Hoe meer ons uitvind, hoe donkerder lyk Steinhoff se toekoms

GROOT GEKNOEI

Hoe meer ons uitvind, hoe donkerder lyk Steinhoff se toekoms

Die gevalle korporatiewe reus Steinhoff het uiteindelik sy jaarverslag vir 2017 uitgereik. Die skaamtelose bedrog wat daarin blootgelê word, vergelyk selfs met die Enron-skandaal, skryf WARREN THOMPSON.

  • 24 Mei 2019
  • Nuus & Politiek
  • 7 min om te lees
  • artikel 16 van 30
  • Warren Thompson


NÁ maande en maande se vertragings is Steinhoff se 2017-jaarverslag en die gepaardgaande finansiële state die dag voor die verkiesing uiteindelik openbaar gemaak. Dit is die oorspronklike weergawe van dié state wat gelei het tot die ondergang van Markus Jooste, die groep se voormalige uitvoerende hoof.
In die jaarverslag van 327 bladsye word ʼn web ontbloot van twyfelagtige transaksies tussen verwante partye, enorme persoonlike verryking ten koste van aandeelhouers en – op R246 biljoen – een van die vermetelste gevalle van bedrog wat al aan die lig gekom het.
In sy reaksie op die Steinhoff-resultate skryf Peter Armitage, stigter en uitvoerende hoof van Anchor Capital: “Die state gee verdere besonderhede van die omvang van onreëlmatige transaksies, valse winste en gemanipuleerde rekeninge. Dis moeilik om te glo dis so groot. Onthou, die wêreld se grootste bedrog, Enron, was R650 biljoen.”
En, het Armitage bygevoeg, wanneer Steinhoff oor ʼn paar weke van nou af sy resultate vir die boekjaar tot einde September 2018 uitreik, “sal dinge waarskynlik erger lyk”.
Dis wanneer die nuwe 2017-state vergelyk word met die oorspronklike 2016-state (voordat dit hersien is) dat die harde werklikheid duidelik word. Natuurlik het die mark geweet enorme afskrywings was op pad, maar tog: In terme van nie-huidige bates alleen het €11 biljoen in die niet verdwyn, hoofsaaklik in die vorm van drie items – klandisiewaarde, ontasbare bates en eiendom.
Al drie hierdie items dra Jooste se stempel van onderlinge transaksies en manipulasie. Klandisiewaarde word normaalweg geskep wanneer ʼn maatskappy ʼn ander een oorneem vir meer as sy netto batewaarde, maar in hierdie gevalle sou dinge anders werk. Jooste en sy makkers sou dikwels hul betrokkenheid by ʼn bate agter derde partye wegsteek en dit dan teen ʼn opgeblase prys aan Steinhoff verkoop. Die verskil tussen die opgeblase prys en die netto batewaarde is dan as “klandisiewaarde” op Steinhoff se boeke gewys ten einde die hoër prys te probeer regverdig. Dit sou Steinhoff se boeke dan beter laat lyk as wat dit in werklikheid was.
Die kategorie “ontasbare bates” bestaan hoofsaaklik uit handelsmerke in die Steinhoff-groep wat aan onverklaarde maar verwante partye verkoop is, en dan weer op bruikhuur aan die groep teruggegee is. Steinhoff het dan dikwels dié handelsmerke later teen ʼn hoër prys teruggekoop en sodoende sy balansstaat beter laat lyk.
Balansstaat halveer
So byvoorbeeld het Financial Mail verlede jaar oor ʼn eiendomsmaatskappy genaamd Alvaglen geskryf onder die opskrif “Steinhoff’s secret history”. Jooste het Alvaglen met die hulp van sy makkers ontwikkel en dit toe aan Steinhoff verhuur. Later is Alvaglen teen ʼn lekker vet premie aan Steinhoff verkoop.
Die nuutste jaarverslag wys dat Steinhoff se balansstaat feitlik halveer as jy sy bates teen hul werklike waarde aangee. Die bedrag vir beleggings en lenings aan buitepartye val byvoorbeeld met 89% tot €107 miljoen. Wat hier gebeur het, en sonder dat aandeelhouers daarvan bewus was, is dat daar slegs ʼn geringe kans was dat die meeste van dié lenings terugbetaal sou kon word, en dat die meeste van die sogenaamde beleggings baie bedenklik was.
Neem byvoorbeeld die JD Group se leningsboek vir verbruikersfinansiering, waarvan die doel was om klante van Joshua Doore en Morkels te help met finansiering om meubels te koop. In 2014 was dié leningsboek vol slegte skuld. Steinhoff het egter daarin geslaag om die leningsboek van sy eie boeke af te kry.
Eers het Steinhoff groot gewag gemaak daarvan dat die verkoop van die leningsboek aan die Franse bank BNP Paribas “op hande” was, maar die transaksie het deur die mat geval. In sy desperaatheid om van die slegte skuld ontslae te raak, het Steinhoff in die geheim geld geleen aan ʼn “derde party” in Switserland, Campion Capital, ten einde JD Consumer Finance te “koop”. (Die leningsboek was in JD Consumer Finance gesetel.)
Maar Campion Capital was nie werklik ʼn buiteparty nie. Sy uitvoerende hoof was Siegmar Schmidt, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff in Europa.
