Zimbabwe: Boere vasgevang in armoede en nêrens om heen te gaan

TE MIN, TE LAAT

Zimbabwe: Boere vasgevang in armoede en nêrens om heen te gaan

Die Zimbabwiese regering het ingestem om tussentydse vergoeding te betaal aan sukkelende bejaarde wit boere wie se grond onteien is. Die regering sal sowat R70,000 moet uitbetaal aan elk van 737 van die boere wat nog in die land is. PETA THORNYCROFT het geluister na die wanhoop van mense wat wag op die geld.

Joan Harrison. word oorval deur emosie
Joan Harrison. word oorval deur emosie
Image: TSVANGIRAI MUKWAZHI

ANDRÉ en Kotie Fourie wil bitter graag die geld hê … maar soos die dae aanstap, verloor die Zimbabwiese dollar sy waarde in die land se chaotiese finansiële krisis.

Dit het lank gevat voor die 71-jarige André dit kon bekostig om ’n plaas te koop en ’n lewe daaruit te maak.

En hy het ’n ongenaakbare plek gekies om dit te doen: sowat 100 km noord van die Suid-Afrikaanse grens in die Mwenezi-distrik, wat so warm soos die hel is. Die gebied is te droog om te boer en ver van die naaste dorp - asook van hulle kinders wat in Suid-Afrika skoolgegaan het omdat dit te duur in Zimbabwe was.

Tóé was daar digte bosse en mopaniebome – die hout is gewild weens sy hardheid – verskeie riviere en volop wild in die distrik.

Fourie, wat as ’n dieselwerktuigkundige opgelei is, het in die ou Rhodesië en Suid-Afrika skoolgegaan. Hy het sy plaas van 3,000 hektaar in 1981 gekoop, ’n jaar nadat Robert Mugabe aan bewind gekom het ná die lang vryheidsoorlog.

“Ek wou nog altyd ’n plaas gehad het. Ek was altyd lief vir die plaaslewe,” sê André.

Dit het hom en Kotie tien jaar geneem voordat hulle huis en baie van die infrastruktuur amper klaar was. Hulle kon uiteindelik ophou om vir ander mense te werk en het in 1994 in hul huis ingetrek.

Hy het soos baie ander nie geweet dat die nuwe grondwet die grond wat deur wit boere besit is, net vir tien jaar sou beskerm op die basis van gewillige koper, gewillige verkoper nie.

Teen die tyd wat hulle ingetrek het, het die klousule in die grondwet verstryk.

Kotie Fourie met haar geliefde papegaaie
Kotie Fourie met haar geliefde papegaaie
Image: TSVANGIRAI MUKWAZHI

Daar was nie water nie ...

Die lewe na onafhanklikheid was goed vir die meeste wit boere. Sommige het beter as ooit tevore gevaar en uitgebrei. Zimbabwe het meer mielies gelewer, grootliks deur kleinboere binne ’n hoogs georganiseerde kommersiële landbousektor. Wit boere het groot geld in boerdery belê, gemeganiseer en gediversifiseer na uitvoer-alternatiewe soos tabak.

Die Fouries kon ’n bestaan voer – hulle het ’n slaghuis, vee, bokke en hoenders gehad en kon van die land af leef.

Ses jaar later het die grondbesettings begin, meestal op die tabakplase in die sentrale deel van die land.

In die suide, in die Mwenezi-distrik, was daar nog vir ’n paar jaar vrede. Uit die bloute is die slaghuis – wat vir ’n groot deel van die gesin se inkomste gesorg het - gewelddadig oorgeneem.

Om polisie toe te gaan het niks gehelp nie. Dit is ’n politieke saak, het hulle net gesê.

Armes, aangepor deur politici, is aangesê om wit plase oor te neem.

Invallers het die 15 km lange waterpyp na die Fourie-huis, groentetuin, landerye en watertenks vir die diere afgesny. “Soms is die water verskeie kere per dag afgesny. Ek het dagboek gehou van hoeveel keer dit gebeur het, en dit sal ’n boek vol wees,” sê Fourie.

“Ek het ’n watertenkwa gekry, maar ons kon nie oorleef nie; ons moes padgee.”

