Maanlanding: Die Boere-bydrae

RUIMTEREIS

Maanlanding: Die Boere-bydrae

Op 20 Julie is dit 50 jaar sedert die eerste mens sy voete neergesit het op 'n hemelliggaam wat nie die aarde was nie. JAN HORN vertel van ’n transistorradio in Chimanimani en die Suid-Afrikaanse gom wat waarskynlik nog steeds op die maan is.

Image: PRATLEY MAATSKAPPY

20 Julie 1969

Ek sit met 'n paar vriende in Chimanimani, in die destydse Rhodesië, voor ’n klein wit transistorradio’tjie. Oor die pieperige, blikkerige, luidsprekertjie kom Neil Armstrong se stem:

“One small step for man. One giant step for mankind.”

Die wêreld was nog nooit weer dieselfde nie.

Ons het ’n grens oorgesteek. Vir die eerste keer in die geskiedenis stap mense op ’n ander hemelliggaam.

Ek was deel van ’n musiekgroep wat destyds in Rhodesië opgetree het. Een van ons liedjies het die gees van daardie oomblik saamgevat.

“Die wêreld het te klein geword
Om die mens se gees te omgord
Ons moet nou opwaarts, uitwaarts gaan
En ons eie nuwe weë baan.”

Met Armstrong se voetspore soos ’n reusevingerafdruk van die ganse mensdom op die maan, volg die woorde;

“Daar’t iemand soos ons op die maan geloop
Sy voetspore bring weer nuwe hoop.”

Image: 123RF/SERGEY NIVENS

16 Julie 1969

Die Koue Oorlog tussen Amerika en die Sowjetunie is op ’n mespunt.

In Suid-Afrika is die Nasionale Party stewig in die saal. Ons land beleef ’n bloeitydperk in die ekonomie – vir ’n sekere groep mense natuurlik. Ons is optimisties. Die volgende vyftig jaar is vol beloftes. Of was dit?

Vandag wil ek net vir een oomblik vyftig jaar jonger wees en weer die euforie van daardie dag beleef. In hul kapsule 100 meter bokant die aarde hoor Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins hoe die aftelling begin.

Die Saturn V se vuurpylmotore ontsteek en 3,5 miljoen kilogram stukrag van vloeibare waterstof wat witwarm brand, oorwin die aarde se swaartekrag. Vier dae later neem Armstrong sy eerste treë op die maan.

‘Die berekeninge en ingenieurspesifikasies is met  skuifliniale gedoen.’

Vandag, met selfone, internet, sosiale media, satellietverbindings en tegnologie wat met ’n verbysterende spoed toeneem, is dit moeilik om ons in te dink wat dit gekos het om die reusetree waarna Armstrong verwys het, te laat slaag. 

Die rekenaars van daardie tyd was enorme masjiene wat met vakuumbuise en ponskaarte gewerk het. Die berekeninge en ingenieurspesifikasies is met  skuifliniale gedoen. Die enigste videokameras was lomp kolosse in TV-ateljees.

Die nuuskameras het met film gewerk. Geen selfone nie. Geen skootrekenaars nie. Geen internet, WhatsApp, YouTube, e-pos, Instagram of Facebook nie. Jy bel van jou huis of ’n tiekieboks af. Kommunikasie is per teleks – faksmasjiene was nog in die toekoms – en jy korrespondeer met papierpos.

Die maanlandingstuig, die Eagle, het wel ’n basiese rekenaar gehad om met die navigasie te help.

Dit het 30 kilogram geweeg. Die sagteware is deur Margaret Hamilton en ’n span van 350 programmeerders ontwerp.

Senuwees van staal

Oppad na die maan het die ruimtemanne met ’n sekstant, soortgelyk aan die ou seilskepe se navigasie-instrumente, die hoekmeting tussen die aarde, die maan, die son en sekere sterre gemeet. Die data is dan in kodes ingevoer in die rekenaar wat die nodige berekeninge gemaak het.

Gemeet teen vandag se kragtige rekenaars was die totale rekenaarkapasiteit van Nasa minder as jou selfoon se vermoëns. Die rekenaar in die maanlandingstuig kon vyf programme gelyktydig hanteer, met ’n geheue van twee kilogrepe!

Die nuusblaaie vertel vandag nog dat die rekenaar, oomblikke voor die maanlanding, nie al die data kon hanteer nie en tou opgegooi het. Nie heeltemal waar nie.

‘Sy opleidingsrekord as vegvlieënier het gewys dat hy senuwees van staal had.’

’n Swak radarsein het wel met die rekenaar se brein gesmokkel. ’n Alarm het geflits om Armstrong te waarsku dat die rekenaar sukkel om by te hou.

