groot verlies vir sy familie, sy vriende en ons land nie: Regverdigheid, integriteit, onafhanklikheid, menslikheid, nederigheid, deurdagtheid en vriendelikheid het almal ’n dierbare vriend verloor. Stenie, soos hy aan sy menigte geliefde vriende bekend was, het vurig daaraan geglo om die regte ding te doen.
In die dae sedert sy dood, het kommentaar en huldeblyke deur juriste, kollegas, vakbondleiers en politici herhaaldelik na hierdie karaktertrekke verwys. Dié wat hom as vriend geken het, sou daarby voeg: lewensblyheid, humorsin, vrygewigheid, lojaliteit en sommer net lekker lag.  
My eerste ontmoeting met Anton was natuurlik by Vrye Weekblad. Ek was deel van die groep mense wat, soos Max du Preez dit in sy boek Oranje Blanje Blues beskryf, Vrye Weekblad met meer idealisme as gesonde verstand begin het, toe P.W. Botha en die Totale Aanslag aan die einde van 1988 in dolle vaart was.
Anton het in 1990 by ons aangesluit – ’n entoesiastiese jong man met ’n regsgraad, en ’n toegewydheid aan geregtigheid en demokrasie. Hardwerkend, nogal ernstig en aanvanklik effe skaam, het hy gou uit sy dop gekruip en ’n skerp en aweregse sin vir humor begin openbaar.
Vrye Weekblad was ’n rollercoaster ride waartydens hegte vriendskappe gesmee is en onvergeetlike herinneringe gebou is, en onse Anton (ja, ons wil hom opeis en vashou aan daai herinneringe) was ’n integrale deel van die wese en opbou van die koerant.
Ek is mettertyd weg by Vrye Weekblad, terug na die regte toe, en praktiseer nou by Cheadle Thompson and Haysom Inc., die firma waar Anton ná Vrye Weekblad sy regsloopbaan begin het. Ons paaie het oor baie jare gekruis en weer gekruis ... En nou is daar net ’n groot, akute leemte en hartseer in die plek van Anton se aansteeklike lewensblyheid, sagte waardigheid en onblusbare lus vir die lewe.
Toe ek gevra is om oor Anton te skryf, was ek onmiddellik oorval deur ’n diep vrees oor of ek werklik geregtigheid aan hierdie besondere mens sou kon doen. Gelukkig hoef ek die taak nie alleen aan te pak nie. Hieronder deel van die oorspronklike Vrye Weekblad se redaksielede hulle herinninge aan ons dierbare vriend met Vrye Weekblad se huidige lesers.
Hamba kahle, Stenie.
Elsabé Wessels
SUID-AFRIKA in die 1980's was ’n land midde-in 'n burgeroorlog. Binne daardie ruimte was wit Afrikaanses met 'n sterk anti-apartheidsoortuiging 'n redelike skaars item. Daar was ook nie 'n mediastem om deel te neem aan die stryd teen apartheid nie. Veral jonger mense en studente het met een noodtoestand ná die ander al hoe meer vervreemd geraak van die klaarblyklike leuens en blatante sensuur wat die grondslag gevorm het van die leidende Afrikaanse media.
Vrye Weekblad was gou 'n heenkome vir jongmense wat politieke bevryding in Afrikaans wou lees en praat, en dis in dié klimaat dat Anton by Vrye Weekblad begin werk het. As 'n politieke korrespondent by Business Day het ek heelwat kontak gehad met Afrikaanse studente met sterk politieke oortuigings. Anton was een van dié studente. Toe hy later by Vrye Weekblad aanklop, kon hy sy  passie vir sosiale geregtigheid met oortuiging uitleef. Sy belangstelling in arbeidsreg het daar ontkiem.
As 'n kollega was Anton 'n onderhoudende gespreksgenoot. Wat my altyd opgeval het, was sy meervoudige persoonlikheidstrekke in die uitpluis van 'n saak: Hy't 'n sterk akademiese grondslag gehad en sy invalshoek was altyd koel-rasioneel, amper pedanties. Dan het sy instink vir 'n meer subjektiewe benadering die debat begin kleur gee, en wel, kort voor lank het sy sin vir humor en die absurde die kringloop voltooi.
