Noord-Kaap se teaters van ellende en verval

BID EN HOOP VIR DIE BESTE

Noord-Kaap se teaters van ellende en verval

In Suid-Afrika se grootste provinsie vertel pasiënte dat hulle soos diere eerder as mense behandel word. Hier is 'n kritieke tekort aan dokters en verpleegsters, dikwels geen ambulanse nie, en dikwels nie medisyne en ander voorrade nie. Dít is van die bevindinge van 'n span joernaliste van die publikasie SPOTLIGHT, wat die lang teer- en grondpaaie van die Noord-Kaap 'n maand lank deurkruis het.



NIGEL October is 'n pompjoggie by Sutherland se enigste vulstasie. Soos baie ander inwoners van dié Karoodorp het hy 'n storie om te vertel van ambulanse en hospitale. Dit is 'n gruwelstorie.October se blindederm het gebars en hy moes by 'n ongevalle-eenheid uitkom. Die gemeenskapsgesondheidsentrum in Sutherland het 24 beddens (wat 'n kraameenheid met agt beddens insluit) en is veronderstel om dag en nag oop te wees.Die laaste staatsdokter in Sutherland is egter aan die einde van November verlede jaar daar weg, so October is in 'n ambulans weggevat op 'n rit uit die hel: na Calvinia, van waar hy na Worcester gestuur is. Daar, sê October, “laai hulle jou net by die deur af en ry”.'n Ongevalledokter het October in 'n gang aangetref.Ná sy operasie is die ambulans met hom agterin terug na Laingsburg, waar die hospitaal hom nie wou opneem nie. Hy is aangesê om op eie stoom by die huis te kom. “By die kliniek behandel hulle ons somtyds nes diere, nie mense nie,” sê October.Marguerite Jordaan, wat 29 jaar lank 'n verpleegster was en onlangs afgetree het, sê dit is 'n geweldige uitdaging om 24 uur elke dag diens te lewer by Sutherland se gesondheidsentrum.Op 'n vraag oor wat sy gedoen het wanneer daar 'n ernstige geval was en geen ambulans of dokter nie, glimlag sy.  “Jy bid baie. Jy doen wat jy kan en hoop vir die beste.”
Voetslaan met operasiewond
Gesondheidsdienste in talle dorpe in die Noord-Kaap het so te sê in duie gestort.
'n Span van Spotlight het in November 2018 dié dorre, uitgestrekte provinsie se teer- en grondpaaie deurkruis en aangedoen by dokters, verpleegsters, aktiviste, politici en inwoners van dorpe, baie van hulle reeds ver verby hul fleur.
Die naamborde flits verby: Sweetfontein, Omdraaisvlei, Uitvlug.
Onderweg – in die middel van nêrens – vind ons 'n man wat deur 'n ambulans langs 'n grondpad buite Keimoes afgelaai is om kilometers ver huis toe te stap. Dit is 30˚C. Hy het nog 'n rou maagwond ná 'n operasie en loop swaar.
Hy lyk verward toe ons aanbied om hom huis toe te neem.
Middelpos, Sutherland, Fraserburg, Loxton, Victoria-Wes, Britstown, De Aar, Prieska, Groblershoop, Upington, Keimoes, Kakamas, Kenhardt, Brandvlei, Calvinia en Nieuwoudtville: Oral word variasies van dieselfde stories vertel.
Oorwerkte en oorlaaide verpleegsters sukkel om die siekes en beseerdes te versorg. Gekwalifiseerde dokters, spesialiste en professionele verpleegsters is skaars. Klinieke is teen laatoggend nog nie oop nie. Toilette word as stoorkamers gebruik. Geboue verval.
Meestal is daar net basiese gesondheidsdienste.
Familie was en voed pasiënte
Dit maak nie regtig saak vanuit watter rigting jy Keimoes nader nie, die kans is goed dat jy stowwerige woestyn moes baasraak om die hartjie van die sogenaamde Groen Kalahari te bereik. Hier wag 'n oase op die oewers van die Oranjerivier, ook bekend as die Gariep.
