Vrye Weekblad-kommentaar word selfs makliker en beter!

PRAAT SAAM

Vrye Weekblad-kommentaar word selfs makliker en beter!

Ons het 'n nuwe kommentaarstelsel – hier is alles wat jy wil weet.

  • 08 Julie 2022
  • Nuus & Politiek
  • 3 min om te lees
  • artikel 16 van 28
  • Redaksie
Sê jou sê!
Sê jou sê!
Image: 123RF/badboo

Vrye Weekblad-leser

Ons het hierdie week ’n nuwe kommentaarstelsel deur Viafoura begin gebruik. Dit bied ’n hele paar funksies waarvan ons dink jy baie gaan hou. Jy kan byvoorbeeld artikels volg wat reeds die meeste gelees is, jy kan jou gunsteling-kommentators volg, en die stelsel laat weet jou wanneer iemand geantwoord het op ’n plasing wat jy gedoen het.

Jy kan ook nou jou gunsteling-medewerkers op Vrye Weekblad volg deur op die “Volg”-knoppie langs hul naam in hul artikels te klik. Jy sal dan ’n kennisgewing kry (besonderhede onder) wanneer ons ’n nuwe artikel deur daardie skrywer publiseer.

Die kommentaarstelsel sal outomaties kommentaar verwyder wat prentjies, verbode woorde of skakels na spam insluit. As enigiets nogtans verskyn wat jy vermoed strydig met ons kommentaarreëls is, kan jy dit met ’n vlaggie merk sodat ons dit kan nagaan.

Om dadelik te begin kommentaar lewer of op ander Vrye Weekblad-lesers se kommentaar te antwoord, moet jy eenvoudig op Vrye Weekblad aanmeld. As jy nog nie voorheen aangemeld het nie, registreer nou – dis vinnig en gratis. (Intekenare kan op alle artikels kommentaar lewer en geregistreerde gebruikers net op gratis artikels.)

Jy hoef nie aan te meld om kommentaar van ander lesers te kan lees nie. En terwyl jy lees, kan jy die kommentaar rangskik om die nuutste, oudste of gewildste opmerkings te sien, of dié wat die meeste reaksie ontlok het. 

Jy sal ook ’n klokkie-ikoon regs onder in die hoek van jou skerm sien. Klik daarop om ’n lys oop te maak waar jy opdaterings kan kry oor al die kommentaar wat jy volg, saam met ander nuttige kennisgewings. Jy kan ook ’n avatar vir jouself daar oplaai as jy wil.

Die kommentaar-area gaan trek jou naam en van by jou Vrye Weekblad-profiel. As jy jou besonderhede daar wysig (jy kan toegang tot jou profiel kry nadat jy aangemeld het), sal jou naam en van in die kommentaar-area ná ’n kort rukkie verander sodra jy die bladsy verfris het. 

Om ’n interessante gesprek te volg, klik net op die “Volg” -skakel sodat jy niks misloop nie. En as jy hou van wat iemand sê, stem dit op!


Reëls vir kommentaar op Vrye Weekblad

Ons verwelkom debat en opponerende menings, maar persoonlike aanvalle op skrywers, ander gebruikers, organisasies of enige individu sal nie geduld word nie.

Ons sal nie rassisme, seksisme, homofobie of ander vorme van haatspraak of bydraes wat as sodanig geïnterpreteer kan word, duld nie.

Spam sal verwyder word. Ons keur ook nie enige kommersiële entiteite goed wat hulself as individue voorhou om advertensiemateriaal of skakels te plaas nie.

Onvanpaste en/of pornografiese profielbeelde/avatars sal ook verwyder word.

Moet asseblief nie:

  • Ongegronde of onbewese bewerings teen ’n persoon, organisasie of groep maak nie.
  • Vloekwoorde, vulgêre of andersins aanstootlike taal gebruik nie.
  • Enige landswette oortree of andere aanmoedig om dit te doen nie.
  • Geweld aanhits nie.

Hou intelligente bespreking aan die gang

Ons hou daarvan om terugvoering van ons lesers te ontvang en jou sienings oor verskillende onderwerpe te hoor, en ons wil graag ’n verwelkomende ruimte vir intelligente bespreking handhaaf.

Respekteer asseblief ander mense se menings en oortuigings en oorweeg jou impak op ander wanneer jy jou bydrae lewer. Ons wil jou nie daarvan weerhou om onderwerpe te bespreek waaroor jy entoesiasties is nie, en ons wil ook nie dikteer hoe jy jou menings moet lug nie, maar ons vra jou ook om maniere te vind om jou menings te deel sonder om ander aanstoot te gee of te beledig.

Help ons om Vrye Weekblad skoon te hou

Hoewel ons ons bes sal doen om die kommentaar te modereer en ongewenste trolle uit die Vrye Weekblad-gemeenskap te verwyder, vra ons ook dat jy ons hiermee sal help deur ons in kennis te stel van potensiële probleme deur misbruik aan te meld wanneer dit dalk opduik.

As jy iets problematies sien, meld dit asseblief aan, dan sal ons dit hanteer. Ons bedank jou vir jou volgehoue ondersteuning en ons belowe om aan te hou om inhoud te lewer wat insiggewend en vermaaklik vir al ons lesers is.

♦ VWB ♦