POLITIEKE NOTABOEK | Is die openbare beskermer Ace se stok in ...

POLITIEK

POLITIEKE NOTABOEK | Is die openbare beskermer Ace se stok in Cyril se speke?

MAX DU PREEZ skryf oor Busisiwe se toutjietrekkers, Cyril se kastige geldwassery en jeugfundamentalisme in die parlement.

Busisiwe Mkhwebane
OPENBARE BESKERMER (SIC) ... Busisiwe Mkhwebane
Image: ESA ALEXANDER

WIE is die marionetmeester(s) wat Busisiwe Mkhwebane se toutjies trek? Pres. Cyril Ramaphosa sal vinnig moet uitvind, want die openbare beskermer (sic) word nou gebruik as die stok wat in sy speke gedruk word.

Die hardnekkige skinderstorie is dat Mkhwebane 'n liefdesverhouding het met 'n gewese lid van Jacob Zuma se kabinet wat nou stewig in Ace Magashule se kamp is en met 'n voorsitterskap van 'n parlementêre portefeuljekomitee daarvoor beloon is.

As ek klinkklare bewyse gehad het dat dit waar is, sou ek sy naam genoem het. Ás dit waar is, sou dit haar gedrag en strategieë verklaar. (Mkhwebane is 'n weduwee, so dit is nie 'n skande dat sy 'n verhouding met iemand het nie.)

Die Sunday Times het laas Sondag met vet, swart letters aangekondig dat Mkhwebane 'n saak van geldwassery van R400 miljoen teen die president ondersoek. “Cyril’s R400m time bomb”, het die opskrif geskreeu.

Die inligting is deur die kantoor van die openbare beskermer aan die media gelek. Die berig lui dat as sy bevind dat Ramaphosa skuldig is, hy in 'n staat van beskuldiging geplaas gaan word (impeachment) en dat dit die einde van sy politieke loopbaan kan beteken. Dit sal sekerlik ook tot 'n strafregtelike ondersoek lei, en die straf daarvoor is kwaai: 'n boete van tot R100 miljoen of tronkstraf van tot 30 jaar.

Maar hokaai, daar is 'n hele paar “asse” en “maars” in die storie.

‘ 'n Mens wonder of Mkhwebane hoegenaamd verstaan dat haar kantoor geen mandaat het om geldwassery te ondersoek nie.’

Mkhwebane is deur die DA gevra om die R500,000 te ondersoek wat die destydse Bosasa in die president se bankrekening betaal het en te  beslis of hy vir die parlement gelieg het. (Ramaphosa het eers gesê dit was vir werk wat sy seun vir Bosasa gedoen het, maar het dit gou daarna reggestel en gesê dit was vir sy veldtog om as ANC-leier verkies te word.)

Hoekom het Mkhwebane nou die volledige transaksies van drie Ramaphosa-rekeninge geëis en nagegaan, en het sy hoegenaamd binne haar reg opgetree om dit te doen?

Was dié visvangekspedisie nodig of geregverdig om uit te vind of Ramaphosa vir die parlement gelieg het – die enigste vraag wat sy moes beantwoord?

Die bankrekeninge is glo dié van die Ramaphosa-stigting, van die veldtog om hom tot president van die ANC te laat verkies en van 'n private maatskappy waarmee hy bande het.

'n Mens wonder of Mkhwebane hoegenaamd verstaan dat haar kantoor geen mandaat het om geldwassery (dit word deur die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad 'n strafregtelike oortreding gemaak) te ondersoek nie. Dit is 'n saak vir die strafregstelsel. Die Wet op die Openbare Beskermer beperk haar mandaat tot wanadministrasie, korrupsie, selfverryking en magsmisbruik deur mense in openbare diens op die drie regeringsvlakke of die staatsondernemings.

Soos die konstitusionele juris prof. Pierre de Vos dit stel: “As daar enige getuienis van geldwassery is, sou dit toepaslik vir die openbare beskermer wees om die SAPD of die Valke in te lig om die saak te ondersoek. As sy daarop aandring om dit self te ondersoek, gaan sy (weer eens) onwettig optree deur magte te gebruik wat nie aan haar kantoor gegee is nie. Dit laat die vraag ontstaan hoekom die openbare beskermer die risiko sou wou loop van nóg 'n vernederende nederlaag in die hof oor die misbruik van haar mag.” (Lees De Vos se hele verduideliking.)