Wingerde glinster onder besproeiingswater. Die omtrek is kurkdroog, maar die Gariep pomp meer as genoeg water om die beste uitvoersultanas sowel as tonne wyndruiwe, pekanneute, waatlemoene, perskes en lusern te kweek. By keurige plaasingange groei bougainvilleas en kannas. Dit lyk of dit goed gaan hier.
Maar op die rand van die dorp, in 'n stowwerige deel van Keimoes langs die hoofpad, sit die hospitaal weggesteek aan die agterkant van 'n groot, stowwerige stuk grond.
Daar is amper geen teken van lewe nie. Ook geen veiligheidswagte of enigiemand by die hek nie.
Loop jy buite om die gebou, is daar deure wat oop staan en rommel en vullis lê opgehoop in kamers.
Binne is die meeste dele van die hospitaal – dit kan eintlik beswaarlik as 'n gemeenskapsentrum beskryf word – verlate. Daar is geen dokter nie en twee verpleegsters en hul assistente probeer om die hospitaal, wat 28 beddens het, aan die gang te hou.
Pasiënte, ook die in die sesbed-kraameenheid, word gelos om vir hulself te sorg. 'n Gesondheidswerker erken ruiterlik dat hulle gewoonlik familielede moet vra om die pasiënte te was en te voed.
Inwoners sê daar is voortdurende tekorte aan medisyne en basiese voorrade soos verbande.
In die gang af, net verby die kamer waar vroue kraam, vind ons in 'n huishoudelike kisvrieskas emmers met bloederige weefsel. Oop en bloot op 'n tafel langs die vrieskas lê hospitaalvorms om 'n “nie-leefbare fetus” aan te meld. Daarop is die name en kontakbesonderhede van vroue, gewig van die fetus en die handtekening van 'n verpleegster en twee getuies. Datums op die vorms dui daarop dat die weefsel al weke lank in die vrieskas is.
In 'n ander vleuel werk 'n verpleegster deur 'n lang ry pasiënte. Die oorhoofse ligte dui aan hierdie was eens die hospitaal se teater.Die ambulanseenheid is 'n kantoortjie met 'n ingesakte plafon.'n Administrateur erken dat “die ambulanse meer gebreek as op die pad is”. Dié wat nog loop, is selde meer as taxi’s tussen die hospitaal en Upington, 45 km weg.Die lykshuis is gesluit en verlate. Inwoners van Keimoes en gesondheidswerkers vertel hoe lyke deur 'n plaaslike begrafnisondernemer opgelaai word wat dan begrafnis- en vervoerreëlings met die familie tref.
Geen dokter in sig
So 110 km met die grondpad langs van Sutherland af is Fraserburg. Ook hier is geen dokter nie. Inwoners sê sommige verpleërs daag party dae net nie op vir werk nie.
Een verpleegster vertel ambulanse moet dikwels tot agt pasiënte op 'n slag na die hospitale in Calvinia of Upington vervoer. Sy onthou gevalle waar Calvinia geen verdere chirurgiepasiënte kon inneem nie omdat die hospitaal nie gaas gehad het nie. Sy sê die depot in Kimberley het soms geen insulien en geen middels vir epilepsie nie.
In Calvinia is daar drie gemeenskapsdiensdokters, een dokter wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo gekwalifiseer het en twee private huisdokters wat in die hospitaal kontrakwerk doen. Een van die gemeenskapsdiensdokters ry een keer elke twee weke Sutherland toe en werk daar sonder enige toesig.
Bo blink, onder stink
Sowat 'n jaar gelede is die ou hospitaal op De Aar sonder waarskuwing toegemaak. Amper oornag is dit na 'n splinternuwe perseel geskuif.
Op die dorp word vertel dat die ou hospitaal in verpleegsterswooneenhede omskep moes word. Maar dit het leeg gestaan – en diewe en plunderaars het toegeslaan.
Stukke plafon is uitgebreek en sinkplate en ander toerusting is uit die struktuur geruk. Enigiets wat moontlik van waarde is, is weggedra.
