Jacob Zuma: ’n Tandelose ou leeu wat brul uit frustrasie

ZUMA BY ZONDO

Jacob Zuma: ’n Tandelose ou leeu wat brul uit frustrasie

Om te dink dié kuggende, stamerende ou sot met al sy leuens, kwaadwillige skinderstories en absurde ontkennings was nege jaar lank ons president! G’n wonder ons is waar ons is nie. MAX DU PREEZ het Jacob Zuma se vertoning voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping dopgehou en voel skaam-kwaad.

Image: JEFF RANKIN

JACOB ZUMA is nou al anderhalf jaar nie meer president nie, maar hy het steeds met 'n bloulig-kavalkade van agt voertuie met dosyne lyfwagte by die Zondo-kommissie ingeswiep en met groot vertoon na sy sitplek gestap. 

Ek was vasgenael. Ek het Zuma die eerste keer 31 jaar gelede in Lusaka ontmoet. Ek het sy opgang en ondergang en opgang en ondergang oor die laaste twee dekades met groot fassinering dopgehou. Die man wat nooit vir grootsheid bestem was nie wat toe tog my land se staatshoof geword het.

Geen ooghare vir demokrasie

Gaan hy ons verras, het ek gewonder, en met 'n bietjie mea culpa, heelwat sjarme en baie verduidelikings probeer om die beste van sy slegte saak te maak?

Gaan ons die man sien wat tussen 1990 en 1994 in KwaZulu-Natal help vrede maak het, of die man wat die bloeddorstige Mbokodo-eenheid van die ANC in ballingskap help lei het?

Dit was baie gou duidelik dat dit laasgenoemde sou wees; die man wat vir swart Suid-Afrikaners se vryheid geveg het, maar nooit regtig ooghare vir 'n demokratiese bestel en 'n oop gemeenskap gehad het nie.

Zuma was diep verontwaardig dat daar hoegenaamd van hom, guerrillaleier, intelligensiebaas, gewese president, verwag kon word om in die openbaar ondervra te word. Waar is die respek?

Maar hoe hard Zuma ook probeer het, was dit vir almal duidelik dat hy nou 'n man sonder mag, sonder substansie, sonder oortuiging en met bittermin steun is. Selfs die Guptas het hom verlaat.

Ou bitterbek

Hy is nou net 'n tandelose ou bitterbek, 'n ou leeu met 'n mank been wat uit die trop gestoot is en sukkel om sy eie prooi te vang, wat so nou en dan pateties uit frustrasie brul.

Dit het gehelp dat regter Zondo ook 'n middeljarige Zoeloeman is, maar toe ek Zuma na Zondo sien kyk, onthou ek hoe hy 'n paar jaar gelede na 'n nederlaag in die hof gevra het: wie is dié regters? Ek is deur die mense verkies, wie het die regters verkies? Wie dink hulle is hulle?

Daar trek Zuma toe weg met 'n monoloog van amper drie uur. Hy is die slagoffer; daar is 'n internasionale komplot teen hom; hy is deur sy eie kamerade verraai; hy het nooit iets verkeerd gedoen nie; staatskaping bestaan nie.

Hy is tot die uiterste uitgelok, sê hy, en daarom gaan hy goed sê waaroor hy dusver stilgebly het.

En toe gooi hy 'n handgranaat in die binneste van die ANC met sy aantygings dat 'n gewese senior minister en 'n gewese hoof van die SANW apartheidspioene was, wel wetende dat dié kwessie een van die mees sensitiewe in die ANC se geskiedenis die laaste veertig jaar was.

Nie geskik

Die grootste probleem met Zuma se fabel dat die nasionale intelligensiediens en twee buitelandse intelligensie-agentskappe in 1990 'n groot komplot gesmee het om hom te vernietig, is dat niemand toe gedink het hy gaan ooit enigiets anders as 'n apparatchik en hoogstens 'n middelvlak-streeksleier van die ANC word nie, en dan eintlik net omdat hy 'n Zoeloe-tradisionalis was.

Zuma was nie 'n ideoloog nie, hy was nie 'n kommunis nie, nie militant in enige sin van die woord nie en hy was 'n absolute grap as 'n intelligensiehoof van die ANC.

(Die veteraan SAKP-leier Jeremy Cronin skryf dié week: “Ten minste van die laat-1980’s af was daar 'n algemene persepsie in die ANC-leierskap dat Zuma nie 'n geskikte person was om met aktwiteite wat met sekuriteit en intelligensie verband hou, te vertrou nie.” Hy sê Zuma is nog altyd bitter dat hy nie na 1994 met intelligensiewerk vertrou is nie.)

Niemand, sekerlik nie Niël Barnard se NI nie, het hom as 'n bedreiging gesien nie. (Ons kan seker aanneem die twee buitelandse agentskappe waarna Zuma verwys, is die CIA en MI6.)