“Ek het 260 beeste gehad, bokke en skape, maar het toe 76 beeste verloor en die meeste van die bokke en skape is gesteel. Ons het die beeste so gou moontlik probeer verkoop. Die polisie het niks gedoen om te help nie.

“Daar was nie water nie ... ons het die meubels opgepak en gegaan,” sê hy.

“Ek het teruggegaan, net een keer.”

André Fourie
André Fourie
Image: TSVANGIRAI MUKWAZHI

Al die wild is opgeëet

“Die bome is weg. Dit is ’n woestyn. Die mopaniebome het verbrand. Toe ons daar gebly het kon jy nie 50 meter van die pad af sien nie. Nou kan jy 30 myl ver sien, want die bome is weg.

“So ook die wild … dit is alles geëet.

“Tot ’n paar jaar gelede het ek los werkies op ’n paar plase gedoen, ’n werk by ’n myn gehad. Maar ek kon 'n paar jaar gelede laas werk kry,” vertel André.

Nou bly hulle in ’n klein huurhuis in Borradaile Trust, ’n beskeie aftreeplek in Marondera, sowat 70 km suidoos van Harare, wat ook maar sukkel om aan die gang te bly.

Hulle word onderhou deur hulle dogter en haar man, wat ’n klein besigheid besit wat essensiële olies uitvoer.

“Ons het nie sent van ons eie geld nie,” sê André. “Dit is goed hier, en daar is ’n hospitaal. Ons vertrou dat dinge sal regkom. Maar ek hou nie my asem op nie.”

Hulle word ook ondersteun deur die Farm Family’s Trust, wat grootliks met die hulp van skenkings en vrywilligers van die eens voorspoedige kommersiële boere-unie vanaf ’n klein geboutjie op die skougronde in Harare bedryf word.

Liz en Frans Jordaan
Liz en Frans Jordaan
Image: TSVANGIRAI MUKWAZHI

‘Ons moes vir ons lewe vlug’

Frans Jordaan (74) en sy vrou, Liz, het ook niks van hul eie om hulself te onderhou nie.

Hulle het 'n lang stryd gehad om op hul beskeie plaas, ongeveer 60 km suidwes van Harare in die Beatrice-distrik, aan te bly. Hulle het uiteindelik geweet hulle sou met geweld van die plaas verjaag word, maar kon hulle tabakoes red voordat hulle in 2008 van die plaas af moes vlug. Maar hulle het hul beeste, plaastoerusting en selfs sommige persoonlike besittings verloor.

’n Senior weermagoffisier wou die plaas hê waar hulle vir meer as 20 jaar gebly het. ’n Plaaslike polisieman wou help, maar daar was niks wat hy kon doen nie.

“Ons was bang ons sou vermoor word,” sê Liz Jordaan. “Ons het geen keuse gehad as om te vlug nie.

“Ons het van seisoen tot seisoen geleef; ons het geen spaargeld gehad nie.”

’n Vriend het hulle vir ’n rukkie blyplek gegee en hulle het probeer om by die Karibameer-vakansieoord geld te verdien. Maar die Jordaans is nou ook van hul seun in Harare en die Farm Family’s Trust afhanklik.

Hulle bly in 'n klein vakansiehuisie op die oewer van die massiewe Chivero-meer, wat Harare van water voorsien. Maar hulle sukkel om brandstof te kry om die kragopwekker aan die gang te hou. En daar is ’n onbetroubare selfoonsein.

Frans het reeds as tiener begin boer en tydens die oorlog op plase gewerk. Hy sukkel ook omdat hy nog nie herstel het van ’n heupoperasie nie en sonder krukke kan loop nie.

Die lewe is moeilik daar op die oewer van die meer. Dit is afgeleë, daar is geen winkels nie, en op hulle ouderdom geen toekoms nie.

Hulle sou die tussentydse vergoeding wou hê vir verbeterings op die plaas waarvoor hulle so lief is.

Peter Hingeston
Peter Hingeston
Image: TSVANGIRAI MUKWAZHI

Nie ’n Smith-ondersteuner nie

Die 82-jarige Peter Hingeston is in 2008 van sy suikerrietplaas in die warm laeveld in die suidooste verjaag. Hulle moes vlug en kon niks saamneem nie.

Hingeston was een van ’n minderheid wit boere wat nie die konserwatiewe regering van Ian Smith gesteun het nie.