Ondanks al die guitige ontknopings, is dit Anton se onkreukbare integriteit wat my sal bybly. Hy was hardkoppig in sy soeke na geregtigheid, en hy het omgegee dat dit verwesenlik moet word. Ek dink hy sou dié week bly gewees het dat Cyril Ramaphosa die land se nuwe president is. Dit sou beteken dat die skaal weer na die regte kant toe kantel.
Charles Leonard
EK het twee broers – een is my biologiese broer aan wie ek baie geheg is; die ander een is Anton. Ek praat nog van hom in die teenwoordige tyd, want sy afsterwe is nog heeltemal onwerklik. Ek het dit nog nie aanvaar nie – iemand so deel van my lewe kan mos nie skielik weg wees nie.
Ons het reeds in die vroeë 1980's beste vriende geraak. Ons het een naweek ontmoet by by ’n “leierskamp” by die toentertydse RAU (nou UJ) se eiland in die middel van die Vaaldam. Ons was die twee token lefties in ’n see van Afrikaanse universiteitskleurbaadjies en gepaardgaande hoofseun- en hoofmeisiehoudings – Anton van Stellenbosch, en ek van RAU. Dit was vriendskap met die eerste oogopslag.
Die vriendskap het oor die jare gehou – by Vrye Weekblad, drinkplekke, konserte, jols, later troues, saam met ons vrouens, kinders, in werkplekke, by sportbyeenkomste, amper elke dag oor die foon.
Anton was my kameraad, vriend, raadgewer, mede-kakprater en boekskenker. Ek was sy musiekgewer, sy oor, die lagger vir sy grappe, luisteraar vir sy stories en wyshede. En nou skielik is hy weg, ek sal dit moet begin glo. Dit sal bitter moeilik wees. Amper onmoontlik.
Pearlie Joubert
KORT nadat Anton as ’n regter in die Arbeidshof aangestel is, het ons mekaar vroeg een oggend aan die bokant van Langstraat raakgeloop. Dit was lente in Kaapstad. Die akkerbome se blare was neongroen en die lig oor Tafelberg so helder en skoon, mens kon vir ewig sien.
Ek het uit die Langstraat-baddens gestap. Anton het op sy motorfiets voor my verby geflits. “Stenie!" het ek agter hom aan geskreeu.
Anton het gesê ek móét saam met hom kom koffie drink by 'n “spesiale plek".
Gesels-gesels is ons in Koningin Victoriastraat af. Anton was mal oor sy nuwe werk. Uitgevat in 'n pak klere; al die stres van “targets reached" en “billable hours" weg. Al daai jare by kommersiële firmas – die tyd by Edward Nathan Sonnenbergs (ENS) toe hy moedverlore aan die onderkant van Langstraat gewerk het – weg.
Ons het gelag oor daai tyd: Mail & Guardian, waar ek toe gewerk het, het oor ENS se gebou uitgekyk. Ek het eendag vir Anton gebel en gevra dat hy sy hemp uittrek en vir my waai sodat ek kon sien waar sy kantoor is.
“Niemand by ENS trek ooit hulle hemde uit en hang by vensters uit nie, die vensters kan nie eens oopmaak nie," het Anton gesê.
Die spesiale plek waar ons gaan koffie drink het, was die regters in Kaapstad se ruskamer. Ou fluweel-oorgetrekde stoele op krullerige voete; houtpaneel-mure; vars blomme in groot potte.
'n Man wat soos 'n butler aangetrek was, het vir ons twee cappuccino's gebring. “Jirre, ek wens ek was 'n regter," het ek gesê. “Jy sal 'n terrible regter maak," het Anton gesê.
Ons het geskinder oor vriende, gepraat oor ons kinders. Anton het gepraat oor 'n motorfietstog wat hy beplan.
Toe ek opstaan, was daar twee (groot) nat boude op die liggroen stoel se oortreksel waar ek gesit het. Ek het nog my nat swembroek onder my jeans aangehad. Anton het senuweeagtig rondgekyk en toe 'n kussing bo-op die nat stoel gesit en gesê ons moet vinnig wegstap. 
Ons het gelag toe ek buite omdraai en sien hy het eier op sy das gemors. Hy het sy das afgelek en gesê kos op sy das was beter as wat “lyk soos pee op die stoele van die regters".
As ek 'n man met 'n netjiese broek en skoene op 'n motorfiets in Kaapstad sien, lig ek onnadenkend my arm in 'n waai. Ek sal aanhou om dit te doen, Anton.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.