Ek het in 2006 'n onderhoud van amper drie uur lank met die destydse adjunk-direkteur-generaal van NI, Mike Louw, gevoer en hy het meer as een keer laat blyk hy het nogal van Zuma gehou en hulle het 'n gemoedelike verhouding gehad.

Hy en 'n ander senior NI-man, Maritz Spaarwater, het Zuma en Thabo Mbeki die eerste keer in groot geheimhouding op 12 September 1989 in Luzern, Switserland ontmoet, die eerste van verskeie ontmoetings. Spaarwater het geen nare woord oor Zuma te sê in sy boek A Spook’s Progress nie.

Vertrou die vyand?

Daar was ander ANC-leiers waaroor NI en, kan 'n mens aanvaar, die CIA en MI6 bekommerd was, want al drie agentskappe het 'n paranoiese vrees vir die kommunisme gehad.

Mense soos Joe Slovo en Chris Hani, albei senior leiers van Umkhonto we Sizwe, albei senior kommuniste en albei sterk en charismatiese leiers. As die Westerse intelligensiedienste en NI 'n grootse komplot wou smee om iemand te verwoes, sou dit sekerlik Chris Hani gewees het.

Zuma het aan regter Raymond Zondo gesê die 1990-komplot lê aan die wortel van al die teenspoed wat hy sedertdien gehad het: die aanklagte van korrupsie, die swartsmeerdery van sy naam, vele aanslae op sy lewe, die optrede van die vorige openbare beskermer en ja, selfs die Zondo kommissie van ondersoek na staatskaping is 'n gevolg daarvan.

Nou hier is 'n vraag, Mnr. Zuma. Niël Barnard was die hoof van NI wat, volgens jou, in die hart van 'n komplot was om jou lewe hel te maak tot vandag toe. So hoekom het jy hom en sy maatskappy Kallistan dan in 2012 gevra om jou regering met intelligensiewerk by te staan teen 'n vergoeding van meer as R17 miljoen per jaar? Hoe kon jy jou vyand só vertrou?

Ontneem van integriteit

Zuma se beskuldiging dat Ngoako Ramatlhodi en Siphiwe Nyanda verraaiers, apartheid-agente was, was die laagste wat hy kon daal – en per slot van rekening is dít die skerpste oordeel oor Jacob Zuma die mens, totaal ontneem van integriteit.

In Suid-Afrika kan jy eerder iemand van reeksverkragting of kindermishandeling as van verraad teenoor die bevrydingsbeweging beskuldig. Honderde jong mense is weens dié beskuldiging in die ANC se kampe gemartel en tereggestel. Binne Suid-Afrika het dosyne mense hiervoor met hul lewens geboet, baie van hulle deur die halssnoermetode.

Die beskuldigings het geen geloofwaardigheid nie. Zuma sê Ramathlodi is as student in Lesotho deur die veiligheidspolisie gerekruteer en toe hy voor Zondo vir Zuma beskuldig het dat hy die land aan die Guptas verkwansel het, het hy dit “onder instruksie” van sy hanteerders gedoen.

Maar toe Ramathlodi 'n senior MK-bevelvoerder in Zimbabwe was, toe hy die geliefde ANC-leier Oliver Tambo se sekretaris was, het Zuma nie 'n woord gerep nie.

Hy het hom boonop eers as adjunk-minister en later minister in sy eie kabinet aangestel. Ramathlodi is uiteindelik deur Zuma afgedank toe hy geweier het om die Guptas se vuilwerk te doen en deur Mosebenzi Zwane as minister van myne vervang is.

Zuma was ook tjoepstil toe Nyanda stafhoof van MK en na 1994 hoof van die nasionale weermag geword het, en Zuma het hom ook as minister aangestel.

Valse beskuldigings

Een van die ouer MK-helde, Thami Ntenteni, het eergister vertel dat hy en Nyanda saam in 1976 die land verlaat en by MK aangesluit het. 'n Jaar of wat later het Nyanda in een van die kampe na hom toe gekom en gevra of sy familie weet waar hy is. Toe hy sê nee, het Nyanda gesê hy sal hulle laat weet.

Later het hy gehoor sy ouers het 'n naamlose briefie in 'n posbus gekry wat hulle meegedeel het dat hy lewe en in MK dien. Is dit die gedrag van 'n impimpi, van 'n askari, het Ntenteni gevra.

Nog 'n MK-veteraan, Nen Resegatla, vertel Nyanda was sy bevelvoerder in Mosambiek en hy was sy politieke kommissar.

Hulle eenheid het baie suksesvolle sendings binne Suid-Afrika geloods, onder meer geslaagde aanvalle op die polisiekantore in Orlando en Booysens. Hy sê Nyanda se G5-eenheid was een van die mees suksesvolle eenhede in MK.

Nyanda en Ramatlhodi het een ding gemeen: hulle het albei staatskaping en Zuma se rol daarin veroordeel.