Hy en sy vrou het daarna in hulle vakansiehuis in die pragtige Bvumbaberge langs die grens met Mosambiek ingetrek. Hy het die huis op die hang van ’n berg in woude gebou om soms aan die hitte van die laeveld te ontsnap en eendag daar af te tree.

Die klipperige grond is nie geskik vir boerdery nie. Maar sommige in die weermag wou dit nie glo nie. Hy is gearresteer en daarvan beskuldig dat hy die wet oortree het deur in sy huis aan te bly – al was dit nie ’n plaas nie.

Hy is op die ouderdom van 76 jaar 18 dae lank in ’n vuil polisiesel aangehou. Hy het uiteindelik, om sy vrylating te verseker, skuld beken en ’n boete van 50 Amerikaanse dollar betaal.

Hulle moes uit die vakansiehuis trek. Dit het aan die lig gekom dat die man wat sy huis wou hê die adjunkpresident van Zimbabwe was – die afgetrede generaal Constantino Chiwenga, wat op die oomblik vir mediese behandeling in China is, en die bewindsoorname van die regering van Robert Mugabe in 2017 gelei het.

“Ek glo vas dat my vrou aan kanker dood is weens die trauma wat ons beleef het, ook toe ek aangehou is,” sê Peter.

Hy bly nou by sy seun in Harare en is amper blind.

Die vergoeding van R70,000 sal vir hom die eerste keer in ’n dekade ’n bietjie geld in die sak bring. Maar hy weet dit sal nie lank hou nie.

Inval van reuse-rotte

Een nag verlede maand het Joan Harrison die tweede inval van haar lewe beleef – dié keer deur reuse suikerrietrotte wat die groentetuin agter haar dogter se beskeie Harare-woonstel verslind het.

Dit was nie naastenby soos die skrikwekkende nag 15 jaar gelede toe sy en haar oorlede man, Eric, moes vat wat hulle kon dra en van hul plaas in die suide van die land vlug nie.

Maar die inval deur die rotte het haar op ’n manier gebreek, want sy was afhanklik van die groente.

Op ’n dag verlede maand terwyl sy gewonder het wat sy en haar seun en kleinseun gaan eet, het sy hardop gedink: “Soms is dit nie die moeite werd om aan te gaan nie. Jy gaan net die hele tyd deur hel.”

’n Paar ryk boere kon hulle bates vir 'n goeie prys verkoop of het spaargeld gehad, maar die meerderheid het alles in hul plase teruggeploeg en is brandarm.

Die Harrisons leef die afgelope tien jaar al van die hand na die mond. Hulle het hul plaas in 2004 verloor voordat hulle die suiker en sitrus kon oes waarin hulle dié jaar omtrent alles belê het.

Joan Harrison, haar seun en kleinseun leef nou op ’n klein inkomste van hul dogter in Australië en kospakkies van die kerk en Farm Family’s Trust.

“As dit net ek was, sou ek op een of ander manier ’n plan kon maak. Maar dit is pynlik om nie genoeg geld of kos te hê om ander mense te voed nie,” sê sy. “Ek kan nie wag vir die vergoedingsgeld nie.”

Anne Hawkins
Anne Hawkins
Image: TSVANGIRAI MUKWAZHI

Nie geld vir mediese sorg

Die 76-jarige voormalige wildboer Ron Hawkins – ’n Suid-Afrikaner wat ná onafhanklikheid Zimbabwe toe getrek het – is op 3 Julie in ’n vervalle hospitaal in Harare dood. Dit was net weke nadat hy vir die tussentydse vergoeding aansoek gedoen het.

Sy weduwee, Ann Hawkins, sê die egpaar kon nie vir mediese sorg betaal nie, insluitende 'n beenbiopsie wat dalk sy kanker vroeër kon diagnoseer. Sy hoop dat die tussentydse vergoeding sal betaal vir die heffing op die aftreehuisie in Harare wat haar man gehuur het. 

George Guvamatangal, sekretaris in die ministerie van finansies, sê die regering is verbind tot die vergoeding en skryf die “ongelukkige” vertragings met betalings toe aan burokrate wat gedetailleerde waarderings van die plase van elke aansoeker wil hê.  

“Daardie proses het te veel tyd geneem, maar dit is nou uit die proses verwyder."

