Spesmagte ‘gatvol’ vir Zuma se oppas

DONKER MAGTE

Spesmagte ‘gatvol’ vir Zuma se oppas

Hy is elke dag in lewensgevaar, het oudpres. Jacob Zuma dié week voor die Zondo-kommissie na staatskaping gesê kort nadat hy vergesel van ’n blouligkonvooi van agt duur staatsvoertuie vol lyfwagte by die lokaal aangekom het. Hy word nie net steeds deur die presidensiële beskermingseenheid bewaak nie, maar ook deur 14 ten volle opgeleide spesmagte-operateurs. Die lede van dié eenheid raak nou gatvol vir dié “ontplooiing”, skryf ERIKA GIBSON.

Recces in Libië tydens Jacob Zuma se besoek aan Moeammar Ghaddafi in 2011.
Recces in Libië tydens Jacob Zuma se besoek aan Moeammar Ghaddafi in 2011.
Image: REDDIT

DAAR was onlangs planne om hom in 'n stadion te vermoor, hy is al vergiftig en daar was selfs 'n plan om selfmoordbomme teen hom te gebruik, sê Zuma, en sy assistent is juis dié week met nog 'n sluipmoorddreigement gebel.

Daar is donker magte hier en in die buiteland wat hom uit die weg wil ruim. (Hy het versuim om te sê dat een van sy vroue glo vir die vergiftiging verantwoordelik was.)

Die paranoia van die Zuma-era het verskeie koninkryke geskep waar ondergeskiktes, sakemanne en ANC-kollegas in sy naam en veral met sy oortuiging dat “iemand” hom wil doodmaak, terselfdertyd sommer 'n handige geldjie ook verdien het.

Intelligensiedienste lamgelê

Dit is nou bekend dat Zuma sy lojale voetsoldate in haas elke departement en veiligheidsagentskap in strategiese poste aangestel het. Dit het die intelligensiedienste lamgelê omdat kollegas mekaar gewantrou het. Dit het die polisie se strukture op soortgelyke wyse afgetakel.

Die gevolge van staatskaping, wat op hoër vlak geskied het, is juis die rede waarom regter Raymond Zondo tans met sy kommissie die hele spulletjie probeer ontrafel.

Maar terug by die situasie in militêre geledere. Enige land se spesmagte (spesiale magte) is daardie stil en onopmerklike mag wat die land teen strategiese bedreigings uit die buiteland moet beveilig.

Hulle word met die hand uitgesoek en ondergaan maande van intense spesialis-opleiding vir die taak. Net die bestes van die bestes word uiteindelik as operateurs aangestel. Dit kos die staat 'n geraamde R2 miljoen om 'n enkele operateur op te lei.

Lede van 4 Verkenningsregiment.
Lede van 4 Verkenningsregiment.
Image: REDDIT

Geheimhouding

Hul hoofprioriteit is strategiese verkenning en waarneming op só 'n wyse dat niemand eens weet hulle is dáár nie.

Daarom lewer geen weermag ooit kommentaar oor hul operasies of hul teenwoordigheid in enige situasie nie.

In Suid-Afrika word selfs hul begroting en waarvoor dit aangewend word, dig gehou “in landsbelang” en ter wille van geheimhouding om nié inligting oor hul vermoëns te laat uitlek nie.

Spesmagte word by uitsondering binnelands gebruik. Hulle word sover bekend met sukses gebruik in hakkejagtogte om renosterstropers uit buurlande te help vastrek.

Wanneer staatshoofde of strategiese hooggeplaastes van die regering op 'n staatsbesoek aan 'n oorlog- of geweldgeteisterde gebied gaan, of betrokke is by sensitiewe vredesonderhandelings, sal spesmagte vooruit ontplooi om te verseker die besoek en die lewens van die besoekers bly veilig.

Voorbeelde van sodanige operasies was Zuma – toe nog president – se besoek aan die ontslape Libiese leier Moeammar Ghaddafi in 2011. Zuma was die laaste staatshoof wat Ghaddafi besoek het voor dié vermoor is deur opposisie-aanvallers van sy regime.

Jacob Zuma tydens sy besoek aan Moeammar Ghaddafi in 2011.
Jacob Zuma tydens sy besoek aan Moeammar Ghaddafi in 2011.
Image: GCIS

Toevallig word beweer dat Zuma tydens dié besoek ook gehelp het om 'n groot hoeveelheid van Ghaddafi se geld te help skuif, al is dié bewerings onbewese en word dit ten sterkste deur Zuma ontken.