Ons moet hier onthou dat Zuma self met hope prima facie getuienis daarvan verdink word dat hy MK-soldate valslik daarvan beskuldig het dat hulle agente was en dat van hulle deur sy eenheid van kant gemaak is

Een so 'n verhaal het voor die Waarheid en Versoeningskommissie afgespeel, dié van Thami Zulu (“TZ”), wie se regte naam Muziwakhe Ngwenya was. TZ was die bevelvoerder van MK vir die Natal-gebied tussen 1983 en 1988, 'n posisie wat Zuma wou gehad het, en sy eenheid was een van die mees effektiewe in MK.

In 1988 het MK se National Intelligence and Security Directorate (NAT), waarvan Zuma 'n bevelvoerder was, vir TZ na Lusaka ontbied en hom as vermeende agent opgesluit en in haglike omstandighede aangehou.

Zuma het geweier dat senior MK-lede hom besoek.

TZ se pa, Philemon, het voor die WVK getuig dat Zuma hom ook verbied het om sy seun te sien. Sy ma het getuig dat TZ vroeër aan hulle gesê het dat daar “bad blood” tussen hom en Zuma was.

Kyk gerus hieronder na die roerende getuienis voor die WVK in dié dokumentêr wat ek en kollega Anneliese Burgess en ons span in 1997 gemaak het:

TZ is in November 1988 ná druk van Joe Slovo, Chris Hani en die SA Raad van Kerke vrygelaat. Hy is vyf dae later dood, glo weens vergiftiging. Philemon Ngwenya het die ANC uitgedaag om 'n greintjie getuienis te bring dat sy seun ooit vir die apartheidregering gewerk het.

Zuma was in sy element toe hy sy monoloog voor Zondo kon voer, maar toe die vrae begin, het hy begin struikel. Hy kon niks onthou nie en weet eintlik van niks.

En toe die vrae spesifiek begin raak oor wat tussen hom en sy eertydse kollega Barbara Hogan gebeur het, toe steek hy viervoet vas en sê hy is nie bereid om onder kruisverhoor geneem te word nie – al maak die kommissie se mandaat dit duidelik dat hy ondervra mag word en nie mag weier om vrae te antwoord nie.

Politieke drama

Sy prokureur, Dan Mantsha, en sy advokaat, Muzi Sikhakhane, was ewe gretig om politieke drama te maak.

Sikhakhane het Woensdagmiddag opgespring en reguit aan regter Zondo gesê die kommissie het sy kliënt onder valse voorwendsels na die sitting gelok. (Dit het hom blykbaar nie bygeval dat Zuma nie juis 'n keuse gehad het om te gaan nie – die kommissie het die reg om hom te subpoena om te verskyn as hy nie vrywillig gaan nie.) Die twee regspanne en die regter het gister vergader en besluit dat die sitting met Zuma vanoggend sal voortgaan. 

Mantsha, net ter agtergrond, was eens die voorsitter van Denel se raad en het hard probeer om sake na die Guptas se kant toe te skuif voor hy die trekpas gegee is.

Hy is in 2007 van die prokureursrol geskrap en word tans weens aanklagte van bedrog deur die Valke ondersoek.

Sikhakhane is dieselfde man op wie se gebrekkige verslag, sonder insette van betrokkenes, berus is om te verklaar dat daar ’n “rogue unit” in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens was.

Nogal pateties

Dít is die geselskap wat ons gewese president aanhou. Naas dié twee karakters het ’n paar van sy ou lojaliste ook opgedaag om hom te ondersteun: Ace Magashule, Carl Niehaus, Des van Rooyen, Kebby Maphatsoe en Supra Mahumapelo. Skelms, elke een van hulle.

Ons sal moet sien of Zuma op die laaste dag van sy getuienis die vrae aan hom beter gaan antwoord, want dit word al moeiliker en meer direk.

Tog wonder ek of die kommissie se strategie om Zuma nou te vra om te verskyn ’n goeie een was.

Dalk moes hulle eers verdere getuienis wat hom betrek aangehoor het en dan ’n volledige forensiese dossier opgetrek het waarop hy sou moes reageer.

Maar regter Zondo was dusver soos Salomo. Geduldig, amper te geduldig na baie se smaak, wys en tog ferm.

Hy verstaan dat almal absoluut gelyk voor die reg is, maar ook dat dit baie ongewoon en potensieel polities riskant is om ’n gewese staatshoof voor die televisiekameras vir antwoorde te druk.

Die gevaar is natuurlik dat ’n presedent geskep word en dat getuies ná Zuma hulle op soortgelyke behandeling deur die kommissie kan beroep.

Buite die lokaal het ’n paar honderd mense met geel T-hemde met sy gesig daarop betoog. Die meeste is met busse uit KwaZulu-Natal aangery. ’n Dosyn of so flentergatte het met Pep Stores-kamoefleerdrag op en af gemarsjeer.

Dit was alles nogal pateties. Dis al wat van die eens magtige Jacob Zuma oorgebly het.

Dis karma.


X