“Ek verwag dat as jy my weer kontak, alles beter sal werk," het hy twee weke gelede gesê.

Humanitêre gebaar

Boere wat al jare lank met die Zanu-PF-regering daaroor stry, het die stap versigtig optimisties bestempel as ’n humanitêre gebaar en ’n erkenning dat voller kompensasie eendag betaal moet word.

“Hulle moes vergoeding al 19 of 20 jaar gelede betaal het,” sê John Laurie, die 82-jarige oudboer aan die hoof van ValCon, ’n komitee van voormalige boere wat hul vergoedingseise koördineer.

Laurie, ’n gerespekteerde en eens suksesvolle boer, het in die vroeë dae van die gewelddadige “grondhervormingsveldtog” sy plaas verloor.

“Maar die regering moet gekomplimenteer word vir wat hulle nou probeer doen. Veral in die lig van wat nou in die land aangaan. Soos jy weet, is hulle bankrot.”

Die land lei onder 18 uur lange kragonderbrekings, weghol-inflasie, en ’n tekort aan noodsaaklikhede soos brandstof, kos, lopende water en selfoondienste.

John Laurie
John Laurie
Image: TSVANGIRAI MUKWAZHI

Laurie sê omtrent 3,500 wit boere wil gesamentlike vergoeding van $9,1 biljoen hê, wat gegrond is op waardasies van $5,6 biljoen se onroerende bates en grond ter waarde van $3,5 biljoen. Dit is ’n enorme som geld wat die bankrot land nie sonder hulp sal kan betaal nie.

Mugabe het altyd daarop aangedring dat die Britse regering wit mense moet vergoed vir die verlies van hul grond – soos wat gedoen is in Kenia - en die regering sou betaal vir die “verbeteringe".

’n Woordvoerder van die Statebond se kantoor het aan die Daily Telegraph gesê hulle verwelkom die Zimbabwiese regering se vergoedingsprogram, maar het bygevoeg: “Ons beleid is baie duidelik: Brittanje aanvaar geen verantwoordelikheid vir die versnelde grondhervormingsprogram nie.”

Byna alle uitgesette boere is deur die wet verplig om aan hul werkers - oor die 200,000 families – hul pensioengeld uit te betaal. Sommige moes die kontant leen om dit te doen.

Tot op die laaste

Peter Dawson (82) het in die Tengwe-distrik gebly, ’n moeilike twee en 'n half uur se ry noordwes van Harare. Hy het 43 jaar aan die ontwikkeling van sy ses klein stukkies grond bestee – Kenasembi, genoem na die rivier wat deur sy grond loop.

Op die vooraand van sy uitsetting in 2004 was hy nog besig met die uitbreiding en ontwikkeling van die groot, uiters gesofistikeerde boerdery wat ten volle onder besproeiing was, asook skool- en gesondheidsorggeriewe vir die werkers. 

Dawson was een van die grootste tabakboere in Zimbabwe en het jaarliks bykans 300 hektaar tabak geplant en verwerk. Hy het die onbewerkte grond in 1955 gekoop en vier groot damme gebou sodat hulle nooit op die reën moes staatmaak nie.

Hy het elke jaar ’n fortuin gemaak, maar elke sent is herbelê. “Ek het skaars iets gespaar. Ons het al die geld in die plaas teruggeploeg,” sê hy.

Sy pa het ’n sakeryk geskep, sê sy seun Andrew, die laaste van die vier kinders wat nog in Zimbabwe is. Andrew het op die plaas aangebly om met die begunstigdes te probeer saamwerk, maar het later tou opgegooi.

“Ons het die plaas verlaat omdat hulle (weermaglede) gedreig het om ons dood te maak. Maar ons het hulle reeds drie jaar lank beveg, hof toe gegaan en ’n fortuin daaraan bestee. En ons was in soveel gevaar. Uiteindelik was dit te veel.

“Ek het omtrent al die toerusting van die plaas af gekry en het hard gewerk om dit reg te maak en te verkoop, en ons het vir ’n rukkie van die geld geleef.”

Daar gaan nou nie veel aan op wat eens ’n spogplaas was nie ... buiten ’n handvol kleinboere met ’n paar klein tabaklande wat deur die families bewerk word.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder aan die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.