Spesmagte was glo ook in Suid-Soedan tydens verskeie staatsbesoeke of vredesonderhandelings deur Zuma en pres. Cyril Ramaphosa.

Waar Suid-Afrikaners in die buiteland gevange gehou is vir 'n losprys, was dit die spesmagte wat soms gemoeid sou wees met die ontsetting van die gyselaars. Hulle word ook by Suid-Afrika se ambassades in die buiteland gebruik wanneer konflik- of oorlogsituasies ontwikkel om die land se bates en diplomate te beskerm.

In 'n oorlogsituasie sal “recces” vyandelike magte in lokvalle lei, hul wapens en basisse saboteer en hul operasies ontwrig. Dit is in dié soort operasies waar tientalle spesmaglede veral tydens die Bosoorlog teen soms haas onmoontlike bedreigings die hoogste prys betaal het.

Só belangrik word hulle as landsbate geag dat hulle in die aanloop tot 1994 se demokratiese verkiesings en die integrasie van Umkhonto we Sizwe (MK) en ander nie-statutêre magte in een weermag die enigste weermag-eenheid was wie se opleidingstandaarde nié verlaag sou word ter wille van integrasie nie.

Voltyds by Nkandla

Dit was veral in die laaste jare van Zuma se bewind dat 'n klemverskuiwing begin plaasvind het. Die vermoede is dat dit juis Zuma se oortuiging dat sy lewe in gevaar is, wat dit teweeggebring het.

Zuma het die afgelope week vertel van 'n poging om hom te vergiftig, sowel as van 'n saamtrek in KwaZulu-Natal waar buitelandse agente glo ingevlieg is om tydens die saamtrek 'n sluipmoord op hom uit te voer.

Zuma het gesê hy het die gifaanval oorleef en die beoogde sluipmoord deur 'n selfmoord-bomaanvaller vrygespring deur nie die saamtrek by te woon nie.

Dit was sowat drie jaar gelede dat die spesmagte ook van leierskap verwissel het. Brig.genl. Steve Maloma het die bevelvoerende generaal in die plek van (nou) genl.maj. Rudzani Maphwanya geword.

Maloma, wat toevallig in die “ou” weermag as operateur gekwalifiseer het, het geen geheim gemaak daarvan om by geleentheid openlik sy nuutgevonde lojaliteit aan Zuma te verklaar nie.

Terwyl Zuma se vrese vir sy lewe hoogty gevier het, is die recces skielik ontplooi om hom voltyds by Nkandla te bewaak.

'n Ander groepering is op hul beurt gevoeg by die immer groeiende blouligbrigade wat Zuma rondgery het. Dit was in dieselfde tyd dat daar sprake was dat Inkwazi, die lugmag se presidensiële straler, glo ook gesaboteer is.

Nkandla
Nkandla
Image: TIMESLIVE

Presidensiële straler nie veilig genoeg 

Dít het daartoe gelei dat die straler vir bykans twee jaar staan en stof vergaar het terwyl Zuma met gehuurde vliegtuie rondgevlieg is.

Toevallig is die “sabotasie” nooit in enige interne ondersoeke bewys nie en Inkwazi vlieg Ramaphosa sedert sy aanstelling sonder enige probleme rond.

Daar is reeds 'n presidensiële beskermingseenheid (PPU) onder die bevel van die polisie wat hulp aan die blouligbrigade en enige ander lyfwagbeskermingseenheid verleen nadat 'n behoorlike bedreigingswaardering gedoen is.

Sowat 'n jaar gelede het genl. Bheki Cele in die parlement gesê daar is 1 382 personeellede in die PPU en dat dié eenheid altesaam 17 mense oppas. Die PPU is oorhoofs verantwoordelik vir die veiligheid van die president, die adjunk-president, voormalige presidente en hul vrouens, sowel as bepaalde “sensitiewe” hooggeplaastes wat doodsdreigemente sou kry.

Volgens Cele het dié eenheid die land die afgelope drie finansiële jare R2 biljoen gekos. Dit sluit nie die kostes van die recces in nie.

Gedemoveer

Die lugmag het ook 'n BBP-beskermingseenheid wat op lugmagbasisse gebruik word wanneer staatsafvaardigings Suid-Afrika sou besoek.

Dit is nie duidelik presies wanneer en op watter vlak die besluit geneem is om die recces nou te demoveer tot Zuma se lyfwagte nie.

Die Sowetan het laas jaar berig dat Ramaphosa en adj.pres. David Mabuza glo daarop aangedring het dat hulle nie dieselfde PPU-lede wil hê as dié wat vir Zuma verantwoordelik was nie.