Gevolglik het die ouditeurs nou besluit dat Steinhoff steeds vir JD Consumer Finance en die slegte skuld aanspreeklik is en dit terug op Steinhoff se boeke geplaas. Boonop is die waarde daarvan met ʼn verdere €150 miljoen afgeskryf vir die hersiene 2016-boekjaar.
Ontrafeling
Dit is maar een van die meer ooglopende voorbeelde van wat gebeur het, en van die ontrafeling wat Jooste se opvolger, Louis du Preez, moet probeer bewerkstellig in die lig van die dosyne “fiktiewe” transaksies wat deur PwC se forensiese ouditeurs aan die lig gebring is.
In nog ʼn wending moes Steinhoff ʼn nuwe item op die balansstaat skep vir sy 2017-state: “beleggingseiendom”. Dit is vanweë Jooste se voorliefde om luukse woonstelblokke in plekke soos Groenpunt in Kaapstad te koop en dit dan aan Steinhoff te verkoop, soos wat verlede jaar deur Moneyweb onthul is.
Ten einde beleggers te help om die groep se werklike inkomstepotensiaal te bepaal, gebruik Steinhoff nou wat hy “volhoubare verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda)” noem. Dit gee ʼn verdienstesyfer voor belasting en aftrekkings en nadat vir al die sondes van die verlede voorsiening gemaak is.
Die verskil tussen die voorheen verklaarde ebitda en die “volhoubare” ebitda is enorm. Tussen die oorspronklike en die hersiene 2016-state het ebitda met meer as €1 biljoen tot €753 miljoen geval.
Steinhoff se werklike verdienste (wins) is dus wesenlik opgeblaas. ʼn Jaar later, in 2017, het die hersiene syfer slegs tot €765 miljoen gestyg ten spyte van verskeie oornames wat deur Jooste gedryf is en wat die balansstaat versterk het.
Dit sluit in Tekkie Town, wat vir €226 miljoen gekoop is, Fantastic in Australië (€247 miljoen), SRP (€79 miljoen) en die Amerikaanse Mattress Firm, wat in Augustus 2016 vir ʼn verstommende $3,8 biljoen oorgeneem is.
Swak transaksies
Met ander woorde: Al Jooste se oornames en kapitaalinvorderings in die maande voor sy bedanking in Desember 2017 het slegs ʼn geringe verbetering in Steinhoff se winste meegebring.
Steinhoff se oorname van Mattress Firm, slegs maande voordat die kaartehuis ineengestort het, was dalk Jooste se swakste transaksie. Steinhoff het ʼn verstommende premie van 115% op die besigheid se aandeelprys ten tyde van die oorname betaal.
Boonop sê Steinhoff nou hy het “beheer verloor” oor Mattress Firm sedert sy sakereddingsproses in die VSA tot ʼn einde gekom het. Dit is omdat die ooreenkoms wat Mattress Firm gedwing is om met sy krediteurs te sluit, beteken dat Steinhoff se belang tot onder 50% sal daal.
Mattress Firm maak aanspraak op die swakste internasionale oorname tot nog toe deur ʼn Suid-Afrikaanse onderneming, selfs gemeet teen klaaglike mislukkings soos New Look (Brait), Gourmet Burger Kitchen (Famous Brands) en David Jones (Woolworths). Presies hóé sleg die Mattress Firm-oorname was, sal eers in die 2019-state duidelik word.
Wollerige konsepte
Anders as wollerige konsepte soos klandisiewaarde, ontasbare bates en selfs beleggings, is skuld nie maklik om van ontslae te raak nie.
Steinhoff skuld steeds €8,5 biljoen deur sy twee finansieringsmaatskappye, en omdat die ontdekking van onreëlmatige boekhouding eers ná die einde van die boekjaar ontdek is, is geen voorsiening nog gemaak vir die biljoene rande se eise deur huidige en voormalige aandeelhouers nie. Christo Wiese, Steinhoff se voormalige voorsitter, se eis alleen beloop R59 biljoen.
Armitage is onder diegene wat nie veel hoop het dat aandeelhouers enige geld gaan terugkry te midde van ʼn “herstrukturering” om krediteurs te kan betaal nie. “Die syfers lyk nie goed nie, en dis moeilik om hoegenaamd enige waarde te sien.”
Armitage skat Steinhoff se ebitda vir 2018 kan op net sowat R6 biljoen te staan kom; die ekwivalent van minder as 5% van die groep se netto skuld van bykans R140 biljoen. Die groep kan eenvoudig nie soveel skuld diens uit sy huidige winste nie. Selfs as al sy besighede verkoop word, sal daar nie genoeg geld wees om krediteurs mee te kan betaal nie.
“Die huidige markkapitalisasie is R6,55 biljoen, oftewel R1,52 per aandeel. Dié aandeelprys kom neer op ʼn weddenskap dat daar nog ʼn bietjie waarde sal oorbly as al die besighede verkoop is. Ék sal beslis nie daardie weddenskap aanvaar nie. Dis hartseer, maar ek dink nie daar is enige waarde oor nie,” sê Armitage.
• Hierdie artikel is aanvanklik in ons susterspublikasie Financial Mail gepubliseer.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.