Die gange is besaai met pasiënterekords, gebruikte spuitnaalde, medikasieverpakking en ander gemors.
Die nuwe hospitaal lyk soos iets uit 'n glanstydskrif.
Die heinings langs die opritte is gesnoei, die aanwysingsborde op die hospitaal blink in die middagson, daar is baie veiligheidswagte by die hek, en daar is geen vullis in sig nie.
Maar die rooi sitbankies is leeg.
Hoewel daar dokters is – die meeste het glo in die buiteland gekwalifiseer – is susters in beheer van die trauma-eenheid.
Die hospitaal voel soos 'n leë dop. Met ons besoek was net 'n paar sale oop. Na bewering is die hospitaal gebou om 'n TB-saal te open, maar daar is geen beddens in die saal nie en dit het leeg gestaan. Kobus Rust, 'n DA-raadslid, sê daar is steeds geen TB-eenheid in gebruik in die hele provinsie nie.
Volgens hom is daar nie genoeg personeellede vir die nuwe fasiliteit nie. Van die bouwerk is swak gedoen, beweer Rust, daar is dikwels nie warm water nie en die ambulansdiens is vrot.
Vriende in hoë poste aangestel
Van buite is die Kakamas-hospitaal prentjiemooi, maar die teater is al maande lank gesluit.
Daar is kontrakdokters, maar geen suurstofsilinders nie. Personeellede vertel dat daar geen toerusting vir binneaarse toediening van geneesmiddels is nie, en baie min medisyne en ander voorrade.
Hier floreer nepotisme glo en vriende sonder kwalifikasies word in senior poste aangestel.
Gemeenskapsaktiviste, hospitaalpersoneellede en werkers van nieregeringsorganisasies praat openlik oor die wanfunksionele toestand van die hospitaal. “Daar is orals korrupsie,” sê Caroline Booysen, wat vir 'n NRO werk. “Die enigste mense wat daar hulp kry, is familie en vriende.”
Staking weens personeeltekort
Die Dr. Harry Surtie-hospitaal in Upington is 'n sleutelhospitaal in die provinsie, maar het so 'n ernstige personeeltekort dat lede van die verpleegvakbond Denosa laat verlede jaar begin staak het daaroor.
Volgens die DA is net 228 uit 327 beddens in gebruik weens al die vakante poste.
Pasiënte is glo bang om na hierdie hospitaal verwys te word omdat hulle sê te veel mense “keer terug in 'n kis”. Ook sekere gesondheidswerkers beweer dit is bekend dat mense Upington toe kom om te sterf. Dis moontlik dat die gerug sy ontstaan het in die feit dat net die siekste mense Upington toe gestuur word, maar dit is moeilik om pasiënte se vrese te besweer.
Kat en muis
In die maande sedert ons reis het ons kontak behou met verskeie van die mense wat ons op pad ontmoet het. Ons het die Noord-Kaapse regering keer op keer kans gegee om te antwoord op ons vrae of om aan te dui wat hulle doen aan die skokkende omstandighede in die provinsie.
Beloftes van onderhoude is nie nagekom nie. Ons vrae is nooit beantwoord nie.
Soos een gemeenskapswerker sê: “Hier in die Noord-Kaap is gesondheid 'n kat-en-muis-speletjie. Almal hardloop rond en vat hier en los daar, maar eintlik gebeur daar baie min. Mense gaan dood en dié wat dinge kan verbeter, hou vergaderings en maak leë beloftes. Ons mense se lewens is niks werd nie.”
 

Spotlight is 'n publikasie wat Suid-Afrika se reaksie op tuberkulose en MIV monitor, sowel as die stand van ons gesondheidstelsels en die mense wat dit gebruik en aan die gang hou. Hierdie ondersoek is gedoen deur Anso Thom, Marcus Low, Nomatter Ndebele en Thom Pierce.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.