Selfs die hoof van die PPU, genl.maj. Muzingaye Mxolisi Dladla is glo destyds herontplooi KwaZulu-Natal toe. Dladla se verskuiwing kon egter ook wees weens die aantygings dat hy 'n “donasie” van R700 000 ontvang het wat verband sou hou met die verskaffing van blou ligte. Die polisie wou nie laas jaar op dié aantygings kommentaar lewer nie.

Sover bekend het Ramaphosa nie veel erg aan militêre spesialiste in sy veiligheidspersoneel nie en word slegs enkeles nog in die kavalkade verduur.

Recce-manewales

Onmin is aan die oplaai in spesmagte se geledere juis omdat hul prioriteitstake nou tweede viool speel weens die beduidende aantal operateurs wat gene en dese deurlopend moet bewaak.

Hulle is ook bekommerd oor die toenemende gebruik van luukse voertuie en onnodige vertoon, wat juis reëlreg indruis teen hul werkwyse om onopmerklik te wees.

In 2017, nadat Maloma bevelvoerende generaal geword het, is daar aansoek by die weermag se logistieke afdeling gedoen om 'n hele rits luukse voertuie aan te skaf vir presidensiële beskerming.

Daaronder was 'n Audi Q7 (R900 000); twee BMW’s (R1,2 miljoen) en 'n BMW X5 (R850 000). Maloma het net een Q7 gekry en dié is enkele maande later afgeskryf. Die versekering het glo R1,2 miljoen vir die voertuig uitbetaal, maar die geld is glo in ‘n private bankrekening in die naam van 'n senior offisier by Maloma se eenheid inbetaal.

Die Militêre Polisie het dié uitbetaling ondersoek, maar dit is onbekend wat die uitslag van die ondersoek was. Die res van die voertuie se aankoop is afgekeur.

Begroting gebruik vir karre

Van die spesmagte se eie begroting is gebruik om die vloot luukse voertuie in Limpopo aan te skaf, terwyl die eenheid mank gaan weens dringende tekorte aan noodsaaklike operasionele toerusting.

Van die mees senior operateurs en instrukteurs by 5 Verkennings-regiment in Phalaborwa, een van twee spesmagte-eenhede, is uitverplaas en sommiges in lessenaarposte elders aangestel. Ander “lojales” is glo bevorder hoewel van hulle nie gekwalifiseer is vir senior poste nie.

Dit is ook nie net Zuma wat bewaak word nie. In April vanjaar het die gemeenskapspolisiëringseenheid in Lyttelton, Pretoria, twee “verdagte” en swaar gewapende mans in 'n voertuig gevra wat hulle daar doen.

Dit het daarna uitgekom dat hulle die huis van dr. Sam Gulube, die uittredende sekretaris van verdediging wat die weermag se geldsake behartig, bewaak.

Dit is onduidelik waarom die weermag se penningmeester, wat geen operasionele take behartig nie, ook skielik beskerm moet word.

En Maloma self is al opgemerk waar hy oor 'n naweek in 'n winkelsentrum met sy eie span lyfwagte stap.

Oormatige vertoon

Gesoute operateurs sê die trotse karakter van die spesmagte word ondermyn deur dié oormatige vertoon, terwyl dié wat “bedreigdes” moet oppas, voel al hul opleiding word verkwis deur rond te hang in restaurante en by Nkandla.

Hulle blameer Maloma vir dié verval – veral nadat Maloma vir hom 'n splinternuwe veiligheidstelsel by sy kantoordeur laat installeer het. Dié het ‘n rooi en 'n groen lig wat wys of die generaal beskikbaar is of nie. Sy eie personeel mag slegs die kantoor betree as die groen lig brand.

'n Soortgelyke kaarttoegangstelsel en 'n veiligheidsdeur is selfs by Maloma se toilet geïnstalleer, wat gemaak het dat sy ondergeskiktes grappenderwys na die “geheime” toilet as 'n plek waar “sh*tting in secret” plaasvind.

Toegang tot spesmagte se hoofkwartier in Pretoria word reeds streng beheer, wat dié bykomende maatreëls volgens personeel belaglik maak – tensy hy 'n bedreiging vanuit eie geledere vermoed.

Vrye Weekblad het aan die weermag sowel as die ministerie van verdediging 'n hele rits vrae per e-pos gestuur, waaronder wat die regverdiging vir dié verkwisting sou wees. Geen reaksie is ontvang nie, ook nie op 'n opvolgboodskap of die weermag dit goedpraat nie.