Die beplande landingsplek was vol rotse en totaal ongeskik om op te land. Armstrong moes die keuse maak waar, en hy het beheer oorgeneem om ’n geskikte landingsplek te identifiseer. Hy moes steeds die maantuig deur die rekenaar bestuur.

Die twee moes saamwerk. Wat wel kritiek was, is dat daar net ’n beperkte hoeveelheid brandstof was vir die maantuig om mee te kon land. Die keuse van Armstrong as vlieënier is nie lukraak geneem nie. Sy opleidingsrekord as vegvlieënier het gewys dat hy senuwees van staal had.

Met Nasa se grondbeheer wat die sekondes in sy oorfone aftel om aan te dui hoeveel brandstof hy oor het, land hy die maantuig veilig met ongeveer dertig sekondes se brandstof oor.

Suid-Afrika se aandeel

Die maanlanding was ’n groot triomf vir die VSA, maar min mense weet van die Suid-Afrikaanse aandeel aan hierdie groot avontuur.

In die middel 1960’s is ’n jong ingenieurstudent, Jan du Plessis, met sy M-tesis by die Massachusetts Institute of Technology (MIT) in die VSA besig.

Prof Jan du Plessis
Prof Jan du Plessis
Image: HILDEGARD DU PLESSIS

Deel van sy tesis was om al die faktore betrokke by die toekomstige maanlanding in wiskundige algoritmes te omskep – faktore soos die maangravitasie wat een sesde dié van die aarde is, die gebrek aan atmosferiese remkrag, en, uiters belangrik, die massa-krag-verhouding van die maantuig self.

Dit kom daarop neer dat jy tot byna op ’n druppel moet uitwerk hoeveel brandstof jy nodig het om veilig te land en weer veilig te kan vertrek. Hoe meer massa, hoe meer brandstof is nodig.

Maar die brandstof self dra op sy beurt ook weer tot die massa by. Jy vlieg dus net genoeg brandstof saam. Nét genoeg, nie ’n druppel meer nie. Dít was Jan du Plessis se opdrag. Sy algoritmes het perfek gewerk.

Die ander Suid-Afrikaanse bydrae tot die sukses van die maanlanding was dié van die Pratley-maatskappy wat die bekende Pratley Putty vervaardig – beter bekend by ons gewone mense as die bulldozergom.

By Pratley se hoofkantoor in Krugersdorp hang ’n twaalftonstootskraper aan twee staalplate wat aan mekaar vasgegom is. Dis die kenmerkende embleem op elke Pratley-gompakkie.

As voorloper vir die Apolloreeks-maanlandings het Nasa die Amerikaanse Ranger-ruimtetuie om die maan laat wentel om foto’s vir ’n geskikte landingsplek vir die Apollo 11-maantuig te neem. Nasa was op soek na ’n sterk, betroubare gom om die Rangertuig so te sê aan mekaar te plak.

Gom maak ligter

Gom is ligter as klinknaels, sweiswerk, of boute en moere. ’n Maatskappy, Atlas Minerals in die VSA, het aan Nasa genoem dat daar so ’n produk in Suid-Afrika beskikbaar is.

Die enigste probleem was dat Nasa onder streng geheimhouding gewerk het en die hele ruimteprogram 100% Amerikaans moes wees – dit was die era van die Koue Oorlog met die Sowjetunie, en die Amerikaners was ietwat paranoïes.

Om Pratley Putty vir die Rangertuig te kon gebruik, moes die Pratley-maatskappy met ’n slenter vir die tydperk as ’n Amerikaanse maatskappy geregistreer word. Amper soos wat Suid-Afrika die Japanners daardie tyd as “ere-blankes” verklaar het sodat ons ystererts aan hulle kon verkoop.

Nasa het ’n paar kilogram Pratley Putty gebruik om die komponente in die Rangertuig aanmekaar te plak.

Die tuig het perfek gewerk en ’n geskikte landingsplek by die maan se See van Kalmte is geïdentifiseer. Daarna het Nasa die Rangertuig op die maan laat neerstort. Daar is dus ’n paar kilogram van ’n Suid-Afrikaanse uitvindsel op die maan in die vorm van Pratley Putty.

Unieke uitvindsels

Die Suid-Afrikaanse Munt gee tans ’n reeks munte uit om Suid-Afrikaanse uitvindsels te herdenk. Een reeks bestaan uit ’n embleem van Pratley Putty wat met die maanlandingsprogram verbind word.