Dit wil voorkom asof Ramaphosa 'n bevredigende verduideliking sal kan gee waarom hy die Bosasa-skenking eers verkeerd aan die parlement verduidelik het, waarvoor die geld werklik bedoel was en dat hy nie persoonlik daarvan kennis gedra het nie. Mense wat by die veldtog betrokke was om hom as ANC-leier te verkies, het inderdaad onder eed aan Mkhwebane gesê hulle het Bosasa vir 'n skenking gevra en het nie die identiteit van die verskillende skenkers aan hom oorgedra nie. Dié mense het ook aan haar gesê sy het nie die reg om die identiteit van al die skenkers te weet nie.

Maar die skade van “Cyril’s R400m time bomb”, die aantyging dat hy by geldwassery van so 'n helse klomp geld betrokke was, is gedoen en gaan vir 'n baie lang tyd nog teen Ramaphosa se kop geslinger word, selfs al word dit as vals bewys.

‘Niemand pleeg só professionele selfmoord sonder 'n sterk motief en steun nie. Ramaphosa se span sal vinnig moet uitvind wie haar toutjies trek en ewe vinnig dié magte moet neutraliseer.’

Ek hoop van harte dat die geldwas-storie net 'n swartsmeerdery is en dat daar geen greintjie waarheid in is nie. As Ramaphosa as president onttroon word, gaan David Mabuza (die hemel help ons!) as president waarneem totdat 'n nuwe president deur die ANC via die parlement gekies kan word. Mabuza word deur alle faksies in die ANC gewantrou, so sy kanse is naby aan nul. Dan praat ons maar weer van Nkosazana Dlamini-Zuma as president. Nou ja toe.

Mkhwebane moet teen dié tyd weet haar dae is dalk getel. As sy nóg 'n verdoemende hofuitspraak teen haar kry, sal selfs nie Magashule of die hele EFF-leërskare haar van sanksie deur die parlement kan red nie.

Niemand pleeg só professionele selfmoord sonder 'n sterk motief en steun nie. Ramaphosa se span sal vinnig moet uitvind wie haar toutjies trek en ewe vinnig dié magte moet neutraliseer. O, wag, dit is half moeilik om Ace te neutraliseer, want hy is nie in sy pos as sekretaris-generaal aangestel nie, hy is deur die ANC-konferensie by Nasrec in Desember 2017 verkies.

Oor na jou, Shamila Batohi.

Pres. Cyril Ramaphosa die afgelope week met sy repliek op die staatsrede
RAMAPHANTASIE OOR? ... Pres. Cyril Ramaphosa die afgelope week met sy repliek op die staatsrede
Image: ESA ALEXANDER

Cyril lees die nasionale bui verkeerd

'n Ramaphosa-lojalis in die ANC-binnekring het my gebelgd gebel oor my storie oor die president se staatsrede laas week wat ek as Ramaphantasie beskryf het. Hy het my kritiek as oppervlakkig en as “cheap shots” beskryf. Hy het my aangeraai om die hele toespraak deeglik te lees en dan te sê of ek steeds dink die president is 'n dromer wat nie die werklikhede van Suid-Afrika verstaan nie.

Ek het dit toe weer gaan lees. Ramaphosa het inderdaad 'n realistiese blik op die stand van sake gegee. Sy dromery oor futuristiese treine en stede was inderdaad amper 'n nagedagte, 'n poging om te sê ons moenie deur ons huidige uitdagings verlam word nie.

‘Nie eens Superman sou dié beloftes gestand kon doen nie; die skade van die Zuma-tsunami was net te groot.’

Maar ek dink steeds die president het die nasionale bui verkeerd gelees. Die nasie is angstig, kwaad en desperaat. Ons soek reguit praat en ons soek konkrete planne. As sy regering meer geloofwaardigheid gehad het as 'n span wat dinge gedoen kry en beleid en besluite implementeer, sou ons dalk meer ontvanklik vir sy dagdrome gewees het.

Hy het met sy repliek so 'n bietjie van 'n comeback gemaak en verduidelik dat ons nie durf ophou droom van 'n beter toekoms nie, soos die mense in Kliptown wat in 1955 van 'n vrye Suid-Afrika en 'n nierassige demokrasie gedroom het toe hulle die Vryheidsmanifes opgestel het. Sy repliek was beter as die staatsrede self.