Wilde skietery

In Januarie vanjaar was daar 'n wilde skietery op die Bluff in Durban toe drie van die recces met R5-aanvalsgewere in 'n skermutseling met partytjiegangers slaags geraak het. Altesaam 52 patroondoppies is deur die polisie op die toneel gevind. Twee vroue onder die partytjiegangers is in die kop geskiet en een van die recces is ook gewond.

Die groep was deel van die veiligheidsgroepering wat diens gedoen het by die ANC se 107de bestaansjaarvieringe in Durban.

Een ooggetuie het vertel 'n polisieman onder die partytjiegroep het eerste sy wapen uitgepluk en die operateur in die bobeen gewond. Die operateur se twee makkers het toe gehardloop om hul aanvalsgewere te gaan haal, waarna die hele onderonsie in 'n oor-en-weer-skietery ontaard het.

Intussen begin kol. Shawn Mahlasela, spesmagte hoofkwartier se stafhoof, se verhoor in 'n militêre hof op aanklagte wat verbandhou met bedrog oor twee weke nadat hy glo wederregtelik reis- en verblyfgeld misbruik het. Mahlasela word steeds as 'n moontlike kandidaat vir 'n meer senior pos in die toekoms in spesmagte beskou.

Die Russiese konneksie

In September verlede jaar het Krygkor 'n stokkie gesteek voor 'n duistere plan om lugafweerkanonne uit die 1950’s vir die spesmagte aan te koop. Die geld sou uit die weermag se geheime fonds, wat nié oop is vir enige parlementêre oorsig nie, betaal word.

Die spesmagte se doktrine maak nie voorsiening vir die aanwending van lugafweerkanonne nie – veral nie as dit op 'n Land Cruiser gemonteer sou word nie, wat blykbaar die plan was.

Dié wapenonderhandelings het glo gevolg ná 'n besoek van Mabuza in 2015 aan Rusland met die Guptas se luukse straler. Die DA-leier, Mmusi Maimane, het in 'n ope brief aan Mabuza laat blyk dat 'n weermaghoë, Solly Lechoenyo, ook aan boord was. Lechoenyo was toe die bevelvoerder van 5 Verkenningsregiment.

Krygkor was onbewus van die plan om die wapentuig aan te skaf en het 'n stokkie daarvoor gesteek omdat dit Suid-Afrika aan strafmaatreëls deur die VSA sou blootstel. Pres. Donald Trump het dié maatreëls bekragtig teen enige land, entiteit of persoon wat met 'n lys verbode vervaardigers sou handel dryf. Rosoboronexport, Rusland se wapenagentskap, is een van dié vervaardigers.

Hekse in die binnekring

Helmoed-Römer Heitman, militêre kenner, het dié week gesê 'n land se spesmagte is soos die punt van 'n naald. Hulle word in 'n bedreigingsgebied ontplooi lank voor enige ander magte.

“Dit is verstommend dat hulle as lyfwagte in Suid-Afrika gebruik word. Dit is 'n vermorsing van hul opleiding en ondervinding. Daar is reeds 'n PPU wat spesifiek vir dié soort taak opgelei is.

“Dit maak dus geen sin om spesmagte te gebruik nie omdat dit op 'n duplisering van take neerkom. Dit is 'n hele ander saak wanneer die president of minister 'n konflikland gaan besoek. Dan hét hy of sy spesialisbeskerming nodig.”

Vandeesweek was die volle span van 14 vir Zuma se beveiliging by die Zondo-kommissie ontplooi, al is Zuma se bewerings van 'n beplande aanslag op sy lewe uit alle oorde as belaglik afgemaak.

Die enigste poging tot vergiftiging het in 2015 aan die lig gekom toe sy een vrou, Nompumelelo Ntuli-Zuma, uit Nkandla geskop is omdat sy hom glo probeer vergiftig het.

Zuma het in 2017 tydens 'n ANC-saamtrek in Pongola beweer hy is deur “hekse” vergiftig en as dit nie was vir sy vriende in die buiteland nie, sou hy nie dié aanslag oorleef het nie.

Bewerings destyds was dat hy juis in Rusland vir die vergiftiging behandel is. Die Nasionale Vervolgingsgesag het ná 'n ondersoek vir Ma Ntuli as die hoofverdagte identifiseer, maar sy is nog nooit vervolg nie. Presies hoe die spesmagte in elk geval 'n “aanslag” deur “hekse” sou kon afweer, is nie duidelik nie.


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.


X