Image: PRATLEY MAATSKAPPY

Dis nou 50 jaar later, en met die herdenking van die eerste maanlanding word ou en nuwe stories opgediep.

Aldrin vertel hoe die sweet op hom uitgeslaan het toe hy die Amerikaanse vlag op die maan moes plant.

As kind het hy verhale van die vroeë ontdekkingsreisigers verslind waar hulle die Amerikaanse vlag op vreemde lande stewig in die grond geplant het.

Dit het sy verbeelding aangegryp. Met die maanlanding het hy homself as een van dié onverskrokke ontdekkingsreisigers gesien.

Klippe kou

Daar was egter nie sagte grond op die maan nie. Net ’n harde kliplaag. Hy het gesukkel om die vlag regop staan te maak. Dink net aan die vernedering as die vlag omgeval het! Gelukkig staan die vlag nog.

Armstrong weer was verbaas dat die stof wat deur sy ruimtestewels versteur is, nie opgewaai het soos dit op die aarde sou doen nie. Die maan het nie ’n atmosfeer nie, en dus styg stof nie op nie. Dit versprei net so grondlangs om jou stewels.

'n Ander aspek wat hulle onkant gevang het, was die maan se horison wat so naby is. Dit is omdat die maan maar ’n kwart van die aarde se grootte is. Ver is dus soveel nader. Dit het veroorsaak dat hulle hulself met afstande misgis het.

Een van die probleme was ook om ordentlike foto’s te neem. Sonder ’n atmosfeer word lig nie versprei en weerkaats soos op die aarde nie. Met geen atmosfeer nie, is die ruimte bokant jou pikswart.

Die kontras is so groot dat jy nie, soos hier op die aarde, die maanoppervlak en die sterre gelyktydig kan afneem nie.

Primitiewe toerusting

Die ruimtepakke van 1969 was in vergelyking met vandag se pakke bitter primitief. Die pak was konstant onder hoë druk. Armstrong vertel dat die handskoene soos opgeblaasde ballonne was. Om iets vas te gryp, moes jou vingers die druk oorkom. Amper soos om ’n tennisbal die heeltyd met jou vingers vas te druk. Om dit vir ’n paar uur te doen, was hard op jou boarmspiere.

Mens dink ook altyd dat die Nasa-span uit gesoute ingenieurs en wetenskaplikes sou bestaan het. Die gemiddelde ouderdom van die spanlede was egter net 27 jaar oud. En die span het uit ’n eksotiese klompie bydraers bestaan.

Die panele van die maantuig is onder meer deur ’n groepie branderplankryers ontwerp. Branderplanke word gemaak uit saamgestelde materiale wat lig maar baie sterk is.

Vir die ruimtepakke se materiale is ’n span deskundiges ingeroep wat bra’s vir vroue ontwerp het. Kennis van sterk, stewige materiale wat ook buigbaar is, was nodig.

En dan is daar al die samesweringsteorieë dat die Amerikaners nooit op die maan geland het nie, en dat dit alles in Hollywood-styl op die aarde in ’n geheime ateljee geskiet is.

‘Die panele van die maantuig is onder meer deur ’n groepie branderplankryers ontwerp.’

Die skrywer en regisseur Dallas Campbell besweer al dié teorieë met ’n eenvoudige stelling: “In 1969 het ons nie die tegnologie of vermoë gehad om ’n vals voorstelling van die maanlanding te skiet [verfilm] nie. Ons het egter die tegnologie en die vermoë gehad om op die maan te land.”

Armstrong se waarneming van hoe stof nie opstyg op die maan nie, sou onder meer beteken het dat indien hulle ’n vervalsing op aarde wou skiet, die  opnameateljee ’n lugleë vakuum sou moes wees, en die hele filmspan in ruimtepakke sou moes werk.

Soos een joernalis grappenderwys geskryf het: Die Apollo-ruimtemanne was gesteld daarop dat alles reg moet lyk. Daarom het hulle daarop aangedring dat alles eerder op die maan self geskiet moet word as in Hollywood!

Dis vyftig jaar later en ons is weer op pad na die maan. Onder meer om ’n permanente basis daar op te rig om, heel moontlik, as ’n tussenstadiumbasis vir ons uiteindelike kolonisasie van Mars te dien. Hierdie keer is dit egter nie net Amerika en Rusland nie – Europa, Israel, Indië en China is almal in die wedloop om hul vlae daar te plant.

Die liedjie wat ons in 1969 geskryf het eindig met die woorde;

“Die verste horison sal altyd roep
Vir die soekers van elke groep.
Om die onbekende uit te daag
En jou eie nuwe drome na te jaag.”

Dít maak my opgewonde.


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.


X