Ramaphosa se probleem is dat hy self hemelhoë verwagtinge vir sy administrasie met sy Nuwe Daeraad-beloftes en praatjies van vernuwing en groei geskep het nadat hy president geword het. Nie eens Superman sou dié beloftes gestand kon doen nie; die skade van die Zuma-tsunami was net te groot. Boonop is Ramaphosa nie in volle beheer van sy eie party nie en moet hy kort-kort vir sy paaltjies keer soos wat die Magashule-faksie kartetse afstuur (om ’n krieketmetafoor te gebruik).

Ons moet egter daarteen waak om jojo te speel: Vandag is Cyril ons groot hoop, môre is hy ruggraatloos, dan is hy weer 'n leier wat ons deur die drif kan trek. Hy is 'n feilbare mens, 'n politikus, maar in die huidige omstandighede bly hy ons beste opsie as president.

Die EFF se Naledi Chirwa
HELD OP SWART TWITTER ... Die EFF se Naledi Chirwa
Image: TWITTER

Helen tweet al weer

Die Amerikaanse politiek het Alexandria Ocasio-Cortez, ook bekend as AOC, 'n 29-jarige vrou wat die politiek laat lewe kry het en binne 'n paar maande in die politiek nasionaal bekend geword het.

Nou het Suid-Afrika ook 'n paar nuweling-vrouevuurvreters.

‘Sy het Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy sy “siel aan die sakebase, almal wit mans” verkoop het. Sy was oombliklik 'n held op swart Twitter.’

Naledi Chirwa is net 25 en was as studenteaktivis deel van die #Fallist-beweging. Sy was in 2016 een van die jong vroue wat tydens die aankondiging van die uitslae van die plaaslike verkiesing skielik voor die gehoor, met Jacob Zuma in die voorste gestoeltes, gaan staan het met 'n banier wat gelui het “Remember Khwezi”, 'n verwysing na die vrou wat beweer het Zuma het haar verkrag. Chirwa is 'n EFF-LP.

Nompendulo Mkatshwa is 26 en kom ook uit die #Fallist-beweging. Sy was 'n leidende aktivis aan Wits tydens die stormagtige 2016 en 2017. Sy is 'n ANC-LP.

Albei het tydens die debat oor die staatsrede 'n spreekbeurt gekry. Chirwa was baie voorspelbaar met haar EFF-speak en moes 'n stelling dat die regering aan moord aandadig was, terugtrek. Sy het Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy sy “siel aan die sakebase, almal wit mans” verkoop het. Sy was oombliklik 'n held op swart Twitter.

Mkatshwa was meer berekend en het nie juis soos 'n tipiese ANC-agterbanker geklink nie. Sy het onder meer oor LGBTQ-regte gepraat.

Uit die EFF-banke is groot gewag gemaak van die jonger lede se ouderdom en uitroepe van “oupa!” na die ANC-kant geslinger, waarop die ANC se Yunus Carrim teen die “jeugfundamentalisme” beswaar gemaak het.

Die DA het self twee wakker jong(-erige) vroue in die parlement: Phumzile van Damme (35) en Natasha Mazzone (40). Mazzone het dié week 'n skerp toespraak in die huis gemaak waarin sy onder meer die Magashule-span se gediskrediteerde komiteevoorsitters die een ná die ander gekarnuffel het.

Van Damme was die laaste weke in die nuus nadat sy 'n jong man wat haar selfoon wou gryp, by die Kaapstadse Waterfront geklap het nadat sy gesin haar weens haar velkleur geteister het.

Ek was verstom hoe min steun sy van haar party gekry het. Oudleier Helen Zille het getweet (al weer) dat sy graag die “ander kant van die saak” sou wou hoor. Dié tweet is soos soetkoek deur regses opgeëet en het van Van Damme 'n teiken op sosiale media gemaak. Sy is onder andere deur die middeljarige popster Steve Hofmeyr aangevat en gedreig.

Van Damme se politieke rekord maak dit duidelik dat sy nie 'n rasnasionalis is of identiteitspolitiek pleeg nie. Sy is 'n ervare parlementariër en 'n staatmaker wat haar party se beleid en aanslag al vele kere in die swart gemeenskap verdedig het. As Zille in haar hart gewonder het wat werklik gebeur het, kon sy vir Van Damme privaat gevra het of bloot oor die voorval geswyg het. Van Damme was natuurlik woedend vir Zille en het haar deeglik op Twitter geroskam, wat haar net 'n groter teiken vir regses gemaak het.

Die liewe Helen begin by die dag vir my meer na 'n AfriForum-tipe as 'n progressiewe liberaal lyk.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


X